Geskenk uit die hemel. Christine le Roux
eerste?”
“Ja. Dit gaan ook die laaste eerste wees.”
“Ek hoop so,” stem sy saam en leun agteroor. Hy is nie onhandig nie, hy vryf lekker hard en dis nog warm in die kamer, die hare sal vinnig droog word.
“Jy lyk nou soos ’n heks,” sê hy en staan ’n entjie weg. Hy het sy baadjie uitgetrek, maar dra nog ’n das by sy blou hemp. “Jou hare staan na alle kante.”
Sy haal haar groottandkam uit die sak van die kamerjas en gee dit vir hom. “Ek is nie kleinserig nie, trek maar.”
Dis ’n onnodige opmerking, haar hare is so dik dat hy nie anders kan as om te trek nie. Dis ook ’n baie vreemde ervaring om iemand anders se hare te kam. Haar hare is nie lank nie, hang net tot teen die holte agter in haar nek.
“Daar,” sê hy toe hy klaar is. “Dis nou glad gekam, maar ek dra absoluut geen kennis van haarstyle nie. Watter kant is jou paadjie?”
Sy trek haar regterhand deur die klam hare en skud haar kop. “Dit sal maar val soos dit moet. Baie dankie.”
“Waar’s die doek waarin jou arm gehang het? Moet jy dit nie terugsit nie?”
“Nie nou nie. Die arm rus mos nou.”
Hy skink vir haar ’n glas wyn en sit dit langs haar neer. “Het jy jou familie gebel?”
“Ek het nie eintlik familie nie. Net my oom en tante. Ek sal hulle môre bel as ek kalmer is, anders skrik hulle net.”
Pieter kan dit glo. “Waar woon hulle? Waar woon jy?”
“Hulle woon in Trompsburg. Dis ’n klein dorpie in die Vrystaat. Ek het by hulle gebly, maar die afgelope paar jaar bly ek orals.”
“En doen wat?”
Sy waai haar gesonde hand deur die lug. “Ag, iets van alles.”
“En dis wat jy beplan om ook hier te doen?”
Sy knik, drink ’n klein slukkie wyn en kyk hom betekenisvol aan. “Ek dink jy’t vergeet wat ek vroeër gesê het. Van honger. Ek was net van plan om iets te gaan eet toe jy my omgery het.”
Hy knyp sy oë toe. “Sê liewer raak gery. Dis erg genoeg, maar klink beter as omgery. Ja, Anna het vir my ’n souttert en slaai gemaak. Ek is nog nie honger nie, maar jy kan kom eet.”
“Mens kan verdwaal in jou huis,” merk sy op toe hy haar om nog ’n skuins gedraaide betonmuur lei na waar ’n ronde tafel in ligte hout staan. Een geblomde tafelmatjie lê gedek vir een persoon en hy wys sy moet sit. “Mm,” sê sy ná die eerste mond vol. “Dis baie lekker. Ek sou meer uie ingesit het en ’n knypseltjie tiemie, maar dis lekker. Ek kla nie.”
“Is jy ’n kok?”
“Ja,” antwoord sy. “Van formaat.”
Hy bestudeer haar. Die dik blonde hare is nou feitlik droog en val vooroor tot op haar neus as sy dit nie gereeld terugskud nie. Haar gesig is hartvormig en bestaan hoofsaaklik uit twee groot, grysblou oë. “Ek sien,” sê hy.
“Sien tel nie, jy moet proe. Ek sal een aand oorkom en vir jou my aspersie-soufflé maak. Dis ’n wenner.”
“Oorkom?” vra hy. “Jy hoef net met die trappe af te loop.”
“Nie môre nie. Dan is ek in die jeugherberg.”
“Nee,” sê hy. “Jy moet begryp – ek voel verskriklik skuldig. Ek het niemand nog ooit seergemaak nie, dis regtig ’n … ’n onaangename ondervinding. Die minste wat ek kan doen, is om nou te sorg dat jy … wel, dat jy onderdak het. Huisvesting.”
“Het jy nooit jou sussie van ’n muur afgestamp nie?”
“Ek het nie ’n sussie nie en ek is seker as ek een gehad het, het ek haar nie afgestamp nie.”
Sy hou vir ’n sekonde op met eet. “’n Broer?”
