Amraal. Marinda van Zyl
oë wat van die kielie op skrefies trek, nog kleiner lyk. Aalwyn is van geboorte af al langer as Lammert, sy lyf en gesig skraal. Sy streel ook oor sý koppie oortrek met fyn rooi hare.
“Lammert trek op jou, maar Aalwyn lyk nes sy pa,” praat Elsie agter haar.
“Hulle lyk so gelukkig en tevrede,” sê Rut, maar Trui se opmerking knaag aan haar. Wat as Lammert groot is en verwerp word soos sy?
Toe die wiegie te klein word vir twee babas, gooi Elsie ’n lappieskombers op die vloer. Lammert kreukel sy plat neusie en gaan aan die skree toe hy alleen op die kombers neergesit word, maar hou op toe Aalwyn langs hom neergelê word. Hy roei met sy fris armpies tot hy Aalwyn se hand beetkry, maak sy oë toe en slaap. Aalwyn kraai asof hy lag.
“Hulle is klaar onskeibaar,” sê Elsie met blink oë, “nes ons twee.”
Rut is bly toe Elsie sê hulle gaan Tierfontein om Kaap toe om vir Aalwyn te laat doop sodat ma Lammie haar kleinkind kan sien.
“En ek kan Lammert vir hulle gaan wys,” gesels Rut opgewonde saam.
Elsie hou haar gesig weggedraai. “Dit kan nie. Ons kom deur die Piekenierskloof terug. Hoe kom jy weer by die huis?”
Toe Elsie uit die kombuis is, glip Rut by die spens in, gooi ’n hand vol suikerklontjies in haar oorrok se sak en breek ’n stuk roltwak af. Die aand gee sy dit vir Voorslag. “Dis vir die pad Tierfontein en Kaap toe.”
“Dankie, dis ’n lang pad,” sê hy “en gevaarlik, want ons kom oor Olifantsrivierberg terug. Maar Ben en my twee oompies is ou hande. Hulle is al ’n paar keer daai berg oor saam met my pa.”
Rut frons. “Nôi Elsie sê dan iets van ’n piekenier.”
“Dit is so, ja. Eers oor die berg, dan deur die kloof.”
Met Hans weg, kom Jandisselsvlei se mense elke naweek Holkrans toe. Dan word vleis op die kole gegooi en askoek geslaan. Tot laataand lê en luister Rut na die ramkies, ghoera, gestamp van voete en vrolike gelag. Een aand kom daar ’n ouerige man met ’n viool ook saam. Die klank van die viool hou haar by die vuur, laat haar met die voet die maat van die ramkies en ghoera hou en hande klap vir die vernuftige voetwerk van die dansers. Ma Trui en die kleingoed dans ook saam.
Ouma kom sit langs Rut. “Glad nie so sleg om Khoi-Khoi te wees nie, nè?”
Rut neem die ou vrou se knobbelrige hand in hare. “Lammert se ouma Trui sal hom moet leer askoek slaan.”
“Mooi so, ek het vir Voorslag gesê jou hart is reg. Jy sal Lammert los om Khoi-Khoi te wees sodra hy van die pram af is.”
Dina nooi vir Rut saam veld toe om rooibos te gaan pluk. “Vir Ouma. Ek maak ’n treksel vir haar krom hande wat in die winter pyn.” Dit neem die hele oggend, want by elke plant word stilgestaan. Voor Dina nog kan vra, antwoord die kinders al of dit eetbaar is, en vir watter skeet dit gebruik kan word. “Dis hoekom jy vir Lammert by my moet los. Dan sal hy alles leer wat ’n Khoi-Khoi moet weet.”
“Eers as hy kan loop. Ek het vir Voorslag so belowe.”
Rut hou nie haar belofte nie. Lammert en Aalwyn is al amper drie jaar oud toe hulle uit hulle eie wegloop na Voorslag toe, en hy kans kry om hulle te leer spoorsny en met osse werk. Maar meestal ontglip hulle hom ook om op hulle eie te speel.
Rut laat hulle begaan, want die aanhoudende gehuil van Elsie se pasgebore dogtertjie raak ook vir haar te veel. Aletta is net stil wanneer sy in Elsie se arms of op Rut se rug gesus word. Waag hulle om haar neer te lê, is haar gesiggie gou-gou rooier as haar bos hare van die geskree. Sy is verlig toe Hans instem dat Elsie na haar ma toe kan gaan tot dit tyd is vir Aletta se doop. Net Voorslag en Ben gaan saam om hulle te neem.
Nuus dat die baas van Holkrans nie tuis is nie, versprei gou deur die vallei. Ook van ander plase as Jandisselsvlei is daar Saterdagaand en Sondag ’n toeloop. Daar word vrygewig geslag om die honger mae vol te kry. Trui lag breëmond toe sy weer die man met die viool sien; sy het juis ’n paar kalbasse heuningbier gemaak om sy dors te les.
