Wewenaar van Groene Weide. Ena Murray
groter verantwoordelikheid gee.”
“Net nie u rubriek nie,” laat Manda vinnig hoor. “Asseblief, ek het nagte sit en worstel met ander se probleme. Ek weet net nie hoe u dit soveel jare kon volhou en op so ’n wyse nie.Wat meer is, dis ’n te groot verantwoordelikheid vir my om vir ander mense te sê wat hulle met hul lewens moet maak. Ek voel nog nie opgewasse daarvoor nie. Ek kry party nagte nagmerries daarvan. Dan is ek seker ek het die verkeerde raad gegee en daardie mense se lewens verongeluk.”
Juffrou Hettie knik. “Jy het gelyk, Manda. Die hantering van so ’n rubriek is ’n groot verantwoordelikheid. Baie dikwels is dit desperate mense wat hulle in ’n laaste poging na jou keer. Dikwels kry jy ook net die een kant van die prentjie. Dikwels vertel hulle nie die volle waarheid nie, is hulle nie heeltemal eerlik met jou nie – veral waar dit hul eie aandeel in die probleem aangaan. Jy moet leer om tussen die reëls te lees en die ongeskrewe waarheid uit te snuffel. En baie dikwels is hul verbeelding met hulle op hol, bestaan daar glad nie sulke nare goed as waarvan hulle jou vertel nie. Daarom moet so ’n rubriek met die grootste omsigtigheid en versigtigheid gehanteer word. Jy bedoel dit so goed, en in die lig van wat jy uit ’n enkele paar reëls wys word, gee jy raad. Maar dit kan so maklik gebeur dat, as daardie raad op ’n risiko uitloop, die vinger na jou gewys word. Dan sê hulle maklik: Jý het so gesê. Jý het gesê ek moet dit doen.”
“Presies. Dis wat ek bedoel,” knik Manda instemmend.
Haar hoof knik en glimlag. “Goed, kind. Ek sal weer my rubriek terugneem. Baie dankie vir die tydjie wat jy dit behartig het. Ek het dit nog nie te lese gekry nie, maar volgens ander was jy net so goed soos ek!”
“O nee. Ek is seker daar is al teen hierdie tyd hope mense wat my wil braai. Nee, juffrou Hettie, baie dankie, maar ek gee dit met ’n verligte hart terug aan u,” lag Manda.
Met ’n ontspanne gemoed stap sy ’n rukkie later weer haar kantoor binne. Noudat juffrou Hettie weer die leisels oorgeneem het, besef sy eers hoe uitgeput sy werklik is. Nie alleen het die afgelope weke fisiek meer van haar geverg nie, maar die geestelike spanning wat die verantwoordelikheid meegebring het, het haar ook tam en mat gemaak. Sy sak agter haar lessenaar neer en ten spyte van haar moegheid, voel sy tog ’n warm gevoel van weldadigheid deur haar gaan. Almal dink sy het haar goed van haar taak gekwyt. Sy sal nie menslik wees as dit haar nie lekker laat voel nie.
“Juffrou Maree.”
Sy kyk ietwat gesteurd op. “Ja, Mattie?”
“Hier is ’n man wat eintlik vir juffrou Hettie wil spreek. Ek het hom gesê dat sy nie beskikbaar is nie, maar hy lyk gedetermineerd om haar te sien. Hy eis haar huisadres.”
Manda frons. “Ek hoop nie jy het dit gegee nie, Mattie,” sê sy vinnig. “Jy weet geen privaat adres mag aan die publiek verskaf word nie.”
“Nee, natuurlik nie. Maar hy lyk moeilik, juffrou. Toe wou hy meneer Kock gaan soek, maar ek het hom gekeer en gesê ek sal hoor of u hom te woord kan staan want u neem tydelik waar.”
Manda se frons verdiep. “Het hy nie gesê wat hy wil hê nie?”
“Nee, maar hy lyk … baie ontevrede oor iets,” laat die senior tikster huiwerig hoor, wetende dat sy dit eintlik sagkens stel. Die man is briesend, om die minste te sê.
“Goed, laat hom inkom. Ek kan nie dink wat …” Sy swyg toe die deuropening meteens gevul word en die ontevredenheid flits in haar oë. Hy kon ten minste gewag het tot hy aangesê word om binne te kom.
Maar die vreemdeling stap met afgemete pas binne. Dit is duidelik dat hy nie van plan is om vir verlof te wag nie. Mattie verdwyn geruisloos by die deur uit en trek dit agter haar toe terwyl sy Manda se stem koel hoor sê: “Goeiedag, meneer. Kan ek help?”
“Wie is jy?”
