Die beste spookstories van C.J. Langenhoven. Danie Botha
betref, stil soos die skaduwee van ’n verbydrywende wolk.
Eindelik neem Japie en sy gesellin op die bo-ent van die laan afskeid. Hulle omhels mekaar, draai uitmekaar uit, nader weer en omhels weer, tot vier, vyf maal toe. Toe kom Japie vinnig terug, laan af, by my verby, terug na sy huis toe op die onderplaas.
’n Entjie by my verby, in die kol maanlig waar ek Marta se gedaante die eerste gewaar het, draai Japie om en hy wuif met sy hand. Marta het nog al die tyd net buitekant die uitgang van die laan bly staan. Sy wuif vir hom terug. Eindelik draai altwee, elk kry sy koers. Ek laat Japie maar aanloop om weer nie so kort agter hom te wees nie. Intussen het ek my oog op Marta. Sy loop ’n tree of tien, twaalf, draai weer om, bly daar staan, in die ligtelaaie maanskyn op die gelyk gras, hou haar arms oop asof sy Japie nooi om nog een slag weer te kom … en verdwyn voor my oë.
Die volgende oggend was Japie opgeruimd, byna vrolik.
“Liewe wêreld, Japie!” sê ek, “jy moet ’n heerlike nagrus gehad het. Jy lyk na ’n nuwe mens vanmôre.”
“Dankie, my maat; ek het tog te lekker geslaap; stil en vas, nie ’n droom nie, maar wat my so gelukkig maak vanoggend – ek voel ál, Marta is darem maar nie te ver van my nie.”
Volksraadslid Duiwenal se verhaal
Die bouval op Wilgerdal
Ou Hendrik Duiwenal is ’n lid van die Volksraad. Ek weet nie of dit op sigself ’n getuienis verskaf van sy geloofwaardigheid nie. Maar hy is so welbekend dat dit impertinent van my sou wees om hom aan die publiek met ’n lange introduksie voor te stel.
Miskien egter darem sal dit my vergun word om net dit te sê: Ons ken ou Hendrik almal vir ’n haastige, kortgebonde, driftige ou man, impulsief, sonder vrees vir mens of dier of duiwel. Dis nie ons ondervinding om by daardie klas, leuenaars aan te tref nie. GHHK
Foeitog, my arme ou perdjies!” sê ek. “Maar net een trekkie nog dan is ons bo. En by die eerste plaas waar ons kom sal ons uitspan en die nag oorbly, en ek sal sorg dat julle elkeen vier hawergerwe se skone are kry. H-o-o-o-kaai, blaas maar darem eers elkeen so ’n oomblikkie. Ek sien dit gaan baie swaar.”
Ek sit ’n klip agter die wiel, want ek stap langes my kar met die leisels. Die hoogte was steil. Dit was vir my ’n vreemde pad in die Klein Karoo, in die suidwestelike streke van die ou Kaapkolonie. ’n Warme namiddag in die hart van die somer. Die wêreld om my heen was droog.
Toe ek bo op die hoogte stilhou, kyk ek voor my met groot verwondering. In die vallei waar ek op afkyk, lê die allerfraaiste plasie wat ’n mens se oog ooit kon begeer om te aanskou of jou hart om te besit. ’n Boord van reusagtige okkerneutbome langes die donkerder groen van ’n lemoengaard; ander vrugtebome, perskes, amandels, appels, pere, appelkose, ’n paar kastanjes; ’n wingerd omhein met ’n kweperlaning aan twee kante en ’n vyelaning aan die oorkantste twee. Verder af strek landerye, afgekamp met mure en draadheinings. Deur ’n populierbos in die uitgang van ’n kransige poortjie op die bo-ent van die plaas, en daarvandaan verder oor die plaas tussen fluitjiesriet en papkuil en wilgers deur, raas ’n riviertjie nieteenstaande die jaargety en die droogte. ’n Vaste voorraad water dus; en die lande lê gelyk en die grond is geil. Nog so ’n heerlike plasie sal jy ver deur die wêreld na soek en nie kry nie.
Wat was daar dan om so verwonderd oor te wees? Alles lê verwaarloos en verlate asof daar in geen jare ’n mensehand aan die boerdery gesit was nie. Heinings en mure lê stukkend en omgeval; die wingerd groei met lang lote wild nes ’n rietbos; die vrugte val vrot-ryp van die bome af en die blare hang verlep van die droogte. Alles is van gras en onkruid ingeneem – ’n skone woesteny.
Van naby die pad af aan die oorkant, waar hy op die onderent van die populierbos die riviertjie deurgaan, loop ’n granaatlaning langes ’n watersloot af tot by die hoek van wat daar nog staan van ’n ringmuur beskaduwee deur groot eikebome. Tussen die bome deur sien ek die opstal en daaragter steek buitegeboue uit. Hulle lê merendeels in puin. Die woonhuis staan nog, maar vensters en deure is uit of hang stukkend. Hier en daar deur die rietdak kan jy binne in die solder in sien. Die stoep is oorgroei met allerlei bosgasie.
