Drome van gister. Elza Rademeyer
skrik. Wat gaan jy vannag doen as jy die hele dag lê en slaap?”
“Vir jou uit die slaap hou,” sê Jan. “Jy beter ook slaap, sodat jy nie vannag onder die opsitkers aan die slaap raak nie.”
Peet bring eensklaps die voertuig tot stilstand. “Jou beurt om te bestuur,” sê hy vir Jan. “En my beurt om te slaap.”
“Ja,” sê Jan. “Dit verbaas my nie dat jy moeg is nie. Jy was mos laas nag meer in die badkamer as in jou bed.”
“Moes seker maar iets gewees het wat ek geëet het,” mompel Peet toe hy sy deur oopmaak en uitklim om sitplekke te ruil.
Met die inklimslag op die agterste sitplek langs haar sien Alet hoe hy vlugtig na haar skoot kyk, daar waar Jan met sy kop gelê het, en tergend vir haar glimlag. Haar hart tuimel. Nooit! Sy gaan dit nooit oorleef as hy Jan se voorbeeld volg nie! dink sy ontsteld. Maar dan tel hy ’n kussing op, rangskik dit agter sy kop en sluit sy oë.
Die gespannenheid wat sy nabyheid teweeggebring het, is net besig om weg te sypel toe Jan swenk vir ’n gat in die pad, en Peet se kop met kussing en al na haar kant toe kantel. Sy keer instinktief, maar toe sy die kussing probeer wegskuif, is dit vloek of sy dit kan regkry. Inteendeel, hy strek sy bene en nestel deur die slaap sy kop gemakliker teen haar skouer aan. Wat moet sy nou doen? wonder sy vervaard. Hom wakker maak? Maar hy’t dan nou kwalik aan die slaap geraak! Wat sou sy gedoen het as hy enigiemand anders was? vra sy haarself af. Toe besluit sy om hom maar te los. Vir ’n rukkie altans. Tot Bets wakker word, of tot hy vanself wakker skrik.
Ná wat vir haar soos ’n ewigheid gevoel het, gee hy ’n kuggie en lig sy kop van die kussing af om slaperig na haar te kyk. ’n Glimlaggie sprei oor sy gesig. “Dankie. Ek verstaan nou hoekom ek so lekker geslaap het,” sê hy sag.
Haar hart tamboer kliphard in haar ore toe hy tydsaam terugskuif na sy sitplek. Dis sy oë, dink sy by haarself. Daar is ’n magnetiese krag in hulle wat haar heelhuids wil insluk, wat haar sinne so bedwelm dat sy glad nie rasioneel kan dink nie. En dis tog maar die begin van hul vakansie. Hoe gaan sy dit regkry om die hele tyd normaal op te tree, om nie te laat blyk hy verwar haar nie?
Toe Peet en Jan aan die gesels raak, haal sy ’n tydskrif uit haar handsak om haar mee besig te hou. Maar dis nie lank nie, of hulle betrek haar ook by die gesprek. Daar word oor baie dinge gesels. Sport, landsake, selfs boerdery. En toe hulle by Sendelingsdrif, die grenspos na die Richtersveld, stilhou om brandstof in te gooi, voel sy baie meer op haar gemak. Sy is nogtans bly die mans is reeds uit die motor toe Bets wakker skrik.
Peet neem weer agter die stuurwiel plaas toe hulle verder ry. Almal is op en wakker, nuuskierig om te sien hoe die Richtersveld lyk. Die konvooi hou dan ook kort voor lank by ’n boom stil. Ben tree na vore en verduidelik dat dit ’n witgatwortelboom is, en wys hulle op die wortels wat so verdik het dat dit ’n soliede rotsblok oopgekloof het op soek na water.
Op die een of ander manier het Alet langs Elsie te lande gekom, en hulle loop dan ook saam om ’n plant effens weg van die boom af te gaan besigtig. Op pad om weer in die voertuie te gaan klim, kom sluit Bets by hulle aan. “Wat loop julle twee so eenkant en skinder?” vra sy laggend.
“Ons het nie geskinder nie,” sê Elsie. “Ons het ’n plantjie gaan besigtig en van die ruheid van die berge gepraat. Vir sommige mense mag die natuur hier na niks lyk nie, maar vir my en Ben is dit besonders. Ons kom maak elke jaar ’n draai hier.”
“Ja,” sê Bets. “Ek gaan vir Peet vra dat ons ook weer hierheen kom. Dalk sommer vir ons wittebrood. Sal jy ons strooimeisie wees, Alet?”
“Nee, beslis nie. Ek is gans te oud daarvoor,” sê sy glimlaggend. Maar dis net haar mond wat glimlag. Op haar skouer het eensklaps ’n geel monstertjie kom sit wat kekkelend lag.
