Met liefde wat saamgaan en ander stories. Annalise Wiid
Hoe bewys sy dit as daar van die geld weg is? Sê nou die vreemde SMS-vrou daag eenvoudig net nie op nie?
Maar sy het gekom. Die Moslemvrou wat die vorige maand haar werk verloor het. Vir wie R20 000 pasella-in-’n-plastieksak soos die jackpot moes gevoel het. Wat só graag die geld wou hou. Maar haar ma het gesê: “Nee, my kind, die geld behoort nie aan ons nie.” En sy het dit alles teruggebring. Elke sent. Die volle bedrag was in daardie sak.
So gelukkig is ’n mens beslis nie aldag nie. Dat ’n besope man jou vrolik wys waar die bloubaadjie sit, is een ding. Dat ’n medemens se gewete jou genade word, is ’n ander. Dat eerlikheid ’n hoër waarde het as honger, en ander meer as self.
7. Anna-Maria maak haar ma vry
“Daar bestaan nie genoeg Afrikaanse woorde om te beskryf hoe ek my ma gehaat het nie.” Die woord “haat” sis soos spoegspatsels op gloeiende kole. Dit sidder deur ons almal. Die vrou uit wie se mond dit kom, is fyn. Mooi. Goed versorg. Elegant.
“Ek was agt jaar oud toe sy ons gelos het. My boetie was vyf. Sy het net haar tasse gepak en gegaan. Verdwyn. Ons het haar nooit weer gesien nie. Ek het myself as ’n aaklige onliefhêbare kind beleef. Ek kon nog verstaan dat sy mý gelos het. Maar my boetie? Hy was so klein!
“Ons het in Walvisbaai gewoon. Later jare het ek probeer uitvis by my pa. Hy het gesê ’n saak het altyd twee kante. Hy was bereid om sy kant te probeer vertel, maar haar kant … Hy wou nie waag om te begin nie. Hy het gesê ek kan haar soek as ek wil. Ek moet hom net uit die saak uithou.
“Op negentien is ek met Koos getroud. Ek is eintlik Portugees. Katoliek. Koos was Afrikaans, NG en net goed. Met die baie verskille tussen ons was die aanpassings aan die begin moeilik, maar hy is ’n wonderlike man. Ons het twee kinders. ’n Seun en ’n dogter. Ek het later ophou soek na my ma.
“En toe, in 2004 terwyl die Wêreldbekersokker aan die gang was, SMS ’n wildvreemde vrou my: “Jou ma lê in die Kaap in ’n ouetehuis. Sy is sterwend. As jy met haar wil kontak maak, bel hierdie nommer.” Ek skrik myself buite weste. Bel die plek. Ja, my ma is daar. Lê lankal op sterwe. Sy’s baie swak, maar sy sukkel om dood te gaan.
“Ek wou dadelik na haar toe gaan. My boetie het net gesê nee, hy wil niks van haar weet nie. Ons paspoorte was egter ingegee met visumaansoeke vir ’n ander reis wat ons beplan het, en met die sokker mag ’n mens daardie tyd glad nie met noodpaspoorte of emergency documents na Suid-Afrika gereis het nie. Ek kon haar dus nie gaan sien nie.
“Toe sê die suster by die tehuis sy sal die selfoon by my ma se oor hou. My ma is seniel en sy kan nie meer praat nie, maar sy sal my kan hoor. Ek moet met haar praat …
“Toe vertel ek vir haar wie ek is. Wie ek geword het. Ek vertel van Koos en my kinders. Waar ons woon. Wat ons doen. Dis ’n vreeslike ding om met jou mammie oor die foon te praat wat jy eintlik nie ken nie. En jy kan haar nie sien nie; nie aan haar raak nie. Ek huil. Ek sê vir haar: ‘Mamma, ek het jou vrééslik gehaat. Daar is nie woorde nie. Maar later, toe ek self kinders het, toe dink ek: Jy moes jou redes gehad het, al verstaan ek dit nie. En toe vergewe ek jou. Mamma, ek vergewe jou.’
“Die suster het gesê my ma het vreeslik gehuil.
“Ek vra toe my dogter wat op Stellenbosch is om na my ma toe te gaan. Sy het haar laptop saamgeneem waarop foto’s van ons familie is. Sy het vir my ma gaan wys hoe ons lyk. Ek. Koos. My broer. My kinders. Die suster sê sy dink my ma het gedink my dogter is ek. Ons lyk so baie na mekaar. My dogter het vier dae later weer gegaan. ’n Halfuur ná haar tweede besoek is my ma dood. Die suster sê sy het net haar hande, haar arms so in die lug opgesteek en gesterf. Sy was vol vrede. En sy was vry.
“Ek ook. Hartseer, maar wonderbaarlik vry.”
8. As die lewe langs die dood kom lê
Kunstenaars gebruik dit dikwels: kontras. Op skilderdoeke: lig langs donker; skel kleure saam met grys. Op verhoë: humor net ná hartseer; stilte ná lawaai. Teenstelling. Dit skok. Dit verras. Hoe onverwagser, hoe beter. Want dan ruk dit denke en harte oop.
