Atropos. Hendrik J. Botha
ATROPOS
Hendrik J. Botha
Queillerie
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Atropos mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir my pa en ma
“Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe,
selfs tot in die derde en vierde geslag . . .”
Eksodus 20:5
Lotsbestemming
Drie dae ná my geboorte
kry jy postpartum-blues.
In jou agterkop dalk Zeus se dogters
dié aand om ’n vuur,
driestuks wat dobbel met my lot.
Het een, of meer van hierdie trio
jou in ’n droom besoek?
Clotho miskien, die een wat listig
al die drade van my lewe sekuur
uit ’n spinwiel draai?
Of eerder Lachesis, waar sy behendig
vesels uitkam en ontknoop
om elke kinkel bloot te lê?
Die droewe Atropos waarskynlik,
skêr in die hand, slagvaardig
om alles sonder omhaal te beëindig
met twee lemme en ’n punt.
Lasarus
Deesdae loop ek op my eie spore,
blaai deur albums, krap in laaie
tussen ou briewe en kaartjies
op soek na jou gesig.
Speel my terug
in ’n stilfilm, byvoorbeeld,
stol die beeld om helderheid te vind,
om sin te maak uit bloed.
Vind jou uiteindelik
in drogdrome weer,
jou hande en voete
nou in doeke toegebind.
Die sneeuman
Uit ’n fotoalbum
In die winter van ’68
toe dit die eerste maal
in jare op die Hoëveld sneeu
staan ons hand aan hand
op ’n grasperk met ’n hond.
Ek pas tien, jy sewe.
Ma se bril blink
tussen gehawende gordyne.
Die sitkamer soos gewoonlik somber.
Pa wat ná ’n nagskof rus.
Met ’n oorgrootbaadjie teen die koue,
mus, handskoene en stewels,
gloei jou gesig, jy lag.
Om ons verlep alles wit,
gryns die rooi pet
van die sneeuman, omgeval,
dooie oë na bo.
Opdrag
Voor jy vertrek
neem ek jou saam op my pelgrimstog
na die Kaokoland
deur die Skedelkus-park langs skeepswrakke verby
die duine langs die Kunene oor
die Hartmann-vallei en Marienfluss.
By Purros te voet met die rivierbedding af
langs olifantspore in die sand,
elke bos waaksaam betrag.
Uiteindelik hurkend
trek ek met ’n mopanietak
’n kruis in die sand,
pak ’n klipstapel
vir jou om te onthou
waar om my as te strooi
as jy dalk in die toekoms
weer kans kry
om hierlangs verby te ry.
Visvanguitstappie vir pa en seun
’n Week voor jou troue
nooi ek jou oor ná werk;
ons stap af dam toe, visstok in die hand.
Gooi die lyne in, begin gesels
oor gister en oor môre.
’n Vislyf breek die water.
’n Slanghalsvoël stol soos ’n klip.
Jou oë blink, jy beduie met jou hande.
Die son glim koper.
Koponderstebo vries die silhoeët van bome
aan die oorkant.
Twee kolganse vlieg laag verby.
Die groet is bruusk, ek stel jou vry
vir ’n sonnewende vol belofte,
méér as al die jare saam met my.
Om ’n gedig te vang
Pas veertien:
kaalvoet, in net ’n kortbroek
sit ek wydsbeen oor ’n wilgerstomp,
met lyn en ’n gebuigde speld
vis ek die eerste maal
behendig silwer vingerlinge
uit die stroom.
Geel
Voor jou dood plant ons rose,
saam uitgesoek by die kwekery.
Verlede week bloei hulle
vir die eerste keer.
Ferm knop hier en daar
die wit, die rooi, die pienk;
die keuse uit jou hand
staan aan die bopunt
geil en skettergeel in blom.
Vanoggend skreef sonlig
deur die gordyn:
op die bedkassie drie geel roosblare,
twee lê op die grond.
Verlies
Vandat jy weg is
dool ek op en af in dié kasteel
met sy spiraal van trap en gang.
Jou kamerdeur is toegetrek,
gordyne hang nors voor die venster,
skaars ’n veegsel sonlig
skuif soggens oor die bed.
Die lessenaar vol papiere
lyk of jy pas nog daar gewerk het.
Op die grasperk jaag die hond ’n hadida.