Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
Mila-sonder-van,” terg hy. “Ek’s Derek. Jy wonder seker wie my van jou ongeëwenaarde skoonheid vertel het?”
Skielik besef Mila dat haar hand nog in Derek s’n toegevou is. Vinnig trek sy dit terug. Sy vee die effense klammigheid – die verdoemende getuienis van hierdie man se onrusbarende effek op haar lyf – aan haar broekspyp af.
Nou kan daar geen twyfel meer wees nie – hy lag inderdaad vir haar! Die tergduiweltjies in sy oë dans nie meer net nie, hulle doen sommer die twist.
“Ag nee wat,” antwoord Mila uit die hoogte. “Jy hoef nie te vertel met wie jy soos ’n skoolseun my bates en laste bespreek het nie. Jy kan wel so gaaf wees om my mee te deel waaraan ek die eer van hierdie besoek te danke het.”
Haar sarkasme drup uit elke lettergreep soos stroop uit ’n sappige koeksister.
Derek leun aan teen die deurkosyn. Dis duidelik dat Mila se venyn soos water van ’n eend se rug af rol.
“Is dit wat jy ’n besoek noem?” grinnik hy. “Dan is julle Wilgeklowers nie vreeslik gasvry nie. Waar ek vandaan kom, word besoekers darem ingenooi en ’n koppie koffie aangebied. Meestal koekies ook, maar iets laat my dink ek gaan nie vandag só gelukkig wees nie!”
“Jou raaiskoot is in die kol, meneer …?”
“Derek, noem my asseblief Derek, Mila-sonder-van!”
“Derek,” sug Mila, skielik werklik moeg.“Kan ons tot die punt kom? Ek het heelnag gewerk – ek het nie krag vir ginnegaap nie. Dis seker vir jou ’n nuwe ervaring om deur ’n vrou gevra te word om jou loop te kry, maar ek sal dit waardeer as jy presies dít sal doen sodat ek kan gaan slaap.Waarmee kan ek help?”
Die spottende trek op Derek se gesig verander eensklaps in simpatie.
“Voel jy sleg, Mila? Jy’s nogal bleek om die kiewe.” Sy besorgdheid neem die wind uit Mila se seile.
“Ek makeer niks nie, dankie. Ek’s net moeg. Soos ek gesê het, ek was heelnag by die werk besig.”
“Jy lyk gedaan, hoewel klein Melissa beslis nie oordryf het toe sy my vertel het wat ’n mooie mamma sy het nie.”
Die blos stoot so vinnig teen Mila se wange op dat haar ore eintlik daarvan suis. As die aarde haar maar wil insluk! Hoe verwaand en pateties moet sy nie vir hierdie beeld van ’n man voorkom nie – dat sy haar verbeel ouens loop en praat oor haar kastige skoonheid! Dit terwyl sy maar te goed weet sy lyk vanoggend soos Jona ná die vis hom uitgespoeg het.
Mila skraap elke greintjie waardigheid wat sy nog besit bymekaar. Sy dwing haar om Derek waterpas in die oë te kyk. Doelbewus staal sy haarself teen die spot wat sy verwag om daar te sien, maar tot haar verbasing is sy blik nou die ene erns.
“Dit is juis oor Melissa wat ek met jou wil praat, Mila. Ek het gisteraand vir ’n rukkie die voorreg van haar geselskap gehad. Ons twee het te lekker gekuier. Terloops, ek is julle nuwe buurman.”
Hy beduie na die voordeur van die wooneenheid langs hare. Die twee deure is bykans teen mekaar; nommer 25 en 26 deel ’n stel trappies.
Eindelik sit Mila twee en twee bymekaar. Ai, soms wens sy haar kind was nie heeltemal so ’n sosiale vlindertjie nie!
“Ek is jammer as Melissa lastig was,” sê sy styf. “Ek sal sorg dat dit nie weer gebeur nie. Melissa hou van mense – sy het nie ’n skaam haar op daai blonde koppie nie. My ma moes haar gisteraand oppas omdat ek by ’n bevalling was. Ongelukkig is Ouma se gesondheid nie van die beste nie, en soms oorweldig Melissa se energie haar. Ek sal seker maak dat sy haar in die toekoms weghou. En wanneer ek tuis is, sal Melissa natuurlik nie ’n probleem wees nie.”
Maar Derek weer haar verskonings met ’n argelose handgebaar af.
“Jy verstaan verkeerd, Mila. Melissa was allesbehalwe lastig. Ek het haar sprankelende geselskap geniet en sy’s enige tyd welkom om te kom kuier. Dit is juis waaroor ek met jou wil praat.”
Mila lig haar wenkbroue onbegrypend.
“Jy sien, Mila, hoewel ek nie kinders het nie, maak my beroep my iets van ’n kenner op daardie terrein. My hart het na Melissa uitgegaan toe sy vertel dat sy nooit haar pappa sien nie.”
