Letitia en die lektor. Anita du Preez
“Uhu. Hmmm … The lady doth protest too much, methinks.”
“Ag, shut up, Gunther, en luister ’n slag!”
“Goed. Ek hou asem op. Wat het die arme dude gedoen?”
Dude? Van wanneer af praat Gunther van iemand as ’n “dude”? Gunther trek gevaarlik naby aan veertig. Hmmm … natuurlik die invloed van Jennifer, die pop. Letitia se brein neig ongevraag oor na jaloesie.
“Tish?”
“Ja, ja, ek is hier.” Jennifer Schmennifer, besluit sy. Letitia gaan tóg die hele storie vir Gunther vertel. Soos sy altyd gemaak het. Alles. Met kleur en ekstra geur. Dis after all Gúnther, en sy het hom eerste gehad. Jennifer kan wag.
“Voel jy nou beter?” vra Gunther toe sy klaar is.
Letitia frons. Voel sy beter? Gaan hy sowaar nie preek of teregwysinge oor haar persoonlikheidsafwykings aanbied nie?
“Mmm … jaa … voel nou nogal beter, dankie.”
Haar verligting is egter van korte duur.
“Mooi,” sê Gunther. “Ek kan nie veel aan die wortelkanaal doen nie en ook nie aan die klamp van jou wiel nie. Sulke goed gebeur mos maar, veral met jóú, my liewe loskop Tishatjie! Maar ek kan wel met jou kollega gaan praat as jy wil hê ek moet. Of met jou hoof?”
“Is jy mál, Gunther? Hoe sal dit nou lyk, huh?”
“Nee, ek weet nie. Hoe sal dit vir jóú lyk, Tish?”
Letitia vererg haar. Hy moenie sy shrink talk op haar kom uithaal nie. Tipies. Vandat Gunther die nuwe bestuurspos het, dink hy meer as ooit hy is flippen Freud self.
“Hoe sal dit lyk as jý, as my sielkúndige, boonop my eks wat my gelos het vir iemand anders op die personeel wat nogal een van my sogenaamde vriendinne was, nou een van my kollegas gaan konfronteer? Of nee, wag. Dalk sommer my departementshoof? Wat reeds dink ek het anger management nodig? Hè, Gunther? Hoe dink jý sal dit lyk?” Letitia klamp haar vingers oor haar seer kakebeen. Die effek van die inspuiting begin afneem en die pratery eis sy tol.
“Kalmeer, Letitia, ek sal mos nie in my hoedanigheid as sielkundige gaan nie. Eerder as voormalige kollega. My woord dra immers steeds gewig daar. Of ek kan selfs gaan praat in my rol as jou mán.”
Letitia ruk haar hand voor haar mond weg. “Kalmeer? Kalmeer? Weet jy, Gunther, jy het nie ’n kat se clue nie. Dink jy nou regtig dat alles met ’n rasionele gesprekkie tussen manne reggestel kan word, huh? Weet jy hoe skinder almal? Vandat jy en jou Jennifer weg is? En ek moet alles alleen hanteer? Heeltyd onder die radar vlieg om nie te veel aandag te trek na julle twee se kaskenades nie! So, moenie met my praat asof ek een van jou pasiënte is nie. Ek moes nooit my foon geantwoord het nie. Want, nee, on second thoughts, ek voel niks beter nie, oukei? Bye. En ás jy dalk vergeet het, jy is nie meer my shrink of my baas nie en ook nie meer my man nie!”
Die foon beland weer net langs die kussing met die prentjie van die windpomp so reg uit die Karoo, waar dit tevergeefs lê en vibreer terwyl Letitia in die deurmekaar kombuislaai na die pakkie Panado’s gaan soek. Sy weet sy behoort te gaan werk aan haar houtskooltekening wat op die esel vir haar wag, maar skud die idee af.
Vanaand gaan sy nie eens probeer om haarself te oortuig dat haar spaarkamer ’n propperse ateljee is, of dat sy haar lyf Leonardo da Vinci daarin kan hou nie. Want sy sal heel moontlik die hele ding opneuk.
Miskien moet sy liewer net gaan stort. Soms, wanneer sy só raak, is water oor haar lyf al wat help.
