Tryna du Toit-omnibus 10. Tryna du Toit
“Daar is geen sprake van so iets nie. My stiefpa het my vertel dat hulle baie jare gelede hier in die omtrek geprospekteer het, maar daar het niks van gekom nie. ’n Rukkie voor sy dood was hier iemand wat grondmonsters kom neem het, maar ons het nooit iets gehoor nie. Dis goeie beeswêreld dié – as dit reën! Maar die afgelope jare het my stiefpa meer as die helfte van sy beesstapel deur droogte en siektes verloor.”
Jim Muller knik nadenkend.
“En die man wat so gretig is om Tiervlei te koop, weet jy wie hy is?”
“Nee. Hy het die aanbod vir Tiervlei deur ons prokureur, Gawie Pretorius, gemaak.”
“Een van die bure miskien?”
“Ek glo nie. Meneer Pretorius het nie so gesê nie.”
“Waarom die geheimhouding?”
Ongeduldig sê sy: “As ons die aanbod aanvaar, sal ons seker gou genoeg weet wie die koper is. En aangesien die man bereid is om kontant te betaal, maak dit aan my nie die minste saak wie die koper is nie. Ongelukkig kan ons niks sonder doktor Naudé se toestemming doen nie.”
“Jy hoef gelukkig nie meer lank te wag nie. Intussen is daar genoeg werk om te doen.” Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy onseker: “Juffrou …?”
“Wat is dit, meneer Muller?” vra sy nuuskierig.
“My naam is Jim. Ek sal dit waardeer as jy nie vir my ‘meneer’ sê nie.”
Aletta bloos soos ’n verleë skooldogter.
“Ek sal onthou, meneer Muller,” sê sy, opsetlik kil.
In stilte eet hulle klaar.
Toe hulle van die ontbyttafel af opstaan, sê hy: “Daardie vrou wat ’n ruk lank hier op Tiervlei saam met jou gebly het, waar is sy nou?”
“Tant Lettie? Ek dink sy is terug op die dorp,” sê sy styf. “Waarom vra jy?”
“Dink jy sy sal gewillig wees om weer ’n rukkie hier te kom bly?”
Aletta se blik is koel en skerp. “Ek weet nie. Maar waarom moet sy kom? Ons het haar nie nou nodig nie.”
“Ek dink tog dis nodig.” Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Jy weet hoe gou die mense praat, en as ek en jy die meeste van die tyd alleen hier op die plaas is …”
Die man se gesig is doodernstig, en dis ’n paar tellings voor die volle betekenis van sy woorde tot haar deurdring. Sy lig haar ken en sê trots: “Ek steur my nie aan wat die mense sê nie.”
“Maar ek gee om,” sê hy sag. “’n Man in my posisie moet versigtig wees dat hy niks doen wat sy kans op ’n volgende betrekking kan benadeel nie.”
“Ek verstaan,” sê sy verleë. “En wie moet tant Lettie se salaris betaal? Nóg ek nóg my susters kan dit bekostig.”
“Dan moet die boedel haar betaal. Dit sal seker nie veel wees nie, en ek glo nie doktor Naudé sal beswaar daarteen hê nie.”
Sy haal haar skouers op. “Ek sal môre dorp toe ry en met Ta’ Lettie gesels. Maar wat gebeur as sy nie kan kom nie?”
“In daardie geval sal dit miskien verstandiger wees as jy op die dorp bly en net naweke met jou susters plaas toe kom.”
Daarop het Aletta geen antwoord nie.
Gawie Pretorius kom die middag kuier en later daag Dawie Bruwer, ’n jong boer van ’n buurplaas en vriend van Susan, ook op. Van Jim Muller is daar geen teken nie. Toe Betsie hom gaan roep om te kom koffie drink, is die rondawel leeg. Hulle sit buite op die stoep en koffie drink en Susan, uitgerus en baie mooi in ’n ligte blou somerrokkie, is in ’n moedswillige luim. Sy terg die twee mans om die beurt. In dié luim is Susan onweerstaanbaar en Aletta sien die glimlaggende bewondering, ook in Gawie se oë.
Susan bedoel niks daarmee nie, dink Aletta. Dis ’n teken dat die wonde genees, dat sy weer in die lewe begin belangstel. Maande lank wou sy niks met enige man te doen hê nie, het sy haar in haar kamer teruggetrek wanneer daar besoekers op Tiervlei kom. Maar dis of daar die afgelope tyd nuwe lewe in haar gekom het.
