Letitia en die lektor. Anita du Preez
n>
Letitia en die lektor
Anita du Preez
Satyn
1
“Die mishlike blikshemsje vark!” Letitia klem haar kake net betyds opmekaar. Nog woorde stol reg agter haar mangels soos ’n bondel halstarrige beeste in ’n drukgang, maar sy byt hulle terug.
Sy is onmiddellik innig spyt. Die skerp pyn in haar kiestand herinner haar daaraan dat sy so pas by die tandarts was en eers môre weer mag kou of kners. Die begeerte om elke vloekwoord wat sy kan onthou luidkeels uit te spoeg op die mislike mansmens voor haar is egter so oorweldigend dat haar lyf gloei van ingehoue woede. Nee, nuwe kollega ofte not, nou het die man darem te ver gegaan! In al haar jare as lektrise hier by Cape College of Technology & New Media het niemand, absoluut niemand haar nog ooit presies so die duiwel in gemaak nie. Hoe durf hy? Hoe durf hy dit waag om haar, Letitia le Roux, MAVK Unisa cum laude, so aan te vat?
Sy staan eers net daar in die gang stil met haar hand voor haar mond en wag dat haar gevoelens bedaar. Die afstootlike flippen aap! Want wat sy hier voor haar deur sy lesinglokaal se oop deur sien en hoor, is genoeg om haar haar humeur te laat verloor. Haar werk ook.
Sy sluk moeilik aan die frases wat soos warm lood in haar keelgat afsak tot in haar maag waar dit ’n vuur aansteek wat dreig om soos sooibrand oor haar stembande te lek. Want hy, meneer Arnoldus Arrogansie, staan met sy breë rug na haar en swaai ’n stuk papier voor al die tweedejaarstudente in web-ontwerp rond. En dis nie sommer enige stuk papier nie, nee.
Hy is besig om die plakkaat van een van haar voorgraadse studente voor die klas op te hou. Een wat sy hom sommerso vir die oefen vryhand in kokipen laat maak het om hul komende klasvertoning van driedimensionele werke te adverteer. Sy wat Letitia is, het voor haar siel geweet sy moenie dat Azhar dit daar teen die kennisgewingbord in die gang opsit nie omdat dit eenvoudig nie goed genoeg of selfs eens heeltemal klaar is nie, maar vir die eerste maal was daar ’n greintjie opgewondenheid in die outjie se oë oor iets wat hy self geproduseer het.
Toe laat sy hom toe, al was daar ander beter idees.
Die danige meneer Swart moes dit seker van die muur afgehaal het waar Azhar dit ewe trots opgeplak het. Wat gee Swart die reg? Sy ou kamtige meestersgraadjie in digitale ontwerp? Dié skop jy deesdae agter elke bos uit.
Maar dis nie al nie.
Salig onbewus van haar teenwoordigheid agter hom in die deur, is hy besig om die armsalige dokumentjie op te hou en luidkeels uit te kryt as uitstekende voorbeeld van alles wat hulle tog nooit vir enige van sý digitale modules moet ingee nie.
“Misinformation,” hoor sy, en nog ’n spul ander dinge, is glo wat fout is met Mohammed Azhar se A4-plakkaat wat hy vir háár niedigitale, tradisionele ontwerpklas gemaak het. Dit alles verduidelik hy met entoesiasme terwyl hy die stuk papier ywerig van een hand na die ander verskuif en met sy kenmerkende onegalige hinkstappie heen en weer deur die rye loop sodat al die tweedejaars dit mooi kan sien. Dié aaklige ontwerp met sy “terrible typography”, asook die “lack of originality” en verder die onvergeeflike “random approach to spacing and hierarchy” wat hulle tog nooit in der ewigheid vir hóm moet voorlê nie.
Die vent insinueer mos nou dat haar standaarde nie hoog genoeg is nie. Dat sy swak ontwerp nie kan uitken nie.
Hoe durf hy?
As sy nie verby die MacLab na haar derdejaartekenklas gestap het nie, sou sy nie eens gewéét het wat hier aan die gang is nie. Kamtige “professor” Christoffel Arnoldus Swart, of nee, wag, hoe het die studente hom nou weer gedoop toe iemand vasgestel het wat sy tweede naam is? Arnie-the-man. Na Schwarzenegger. Die ou musclebound akteur van “I’ll be back” fame. Oor hy so arrogant is. Omdat hy dink hy kan alles beter doen. Soos nou. Sy het van sy eerste dag af gedink hy is ’n propperse ingat, en nou weet sy ten minste hoe gróót. Sy brand om dit hardop vir hom te kan sê, maar is te professioneel.
Die studente sit oopmond, want hoewel hý haar nie agter hom sien nie, kan húlle. Hulle geniet dit gate uit. Die vent is so ingenome met homself en sy voorbeeld van swak ontwerp dat hy niks agterkom nie. Die studente sit vasgenael. Hulle ken haar. En haar humeur. Hulle het haar al groter manne as hy op hul plek sien sit en hou asem op.
