Tienerharte 3: Hartedief. Cecilia Steyn
Cecilia Steyn
Hartedief
TIENERHARTE 3
Human & Rousseau
Vir Ma en Pa
— C. S.
Lisa
My kneukels druk wit deur my vel. Met die kners van my tande probeer ek my gedagtes fokus op die geluid van die tatoeëermasjien. Vandag sal ek met elke prik van die naald vir Thomas uitbloei. Daar mag nie ’n greintjie van hom in my hart oorbly nie. Sy oproepe het uiteindelik gestop. Nou het hy SMS’e begin stuur:
Ek is so jammer, Lisa.
Lisa, asseblief. Ek kan nie sonder jou nie.
Ek sal nooit weer nie, ek belowe. Kom net asb. huis toe.
Lisa, ek is lief vir jou.
Sy pleitende boodskappe het my amper laat ingee. My so naelskraap die foon laat optel om vir hom te sê hy moet my kom haal. Dalk was alles net een groot misverstand? Dit het my aan die ou Thomas herinner. Ons het altyd tot laatnag vir mekaar boodskappe gestuur.
Nie een van ons wou ooit eerste nagsê nie en vroegoggend was hy by ons huis om saam met my skool toe te stap. Hy het geweier dat ek my tas self dra en het behoorlik elke oggend soos ’n pakdonkie gelyk. Die gedagte laat my amper glimlag. Ek en Thomas het mekaar by ’n Valentynsdans in graad tien ontmoet. Hy het my vir die eerste dans gevra en niemand anders vir die res van die aand ’n kans gegee om naby my te kom nie.
Ek het gedink dis sweet. Vir drie jaar was ons smoorverlief. Dit was voordat hy hom aan dwelms oorgegee het. Die liefde is beslis blind. Ek was so naïef en iets in my wou altyd net die beste van hom glo. Ek het probeer vergeet van die geld wat soms uit ons beursies weggeraak het. Selfone wat kamtig gesteel is. Juweliersware en TV-speletjies wat voete sou kry. Vir alles was daar altyd ’n verduideliking wat ek in my kop sou laat sin maak.
Maar ek is klaar met sy leuens.
Ek het gister ’n nuwe SIM-kaart gekoop. Nou sal ek nie meer sy smekende boodskappe hoef te lees nie. Stellenbosch is nou my tuiste. Dis hoekom ek vandag hier is. Sodat ek kan onthou. Thomas weet nie ek het gehoor wat hy daardie dag van my gesê het nie. Daarom paai hy my, maar ek weet wat hy eintlik wil hê en dis nie ek nie. Ek sluk hard. Thomas se helderblou oë wat my hart met een kyk kan … kon laat smelt, was die laaste paar maande net vol boosaardige vlamme.
“All done.” Keanon se stem ruk my terug na die werklikheid. Ek sug dankbaar. Ek is nie seker hoe lank ek nog hier sou kon lê nie. Keanon is my huismaat, Nikki, se ou, en volgens haar die beste tatoeëerkunstenaar in Stellenbosch. Hy help my op sodat ek die tatoe van nader kan bekyk. Kom ons hoop Nikki is reg en kyk nie net met sterre in haar oë na Keanon se kunswerke nie.
My asem steek amper in my keel vas. Die black panther wat in die spieël na my staar is pragtig. Die pyn was beslis die moeite werd. Die detail, wat soos ’n fyn potloodskets lyk, is asemrowend.
“I love it. Exactly what I wanted. Thank you,” sê ek amper hartseer vir Keanon. Die panther simboliseer vir my so baie.
“Glad you’re happy,” sê hy en trek sy handskoene uit. “Palesa!” roep Keanon na die meisie wat by ontvangs werk. Sy kom ingestap en glimlag toe sy die tatoe sien.
“Wow, dit lyk awesome.”
Toe Keanon uit die vertrek is, smeer Palesa ’n lagie salf op, voordat sy dun plastiek om my lyf draai. Nadat ek aangetrek het, stap ons na die ontvangsarea.
“Just keep it covered for the next two to four hours, and then you can take the covering off. Remember, no hot water. And sleep on your tummy for at least a week. Only wear loose fitting clothing,” verduidelik Keanon vir my.
Ek knik. “It’s perfect, thanks again,” sê ek. Ek krap in my handsak en hou my bankkaart na hom uit. My maag maak ’n draai toe my foon se vibrasie die transaksie verifieer. Daar gaan ’n reusehap van my spaargeld. Ek weet nie wat my broer, Dewald, of my ma sal sê nie, maar ek wou dit laat doen sodat ek myself kan herinner ek is sterker as wat ek dink.