Toe hulle Potjiespram bereik, die kamp waar hulle van plan is om twee of drie nagte oor te bly, is dit gelukkig so ’n gewoel en gewerskaf om die tente op te slaan en dinge reg te kry vir die aand se braai, dat sy nie kans kry om oor geel monstertjies te tob nie. Maar aan alles kom daar ’n einde. Met almal wat help, is die werk spoedig afgehandel, en tree Ben eers na vore om hulle die leviete voor te lees.
“Onthou, geen vullis word agtergelaat nie. Nie ’n blikkie of ’n lekkergoedpapiertjie nie. Alles kom in die vullissak wat aan daardie boom hang. Andersins, doen net waarvoor julle lus is. Julle kan in die rivier gaan swem, of visvang, of gaan stap. Sorg net dat almal teen halfsewe terug is wanneer die braaivleisvure aangesteek word.”
“Wat gaan ons doen?” vra Alet vir Bets.
“Ek gaan saam met die ander stap.
Alet kyk verlangend na die rivier. “Kan ons nie eers gaan afkoel nie?”
“Jy kan gaan swem as jy lus is, maar ek gaan stap.”
Menende dat Peet saam met Bets gaan stap, gaan trek Alet haar baaikostuum aan. Jan, het sy gesien, is saam met ’n paar ander mans weg om te gaan visvang hoër op langs die rivier. Sy gooi haar handdoek oor haar skouer en begin tydsaam al met die rivieroewer langs loop. Vind dan uiteindelik ’n poel agter ’n rotsblok wat veilig genoeg lyk om in af te koel. Sy los haar handdoek op die oewer en loop versigtig die water binne om nie op die gladde klippe te gly nie.
Die water is ’n heerlike lafenis ná die snikhete dag, en sy geniet dit terdeë om in die poel rond te plas. ’n Rukkie later besluit sy om op haar rug te dryf. En sink eensklaps soos ’n klip onder die water van skrik toe haar blik op Peet val waar hy doodluiters op die punt van die groot rotsblok sommer hier neffens haar sit. Toe haar kop proestend bo die water verskyn en sy sien hoe geamuseerd hy lyk, is sy onmiddellik vies. “Wat soek jy hier?”
Sy wenkbroue lig. “Is ek dan op verbode terrein?”
“Ja! Ek bedoel, nee … Ek bedoel, het jy dan nie gaan stap nie?”
Hy glimlag. “Ek hét tot hier gestap.”
“Ek bedoel, hoekom is jy nie saam met die ander stappers weg nie?”
Sy glimlag verbreed. “Dalk het ek ’n voorgevoel gehad hier gaan ’n waternimf verskyn.”
“Bets het gaan stap,” sê sy ontsenu.
Hy antwoord nie. Sy stilswye en die manier waarop hy na haar kyk, stuur ’n rilling langs haar ruggraat af. Sy plas met haar arms in die water om haar ongemak te verberg, en probeer onopsigtelik kant toe beweeg. Maar dan kom hy orent en steek sy hand na haar uit. “Kom, ek help jou om hier op die rots te kom.”
“Ek gaan liewer terug kamp toe. Ek het nou klaar afgekoel.”
“Is jy bang vir my?”
“Nee, hoekom sal ek bang wees vir jou?” hou sy haar braaf.
“Omdat ek die indruk kry jy wil weghardloop.”
“Weghardloop? Ek skrik nie vir koue pampoen nie!” Sy kan eenvoudig aan niks beter dink om kwyt te raak nie. Dis of haar verstand tot stilstand gekom het.
Hy steek weer sy hand uit. “Kom, ek help jou om tot hier bo te kom.”
As sy langer wegskram, gaan hy net agterkom sy is bang vir hom, flits dit deur haar gedagtes. Bang vir die beroering wat hy in haar teweegbring. En dalk is dit ’n goeie ding as hulle gesels. Dalk doen of sê hy iets wat haar ’n weersin in hom sal gee. Wat haar verspotte gedagtes oor hom onmiddellik in die kiem sal smoor.
Die sitplek op die rots is min. Hulle moet gans te na aan mekaar sit na haar sin. Sy is oorbewus van hul halfnaakte lywe in die baaikostuums, en verwens haarself dat sy ’n bikini aangetrek het. Sy twyfel ook sterk of dit net die son is wat haar so warm laat kry, en soek naarstig na iets om die stilte te verbreek. “Die berge daar oorkant die rivier is in Namibië, nè?”
“Ja. Die rivier is die skeidslyn.”
“Om te dink ’n mens kan net deur die rivier loop, dan is jy in ’n ander land.”
“Ek sal jou aanraai om dit nie te probeer nie. Tensy jy beter kan swem as wat dit netnou wou lyk.”
Die