Man van Cirene. F.A. Venter

Man van Cirene - F.A. Venter


Скачать книгу
Hy gee vinnig pad, want hy wil nie hê die soldate moet sy geheim weet nie.

      ’n Kaptein van die Romeinse leër staan daar met sy rooi helmpluim en blink borsplaat. Die handvatsel van sy kort swaard glim bo die skede. By hom is twee minderes.

      Die kaptein maak ’n gebaar, sonder dat hy praat. Hulle kom boei Simon. ’n Ketting verbind die gewrigboeie met die enkelboeie. Hulle lei hom uit en hy loop ongemaklik oor die plaveisel, die kettings klingelend. Hy kyk net een maal op. Blou wasige rook hang in die lug na die see se kant toe.

      Onderwyl hulle oor die plein loop, bars strydwaens kletterend voor hulle verby. Perdewaens jaag na die groot poort.

      Simon gaan staan. Om die triomfboog by die hoofpoort waarop die groot adelaar van Rome troon, hang ook ’n dun wasigheid soos van rook.

      Toe hy in die lug opkyk, gewaar Simon die yl rookbank wat soos ’n sluier deur die seewind na die woestyn oopgesprei word. Dit kan nie net sy koring wees wat brand nie, dink hy verwonderd.

      Hulle stamp hom ru vorentoe. Hy sien skaars die falanks van ’n legioen wat oor die plein na die poort marsjeer, so opgewonde is hy.

      Die wagte lei hom die trap op. Pilare troon hoog oor Simon. Hy is vaagweg bewus van soldate by deure, wit marmer wat glim, ruimte en skoonheid, koel rustigheid – en toe is hy in ’n ruim saal. Hy verwonder hom aan die hoë gewelf waar die kandelare hang, die mosaïekvloer, die wilde skilderye teen die mure: springende perde, vegtende soldate, stormende strydwaens, olifante wat manne vermorsel, leeus wat in die arena aanval. Dié weelde oorweldig hom.

      In die middel van die saal is ’n groepie bymekaar: ’n gesette man op ’n versierde stoel met ’n adelaar op die leuning, agter ’n vergulde tafel. Weerskante van hom twee soldate, regop en paraat. Eenkant op ’n plat bank sit ’n paar slawe. Aan die ander kant nog ’n groep soldate.

      Tussen hulle een met ’n wit verband oor sy oë.

      Die kettings klap dof in die leegheid toe Simon nader gelei word. Dit is die enigste geluid – dit en die sagte geklap van sandale op die marmer. En die gefladder van ’n windswael hoog teen die versierde gewelf van waar die beeltenis van Jupiter op hulle neerkyk.

      Die wagte lei Simon tot voor Sextus Quirinius, wat vooroor op sy vergulde stoel sit soos iemand wat baie moeg is.

      “Die Jood Simon Niger, Hoogedelagbare,” sê die jong kaptein en sy stem weerklink hard in die groot, stil ruimte.

      Quirinius draai sy kop en in sy oë is ’n bevel. Een van die soldate wat Simon gisteraand by die trapvloer oorrompel het, staan op en vertel die verhaal van Vitellius se dood, van die geveg, van die fakkel. Die soldate vertel almal wat gebeur het, en toe die slawe. Daarna is dit stil. Daar is net die geknars van die calamus oor die perkament soos ’n slaaf eenkant alles sit en neerskryf.

      Sextus Quirinius swaai die toga van sy arms af, vat die kante van die tafel vas.

      “Jy het alles gehoor, Jood van Cirene. Wat het jy te sê?”

      Simon se stem klink onbenullig in die tribunesaal. “Wat daar gesê is, is waar …”

      “Waarom het jy dit gedoen?” vra Quirinius skerp.

      “Dit was oor my koring …”

      “Is dit nie Rome wat bepaal wat vir koring betaal word nie? Wie is jy om te sê wat jy sal vat en wat jy nie sal vat nie? Is die woord van Rome dan nie die wet nie?”

      Simon word bewus van die gewig van die ketting wat sy boeie verbind. “Dit was nie net oor die koring nie. Vitellius het my uitgetart. Gesê hy konfiskeer my koring.” Hy kyk op in Quirinius se oë en sy mond bewe. “Dit was oor my grond ook. Vitellius het gesê hulle gaan dalk my grond ook vat.” Hy skud sy kop en bly ’n oomblik stil. “… Ek het nog stilgebly ter wille van my grond … en my huis en alles. Maar toe slaan hy my hier asof ek ’n slaaf is.” Hy beduie na die bloedstreep oor sy gesig. “Daarna het ek hom geslaan. Ek het nie geweet wat ek doen nie.”

