As liefde ontwaak. Elsa Hamersma

As liefde ontwaak - Elsa Hamersma


Скачать книгу
om ’n probleem wat aan hom krap, dadelik op te los. In sy tipe werk kan hy nie bekostig dat sy aandag dwaal nie.

      As hy analities daaroor dink, is die probleem dat Nina hulp nodig het – met wat ook al pla – en dat dit smiddae tuis uitgestryk moet word. Dis die oortjies van die seekoei. Die probleem kom al ’n lang pad.

      Meyer stoot sy hande deur sy hare. Estelle is dood toe Nina baie klein was, maar sy het die sorg van haar ma ten minste die eerste jare van haar lewe gehad. Namate sy egter ouer word, sal die gemis aan vroulike leiding al hoe groter word. Daar is ’n gat in haar lewe wat hy verstaan, maar nie kan vul nie. Wat net ’n ander vrou sal kan vul.

      Die afgelope paar maande, vandat Nina skool toe is, het hy begin besef dat die versorging en grootmaak van ’n dogtertjie baie meer behels as wat hy vermoed het. Daar is byvoorbeeld ’n onophoudelike stroom uitnodigings na verjaardagpartytjies waarvoor daar geskenke gekoop moet word en waarheen Nina aangery moet word. En dan is daar Nina se klere. Dis een gebied waarop hy skromelik misluk. Wat vir hom mooi is, is vir haar lelik, en omgekeerd. Hy kan die huishoudster of die kok ook nie regtig vra om hom daarmee te help nie, al ken beide haar vandat sy gebore is.

      Rusteloos loop hy op en af in die ruim vertrek. Hy is diep dankbaar dat hy Nina het en alles wat hy doen, is met haar toekoms in gedagte. Dis tog nie sy skuld dat hy nie al haar behoeftes verstaan nie. En dis ook nie sy skuld dat sy nie meer ’n ma het wat dit kan doen nie. In hulle huwelik was hy die broodwinner en Estelle die een wat die huishouding, en later hulle kind, hanteer het.

      Eintlik weet hy lankal dat daar ’n vakature is wat hy moet vul. Hy het net nie geweet hoe om dit te doen nie, want om weer te trou oorweeg hy hoegenaamd nie.

      En hier lê die oplossing skielik voor hom in die vorm van ’n advertensie. ’n Instaanmammie! ’n Substituut-ma. Een wat die leemte in sy dogtertjie se lewe sal kan vul. Waarom het hy nie lankal daaraan gedink om ’n vroulike versorger aan te stel nie? Iemand wat koekies bak, partytjies by die huis reël, na Nina se huiswerkies kyk. Vir haar die regte klere kan koop. Magtig, die Britse Koningshuis en al die adellikes het almal nannies wat hulle kinders grootmaak.

      Die prentjie van die vrou met die goudblonde hare wat so grasieus oor die pad gestap het, verskyn ongevraag voor hom. As dit sý is wat haar dienste adverteer, is hy haar dankbaar vir die idee. Maar sy sal nie geskik wees nie. Wat hy soek, besluit hy, is ’n betroubare middeljarige vrou. Dalk ’n weduwee. Iemand wat al kinders grootgemaak het en nie net vir ’n paar weke verligting gaan bring en dan haar goed vat en loop nie.

      Besluiteloos trommel sy vingers op die houtblad van sy groot lessenaar. Sal hy die Danielle van die advertensie nie maar bel en uitvind of sy en die vrou in die straat dieselfde mens is nie? Dalk het sy die advertensie net afgelewer as ’n guns vir ’n ander persoon of persone wat presies aan sy vereistes voldoen. Dit kan tog geen kwaad doen om net te bel en te hoor wat haar storie is nie? En sodoende leer hy dalk iets wat hy later kan gebruik wanneer hy die regte persoon opgespoor het.

      Danielle is daardie aand moeg. Te moeg om hoegenaamd te dink aan die ontplooiing van die speurverhaal wat sy skryf. Sy lê sommer skuins oor haar bed en dink aan die dag wat verby is.

      Dit was nogal harde werk om die advertensies met die hand af te lewer. Eerstens moes sy opskud, want teen half-een moes sy terug in Somerset-Wes wees om die tweeling by die kleuterskool te gaan haal. Tweedens was daar nie een enkele huis met ’n outydse posbus of -gleuf nie. Sy moes die klokkie druk, dan met ’n gesiglose persoon praat en dié een oortuig om die advertensie by die hek te kom afhaal. Sommige van hulle het eenvoudig nie gereageer nie. Ander het haar beduie hulle bel die sekuriteitsfirma as sy nie vinnig skoert nie – en het die hond sommer losgelaat om op die hek af te storm, waar die dier grommend gewag het dat sy ’n vinger deur ’n gaping steek. Slegs by enkele huise was die geluk aan haar kant en het sy ’n tuinwerker op die sypaadjie of in die tuin naby die hek gewaar in wie se hand sy haar advertensie kon stop met streng instruksies om dit vir die huiseienaar te gee.

