Tienerharte 3: Hartedief. Cecilia Steyn
guns wat ek hom so twee weke gelede bewys het. Hy het my gevra om Surette se aandag af te lei, terwyl hy probeer om vir Ciska beter te leer ken. En dit was nie maklik nie. Soos ek dit sien, skuld hy my ’n helse groot guns. Een wat ek nou nodig het.
Ek vat my foon en bel sy nommer. Dit lui net.
Toe iemand aan my deur klop, druk ek die foon dood.
Praat van die duiwel.
Stefan en Dewald staan op my drumpel, saam met … Lisa? Wat maak hulle hier? Ek voel hoe die bloed deur my are stormloop die oomblik toe ek haar sien. Hoe my pols versnel. Hoe kan ’n meisie wat ek nie eens ken nie, my so laat voel? Lisa Malan doen net iets aan my. Maar presies wat, is ek nie seker nie. Nie dat dit my gaan keer om uit te vind nie.
Lisa frons toe sy my sien. Sy laat haar blonde hare effens oor haar oë val. Dit lyk asof sy gehuil het.
“Hallo,” groet ek haar vir die tweede keer vandag.
Dit voel asof Lisa al die suurstof in die vertrek gevange hou toe sy my stip in die oë kyk. “Hi,” sê sy sag en kyk vinnig weg. Sy het beslis gehuil, haar sagte blou oë is bloedrooi. Haar maskara is effens gesmeer en Dewald lyk of hy binnekort iemand gaan vermoor.
Het sy vir hulle gesê ek het na haar gestaan en staar? Of nog erger. Miskien het sy agtergekom ek het haar agtervolg. Dewald is waarskynlik hier om my nek te breek en hy het back-up saamgebring.
“Gaan jy ons innooi?” vra Dewald toe ek versteen staan.
“Ja, jammer,” sê ek en hou die deur oop. Skielik onthou ek van die skottelgoed wat gewas moet word en die koerante wat ek nog moet optel om te laat herwin. My handboeke en aantekeninge lê die hele mat vol. Ek was besig om te swot voordat ek Lisa vandag raakgeloop het – voordat sy my aandag afgetrek het.
“Kom sit,” sê ek en beduie na die banke. Ek gryp die koerante op die koffietafel en dra hulle vinnig kombuis toe. Lisa kyk rond, haar blik rus vir ’n oomblik op die boeke op die grond en die foto’s wat teen my muur hang. As ek geweet het sy kom, het ek die foto’s iewers in ’n laai weggesteek, veral die van my ma. Hel, ek hoop nie sy dink ek is ’n douche nie. “Dis ’n verrassing,” sê ek.
“Ek sien jy’t my gebel,” sê Stefan met sy foon in sy hand.
“Ek wou maar net hoor hoe dit gaan,” sê ek traak-my-nie-agtig. Dis nie asof ek vir hom die waarheid hier voor Lisa en Dewald kan vertel nie.
“Ons het jou hulp nodig,” sê Dewald. Lisa sug hard. Daar loop ’n enkele traan oor haar wang. Sy vee dit vinnig met die agterkant van haar hand af. My hart voel asof dit gaan versplinter. Sy probeer braaf lyk, maar ek kan sien iets is nie reg nie.
“Sure, waarmee help ek?”
“Jy swot mos medies en ons het ’n dokter nodig,” sê Stefan.
Is Lisa siek? wonder ek. Ek het haar vroeër in die apteek raakgeloop.
“Ek is nog nie ’n dokter nie,” herinner ek hulle.
“Daar moet iets wees wat jy kan doen,” sê Dewald. “Lisa,” sê hy stram. Sy staan op en stap badkamer toe. Na ’n ruk kom sy uit met ’n handdoek voor haar bolyf. Haar rug kaal. Ek sluk hard. Lisa se hele rug is rooi en opgehewe, maar die coolste tatoe van ’n black panther begroet my. Nice.
“Ek dink ek is allergies of iets,” sê sy. “Die plek waar ek dit laat doen het, is silwerskoon. Dis beslis nie infeksie nie.”
Ek knik en vat aan haar sagte vel. Dis vuurwarm.
“Miskien moet julle haar eerder ongevalle toe vat,” stel ek voor. Dit lyk of sy dadelik mediese hulp nodig het.
“Nee,” sê Lisa en Dewald gelyk.
Vir wat wil hulle haar nie hospitaal toe vat nie? As dit my suster was, het ek nie twee keer gedink nie. “My ma gebruik chroniese medikasie en dit vat elke maand ’n groot hap uit haar mediese spaarrekening. Ek dink nie ons moet haar fondse onnodig uitput nie. Sy doen genoeg vir ons,” verduidelik Dewald. Hy kyk verwytend na Lisa.
