Judaskus. Rudie van Rensburg
kan vir Robbie vra, die vrou en al die ander mense in die huis was baie getraumatiseer. Daar’s geen kans sy bedrieg ons met haar storie nie. Wat laat jou enigsins dink sy lieg?” vra hy met ’n snedige glimlag.
Kassie hou twee foto’s na hom uit. “Dié foto’s.”
Daniels leun oor sy lessenaar om ook die foto’s te sien. Dis foto’s van die agterdeur wat geneem is van binne én buite die huis.
Nolte frons. “Wat aan daai foto’s hinder jou?”
“Die glasstukke wat aan die buitekant op die trappies voor die deur lê,” sê Kassie.
Nolte sug. “Die kolonel het jou mos gesê die inbreker het die glaspaneel van die agterdeur stukkend geslaan.”
“Ek besef dit … maar die meeste glasstukke lê aan die buitekant. Mens kan die moontlikheid nie uitsluit dat iemand dit van binne stukkend geslaan het nie … om die indruk te skep daar was ’n inbreker.”
Vir ’n oomblik hang daar ’n stilte in die kantoor.
“Ek het dit ook gesien, maar dit hang seker af van hoe die slaanwerk gedoen is,” sê Nolte vinnig. “Die ander omstandighede het ons oortuig die glasstukke is nie belangrik nie.”
Daniels frons terwyl hy die foto’s by Kassie neem. “Nee, boys, julle sal dié storie beter moet uittjek. Dalk het Kassie iets beet.”
• • •
Gedurende middagete sit die man skuins oorkant Victor. Hy vreet soos iemand wat dae laas kos gekry het, druk hompe pap in ’n bal, doop dit in die afgewaterde vleissousie en wurg dit vinnig af. Die sous kronkel soos twee kwylstrepe uit sy mondhoeke langs sy ken af.
Victor verag die bliksem. Die fluitjieblaser. Die man wat hulle onmiddellik sal inlig as hy weet Victor kom vroeër uit. Hy moet die drang onderdruk om nie sy plastiekvurk in die man se gesonde oog te druk nie, of sy harsings met die blikbord uit te hamer nie.
Hier in die tronk verteenwoordig die eenoogman alles wat Victor verag. Tog weet hy maar te goed die man is ’n klein ratjie in die groot enjin wat die skip aandryf. Vir Victor is hy egter die eerste struikelblok op sy pad na algehele vryheid. Wanneer hý eers uit die pad is, kan Victor op die enjinkamer fokus.
Dié gedagte laat die vurk in sy hand liggies bewe.
3
Dis donkermaan, hulle het die tyd vooraf sorgvuldig uitgewerk. Die pikswart nag help wanneer hulle vinnig moet gat skoonmaak.
Nie dat TJ hom daaroor bekommer nie. Vanaand is dit soft targets, oues van dae. Tjop-tjop. In en uit. ’n Halfuur-joppie, dan terug Sasolburg toe, ’n dag of twee se laag lê, dan Nelspruit toe. Oor ’n week in die Kaap.
Hy glimlag. V is maar nervous vir hulle om so naby die hoofkwartier sake te doen, maar daar is ’n paar rykes in die Skiereiland wat vrot is van die juwele. V en sy trawante het ingesien dit skreeu om gesteel te word, al is dit in die Kaap. Die navorsing is al gedoen, die mense se name opgeskryf. Die veldkornette het reeds die huise dopgehou, elke beweging aangeteken, die securityvinke se patrone uitgefigure.
“Hel, ek’s nou l-l-lus vir ’n s-s-sigaret,” mompel Snake langs hom.
TJ kyk na sy makker, die buitelyne van sy skraal gesig net-net sigbaar onder die wilgerboom.
“Jy kan in die kar oplight. Hou nog net vir veertig minute uit.” TJ kyk op sy horlosie. “Oor tien minute klim ons oor. Dis stil genoeg.”
“The silence is k-k-killing me,” sê Snake, gee sy irriterende runniklaggie.
“Sjarrap!” sis TJ.
Snake is al weer besig om sy gat te krap. Die hele week wat hulle hier is, vryf die man hom verkeerd op. Dit was bleddie sieldodend om bedags in die hotelkamer vasgevang te wees saam met Snake. Die aande was beter. Hulle moes self die job van die veldkornette hier doen, die twee suurstofdiewe dophou, kyk hoe laat hulle die huisligte afsit. Daisy het eers gister gekom, maar sy bly in ’n ander hotel as hulle – V se instruksies. Hulle drie moenie saam gesien word nie, daarvoor is Bloemfontein te klein.