2
Na die stort voel Letitia, met die hulp van die pynpille, heelwat beter. Veral toe sy haar foon van die bank af optel en sien daar was ’n oproep van Roelof. Met haar broer kan sy praat. Hy is immers die een mens wat haar vreemde wegtrekke van kleins af probeer verstaan het.
“Is daar fout? Ek sien jy het my gesoek?” vra hy dadelik toe sy hom terugbel.
“Nie regtig nie. Ek wou maar net hoor hoe dit met jou gaan en …”
“Jy klink weird, Tisha.”
“Was by die tandarts. My mond ontdooi nou eers behoorlik.”
“Sjaaim, jou arme ding! Maar dis nie al nie, nè? Ek kan mos hoor. Wie’t jou dié keer omgekrap? Seker weer net daai alwetende irritasie van ’n eks van jou?”
“Ja … Nee, dié keer nie heeltemal nie. Gunther is darem nie eiehandig vir alles in my heelal verantwoordelik nie. Hy het vandag heelwat kompetisie gehad in die kategorie van teëspoed.”
“O. Dankie tog vir ’n ander topic. Die Gunther/Letitia/Jennifer-driehoekie het erg saai begin word.”
“Was dit so erg?”
“Jy het geen idee nie. Erger as 7de Laan op ’n swak aand.”
“Maar jy’s dan mal oor 7de Laan.”
“Ek is. Ek is. Al is dit hoe lame, mis ek nie ’n episode nie, maar dis juis die probleem.”
“Probleem?”
“Ja. Jy besef dit nie, maar jy bel my nou al letterlik maande lank saans klokslag halfsewe. Om te moan. Oor Gunther. Dan mis ek my sepie en moet ek na jou bleddie derms-uitryg-stories oor hóm luister. En van hoe Jenni-bleddie-fer hom by jou afgevry het!”
“O. Haai. Sorrie.”
“Toemaar. Dis oukei. Jy weet hoe oneindig love ek my favourite suster.”
“Hmmm. Jou enigste suster.”
“Dit ook, ja. Maar gaan jy my nou vertel waarom jy so áf klink, of nie?”
“Aaaag, jong, too numerous to mention, soos Ouma altyd gesê het. Sommer net die aakligste dag nóg.”
“Die eintlike rede?”
“Ag … dis sommer iemand by die werk wat moeilikheid soek.”
“Ek dog jy het laas gesê hulle loop almal suutjies draaie om jou. Watter sot is só dapper?”
“Een wat dink hy het die wêreld se kennis in pag.”
“Is hy nuut op die personeel?”
“Ja. Verlede semester begin.”
“Dit maak sin. Arme man weet nie van beter nie.”
“Huh! Hy dink hy weet beter oor net mooi alles. Hy reken die son skyn waar hy trap en soek gereeld fout met my meer onortodokse metodes. En met my studente se werk. Heel moontlik met my kleredrag ook. En sover ek weet, het hy minder ondervinding as ek. Ek ken my vak, Roelof. Jy weet tog ek is baie puntenerig en háát inmenging of ongevraagde advies. Ek en hierdie man dink nou eenmaal nie eenders oor dinge nie. Ek het hom duidelik laat verstaan hy moet uit my pad bly. My uitlos. Hy gee die digitale vakke en ek die niedigitale. En ek weet wat ek doen, daarvan getuig my studente se uitstekende werk teen ons ateljees se mure. En nog ’n ding: My puntestate en admin lyk beter as syne.”
“Nou wat is sý ware claim to fame dan?”
“O, heelwat, glo my! Meneer is slim. Het ’n kamtige meestersgraad in rekenaartegnologie met animasie en web-ontwerp as sy forte.”
“Hmmmm, impressive! Wat is sy naam en hoe lyk hy?”
“Chris Swart. So iewers in die dertig, daar rond. Lank, donker. Die ene spiere, die studente noem hom ‘Arnie’ soos in Schwarzenegger.”
“Is hy mooi?”
“Mooi? Nee. Ek sou hom beslis nie as móói beskryf nie, Roelof.”
“Hmm! Dis nie hoe dit vir my klink nie.”
“Man, hou op met jou nonsens. Mooi is hy definitief nie. Spiere ofte not, die man loop effe mank. En hy het boonop ’n duidelike litteken op sy bolip!”
“Sjoe! So does Joaquin Phoenix, my