Skat van onheil. Annelize Morgan
Hy mag nie dood wees nie! Dan is hulle hele fortuin daarmee heen en sy stoksielalleen in die wêreld. Hy was vir haar nog altyd die enigste op wie sy kon vertrou. Sy is baie lief vir haar pa en as hy iets oorgekom het, sal sy haarself dit nooit vergewe dat sy nie in die begin saam met hom na die Kaap gekom het nie … maar hy wou vir haar net die beste gehad het.
’n Skielike uitroep van die koetsier ruk haar uit haar gedagtes op. Dis buite al stikdonker en die lanternligte brand flou.
“Wat is dit?” roep sy deur die venster, maar sy kry nie die geleentheid om op ’n antwoord te wag nie. Sy ruk haar kop vinnig terug toe sy die gemaskerde manne op hul perde om die koets gewaar. Struikrowers!
Véronique kyk in die koets rond op soek na ’n wapen waarmee sy haar kan verdedig, en sug van verligting toe sy die klein, kort dolk in ’n leersakkie onder die koetsvenster gewaar. Sy gryp dit en steek dit tussen die voue van haar rok weg.
Die koetsdeur word hardhandig oopgeruk en ’n gemaskerde gesig verskyn in die opening. Die rower buig oor, kry Véronique aan haar pols beet en trek haar met geweld by die koets uit. Sy struikel oor die gras en bly op haar knieë staan, die dolk in haar hand vasgeklem. Sy staan stadig op terwyl sy die dolk weer in haar tabberd versteek.
’n Groot, fors geboude man kom na haar en stamp haar terug.
“Waar’s jou juwele?” sis hy.
“Ek dra geen juwele nie,” sê sy in ’n bewende stem.
“Moenie kaf praat nie! Werkers ry nie in koetse nie!” Die ander rowers staan nader toe hulle besef dat daar niemand anders is om te beroof nie. Die groot man praat verder: “Wie’s jou pa, duifie?”
Véronique lig haar ken.
“Le comte de Sévigné.”
Die rower kyk skerp na haar.
“Dit lieg jy!”
“Dit is die waarheid, monsieur,” antwoord die meisie bewerig. “Hy het verdwyn en ek kom nou van monsieur Lorraine af. Hy het my ’n werk as kamermeisie gegee. Ek het niks juwele of geld nie, monsieur …”
Die rower staan ’n paar sekondes lank na haar en kyk. Véronique vat die dolk vaster. As een van hulle iets probeer, sal sy haar verdedig.
Skielik bars die man uit van die lag.
Sy deins effens terug.
“Hoor julle dit!” brul hy vir sy makkers. “Die dogter van die comte de Sévigné werk as kamermeisie by monsieur Lorraine!”
Die ander begin saamlag en Véronique kyk verwilderd van die een na die ander. Sy begryp nie wat gaande is nie. Hoekom lag hulle daaroor?
“Daar is niks om oor te lag nie!” skreeu sy skielik.
Die leier kyk bejammerend na haar.
“Jy sal nog verstaan waarom ons lag, mademoiselle, jy sal gou genoeg baie goed verstaan … Bonsoir!”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.