Hartklop Omnibus 1. Malene Breytenbach
“Dis baie jammer dat jy so begeerlik is,” sê hy. “Jy is soos ’n pakkie met pragtige papier en ’n lint versier, maar as ’n mens dit oopmaak, is dit leeg.” Sy stem bewe en hy staan met sy hande geklem, asof hy hom met moeite probeer beteuel om haar nie weer aan te raak nie.
Brenda maak die deur oop en kyk oor haar skouer. “As jy dink ek is leeg omdat ek my nie aan jou wil onderwerp nie, dan het ons niks meer vir mekaar te sê nie. Kom, ek gaan laai jou af.”
In die motor heers daar ’n atmosfeer wat met ’n mes gesny kan word. Brenda praat nie, want sy is kwaad. Terselfdertyd wonder sy of sy woorde waar is. Is sy regtig koud en gevoelloos?
Nee, Kevin maak net niks in haar wakker nie. Die enigste man wat dit kan regkry, is Charl Naudé, die verbode vrug.
Toe hulle by Eben se huis aankom, bly sy sit. Voordat Kevin uitklim, kyk hy met ’n lang gesig na haar. “Ek is jammer as ek jou geaffronteer het, maar ek moes probeer om deur daardie skanse van jou te breek. Dis egter te sterk vir my.”
“Ek kan nie jammer sê oor ek is soos ek is nie, Kevin. Jy het sekere dinge oor my aanvaar, maar jy was eenvoudig op ’n dwaalspoor. Ons sal nog vriende kan bly …”
“Vriende! Ek kan nie bloot met jou vriende wees nie. Dis ’n tweede prys.”
“Ek is jammer, maar met tweede prys sal jy tevrede moet wees.”
Hy kyk haar agterdogtig aan. “Jy het nie dalk iets aan met daardie man wat heeltyd opduik as ons saam is nie?”
Sy verstyf, maar kyk hom kil aan. “Watter man?”
“Daardie ginekoloog, Naudé.”
“Wat op aarde gee jou tog dié lawwe idee?” vra sy bitsig.
Dikmond klim hy uit en slaan die deur toe. Sy vererg haar oor hy sy woede op haar nuwe motor uithaal. Sy kry dit in rat en trek weg. In haar truspieël sien sy dat hy haar nog agterna kyk.
Het hy ook agtergekom dat daar ’n soort spanning tussen haar en Charl is? Sy het oorreageer toe sy dit ontken …
Die volgende oggend vroeg, voordat Brenda hospitaal toe gaan, bel Eben.
“Wat het tussen jou en Kevin verkeerd geloop? Die man is soos ’n beer met ’n hoofpyn.”
“Ag, Eben, hy het my probeer oorrompel en ek het hom op sy plek gesit. Dis nie asof ek hom nie voorheen gewaarsku het nie.”
“Ek het so iets vermoed. Hy wil nou met alle geweld terug Londen toe en ek wil nog ’n week lank kuier. Hy moet maar alleen gaan. Ek sal sy dinge reël en hom lughawe toe neem, want vir jou sal dit seker te pynlik wees om hom weer te sien.”
Sy is sommer verlig. “Ja, dankie, Eben. Na dese het ek regtig nie vir hom lus nie. As daar nou een ding is wat ek nie toelaat nie, is dit om gebulldoze te word.”
“Weet ek dit nie! Ou vredemaker Brynard sal olie op die waters moet gooi.”
“Dankie, my enigste, my beste vriend.”
“Ja, soek maar witvoetjie. Lief vir jou ook.”
11
Brenda kyk na die mooi jong vrou wat pas ingebring is kraamkamer toe. Sy lê met haar blonde hare oor die kussing uitgesprei en lyk asof sy geduldig wag.
“Weet dokter wie sy is?” fluister suster Hendriks en rol haar oë teatraal.
“Nee, laat ek na haar kaart kyk.”
“Sy is dokter Charl Naudé se … pasiënt. Hy dring aan om self die keisersnit te doen. Die baba lê dwars en hy wil glo nie kanse vat nie.”
Brenda trek haar asem verbaas in. Kan hierdie jong vrou Charl se swanger ontvangsdame wees? Die een waaroor Maureen so gekyf het?
Charl verskyn meteens in die deur, baie professioneel en waardig. Die toonbeeld van die suksesvolle spesialis. “Julle kan die pasiënt maar voorlopig aan my oorlaat. Ek sal opereer,” sê hy.
Brenda onderskep suster Hendriks se betekenisvolle blik en hou haar gesig uitdrukkingloos, al kry sy ’n hol kol op haar maag.
