Bloudruk vir die liefde. Susan Pienaar
brood en botter hang nie van haar werk by Verster & Rademeyer Argitekte af nie. Sy het nie skuld nie, het genoeg bymekaargemaak daar oorkant en het nog nie aan haar erfporsie van haar ma geraak nie. Sy kan ander werk plaaslik kry, of teruggaan VSA toe, waar sy weet aanbiedinge onmiddellik haar kant toe sal kom.
Malan glimlag stadig terwyl hy sy kop skud. “En my die plesier en satisfaksie ontneem om jou ’n bietjie werksetiek te leer? Nee wat, ek dink ons wag ’n week of twee voor jy ’n skuif maak.”
’n Week of twee? Mislike vent. Sy het miskien nie eties korrek opgetree om hom te bespreek nie, maar om háár darem lesse oor etiket te wil leer, terwyl hy haar éérste by Stefan afgekraak het. “Ek het met my suster gepraat. Jy sal van haar hou, want sy dink jy’s te wonderlik vir woorde,” sê sy met ’n aangeplakte glimlag sodat Malan kan weet sy dink presies die teenoorgestelde.
Hy glimlag, en sy tande skitter wit teen sy bruingebrande gesig. Salomé staar na hom toe sy voel hoe daardie glimlag haar intrek. Dis asof ’n lig binne-in sy gesig aangesteek is en dit maak hom dodelik aantreklik. Haar hart slaan sowaar ’n slag oor.
Hy knik ’n paar keer. “Ag, dankie, jong. Sê vir jou suster ek is ongetroud en op die oomblik sonder ’n girlfriend.” Hy draai om en stap uit.
Gmf, asof die vroue nou oor hul voete moet val om hom op te raap terwyl hy enkellopend is. Haar oë boor in sy breë rug toe hy uitstap, maar die volgende oomblik besef sy Malan gaan sonder haar ry as sy nie gou maak nie.
2
Salomé weet waar die Waterfall-perseel is, maar vandat sy Malan vroeër in haar kantoor sien glimlag het, is sy vreemd bewus van hom, daarom bekyk sy die omgewing asof sy die pad moet onthou.
Sy het Malan se oë nou al ’n keer of wat vlugtig op haar sien rus, maar hy praat nie. Sy het ook nog nie ’n woord gesê vandat sy net betyds langs hom ingeklim het nie.
Haar oë vang die glinstering van sy polshorlosie, gly dan ingedagte na sy arms. Sterk bruin arms, nie die wit arms van ’n argitek wat heeldag agter ’n lessenaar sit nie. Sy hande is groot en bruin, die vingers sterk en lank soos ’n kunstenaar s’n. Hy verander ratte, en Salomé kyk weg. Dis nie snaaks dat Malan soos ’n buitelugman lyk nie. Oorsee of hier, argitekte se werk is meestal oral eenders. Hulle ontwerp planne en strukture, moet ook al die ander verpligtinge uitvoer wat daarmee gepaard gaan, vergaderings op boupersele met werkspanne en aandeelhouers hou. Malan kan dankbaar wees om ’n bekwame argitek soos Adam as persoonlike assistent te hê, en ’n paar ander wat hul pupilskap doen en sy planne klaarmaak.
So in die ry steek Malan ’n arm na agter uit. Hy kry ’n koelsak raakgevat en hou dit naby haar. Sy neem dit en sit dit op haar skoot. “Maak vir my ’n bottel water oop, asseblief, en kry vir jou ook,” sê hy sonder om na haar te kyk, want hulle steek ’n massiewe lang trok aan hul linkerkant verby.
Sy maak so, hou die bottel na hom uit. Toe die pad voor hulle skoon is, vat hy die bottel blindelings by haar, en sy vingers vou per ongeluk oor hare. Sy hand is droog en die vel hard. Salomé wag vir hom om die bottel terug te gee, en haar oë glip na sy mond terwyl hy groot gulsige slukke drink met sy oë op die pad voor hom. Sy lippe is styf teen die bottel se opening vasgedruk.
Sy ferm mond teen haar lippe, kom die aanloklike beeld by haar op, en sy kyk verward weg. Sy is lekker simpel.
Sy skroef haar bottel oop en kry ’n strooitjie langs die deur. Ag, sy kan seker nie langs die man sit en totaal onbewus wees van die krag en rou manlikheid wat hy uitstraal nie. Daar is iets rusteloos in Malan, iets wat beslis vroeër afwesig was. Dis te siene aan die wyse waarop hy in sy spieël kyk, die manier waarop hy ’n rat sal verander en dan aan die radio se knop draai, ’n blik na haar kant toe gooi en dan weer voor hom kyk. Dit moet die rede wees hoekom sy nou skielik oorbewus van die vent is. Sy het nie veel ooghare vir hom nie, maar dis gelukkig darem nie ’n vereiste wat betref die lewer van ’n fantastiese gebou nie.
