Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
student nie. Sy gaan ’n geneesheer wees: dokter Brenda Wiechers. Al kry sy dit nie reg om eendag te spesialiseer nie, kan sy haarself uiteindelik onderhou en die vreugde van onafhanklikheid ervaar. Die vooruitsig gee haar trillings van lekkerkry.
Brenda is bewus daarvan dat hulle aangegaap word toe Thomas haar in ’n blinknuwe viertrek by die koshuis kom haal.
“Jy lyk sommer blerrie mooi,” komplimenteer hy haar toe hulle by die voordeur uitstap, en hy sit ’n hand op haar rug.
“Dankie.”
Sy het ’n eenvoudige dog figuurvleiende swart rokkie by ’n winkel in Tygervallei raakgeloop, en bypassende sandale en ’n handsakkie gekry om dit af te rond. ’n Vriendin, wat baie beïndruk was dat sy ’n afspraak met die verruklike Thomas Naudé het, het vir haar goue oorringe geleen.
“Jy lyk opvreetlik,” het sy half afgunstig geskerts. “Ek hoop daardie wolf vreet jou nie regtig op nie.”
Hy lyk natuurlik so aantreklik dat die meisies hom móét raaksien, en hy groet links en regs voordat hulle die motor bereik en hy vir haar die deur oophou. Dié is so hoog dat dit voel asof sy in ’n bus klim, en sy is bewus daarvan dat die rok opskuif en meer been vertoon as waarmee sy gemaklik voel.
Toe hulle die hoogtes van Welgemoed bereik, verstom sy haar aan die groot huise. Sy en haar ma het onder in Bellville gewoon en nooit in dié geweste gekom nie. Haar mond hang letterlik oop toe hulle deur ’n gegote ysterhek na ’n groot wit huis met Griekse pilare by die ingang ry. Twee mans wys parkeerplekke aan en daar is talle duur, blink voertuie geparkeer. Thomas wuif vir die mans en ry verby, na ’n parkeerplek langs die huis.
Brenda sien deftig geklede mense na die voordeur stap en is meteens senuagtig. Aan hierdie rykmanswêreld is sy nie gewoond nie, maar sy sal moet maak asof dit haar nie verbouereer nie.
Thomas se ouers en broer staan in die helder verligte portaal om die mense te verwelkom, en Brenda is oorbewus van ’n baie mooi en smaakvolle interieur, gaste wat lyk asof hulle uit die sosiale blaaie van ’n glanstydskrif ontsnap het, en die formidabele drie mense wat haar aankyk. Die pa en broer is, soos Thomas, in donker aanddrag. Die ma is in ’n grys skepping wat by haar witgrys hare pas, en sy blits behoorlik van die diamante. Die broer, wat haar stip en takserend aankyk, is ’n ouer en minder aantreklike weergawe van Thomas.
Brenda sluk haar senuagtigheid en glimlag.
“Dis nou Brenda Wiechers,” stel Thomas haar voor. “My pa, ma en Arnold, die main Mac van die aand.”
“Aangename kennis,” sê Brenda en skud al drie se hande.
Hulle is vriendelik, maar sy besef hulle kyk krities na haar. Natuurlik wil sy ouers net die beste vir hulle seun hê, en sy lyk seker nie ryk genoeg nie.
“So, jy is die slim meisie in die klas,” merk die ma op.
“O, waar hoor Dokter so iets?”
“Almal praat daarvan, en die mans is jaloers, my skat. Ons soort vroue jaag hulle die skrik op die lyf.”
Die vrou het darem ’n sin vir humor, dink Brenda.
“Geluk met jou prestasie,” sê sy vir Arnold Naudé. “Dit kom net na jare se swoeg en sweet.”
“Inderdaad. Dankie. Ek is bly ek het uiteindelik tot hier gekom. Nou gaan ek saam met julle by die gradeplegtigheid gekap word. Ons ouers dink dis great dat ek en Thomas saam graad vang.”
“Kom, ek gaan kry vir jou iets te drinke,” sê Thomas en lei Brenda in die enorme sitkamer in, waar mense in groepe staan en gesels. Eenkant gewaar sy ’n kroeg waar besige kroegmanne in uniform drankies skink.
“Wag net hier, ek gaan haal gou. Wat drink jy?”
“’n Glas witwyn sal lekker wees, dankie.”