Die son was al laag gesak; ek moes nog vir my ’n herberg soek vir die nag; ek was moeg, my stomme perde uitgeput. Anders had ek daar by die drif op die bo-ent van die verlate plasie uitgespan en gaan rondkyk of ek nie ’n oplossing kon vind vir wat vir my so onverklaarbaar lyk nie.
Maar ek ry dan toe maar aan, die riviertjie deur, op die onderent van die populierbos, en die oorkantse hoogte oor. Daar, oor ’n korte halfuurtjie, kom ek op die volgende plaas, by die woning van ene ou meneer Freek van Zyl. Goeie liewe mense, hy en die tante en die kinders – twee groot seuns en ’n dogter – wat my met ’n hartlike welkoms ontvang het en dadelik tuisgemaak het.
My perde was in die stal gesit, my kar in die waenhuis gestoot, my goedjies van die kar af gebring in die vrykamer. Terwyl die seuns nog besig was by die krale en stalle om die diere te versorg, en die vroumense binne aan ’t klaarmaak aan die aandete, sit ek en oom Freek op die stoep om die skemerkoelte te geniet ná die drukkende hitte van die dag. Toe vra ek hom uit na die verlate plasie. Die oplossing wat hy my gee was snaakser nog as die raaisel.
Die plaas behoort dan aan ’n betreklik jong man, Petrus van Graan, wat daar gebore is en grootgeword het, en toe die plaas geërf het op die dood van sy vader. ’n Oppassende, vlytige, voorbeeldige seun; in alle opsigte ’n skone jonge man. Toe sy vader dood is, was hy reeds verloof aan ’n nooi Emmie Damberg van ’n plaas ’n paar uur daarvandaan.
In verband met daardie selfde verloofskap het daar ’n lelike treurspel gebeur, nog in die ou kêrel se leeftyd. Daar het ’n ander jongetjie na haar gevry, met die naam van Frans Rysselaar, van ’n geaardheid verskillend van dié van Petrus soos die nag teen die dag, ’n roekelose woestaard wat nooit sy bose hartstogte beteuel het nie. Hy het ede gesweer, sommer in die openbaar, en met die gruwelikste lasterwoorde, dat daar moord sou gepleeg word voordat Petrus van Graan met Emmie Damberg sou trou.
Nou ja, daar hét ook wat ’n mens kon noem moord plaasgevind, maar op ’n ander manier as wat Frans se bedoeling was. Toe Emmie eenmaal en vir altyd op so ’n manier vir hom nee gesê het dat hy nie weer sou kom nie, want sy had ’n afkeer in hom, het hy daar weggery – dit was ná ete in die aand – en by sy huis aangery en sy geweer gaan haal, en ou Van Graan se huis se voordeur gaan oopskop, op hierdie einste verlate plasie – ja, die naam is Wilgerdal – en in die huis ingebars om Petrus in sy slaapkamer te gaan doodskiet. Hy skop die slaapkamerdeur ook oop; met die inloop haak sy voet aan die drumpel; hy slaan neer teen die grond; die oorgehaalde geweer gaan af, die skoot in sy kop, morsdood op die plek.
Toe oom Freek tot hier gevorder was met sy verhaal, kom die tante van binne af uit.
“Hartjie, kom tog nou maar eers met die neef tafel toe, dis opgeskep.”
Ná die ete en die huisgodsdiens bly ons almal om die eettafel sit, en oom Freek vervat die geskiedenis wat hy my op die stoep halfpad vertel het. Van sy eintlike uitleg, waarom Wilgerdal dan verlate lê, het ek op die oomblik niks geglo nie. Maar ek het dit natuurlik nie laat merk nie. Die ou man was so klaarblyklik in sy siel oortuig van die waarheid van wat hy my daar sit en vertel dat ek hom nie met die minste skyn van twyfel wou aanstoot gee nie. Aan sy opregtheid wás daar by my ook geen twyfel nie. Nie ’n liggelowige, oppervlakkige losprater was oom Freek nie, maar ’n verstandige, besadigde ou man van die egte ouderwetse Afrikaner-boere-tipe. Aan die gesigte van die tante en die dogter en die twee seuns om die tafel kon ek sien dat hulle net so vas oortuig was van die waarheid van die geskiedenis as die ou man self. Maar ek laat sy eie woorde hier volg.
“Nou ja, neef Hendrik” – dit was natuurlik dadelik van die uitspan af oom Freek en neef Hendrik – “daardie ellendige Frans Rysselaar het dan sy eie loon met sy eie hand gevind, en niemand het dit betreur nie. Daarna is Petrus se vader dood; die huwelik wat eerder moes plaasgevind het, is vir ’n ses maande uitgestel; en toe, ná die afkondiging van die eerste huweliksgebooie, kom die griep. Petrus was een van die eerstes wat inval. Die derde dag van sy siekte had hy longontsteking met ’n koors van, ek vergeet, 105 of 106. Nag en dag het Emmie hom verpleeg; en