Indië was vir my so ’n onverwags verruklike skilderdoek. Daar ruik, sien, hoor, proe en voel ’n mens alles in die oortreffende trap. Niks daar is sommer net gewoon nie. Hulle oordadige armoede, kerrie, krieket en kleurvolle lapgoed is mos wêreldbekend. Maar die streel van die soel lug teen jou vel – so intiem, so warm – vang jou onverwags wanneer jy jou voet uit die vliegtuig sit.
En die lawaai! Die krioelende karre, busse, toek-toek-taxi’s, fietse, motorfietse en mens-massa. Die roesemoes van remme en stemme wat in derduisende dialekte skree. Met tussenin die sagte rinkeling van enkelklokkies en bedesange.
Indië se geure is ’n gekke aanslag op jou sintuie: kaneel, gemmer, borrie en knoffel. Stinkafrikaners (blomme, nie mense nie), henna, klapper en lourier. Neutmuskaat en botternaan – so meesterlik vermeng dat jou mond water terwyl jou oë traan. En aan die minder lekker kant, die stank van vark en straat en wierook en riool.
Al jou sinne woer-woer! Jou oë spring trampolien tussen vrolike poeierverfkleure, goue borduurwerk en aangrypende argitektuur. En daarneffens: geverfde olifant-afgode en skrikwekkende menslike ellende en verminktheid.
Dit brand vas in jou brein, dié skrei-kontraste. Beeldskone kindertjies wat op ashope speel. Vroue in sari’s van sy wat trots, statig uit die haglikste gehuggies te voorskyn kom. Die man sonder skoene langs die man in die Porsche.
Kontras. Dis méér as net verskillend. Dit is intenser. Die langs-mekaar daarvan stuit jou in jou spore. Of, wanneer die Groot Skilder daarmee werk, laat dit jou vlieg tussen die sterre …
Hier in ons eie land, wat hoeka te veel van Indië se uiterstes pynlik goed ken, sien ek dit weer onlangs: ’n flambojante vrou. Haar perkelose, uitbundige gemaklikheid met haarself lê in los kwashale oor haar lyftaal, haar lag. Sy dra duur klere. Laag op laag mooi.
Dié vrou sit op die grond langs ’n klein, maer dogtertjie. Styl langs skoolklere. Rooi krulhare, blink soos opgevryfde koper langs groot goudgeel strikke in stywe vlegsels. Jy kry kwalik ’n groter kontras. Hierdie kant van die spoor langs daardie kant van die spoor, en die rassegaping en die broodlyn. Die strikke is die enigste oorvloed aan die dogtertjie. Sy is verskrompel. Bang. Terughoudend. Onseker. Ongedefinieer. Sy huil stil.
Tog is daar nie ’n geskeidenheid nie. Eerder ’n osmose. Stadig, byna ongemerk, filter hulle deur na mekaar. Deurdring mekaar se ruimte en menswees. Die vrou buk, speel, lê langs die dogtertjie op die mat. Praat. Vra. Luister.
Die dogtertjie begin ontspan. Vertel. Ook van die bang. Teken ’n skoenlapper. Lê toe-ogies en luister as die vrou vir haar sing. En later, toe die vrou ’n botteltjie blinkers uithaal, lig sy haar gesiggie vol vertroue, afwagtend, op. Sy weet: Die tannie se liefde maak heel. Sy sprinkel ’n mens vol fairy dust.
9. Drie vroue drink tee
Drie vroue sit om ’n tafel. Die blonde een se serp is dieselfde middernagblou as haar oë. Die tweede een se hare is ook blond, maar haar oë is bruin en bekommerd. Die derde een is maar net daar. Sy is die middelmens; die een wat die ander twee bymekaargebring het.
Hulle drink tee. Buite val die reën aanhoudend, soos kaasdoeksluiers lyk dit deur die venster. Hulle drink rooibos. Sterk. Stomend. Die koppies is fyn en wit. Die vroue sit vooroor gebuig om die houttafel. Hulle hande vou die koppies toe, soos kombersies om babas. Hulle praat oor hulle lewe.
Die blouoogvrou vertrek binnekort Nepal toe. Sy gaan berading doen met die slagoffers van ’n onlangse aardbewing. Dit was so geweldig, die aardbewing, dat die Himalajas meetbaar gesak het. Die mense daar se lewens is aan flarde. Hulle het dae, weke lank aanhoudend noodroepe uitgestuur: Kom help ons! Kom help ons!
Nou gaan sy. Onbaatsugtig. Sy kamp nie graag nie. Sy hou nie van ploeter deur vuil nie, maar dit is nie nou ter sake nie. Die mense se pleidooi om hulp is al wat tel. Sy gaan met tolke en klei met die stukkende mense werk. Sy gaan hulle deur die kurwe van verlies begelei, een-een of in kleingroepe – afhangend van die omvang van hulle trauma. Sy gaan