TJ hoop die navorsing oor die ou mense is reg. Dis gerusstellend dat daar nie ’n alarmstelsel is nie – E se contacts by die securityvinke sê so. Net ’n elektriese heining op die hoë muur. Dit moes die ouballie ’n fortuin gekos het, die erwe in Waverley is so groot soos plase.
TJ skud sy kop. Wat help die moerse duur heining as dit nie ook oor die motorhek loop nie? En dan het die oues nie eers honde nie, net ’n helse lot katte. Easy as apple pie, dié joppie.
TJ kom orent. Hy haal sy selfoon uit en bel vir Daisy.
“Is jy reg, Tierkat?”
“In posisie,” sê sy.
Hy beduie vir Snake hulle moet oor die hek klim. Die hek is nie besonder hoog nie, en daar is genoeg vastrapplek om maklik en geluidloos oor te glip, soos hulle die vorige aand uitgevind het.
Hulle stap gebukkend langs die laning bome met die sementpaadjie langs sodat hulle nie voetspore los nie. Die huis is ’n klipkasarm, oorgroei met rankplante. Moet honderd jaar terug al hier gestaan het.
Hulle hou die huis vir ’n paar minute dop, trek dan die balaklawas oor hul koppe en beweeg versigtig graslangs na die patio langs die huis. TJ wys vir Snake hy kan maar begin.
Hy tuur oor die donker tuin uit terwyl Snake sy ding doen. Hy luister hoe girrrts die snyer oor die glas, op die enigste plek waar daar nie diefwering is nie.
“Raait,” sê Snake ná ’n rukkie.
TJ draai om. Snake lig die glaspaneel versigtig met die suier uit, sit dit op ’n kliptafeltjie neer.
“Sal jy deur die gat kom?” fluister TJ.
“M-m-maklik.”
Snake trek eers sy skoene uit. TJ hou sy makker dop terwyl hy hom soos ’n Houdini knoop om deur te wurm, sy een been met gepunte tone uitgestrek om stewige vastrapplek te kry aan die ander kant. Snake kan deur ’n ogie van ogiesdraad klim as hy wil, dink TJ. Trek homself dun soos ’n slang.
Binne oomblikke is Snake in die huis. Hy verdwyn agter die gordyne. Is dan vinnig terug, beduie met ’n duim in die lug vir TJ daar’s ’n sleutel in die patiodeur. TJ stap nader met Snake se skoene. Die deur gaan oop en hy glip in.
Die huis ruik na geld: boeke, hout, wolmatte. In die skynsel van TJ se penflits kry hulle die trappe maklik. Hy swets onderlangs. Die goed kraak. Hulle moet voetjie vir voetjie klim. Op elke trap staan hulle eers stil om te luister of hulle nie ’n roering uit die boonste verdieping hoor nie.
’n Staanhorlosie naby hulle dong twee keer hard. Albei ruk van die skrik.
Ná wat vir TJ soos ’n ewigheid voel, is hulle uiteindelik bo. Hulle sluip stadig in die lang gang af na die hoekkamer, waar hulle die vorige nag vanuit hul skuilplek langs die tennisbaan die laaste ligte sien uitdoof het.
Die dik mat verdof hul voetstappe.
• • •
Victor skat dit moet om en by tweeuur wees. Hy luister met gespitste ore na die snorkgeluide van sy selmaats. Klink of almal rustig slaap.
Hy kom baie stadig orent uit die bed, sit vir ’n rukkie so om seker te maak als is veilig. Nie ’n roering van die ander nie. Die bewaarders het pas ook hulle rondtes voltooi. Hy het minstens ’n halfuur om sy taak af te handel.
Dis nou of nooit.
Hy vat die kussing wat hy maande gelede met omkoopgeld by een van die bewaarders gekry het. Dis ’n verekussing, nie so plankdun soos die skuimrubberkussings van die ander nie. Hy het dit spesifiek vir vanaand se taak gekoop.
Hy staan op, sluip voetjie vir voetjie nader aan die bed in die verste hoek.
Die skraal man lê op sy rug. Sy asemhaling is rustig en egalig. In die skynsel van die ganglig kan Victor die geringe deining van sy bors sien.
Hy