Hy is net weg, en sy staan selfbewus alleen, toe sy agterkom dat ’n lang, donker man vir haar kyk. Hy staan in ’n groep, met langs hom ’n mooi blondine wat sy arm besitlik vashou. Brenda wil wegkyk, maar sy kan nie. Dis asof die man haar toor. Nie net is hy besonder aantreklik nie, maar hy het ’n aura wat sy van hier af kan aanvoel. Sy skouers is hoekig breed en sy houding fier. In sy aandpak is hy asemrowend. Sy skeur haar blik weg met die eienaardigste sensasie van warmte in haar lyf en draai haar rug op hulle.
“Jy is Thomas se date vir die aand, nie waar nie?” hoor sy oomblikke later ’n diep stem langs haar vra. Sy draai om.
Vir ’n sekonde of twee kan sy nie praat nie, want dis die aantreklike donker man wat nader gekom het. Sy moet opkyk na hom, want hy is heelwat langer as sy, en sy registreer dat hy die mooiste grysblou oë met pikswart wimpers en wenkbroue het. Sy vel is soel en sy mond ferm bo ’n taamlik prominente ken. Hy is duidelik familie van Thomas, maar seker so tien jaar ouer.
“E … ja. Ek is Brenda Wiechers.”
Hy steek ’n groot hand uit wat hare warm omvou, en dit voel skielik asof skokgolwe in haar arm optrek.
“Aangename kennis. Ek is Charl Naudé, Thomas se oom. Hy los jou net hier en jy ken niemand nie. Kom sluit by ons aan.”
“Dankie.” Gehoorsaam loop sy saam na die groep. Sy word voorgestel aan ’n klomp dokters, wie se name by die een oor ingaan en by die ander een uit.
“My vrou, Maureen,” stel hy die mooi blondine voor. “Brenda Wiechers wat julle hier sien, is blykbaar ’n vreeslike vangs, want Thomas beweer sy weier alle uitnodigings. Miskien is daardie outjies by die mediese skool nog te onvolwasse vir haar.”
Brenda bloos en is vies vir haarself dat sy so reageer.
“Nee wat, Thomas oordryf. Ek gaan darem soms met mans uit.”
Dit klink flou, maar Charl Naudé glimlag skeef en die ander lag.
“Trust ’n Naudé om deur die ys te breek,” spot Maureen. “Jy moet maar oppas vir die Naudé-mans. Hulle is die gevaarlikste wolwe op die planeet. Befoeterd ook, en eiewys.”
“Dis ’n wonder dat jy vir my kans gesien het as ek uit so ’n vreeslike genepoel kom,” sê haar man droog.
“A, hier is jy,” hoor Brenda Thomas se stem agter haar.
Hy gee haar glas wyn aan. “Ek sien jy het my gunsteling-oom ontmoet. Hy was ’n laatlam en is dus net tien jaar ouer as ek. Hy is ook een van die beste ginekoloë in die land.”
Brenda kyk nuuskierig na Charl Naudé en iewers lui ’n klokkie.
“Ek dink ek het al van u gehoor, dokter Naudé,” sê sy. “Ek is self van plan om ginekologie en verloskunde te doen. As ek eers klaar is met my Zuma-jaar, en nadat ek darem so een of twee jaar in Engeland gewerk het.”
Hy kyk skerp na haar. “Is jy opgewasse vir die lang ure en die druk? Jy lyk so … jonk en kwesbaar. Babas kom mos nie op bestelling nie, jy kan nie hulle tyd bepaal nie. Dis ’n dag-en-nag-werk.”
Brenda voel dadelik in die gesig gevat. Hierdie man onderskat haar. Hy is so bevooroordeeld soos die meeste mans.
“Ek is heeltemal sterk en vasberade genoeg,” reageer sy styf.
Sy glimlag is sowaar spottend, asof hy haar nie glo nie.
“Ek is ook van plan om in ginekologie en verloskunde te spesialiseer,” hoor sy Thomas sê, en sy draai haar oë weg van sy oom na hom.
“Hy wil net al die vroumense op hom verlief maak,” terg Maureen, en Thomas lyk gevlei.
Hy grinnik vir sy oom. “Dalk word ek eendag ’n vennoot van my oom Charl.”
Brenda let op dat die oom glad nie geamuseerd of inskiklik lyk nie.
“Jy sal jouself eers moet bewys,” is al wat hy sê.
“Kom ons mingle, my skat,” stel Maureen voor en hulle verlaat die groep.
Thomas neem Brenda se arm. “Kom ons gaan soek ons eie portuur op. Verskoon ons, mense.”
Dwarsdeur