Ek knik. “Ek kan my broer bel,” bied ek aan. Markus gaan nie dink dis snaaks nie, maar ek sal enigiets doen om vir Lisa langer hier te hou. Buitendien wil ek haar regtig graag help. Die uitslag lyk vrek ongemaklik. “Hy is darem al ’n dokter, besig met sy gemeenskapsdiens.”
“Dankie, dit sal help. Ek weet nie hoe ’n mens iets so simpel kan doen nie,” sê Dewald weer ongeduldig en kyk na Lisa.
My hart breek vir haar. As Dewald haar wil uittrap, kan hy dit op ’n ander plek gaan doen. “Pleks spaar sy haar geld vir ’n kar, maar nee, sy verkies om haarself te laat inkleur.” Daar skiet weer trane in Lisa se oë op. Sy spring orent en storm badkamer toe. “Ek kan nie glo sy het dit aan haarself gedoen nie. Sy is mooi nes sy is … was.” Dewald skud sy kop. “Iets maak nie sin nie. Ek ken haar nie so nie.”
“Kalmeer nou net. Dis nou te laat om iets daaraan te doen,” sê Stefan.
“Dis nie die lelikste tatoe wat ek al gesien het nie. Ek dink dit gaan goed lyk as die allergiese reaksie eers opgeklaar het,” sê ek. Inteendeel, as Lisa voorheen koppe laat draai het, gaan sy nou die mans behoorlik laat kwyl. Ek is een van hulle, maar dit sal ek nie nou al vir Dewald sê nie. Dewald kyk woordeloos na my, asof hy my gedagtes kan lees.
Stefan slaan Dewald vertroostend op die rug. “Ons het klas oor twintig minute. Sal sy dalk hier kan wag vir jou broer?” vra Stefan vir my.
“Ek bly graag,” sê Lisa en vou haar arms uitdagend toe sy uit die badkamer kom. Sy gluur na Dewald. Sy het elke woord gehoor. “As dit reg is met jou?” Lisa kyk pleitend na my met daardie glashelder, hemelblou oë van haar.
Wie is ek nou om ’n meisie se versoek te weier?
“Absoluut,” sê ek.
Ek kan my geluk nie glo nie.
Lisa
“Markus sal binnekort hier wees,” sê Estian, nadat hy sy broer gebel het.
“Thanks,” sê ek. Aan die uitdrukking op Estian se gesig kon ek sien hy verstaan nie regtig hoekom ek nie eerder ongevalle toe is nie, maar hy het niks gesê nie. Ek en Dewald het in die kar op pad hierheen besef dit kan dalk ’n manier vir Thomas wees om uit te vind waar ek is, daarom wil ek eerder nie nou my naam in ’n hospitaalregister hê nie.
Wat is die kanse? Dat dit nou juis die vriend is waarvan Dewald gepraat het. Wat sê ek vir die ou vir wie ek netnou gevlug het?
Daar groei ’n ongemaklike stilte tussen my en Estian noudat ons alleen is. Ek kan nie help om te wonder of dit is omdat ek nie saam met hom wou gaan koffie drink het nie.
Estian se glimlag bereik sy oë. Daardie opmerklike groen irisse. Hy is definitief stunning. Ek vat selfbewus aan my wange. Ek het netnou in die badkamer my gesig probeer was om die maskarastrepe af te kry – ek moet seker vreeslik lyk.
“Dankie dat jy my tatoe netnou soort van verdedig het,” sê ek om die stilte te verbreek.
“Jy’t gehoor?” vra hy. Ek knik. “Ek het net die waarheid gepraat. Dit ís ’n sexy tatoe, maar dit sal ek nou nie vir Dewald sê nie.” Ons lag. Ons albei weet dit gaan vir Dewald net nog meer slapelose nagte gee.
Estian se hare lyk effens langer as wat dit ’n paar weke gelede was. Daar is ’n swart skadu op sy ken en wangbene. My arms slaan hoendervleis uit by die gedagte aan daardie growwe stoppels teen my vel. Sy kuiltjies is genoeg om enige meisie se knieë lam te maak. Miskien is Estian dalk net wat ek nodig het om van Thomas te vergeet. Ek skud my kop. Het ek nog nie my kwota slegte idees vir die jaar gehad nie?
“Miskien,” sê ek vir Estian. Hy kyk verward na my. “Jy het my vroeër vandag gevra of ek in die noodlot glo. Ek wou sê nee, maar nou is my antwoord … miskien.”
“O, dit,” sê hy. “Ek glo beslis daarin. Ek sien ’n fantastiese toekoms vir ons twee.” Sy aanmerking laat my lag. Hy is omtrent