“Nou goed,” stem sy in. Met die omdraai sien sy dat hy die vrou se pols neem en sag met haar praat. Die vrou kyk met vertroue op na hom. Meer as vertroue. Dit lyk amper soos aanbidding, en dis aaklig om te aanskou.
Brenda het hom lank laas gesien en sy het na hom verlang, maar die toneel wat voor haar afspeel, gee haar ’n wrang smaak in die mond.
Hy is darem uitermate besorg. Het die arme meisie op hom verlief geraak, haarself beskikbaar gestel, en toe kon of wou hy dit nie weerstaan nie? Waarom, as die meisie by ’n ginekoloog gewerk het en tog van sulke dinge weet, het sy nie voorbehoedmiddels gebruik nie? Sy kon seker ’n aborsie ondergaan het, maar sy het duidelik nie daardie opsie gekies nie.
Sou dit te skielik gebeur het? Was daar verleiding of dwang? Die botsende, kwetsende vrae en agterdog maal en kolk in haar brein. Sy voel siek as sy aan al die moontlikhede dink.
Die vraag bly: wie is verantwoordelik vir die meisie se toestand?
Meteens besef sy dat sy na hulle staan en kyk asof sy aan die vloer vasgeplak is. Charl kyk reguit en vraend na haar, en hy is óf skaamteloos óf onskuldig, want sy sien geen skuldgevoel in die grysblou dieptes van sy oë skuil nie.
Vinnig beweeg Brenda aan na die volgende pasiënt, maar haar bene voel bewerig. Die venynige Maureen het dit reggekry om die saadjie van twyfel by haar te saai. Toe kom gee suster Hendriks dit water.
Charl sien haar gaan en probeer uiterlik ’n ongeërgde, professionele houding handhaaf. Innerlik is hy baie ontsteld.
Sy het so geskok, so afkeurend gelyk. En … seergemaak. Dit maak hom ook seer.
Sy het natuurlik uitgevind dat Celeste vir hom gewerk het en nou maak sy gevolgtrekkings. Hy glo nie dat sy vir Maureen gesê het sy wil hom hê nie, maar hy glo wel dat Maureen hom goed agter sy rug beswadder het om Brenda af te skrik. En die saad het blykbaar op vrugbare grond geval.
Al is daar iemand anders in haar lewe, is die besondere aantrekking en band tussen hulle twee tog onmiskenbaar. Het hy gehoop dat iets nog tussen hulle sal kan ontstaan. Elke keer as hy haar sien, besef hy dat sy een in ’n miljoen is. Dat sy die soort vrou is aan wie hy homself maklik en met vertroue sal kan verbind.
Daar is niks tussen hulle wat hom die geleentheid gee om na haar te gaan en sommer uit die bloute te sê hy is nie die pa van Celeste se kind nie. Wat sal sy van hom dink as hy dit doen? Nee, sy sal self die waarheid moet uitvind.
Aan die ander kant: as sy ook sommer die ergste van hom wil glo, beteken dit sy vertrou hom nie. Of sy is net so agterdogtig van geaardheid soos Maureen.
Brenda weet presies wanneer die blonde pasiënt by die operasiesaal ingestoot word, want sy gedra haar soos ’n loervink. Nuuskierigheid oorheers skaamte en trek haar soos ’n magneet. Charl het nie met haar oor die pasiënt gepraat nie, al is sy die kliniese beampte aan diens. Dit is ongeoorloof, maar sy laat hom begaan. Dalk is dit vir hom ’n groot verleentheid, maar hy het nogtans ’n pligsbesef en besorgdheid omdat die saak so persoonlik is.
Sy is so ontnugter. So bitter teleurgesteld. Sy het regtig gedink hy is verhewe bo die sondes wat ander mans pleeg. Hoe kon sy so goedgelowig en onnosel gewees het? As jy liefhet, stel jy jou aan die vreeslikste teleurstelling en pyn bloot, kom sy nou agter.
Sy voel asof sy van binne bloei, maar uiterlik sien geen mens dit nie. Uiterlik is sy die koel en kalm dokter Wiechers.
Die ergste van alles is dat sy dit as verraad ervaar, maar dis nie regtig verraad nie. Charl het geen beloftes aan haar gemaak nie. Hulle het nie eens ’n verhouding aangeknoop nie. En tog …
Suster Hendriks is die een wat haar na die operasie kom vertel dat die vrou ’n pragtige seuntjie het. Brenda knik net en hou haar met ander dinge besig, sodat niemand moet sien hoe vergruis sy voel nie.
Lang dae