Nou sien Mila terstond rooi. Sy kan nie glo hierdie vreemdeling het die vermetelheid om praatjies te maak oor haar persoonlike lewe nie!
“Stop nét daar, Meneer die Maatskaplike Werker, of wat jy ook al is, met jou kastige insig in kindersielkunde. Jy’s nou besig om jou lang Romeinse neus in te steek waar dit nie hoort nie!”
Nou’s dit Derek se beurt om sy ruie wenkbroue te lig, maar Mila is nog glad nie klaar gepraat nie.
“My verhouding met Melissa se pa het boggherol met jou te doen. Maar ingeval jy dink dat ek kleinlik genoeg is om my kind van haar pa weg te hou, kan ek vir die rekord die situasie vir jou uitspel. Stefan, my eks, is met sy skelmpie vort toe Melissa vier weke oud was. In die vier jaar wat verby is, het hy nog nooit soveel as ’n verjaarsdagkaartjie gestuur nie. So nee, Derek, Melissa sien nooit haar pa nie omdat die enigste een wat sy het, nie ’n dooie duit omgee nie!”
Met haar drif uitgewoed kyk Mila stilswyend en uitdagend na Derek. In sy oë is soveel meegevoel dat haar borskas eintlik daarvan begin pyn. ’n Irrasionele begeerte om in sy arms toegevou en vertroos te word oorrompel Mila byna. ’n Oomblik lank laat sy haarself toe om te wonder hoe dit in die skuilte van sy omhelsing sal voel. Vir die tweede keer in hul kort gesprek moet Mila elke krummeltjie selfbeheersing bymekaarskraap om haarself reg te ruk.Toe sy eindelik weer praat, is daar finaliteit in haar stem.
“Dankie vir jou besorgdheid oor Melissa, Derek. Ek glo jy’t dit goed bedoel. Maar ek sal dit waardeer as jy jou opinies in die vervolg vir jouself hou. As ek ’n volslae vreemdeling se raad wil hê oor hoe ek my kind grootmaak, sal ek op Dr. Phil gaan.”
Sy vee ’n haarlok van haar voorkop weg en tree agteruit om die deur toe te druk. Maar Derek is te gou vir haar en sit sy hand op hare.
“Lyk my ek en jy het vanoggend die een misverstand ná die ander,” sê hy ernstig. “Ek is nie besig om jou te kritiseer oor hoe jy Melissa grootmaak nie, Mila. Nie in die minste nie! Melissa sou nooit so ’n selfversekerde klein patroon gewees het as jy jou nie uitstekend van jou taak kwyt nie.”
Verlig merk hy hoe die frons op haar voorkop effens uitstryk.Toe haar skouers merkbaar ontspan, gaan hy versigtig voort.
“Asseblief, ek wil ’n hand van vriendskap na jou en Melissa uitreik.Wil jy my nie toelaat om ’n klein stukkie van daardie leemte in haar lewe te vul nie? Ek sal met graagte tyd saam met haar deurbring sodat daar ’n manlike rolmodel in haar verwysingsraamwerk is – en sodat ek die plesier van haar geselskap het. Mag sy maar soms by my kom kuier?”
Sy woorde – die jammerkry in sy stem – sny witwarm deur Mila se binneste. Dink die man miskien dat Melissa ’n soort liefdadigheidsprojek is? Gemeenskapsdiens om hom nog beter te laat voel oor homself? Of insinueer hy dat sy wat Mila is te onbegeerlik is om self iemand te vind wat vir Melissa ’n plaasvervanger-pa kan wees? Dalk bedoel hy dit opreg en is hy net jammer vir haar en haar dogtertjie, maar Mila Mouton was nog nooit iemand wat simpatie kon verdra nie. Al ken sy hom glad nie, het hierdie man haar vandag seergemaak. Sy delf diep vir die regte woorde om hom terug te kwets.
“Vir iemand wat kinders kastig so goed verstaan, weet jy maar min van ouers! Duidelik is jy self nie een nie. Weet jy nie dat ’n man wat in vreemde klein dogtertjies belangstel al ’n ma se alarmklokkies gelyk laat lui nie? Bly asseblief in die toekoms weg van Melissa en van my af. Ek sal nie huiwer om ’n klag teen jou te lê nie. Totsiens.”
Driftig maak Mila die deur toe, net betyds om te sien hoe ’n trek van teleurstelling oor Derek se gesig flits en die vonkel in sy oë uitdoof.
Lank nadat haar moeë kop op die kussing neergesak het, speel slaap nog wegkruipertjie met Mila.Toe sy ure later onrustig insluimer, spook die mooie man met sy omgeestem steeds by haar. In haar drome verwonder Mila haar nog aan die kuiltjie in sy