Aletta is nie jaloers nie – inteendeel, sy is trots op haar twee mooi sussies – maar sy het nie verwag dat iemand wat sy as haar spesiale vriend beskou, soos Gawie, hom so maklik deur Susan se glimlag en blonde skoonheid van stryk sal laat bring nie.
Later stel Gawie voor dat hulle almal ’n ent gaan stap, maar die ander is te lui en Aletta en Gawie gaan alleen.
“’n Oulike meisie, dié Susan,” sê Gawie toe hulle wegstap en daar is ’n glimlag om sy mond. “Dit lyk of sy heeltemal oor haar teleurstelling is.”
“Dit gaan baie beter.”
“Praat sy nog nie van terug stad toe gaan nie?”
“Sy word nou haastig, maar ek het haar gevra om hier te bly tot die einde van die jaar – totdat ons saam kan gaan.”
“Sy sal gou weer trou,” voorspel Gawie.
“Ek weet nie. Susan het ander planne,” sê Aletta stil.
“Dawie is oulik. En hy is baie verlief. Dalk laat hy haar nog van plan verander.”
“Was dit om Dawie te tempteer dat sy vir jou ogies gemaak het?” vra sy met ’n spotlaggie.
“Ag, dit was sommer net speletjies,” sê Gawie skouerophalend. “Jy is tog nie jaloers nie, of hoe?”
“Glad nie,” sê sy kalm.
“Ek is bly. Maar dis nou genoeg van Susan. Wat dink jy van die nuwe plaasbestuurder?”
Aletta aarsel. Wat moet sy sê?
“Ek weet nie,” antwoord sy versigtig. “Hy lyk bekwaam en betroubaar, maar hy erken prontuit dat hy geen kennis of ervaring van boerdery in dié deel van die wêreld het nie. Hy het op ’n sitrusplaas naby Nelspruit gewerk, waar hulle ook met beeste geboer het. Hy was blykbaar nie baie gretig om hierheen te kom nie, maar hy ken Frans Naudé se swaer goed en het toe ingewillig om tot die einde van die jaar hier op Tiervlei te help.”
“Dis vir my nuus! As hy dan net tot die einde van die jaar hier bly, beteken dit dat Frans Naudé dalk tog bereid sal wees om te verkoop.”
Later klim hulle teen een van die skurwe kliprante uit, en terwyl hulle kyk hoe die son ondergaan, vra Gawie haar onverwags om met hom te trou.
Aletta is stil. ’n Ruk lank al is sy bewus van sy groeiende belangstelling, en sy het al gewonder wat sy sal doen as hy haar sou vra. Gawie is ’n aangename mens, hardwerkend en ambisieus, en hy sal dit nog ver in die lewe bring. Hy wil hom in die politiek begewe en hom vir die provinsiale raad verkiesbaar stel. Gawie se vrou sal ’n vol en interessante lewe hê, het sy dan gedink.
En noudat die huweliksaanbod kom, laat dit haar heeltemal koud. Wat het dan gebeur om haar gevoelens te verander? Het Susan se flirtasies vanmiddag haar meer omgekrap as wat sy wil erken, of is dit maar net die onsekerheid oor die toekoms wat haar laat aarsel?
“Wat makeer, Aletta?” vra hy toe sy nie antwoord nie. “Ek het dan altyd gedink jy hou van my ook?”
“Ek hou van jou, ek hou baie van jou,” antwoord sy dadelik. “Maar op die oomblik het ek soveel probleme en is alles so onseker dat ek my liewer nie nou wil bind nie.”
“Jy bedoel Susan en Betsie? Is hulle nie oud genoeg om na hulself te kyk nie? Jy het al meer as genoeg vir hulle opgeoffer.”
“Dis nie ’n kwessie van opoffering nie. Ek wil hulle graag gevestig en gelukkig in hulle nuwe lewe sien. Eers dan sal ek vry voel om aan myself te dink. En voor ek weet wat van Tiervlei word, kan ek geen planne maak nie.”
“Ek wens jy wil nie so koppig wees nie. Watter saak maak dit nou of Tiervlei verkoop word of nie? Ek het jou lief; ek wil met jou trou en dis al wat tel.”
“Dankie, Gawie. Dis lief van jou om dit