Vers en Vlam. Jeanette Ferreira
en sangers van hoë gehalte geword. Sy lirieke is uitstekend versorg, en saam met dié van enkele ander sangers soos Amanda Strydom, Randall Wicomb, David Kramer en Coenie de Villiers, kan dit sonder meer ook as poësie gelees word. Sy lirieke is in vier bundels gepubliseer. Koos du Plessis is op nege en dertig in ’n motorongeluk oorlede nadat hy slegs drie albums uitgereik het. Ná sy dood is nog ’n album uitgereik met nuwe liedjies wat reeds opgeneem was. Asof hy bestem was vir ’n kort lewe, spreek sy lirieke en musiek byna deurgaans van verlange en verlies. Baie het gebeur sedert Koos du Plessis se dood, maar dat hy ’n fenomenale impak op die ontwikkeling van Afrikaanse musiek gehad het, is moeilik om te betwis.
Pre-lees
Gesels in die klas oor waar jy jouself oor tien jaar sien. Sal jy baie ongelukkig wees as jy nie daardie mikpunt bereik nie of sal jy kan aanvaar ons lewe verloop nie altyd soos ons dit in die vooruitsig stel nie?
“Kinders van die wind” in konteks: Mens kan baie dinge in Du Plessis se musiek lees, juis omdat dit sulke universeel menslike temas aanroer. In hierdie liriek wat ook as gedig waardeer word, skryf hy oor mense wat nie rigting in die lewe kan vind nie en voortdurend swerf. Die slotsom is egter dat selfs mense wat sterk rigtinggedrewe is, maar soekers bly omdat niemand sy of haar lewensloop in alle opsigte kan bepaal nie en alle mense feilbaar is. ’n Verlies, herinnering en droewe sinisme voer die botoon. Selfs herinneringe bly vaag.
Lees
Kinders van die wind
1.Ek ken ’n ou, ou liedjie
2.van lewenswel en -wee;
3.van lank vergane skepe in
4.die kelders van die see.
5.Die woorde is vergete
6.en tog, die deuntjie draal –
7.soos vaag onthoude grepies uit
8.’n baie ou verhaal …
9.Van swerwers sonder rigting;
10.van soekers wat nooit vind …
11.En eindelik was almal maar
12.kinders van die wind.
13.Gesigte, drome, name
14.is deur die wind verwaai;
15.en waarheen ál die woorde is,
16.sou net ’n kind wou raai.
17.Swerwers sonder rigting;
18.soekers wat nooit vind …
19.En eindelik was almal maar
20.kinders van die wind.
WOORDVERKLARINGS
deuntjie: wysie; melodie / Eng.: melody
draal: sloerend of stadig beweeg / Eng.: linger, move slowly
grepies: stukkies uit ’n verhaal / Eng.: extracts, pieces of a story
lewenswel en -wee: die mooi en die slegte kant van die lewe / Eng.: the good and bad side of life
onthoude (neologisme): iets wat onthou word / Eng.: remembered
vergane: wat vergaan het of tot niet is / Eng.: perished, wrecked
Pitkos: Musikaliteit word bevorder deur ’n vaste aantal lettergrepe in sekere versreëls. Hoewel ’n vaste rympatroon ontbreek, is daar eenvormige strofebou. Assonansie en alliterasie versterk die musikaliteit. Herhaling en ’n refrein verhoog die musikaliteit. Verskeie metafore wat aan dieselfde gedagte uitdrukking gee, bind die vers. Die ellips word strategies aangewend om te kenne te gee dat daar soveel meer te sê is as wat die gedig kan noem. Omdat alle mense – in mindere of meerdere mate – die swerwerseienskappe in die gedig vertoon, kan almal dus as “kinders van die wind”, dus swerwers, beskou word.
LEERFOKUS
ellips
lettergrepe
metafoor
musikaliteit
refrein
stemming
Post-lees
Kontekstuele vrae
1.In watter strofes kom die refrein voor?
2.Som die inhoud van strofes 1 en 2 in een sin op.
3.Watter verband is daar tussen die versreëls wat met ellipse eindig en wat is die funksie daarvan?
4.Verduidelik die metafoor in strofes 2 en 4.
5.Wat beskou jy as die oorheersende stemming in die gedig?
Vir jou joernaal en/of in die klas
Skryf ’n liriek met ’n vaste aantal lettergrepe in elke versreël wat handel oor die wind en die mens.
Elisabeth Eybers
(*26 Februarie 1915 – †1 Desember 2007)
EYBERS IS OP KLERKSDORP GEBORE. Sy het grootgeword en skoolgegaan op Schweizer-Reneke, waar haar pa predikant was. Op veertienjarige ouderdom begin sy reeds poësie skryf, aanvanklik in Engels. Sy was net sestien jaar oud toe sy aan die Normaalkollege en Universiteit van die Witwatersrand begin studeer het, waar sy haar BA- en honneursgraad met lof verwerf. Daarna was sy lid van Die Vaderland se kunsredaksie en redakteur van die tydskrif Die moderne vrou. Haar debuut getitel Belydenis in die skemering maak van haar die eerste vrou wat ’n digbundel in Afrikaans publiseer. Sy was ook die eerste vrou wat die Hertzog-prys verower het. In 1961 vertrek sy na Nederland met die doel om net ’n jaar daar te vertoef. Maar sy woon 46 jaar daar tot en met haar sterfdag in Amsterdam. Sy het vier eredoktorsgrade ontvang. Twee maal is sy met die Hertzog-prys bekroon, drie maal met die CNA-prys, asook met die WA Hofmeyr-prys en Ou Mutual-prys. In die buiteland word sy vereer met die gesogte P.C. Hooft-prys (die belangrikste prys in Nederland), die Herman Gorter- en die Constantijn Huygens- en Reina Prinsen Geerligs-pryse. Sy het ook die Orde vir Voortreflike Diens van president Mandela ontvang. Die sopraan Julia Bronkhorst het van haar getoonsette gedigte gesing.
Pre-lees
Beantwoord die volgende vraag in groepsverband: Ken jy iemand of het jy al van iemand gehoor wat oor en oor dieselfde ding doen en elke keer verwag dat dit hierdie keer anders sal wees?
“Verhaal” in konteks: Die vers verskyn in 1946 in die bundel Die ander dors. Die tema is egter universeel van aard, sodat dit vandag nog tot die leser spreek. ’n Toonsetting van die gedig is beskikbaar by https://www.youtube.com/watch?v=DsholB8g4qE. Dit handel oor ’n vrou wat dag en nag gewag het op iets wat nooit ’n werklikheid geword het of op iemand wat nooit gekom het nie. Daar is nie genoeg leidrade in die gedig om vir seker te bepaal waarvoor of vir wie sy gewag het nie, maar dit is nie so belangrik nie. Wat wel belangrik is, is dat mens verniet kan wag en dat jy die berusting dan in jouself moet vind deurdat jy krag ontwikkel om die teleurstelling te bowe te kom.
Lees
Verhaal
1.’n Vrou het stil geword van baie wag:
2.die aarde het gegly deur die spiraal
3.van dag na nag, was beurtelings groen en vaal,
4.en sy het soms gehuil en soms gelag.
5.Ook was sy dikwels wakker in die nag,
6.maar sy het in haar woning en op straat
7.gewoon gehandel en gewoon gepraat
8.en niemand het geweet hoedat sy wag.
9.Verlange word aanvaarding, langsaamaan,
10.want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot
11.die twee versmelt en stilte alleen bestaan.
12.En deur die jare het sy self die slot
13.van die verhaal geword: haar stilte en krag
14.was