Die vraag spat kortaf en byna onbeleef op haar af en die waarnemende hoofredakteur verstyf merkbaar. Vererg kyk sy op in die blitsende bruin oë van die lang, donker man hier voor haar lessenaar. “Juffrou Maree. Ek neem waar terwyl ons hoofredakteur ongesteld is. As daar enige probleme is waarmee ek kan help …”
“Probleem!” Dit klink soos ’n ontploffing uit sy mond. “Ek soek na juffrou Hettie, die een wat so graag ander mense se probleme vir hulle oplos. Ek wil met háár praat – met niemand anders nie.”
Manda voel ’n krieweling langs haar ruggraat afgaan. Haar intuïsie vertel haar dat daar êrens ’n groot skroef los is, maar sy kan nie dink waar nie. Nog steeds probeer sy koel en kalm optree.
“Sy is die hoofredakteur en sy is ongesteld op die oomblik, soos ek reeds gesê het. As ek dan nie kan help nie, is ek bevrees sal u moet wag tot sy oor ’n paar weke terug is op kantoor.”
“Wag!” Weer klap dit in die kantoor asof ’n geweer sonder knaldemper afgegaan het. Manda se nekhare begin rys. As daar een ding is wat sy nie kan verdra nie, dan is dit ’n geskree op haar.
“Ja, meneer, wág. En as u my nou sal verskoon …”
Twee paar oë meet kragte en onder die blas vel sien sy ’n rooi gloed opstuif. Dit verskaf haar oneindige plesier om dit te sien. Hy lyk nie soos ’n man wat daaraan gewoond is om die deur gewys te word nie. Die bewing in die sensitiewe neusvleuels en die stram, stywe lippe vertel haar sy het gelyk. Uitdagend kyk haar blou oë terug asof hulle wil sê: Daar is altyd ’n eerste keer …
Twee paar vuiste word aan weerskant van haar lessenaar se hoeke geplant en die groot man buig vooroor. “Ek wil nou, op die daad, daardie juffrou Hettie se adres hê – al sit sy in Kaïro.Verstaan? Nóú.”
Weer is dit lekker om terug te antwoord: “Jammer, meneer, maar dit word nie gedoen nie. Dis teen die regulasies.”
“Na die duiwel met regulasies. Ek sal jou sê wat teen die regulasies is. Dis teen alle regulasies dat ’n versuurde oujongnooi mense raad gee oor hoe hulle hul probleme moet oplos. Daardie juffrou Hettie van julle … Sy ís ’n oujongnooi, is sy nie?”
“Maar meneer …” begin Manda, nou billik ontstoke. Hoe durf hy die dierbare juffrou Hettie ’n versuurde oujongnooi noem!
“Geen maars nie, juffrou. En so lyk dit my is die hele spul van julle wat hier werk. Al wat julle van die lewe ken, is die paadjie om jul lessenare. Maar julle matig julle aan om ander mense te vertel hoe hulle moet lewe en wat hulle moet doen. Dan gaan sit julle selfvoldaan agteroor en ander mense moet die gelag betaal.” Hy buig nog laer en Manda sit versteen. Maar die man is nooit reg wys in sy kop nie! Waarvan praat hy? “Wel, hierdie keer gaan juffrou Hettie haar eie gemors kom regmaak.”
“As u my net sal sê waarna u verwys. Ek het geen idee waarvan u praat nie!”
“Ek praat hiervan.” ’n Sterk, sonbruin hand skiet na sy baadjiesak en hy gooi iets voor haar op die lessenaar neer. Met bewende vingers tel sy dit op, vou dit oop. Voor haar dans ’n uitgeskeurde blad van een van hul uitgawes en langs die vetgedrukte letters “Vra vir Juffrou Hettie” glimlag die liewe ou gesig haar vriendelik toe.
Manda frons verward. “Wel … wat daarvan?”
“Wat daarvan?” Hy maak eers so ’n halfsirkel voor haar en draai dan weer terug, kompleet soos ’n slang wat wil pik, dink Manda. “Lees dit! Lees daardie eerste stuk … die stuk van Jeanette en …” Dis of sy stem wil breek. “En daardie ou oom van haar. Lees dit, want groter snert sal jy in jou dag des lewens nooit weer onder oë kry nie.”
Manda gehoorsaam werktuiglik. Sy weet dis háár rubriek hierdie, die eerste een wat sy geskryf het die oggend nadat juffrou Hettie die ongeluk gehad het …
Sy kyk versigtig op. “Ek … ken die inhoud. Wat is die probleem?”
Hy snorklag en sê dan sissend: “Die probleem? Daar is meer as een, juffrou. Die eerste probleem is dat dit die grootste spul snert is wat daar geskryf staan. Dat nie een woord daarvan waar is nie. Dis ’n spul infame leuens om mee te begin. Daar bestaan nie so iets dat daardie arme kind soos jou liewe juffrou Hettie haar noem, ooit gevange gehou is nie. Dat sy ’n beskermde lewe