Malan bêre die leë botteltjie langs sy deur en vra: “Het jy ander familie . . . u-hm, dis nou buiten jou suster, iewers in die land?”
Moet die stilte wees wat hom laat vra, maar hulle moet seker iewers begin as hulle nie voor die span op die perseel vir mekaar wil knor nie. “Dis net ek en my suster, Magdaleen. Sy’s twee jaar ouer as ek.”
Malan kyk in die truspieël. “Het jy darem so af en toe vir haar kom kuier?”
“’n Paar keer, vir my vriende en vriendinne ook,” antwoord sy en sien hulle het by die staalplaat-afskortings van die perseel gekom. ’n Sekuriteitswag maak oop en groet met ’n breë glimlag. Malan se gespierde arm rus op die oopgedraaide venster en hy lig ’n hand, groet en praat vlot Sesotho met die man wat sy vrae beantwoord voor hulle binnetoe ry. Sou Malan dalk op ’n plaas grootgeword het? Dis mos gewoonlik waar mense die taal vlot leer praat.
Haar gemoedstoestand verbeter toe sy die besige perseel sien. Hyskrane dra materiaal aan en twee groot sementmengers op lorries lawaai terwyl stootskrapers grond gelyk maak. Oral is mense aan die werskaf. Die grondvloer van die parkeerruimte word gegooi.
Sy wag dat Malan stilhou, klim onmiddellik uit en neem alles om haar belangstellend waar.
Malan slaak ’n sug van verligting toe Salomé uitklim. In haar kantoor met daardie oranje oorpak aan, kon hy met moeite sy oë van haar afhou. Nou verstaan hy eers regtig die gesegde dat sekere vroue in ’n goiingsak goed sal lyk. Selfs die erg gehawende ligbruin veiligheidskoene lyk sexy aan haar.
Is vroue nie veronderstel om meer as mans te praat nie? Sy pa reken so. Maar hel, hy kan Salomé se lang stiltes nie hanteer nie. Dit maak hom skoon kriewelrig. Sy is nie moedswillig nie. Daar is net ’n sekerheid in haar wat hy aanvoel, ook raaksien in elke beweging wat sy maak.
Nee flip, waaraan dink hy tog alles? Laat hy uitklim en die voorstellery oorkry.
Die vergadering moet aan die gang kom.
Hy klim uit, sluit die voertuig en sit sy helm op sy kop. Hy sien hoe Salomé haar grys-en-wit helm op haar kop druk en die bande verstewig. Daar is ’n vasberadenheid aan haar bewegings. Dan knik sy vir hom, glimlag en begin stadig naderstap in die rigting van die mans.
Malan gee lang treë om haar in te haal. “Hallo, julle almal. Ontmoet Ludwig Dippenaar, Salomé. Dit is Salomé Delport, sy is die nuwe projekbestuurder, Ludwig.”
Dit lyk asof laasgenoemde sy tong verloor het.
“Ludwig is die elektriese ingenieur,” brei Malan uit. “Salomé is die struktuuringenieur wat ons met die projek gaan help. Nee, magtig, ek moes net hulp in oom Markus se plek kry, want ek kan nie oral wees nie,” sê hy om die stilte te vul. Hel, die ouens kyk almal stom na Salomé. Hy het verdomp geweet ’n vroumens gaan die manne ontwrig.
“Noem my Salomé,” sê sy en draai sodat sy haar hand na nog ’n man kan uitsteek.
“Dis Adriaan, die sisteemingenieur,” kom Malan tussenbeide toe Adriaan te stadig na sy sin is.
“’n Baie aangename kennis,” glimlag Adriaan soos ’n kat voor ’n piering room. Hy hou Salomé se hand te lank vas, maar sy trek hare beslis uit syne en kyk na die man langs hom.
“Salomé, ontmoet Nelis Lemmer, die boukontrakteur,” sê Malan en hulle groet met die hand.
“Aangenaam, Nelis,” sê sy, draai na die laaste man in die kring en steek haar hand na hom uit.
Dié man neem haar hand in syne. “Etienne,” sê hy. “Ek’s die meganiese ou hier rond. Aangenaam, Salomé.”
Salomé knik: “Aangename kennis, Etienne.” Sy kyk om haar rond en dan na waar ’n subkontrakteur met werkers staan en praat.
“Kom ek gaan stel jou gou voor aan Tienie,” sê Malan, skielik oorhaastig om haar hier weg te smokkel.
“Sal julle my asseblief verskoon?” sê Salomé so in die wegstap oor haar skouer.
“Stap julle maar solank aan,” sê hy ergerlik vir die manne. Al sal hy nie kan hoor wat hulle