      “Hoe sê jy wat het Vitellius oor die grond en oor die koring gesê?” vra Quirinius fronsend.

      “Hy’t gesê hy vat die koring … Hy … konfiskeer dit. En as ek nie oppas nie, vat hy nog my grond ook.”

      Quirinius is in sy enigheid dankbaar die kruiper Vitellius het oor hierdie leuen gesterf. Hy voel ’n deernis teenoor die man voor hom, want hy weet hy is uitgetart. Hy dink daaraan dat hy die Jood dalk kan loslaat, want Vitellius het ’n leuen vertel.

      Maar dan onthou die goewerneur vir Gaius Papinius, afgesant van Cornelius Marsus; dink aan sy goeie vriend Flavius, wat sy are moes oopsny ná ’n misstap in Thrasië.

      En, natuurlik, die nagevolge van die Jood se daad gisteraand …

      “Die fakkel wat jy gisteraand gebruik het, het Cirene aan die brand gesteek,” sê Quirinius. “Ek het hier in vrede probeer regeer. Nou het jy my werk ongedaan gemaak. Vandag sal daar baie bloedvergieting wees. Baie van die ander nedersetters het hul koring ook aan brand gesteek. Die vlam by jou dorsvloer het ’n groot brand geword. Jy het ’n opstand aangeblaas.”

      Simon praat nie, want hy is totaal oorweldig. Dít het hy nie verwag nie.

      “Is jy ’n volgeling van hierdie Nasarener – is dit waarom jy dit gewaag het om jou teen Rome te verset?” vra die goewerneur.

      “Is jy?” vra Quirinius toe Simon aanvanklik nie antwoord nie. Dit is nie meer net ’n vraag nie, dit is ’n bevel.

      Simon skud sy kop heftig.

      “Nee,” sê hy, “ek is nie ’n volgeling van die Nasarener nie. Hy is nie die Messias nie.”

      “Dit is nie baie dapper om jou leier te verloën wanneer jy in die moeilikheid is nie,” tart Quirinius.

      “Hoogedele, ek glo nie aan die timmerman van Galilea nie,” antwoord Simon hard.

      “Hulle sê dan Hy is die Messias?” spot Quirinius. “Die nuwe Koning van die Jode?”

      Simon skuifel ’n tree vorentoe, sodat die kaptein hom voorkeer. “U versoek my,” sê hy oplopend. “Ek sê vir u daar is net een lewende God – die God van Abraham, Isak en Jakob.”

      Quirinius laat dit daar, want hy glo die Jood. Hy dink weer aan genade. Hy wil graag menslik wees, maar dan besef hy hy moet allereers Romein wees. En daar is net een rigsnoer: Die Ryk moet beskerm word.

      “Jy is skuldig, Simon Niger,” sê Quirinius eindelik. “Het jy iets te sê?”

      “Ek is skuldig, maar ek vra genade. Vitellius het my gedryf.”

      “Genade? Jy het ’n burger van die keiser vermoor. Jy het Cirene in opstand gebring. Jy het ’n soldaat van die groot Tiberius vermink. Dan vra jy genade?”

      Simon kyk na die soldaat op die bank. Hy praat weemoedig. “Dit … dit spyt my ek het daardie man met die fakkel geslaan. Ek vra vergiffenis.”

      “Vergiffenis! Vergiffenis! Jy het my blind gemaak!” skreeu die man histeries, en toe lei hulle hom weg. Maar Simon hoor sy vervloeking. “Ek sal juig wanneer die son jou aan die kruis brand, Jood!”

      Quirinius gooi die toga van sy skouers af soos iemand wat benoud voel, kyk op na die hoë gewelf, maak sy oë toe.

      “Simon Niger,” sê die goewerneur, “jy sal aan die kruis sterf. Jy het teen Rome in opstand gekom … Neem hom weg na die kerker.” Quirinius staan vinnig op en stap weg deur die leë saal.

      6

      Toe hulle met Simon uit die praetorium kom, lê die plein leeg in die son. Maar dit is net die plein wat leeg is – die stad is vol dreunende geluid. Op die onderste treetjie van die trap gaan Simon staan.

      “Cirene het ontwaak,” sê hy oorwinnend.

      ’n Wag slaan hom met die steel van sy spies tussen die skouers, sodat hy vooroor struikel. Tog let hy op dat die paleiswagte nou meer is. Hulle staan in digte


Скачать книгу