Maandag skop die tweede kwartaal af, dan behoort die ergste pyn en ongemak verby te wees. By die Elizabeth Galloway Akademie vir Mode-ontwerp in Stellenbosch het ek my nuwe lewe begin. Van kleins af het ek ’n passie vir klere maak en mooi aantrek. Op hoërskool het ek al my ouma se patrone gemeng en -pas om vir my nuwe uitrustings te maak. Dis sy wat vir my my eerste naaimasjien gekoop het. Sy sou van Stellenbosch gehou het. My ma ook.
Ek mis my ma oneindig baie. Sy het my gehelp om van Thomas af weg te kom daardie laaste aand. Die eerste keer dat hy my te lyf gegaan het. Sy het vir my ’n buskaartjie gekoop en self my tasse gepak. My ma is emosioneel die sterkste vrou wat ek ken. Sy het self al baie deurgemaak toe my pa die pad gevat het.
Vir jare was ek vas oortuig ek of Dewald het iets verkeerds gedoen. Hoekom anders sal ’n grootmens al sy verantwoordelikhede net so los en weghardloop? Maar my ma het ons nog altyd laat verstaan dit was niemand se skuld nie. Nee, my pa was net ’n quitter. Die dag toe ek dit besef, het ek ophou droom hy sal terugkom en myself belowe ek sal nooit tou opgooi nie. Dis seker waarom ek in Thomas bly glo het. Maar soos my pa, het hy my ook teleurgestel.
Ek stoot my fiets sommer apteek toe om die salf te kry wat Keanon voorgestel het. Dewald het my verras met ’n oulike fiets sodat ek nie hoef te loop nie. Ek is seker hy wens hy kon vir my eerder ’n tweedehandse kar koop, maar ek weet nie hy of Ma kan dit bekostig nie. Soos dit is, werk sy bitter hard om vir ons studies te betaal.
In die apteek groet die vrou agter die toonbank my vriendelik. Ek het die naam van die salf op my foon gestoor. Terwyl ek na die skerm kyk, land ’n hand van agter op my skouer.
“Glo jy in die noodlot?” vra ’n mansstem. Ek word yskoud. Voor ek kan keer, kletter my foon op die teëlvloer neer. Te bang om om te draai, staan ek vir ’n oomblik versteen.
“Hel, ek’s jammer. Ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie, Lisa.” Die persoon ken my naam?
Fronsend draai ek om. Die oomblik toe ek in vriendelike groen oë vaskyk, gee die knop op my maag skiet. Ek herken die ou. Dis Dewald en Stefan se vriend, Evan of Eduan of so iets. Hy was so gaaf om my tas te help dra op Kampsbaai. Ek was daardie dag so gespanne, ek het myself nie eens behoorlik voorgestel nie. Al waaraan ek kon dink, was dit waarvan ek weghardloop en die geheim wat ek wegsteek. Nie eens Dewald weet die hele waarheid nie.
Ek skud die gedagtes uit my kop en probeer glimlag vir die ou toe hy afbuk en my foon optel.
“Dankie.” Ek druk die foon in my handsak. “E …” sê ek onseker. Vir wat kan ek nou nie sy naam onthou nie?
“Estian,” help hy my reg.
Ek voel hoe ek bloos. “Jammer,” sê ek. “Ek was nog nooit goed met name nie.”
Estian knik, maar daar flits misnoeë oor sy gesig. So ’n mooi ou is seker nie gewoond daaraan dat meisies nie sy naam kan onthou nie.
“Is jy dalk lus vir koffie?” vra hy. Estian glimlag breed. Sy swart hare het ’n blouerige skynsel onder die apteek se neonligte. “Ons het nooit op Kampsbaai ’n kans gehad om te gesels nie.”
Ek byt my lip vas. Dit klink lekker. ’n Nuwe begin beteken mos om nuwe vriende te maak. My foon wat skielik soos ’n waarskuwing in my handsak vibreer, herinner my aan die geheim wat ek saamgesleep het Stellenbosch toe. Ek verander eerder van plan.
“Ek is jammer, liewer nie,” keer ek vinnig. Ek sal eers my simpel fout moet regmaak voordat ek nuwe mense by my lewe betrek.
“Bye, Estian,” sê ek en stap haastig na die betaalpunt sonder om vir hom ’n verduideliking te gee.
Estian
Om medies te swot is nie vir sissies nie. Nee, vir daardie MBChB-graad in ’n mooi goue raam teen jou muur, leer ’n mens jou Heer en Heiland ken. Dis juis die rede waarom ek eerder in Stellenbosch bly as op die Tygerbergkampus. Daar’s net te veel afleiding en ek het te hard gewerk om keuring te kry om dit sommer net weg te smyt.