Versamelde poësie. D.J. Opperman

Versamelde poësie - D.J. Opperman


Скачать книгу

      Maar eindelik, gestriem deur reëns en wind,

      raak hulle met dié grense ook versoen

      en weet wanneer ’n blaar of bloeisel val,

      groei die geskeide harte saam, verbind

      deur herfs en lente, deur ’n diep seisoen

      wat roer in harmonie met die heelal.

      Phoenix

      As ek die skrale plaat stapelia

      en sand nie langer kan verdra,

      die daelikse vaal verwaaiings van die kim

      en snags die sterre wat eenselwig bo my klim,

      sal my moeë vlerke tussen wind,

      stapelia en ster die nis weer vind

      in holtes van die horisonne

      waar ’n vlammenes in jou soos ongebore sonne

      magies deur my liggaam brand,

      tot ek opnuut ’n waterglans oor plate sand

      ontwaar, jong plakkies en stapelia.

      Donkerlied

      Ek het jou lief omdat jy van die verre

      biesies met ’n duisternis en sterre

      kom en hierdie stad se grys geboue,

      al sy strate en die skelle houe

      van die ure, al die mense uitwis

      met ’n stil bedwelming en ’n koel mis

      uit die see; al die spanning en die leed

      van mens-wees met ’n sluimer laat vergeet,

      ’n rus wat my van alles langsaam stoot

      en suiwer met die stilte van ’n dood.

      Nagbloei

      Lank het ek teen die nag se donker hang

      geslaap en in my slaap na jou verlang

      met ’n verborge gloed nog in my lyf,

      soos snags as koeltes oor die aarde dryf

      in kluite skuil ná die verdwene son.

      Ek het gesluimer met ’n ryk bron

      van goue dae in my hart, wat uit

      die ondergronde van die gees opspruit

      na bo in drome, soos deur turf die blom;

      gedagtes wat met leliepunt opkom,

      soos sterre teen die lug. In hierdie nis

      waar snags die dinge bloei wat ewig is,

      het jy verskyn . . . Die Melkweg het haar lyf

      met kaal skouer van die maan se skyf

      oor my gehef en ligtelik gebuig

      tot swart-gestorte hare van die nag ruig

      oor my wange; die wimpers het getril

      om sterre met ’n vreugde hoog en stil,

      ’n wedersydse wete dat verby

      die grense wat die kleiner geeste skei,

      verby die klaging en die ou verdriete

      van die aarde, soos winde in die riete

      langs vergete waters, verby die dinge

      bevange in die aardse sluimeringe,

      die dinge wat vermoei en wat verniel,

      is hierdie hoë rus van siel in siel.

      III

      Mijn herte met luste ghevaen

      Hoe kan ek, so fyn verbind aan die wye

      landskap, sterrenagte en die getye,

      die room wasbloeisels frangipani, die rits

      van vlieënde miere en geluidlose flikker van ’n blits

      agter die palms; verbind aan die lane

      waar die kleibruin blare van die platane

      in stil herfsmiddae stort; die strak

      skoonheid van die winter, sy kaal takke

      en skerfies ryp . . . tot die eerste lou

      lugstrome die stad invloei, die koue

      breek en die hart laat voel iets groters kom

      as net die salie- en die kanferfoelieblom . . .

      hoe kan ek, so fyn verbind aan haar soos mis

      wat soms met strome styg of in klam holtes rus,

      aan haar toenadering en afsonderlike gang,

      haar bors en heup wat eers – nes in die stam

      gehoor word van ’n hoë boom – ’n fluistering

      van vreugdes in my wek, en dan die duiseling

      van herfs wat rooi weggiet

      en winter word, ’n teer verdriet

      van self-inkeer, en met die more

      die hartstog tot getye van die lyf herbore . . .

      verbind aan die waarheid wat wissel na gelang

      van die klier en bloed se donker gang,

      verbind aan al dié dinge, hoe kan ek weet

      dat ek suiwer U vind verby my leed

      en liefde, en ontkommerd van die stof my gees

      verseker van ’n vaste waarheid wees?

      Stasie

      Kon die velde teer lig, en vinnig verby

      my venster – ontdaan van strakheid,

      klipkoppies en kleinlandery;

      met stampers van staal en beton

      elke dorp tussen vlaktes en berge,

      ’n kortstondige blom –

      die nag alles vervreem

      tot die naspel van gesprekke en heuwels,

      en daarna tot beweging alleen,

      dan sou ek U ken; maar my hart

      met al sy aardse beelde, bly

      in verbeide verstard.

      See in die nag

      Buite my venster dreig en tier

      deur die nag die gekettingde dier

      met sy honger na some

      sand en rots en wildepiesangbome.

      Dan lê hy stil, asof hy nie meer

      die wykende aarde begeer;

      spring skielik weer op, ruk daarna

      die nag in, kap en kla, kap en kla.

      Kind van die aarde

      Ten spyte van verdrukking en die pyn

      het hy die aarde, see en die sonskyn

      so lief gehad, hy kon dit nie verlaat

      met sy verlede in verval en kwaad

      vertak, in swaarkry en verdriet; sy hart

      is met die aardse dinge so verward

      hy sou in hemele as ’n gevange gees

      ewig


Скачать книгу