      Natuurlik kon sy nie alles uitgedeel kry nie. En ná die dag se ondervindinge weet sy nie of sy die krag of oortuiging het om weer so ’n oggend deur te maak nie.

      Ure se handearbeid en waarskynlik alles verniet, dink sy morbied. Wat vantevore na ’n baie goeie idee begin lyk het toe sy in opstand gekom het teen die situasie waarin sy haar bevind, lyk nou na niks minder as ’n sinlose fantasie nie.

      Ben roep uit die kamer.

      Danielle staan moeisaam op om te gaan hoor wat fout is. Hy is dors en wanneer kom sy pappa? Dis hoekom hy roep, verduidelik die seuntjie.

      Sy gee vir hom water en stel hom gerus voor sy terug na haar eie kamer toe slof. Haar selfoon lui net toe sy die deur oopmaak.

      “Hallo,” sê sy, sonder om na die nommer op die skerm te kyk.

      Daar is swaar asemhaling in haar oor en dan ’n heserige giggellag.

      “Wie praat?” vra sy onrustig.

      “Ek’s Syf en ek soek jou lyf, Danielle …” kom die klanke duideliker oor die foon, gevolg deur ’n suggestiewe suiggeluid.

      As die selfoon ’n wriemelende kreef was, kon sy dit nie vinniger laat val het nie – gelukkig op die bed. Haar gesig word rooi van skaamte en ontsteltenis. Toe daar nog geluide uit die foon kom, raap sy dit op en sny die oproep af. Waar sou die walglike man haar advertensie in die hande gekry het? Sy was dan so versigtig met die aflewering …

      Haar hart bons in haar bors; dit is die eerste keer dat sy so ’n ervaring het en sy hou niks daarvan nie. Gelukkig het Syf net haar selfoonnommer. Hy weet glad nie hoe sy lyk of waar sy bly nie.

      Op daardie oomblik lui die foon in haar hand, en in haar gespanne toestand laat val sy die instrument amper weer. Sy kyk dié keer eers na die nommer en sien slegs dat dit onbekend is. Sal sy antwoord? As dit dieselfde javel is, gaan sy hom darem slegsê.

      Versigtig antwoord sy: “Danielle, hallo?”

      “Goeienaand. Meyer Senekal wat praat.”

      Sy is so verlig om die mooi beskaafde stem te hoor dat sy doodstil bly.

      “Is jy nog daar?”

      “Um, ja. Jammer.”

      “En jy is Danielle wie?”

      “Jammer. Danielle Krause.”

      “Nou ja, Danielle, ek het jou advertensietjie gelees en besluit dat dit nogal ’n oorspronklike, maar riskante manier is om dit te bewoord.”

      “Dankie.” Sy is nie seker of dit wel ’n kompliment is nie.

      “Plesier.” Die stem klink effens geamuseerd. “Adverteer jy vir jouself of vir ander mense?”

      “Vir myself,” antwoord sy verbaas.

      “Ek sien.” Daar is ’n paar sekondes stilte. “Ek is nou nie ’n kenner op die gebied van instaanma’s nie, maar sou dit nie ’n goeie plan gewees het as jy gemeld het oor watter kwalifikasies en vaardighede jy beskik nie? Miskien jou CV gegee het, of waar mens dit onder oë kan kry nie?”

      Kwalifikasies? Vaardighede? Sy het nie gedink sy sal haar CV moet verskaf om na kinders om te sien nie. Magdeleen en Dawid het nog nie een oomblik gewonder of sy “bekwaam” is om die tweeling rond te ry, te voed en in die algemeen op te pas nie.

      “Wel, ek het ’n graad met sielkunde en tale as hoofvakke en ook ’n diploma in joernalistiek en vertaling. Ek sal beslis laerskoolkinders met hulle skoolwerk kan help en dis die groep waarin ek belangstel. Dan het ek ook ’n rybewys. Ek sal die kinders dus na hulle aktiwiteite kan neem.”

      “Dit sou sekerlik die heel basiese kwalifikasies wees as jy ander mense se kinders as substituut-ma wil oorneem?”

      “Ek weet nie,” sê sy ergerlik, want hoewel die man se stem aangenaam is, hou sy nie van sy vrae nie. “Ma’s lê gewoonlik nie toetse af voordat hulle kinders in die wêreld bring nie.”

      “Dis waar, maar hulle het ander kwalifikasies, soos moederliefde.”

      “Dit


Скачать книгу