“Ja. Twee.”
“Nou ja? Julle het mekaar seker dikwels bloedneus geslaan.”
“Ja-a-a,” sê hy huiwerig. “Dis anders. Ons was klein. Of jonk. Ons doen dit nie meer nie.”
Sy trek die slaai nader en skep haar bord vol. “Ek het nie vir die dokter gesê jy het my om- … my raak gery nie. Ek het gesê ek en jy was op ’n staptoer en ek het geval.”
“Hy’t jou natuurlik geglo,” sê hy wrang. “Jou vel op ’n teerpad afgeskuur en ek in ’n pak.”
“Hy’t jou nie gesien nie,” sê sy. “En ek het net gevoel dis ordentliker.”
“Dankie. Ek is bly jy het my reputasie in ag geneem.”
Sy onderdruk ’n gaap en stoot haar leë bord eenkant. “Ek kon sien jy is nie die soort man wat bekend wil staan as iemand wat meisies omry nie. Jammer, raak ry.”
“Nee,” stem hy saam. “Ek is nie.”
Sy gaap weer. “Ek dink dis die pille,” sê sy ter verduideliking. “En gisternag op die trein het ek nie veel geslaap nie. As ek geweet het wat op my wag, het ek natuurlik in die Karoo al afgeklim, maar ek het nie. Baie dankie vir die kos. Sal jy omgee as ek nou maar gaan slaap?”
Hy staan op. “Natuurlik nie. Wil jy nog iets hê? Kan ek vir jou koffie of tee maak?”
“Nee dankie. Wat gaan jy nou doen? Jy moet seker uitgaan?”
“Hoekom moet ek? Ek gaan nou probeer opvang met die werk wat ek vanmiddag … wel, ek gaan nou werk.”
“O,” sê sy. “Goeienag, dan. Lekker slaap as jy later gaan slaap.”
“Dankie,” sê hy en kyk haar agterna toe sy op haar kaal voete om die betonmuur verdwyn.
Hoofstuk 2
Maja kyk na haarself in die spieël en voel bedruk. Sy lyk nie net snaaks nie, sy voel ook nie lekker nie. Ten spyte van die lekker bed en mooi slaapkamer het sy nie goed geslaap nie; dit was kompleet asof sy in die bed lê met ’n stomp hout aan haar vasgegespe. Die gips was te hard, te ongewoon – sy kon nie haar lê kry nie en daarby het sy benoud gevoel. Dit was ’n warm, windlose nag en sy het die slim geplaaste vensters wyd oopgemaak sonder dat dit noemenswaardige verbetering gebring het.
Sy was baie bly toe dit skemerig word in die kamer en lank voor Pieter wakker was, was sy al in die kombuis doenig. Die koffiemasjien wat sy in een van die kaste gekry het, was so nuut dit kan ’n trougeskenk wees, maar in ’n kassie was koffie en sy het die filtreerproses aan die gang gesit en ontbyt gemaak.
“Genugtig,” het hy verras gesê toe hy in die kombuis kom, sy das nog los oor sy skouers en sy baadjie oor sy arm. “Dit ruik wonderlik. Ek is gewoond aan poeierkoffie en ’n stuk winkelbeskuit.”
“Nee, dis onwys. ’n Ordentlike ontbyt is die hoeksteen van jou dag en my omelette is lig genoeg om weg te waai.”
Hy het dit met smaak opgeëet en twee koppies koffie gedrink. “Sal jy regkom op jou eie?” het hy gevra toe hy sy das voor die spieël in die voorportaal knoop.
“Ja, maar ek dink ek moet vandag koers kry.”
“Nee.”
“Ek kan nie hier bly nie,” het sy geprotesteer. “Jy ken my van geen kant af nie en ek het Kaap toe gekom om werk te soek en blyplek te kry en …”
“’n Jeugherberg is buite die kwessie met die arm in gips.”
“Wat van daardie backpackers-plekke?”
“Ewe onmoontlik.”
“Maar ek moet aan die gang kom! Die eienaar van die herberg in Mpumalanga waar ek gewerk het, het my ’n brief gegee vir sy vriend hier in die Kaap en hulle het gesê ek moet hulle kom sien en as ek nie opdaag nie, gaan hulle dink ek stel nie langer belang in die werk