Ongelukkig het die departementshoof haar net gister gevra om “… ahem … ahem … tog net ’n bietjie te kalméér, asseblief, net ’n rapsie meer verdráágsaam te wees. En tog maar liewer ’n wag voor u mond te plaas, asseblief, me. Le Roux? Ek besef julle kunssinnige mense, julle ahem … ‘designers’… is mos maar so ’n bietjie ánders … ê … ehê-ehê en ek verstaan dat u dalk tans deur ’n moeilike tyd gaan met uhum … ê … wel, persoonlike sake soos dit is. Maar, nou ja … Daar was klágtes. En … ehúm … ons het genoeg ander probleme. Dalende studentegetalle. Betogings. Swak ekonomie. Noem maar op. Dus. Help ons tog ten minste hiermee? Akkoord?”
Hy het lywig opgestaan van agter sy lessenaar en ’n swaar simpatieke hand op haar skouer kom lê. Sy moes maar instem. Die gedagte om in die ry te staan om werkloosheidsvergoeding te gaan vra, is als behalwe aangenaam. En dis nie asof sy nou skielik van plan kan verander en vra Gunther moet onderhoud betaal nie. Daarop moes sy vóór die egskeiding aangedring het. Maar nee, sy was mos trots. Kwaad. Wou niks van hom vat nie. Op die huisie in Harfield het sy gelukkig aangedring, en dat hy haar kar moes klaar betaal, maar verder sou sy alleen regkom, dankie.
En nou? Nou is dit neusie verby as sy haar werk moet verloor. Hier staan sy nou. Stom. Kokend, maar stom. Gemuilband voor die hele klas wat ademloos wag dat sy hierdie Arnie-the-man op sy plek moet sit.
Die volgende oomblik draai die mansmens om en sien haar vir die eerste keer. Sy oë rek effens, en hy hink nader, maar hy hou sy pose. Daar is immers oë op hom. Op hulle albei. In afwagting.
“Washit nou wherklik phir jou nodig?” is al wat Letitia tussen ongehoorsame, semiverdoofde lippe uitkry. Die woorde gly oor haar dik tong, flou en sonder impak. Sy smag só daarna om vir hom te sê wat sy regtig wil dat haar stem vreemd en hoog in haar eie ore klink. Soveel selfbeheersing, plus haar petidienverwante spraakgebrek, en die feit dat sy verlede nag weer niks geslaap het nie, kan nié goed vir haar wees nie.
Dit help ook nie juis dat sy netnou gehoor het dat sy so gou moontlik wortelkanaalbehandeling vir die vervlakste tand moet kry nie. Nee, o jimmel! Iewers gaan iets meegee, want haar oë wil uit haar kop spring en haar vuiste bal vanself langs haar sye. Wat sy wóú sê, is nie vir sensitiewe ore bedoel nie en soos ’n enjin wat oorverhit, stoom haar asem hardop en warm deur haar neus uit.
“Waarmee kan ek help, me. Le Roux?” vra die verdomde man sowaar ewe kalm en in beheer toe hy voor haar kom staan. Maar die fyn litteken, spierwit op sy bolip afgeteken, en die feit dat die lip net effens smaller na die een kant toe neig, vertel haar dat sy kamtige glimlag glad nie so gemaklik is nie. Hy hou hom verniet so koel voor die studente. Hy het hom vrekgeskrik toe hy haar gewaar.
“Me. Le Roux?” Hy kyk met onskuldig geligte wenkbroue bokant grysgroen oë, kamtig verskonend, af na haar toe sy nie dadelik antwoord nie.
Letitia dog sy blaas net daar ’n gasket. Hy, met sy effense mank been, moenie dink hy kan op háár simpatie staatmaak nie. Maar sy draai tog maar liewer om, al kan sy sweer sy kou stukkies van die sagte binnekant van haar onderlip morsaf.
Haar kakebeen bly in spasma tot aan die punt van die gang en tot onder by haar motor in die parkeerarea.
Die sekuriteitswag moet spring om die swaar hek met Cape College of Technology & New Media in gietyster vinnig genoeg vir haar te laat oopgly. Sy gee vet tussen die verkeer in, dwarsoor al twee bane en regs af in Landsdowne-weg wat nog besiger is waar dit Imam Haron-weg word. Haar voet bly in die hoek tot kort by Virgin Active waar sy vinnig indraai. Gelukkig is haar gymsak altyd in die kattebak, want net strawwe oefening gaan haar nou help, seer kieste ofte not.
Die parkeerruimte wemel van vier-by-viers met poppies agter die stuur. Verkeerde tyd van die dag. Letitia is nie lus vir die rondomtalie om op ander parkeervlakke na ’n gaatjie te soek nie. Die spasie wat sy soms skelm as parkeerplek gebruik, is al wat oop is. Sy trek haar motor sommer gou teen die verste muur tussen die twee rye