Rut deel nie in die feesvieringe nie, want saans is sy te moeg agter Lammert aangehardloop. As sy haar kom kry, het hy weggeloop op soek na Aalwyn.
Rut en Trui pluk vye in die boord om konfyt te kook toe die wa die Maandagmiddag teen die heuwel anderkant die rivier gewaar word. Trui se seun, wat die oorryp vye op die grond vir die varke optel, laat val sy emmer en hardloop skreeuend matjieshuise toe. In ’n ommesientjie lewe die werf van mense wat by hulle dagtake moet uitkom.
“Het ’n perdeby hom gesteek?” vra Rut.
Trui skud haar kop. “Die skaapvelle is nog nie begrawe nie. Baas Hans gaan skape tel as hy die velle sien.”
“Hy’s klaar hier,” sê Rut, want Hans kom op ’n stywe galop aan.
“O gonnatjie, dan moet ek gaan praatjies maak voor hy te veel rondkyk.” Hans is nog op sy perd, toe wil Trui al weet. “Hoe gaan dit nou met kleinnôi Elsie en die babatjie? Het die ounôi toe raad vir die geskrouery?”
Rut kan nie hoor wat Hans antwoord nie, want Lammert roep: “Aalwyn, Aalwyn,” toe hy Hans se perd gewaar en sy moet hardloop om hom op te tel voor hy in Hans se pad kom.
Hans keer toe ’n klonkie sy perd wil weglei. “Ek moet nog Jandisselsvlei toe.”
Daardie aand is daar geen vrolikheid om die vuur nie. Voorslag se ooms is kwaad vir hom. “Amper was ons vandag in die stront oor jou liegery dat julle Kaap toe gaan,” wys een vir Voorslag vinger.
“Dis wat die baas vir ons gesê het,” verdedig Ben. “Hoekom slag julle nie julle eie goed nie?”
“Dis wat ek ook wil weet,” klap Hans se stem uit die donker. Sy gesig lyk verwronge toe hy in die flikkerende lig van die vuur verskyn en die sambok lig. Dit klap nog harder as sy stem toe dit oor die naaste man se rug krul. Toe slaan hy woes heen en weer om almal wat probeer vlug, by te kom.
In die warboel word Ouma van haar stoeltjie afgestamp. Rut help haar op en toe die ou vrou se bene knak, sleep-dra Rut haar tot by die matjieshuis. Lammert slaap vas op sy kooi en sy laat vir Ouma op haar en Voorslag s’n lê.
Dis nou stil buite. Rut skrik toe Hans bulder: “Voorslag, môre met eerste lig sorg jy en Ben dat al die Hotnotsvee in die kraal kom. Dis nou myne. Die veldwagmeester sal môre met die skaapslagters kom afreken.”
Rut luister angstig na die stilte wat volg, want Voorslag bly weg. Kort-kort verbeel sy haar dat sy iets buite hoor, maar die werf is steeds verlate wanneer sy by die deur uitloer. Net die warboel van stoeltjies, borde en kalbasse is sigbaar in die lig van die vuur. Is Hans nog daarbuite, reg om weer sy sambok te gebruik as iemand roer? Sy gaan lê by Lammert en raak aan die slaap van Ouma se ritmiese gesnork.
Dis nog donker toe sy wakker skrik. Dis Voorslag se reuk hier by haar. “Ons gaan nou die vee aankeer. As baas Hans vra, sê ek was heelnag hier.”
Die geroesemoes van stemme lok haar later na buite. “Almal moet vroeg fluks wees,” sê Trui. “Miskien versag dit die baas se hart en vat hy nie al onse vee nie. Hy’t mos nou klaar die skuldiges gelooi.”
Maar Hans is nêrens te sien toe hulle by die kliphuis kom nie. Later die oggend sien Rut drie ruiters die vee aanjaag kraal toe; Hans het nie vir Voorslag-hulle vertrou om al die vee bymekaar te maak nie.
Dis nie die veldwagmeester wat opdaag nie, maar die veekoper van ’n Kaapse slagter. Rut en Trui luister hoe die transaksie in die eetkamer beklink word. “Net geluk dat ek jou op Tierfontein raakgeloop het. Nou’t ek ’n goeie slag geslaan,” lag Hans tevrede.
“Daar gaat jarre se bymekaarmaak,” sug Trui toe hulle vee saam met Hans s’n weggedryf word.
Rut is verbaas dat niemand die aand om die vuur kla oor die bees en skaap wat verkoop is nie. “Ons het laas nag van ons osse en ’n paar skaap gaan wegsteek. Somers as die klein riviertjies droog raak, kom mens by klowe in waar Duusvolk nog nie was nie,” verduidelik Voorslag toe hulle alleen is.
“Het