Ena Murray Keur 12. Ena Murray
baie gou ’n plan met haar sal maak.
Soos ’n winkelpop, totaal ontneem van lewe, paradeer sy met die kinderagtige, “afgryslike” rokke, soos Poens pront sy opinie lug, en sien hoe die aakligstes ingepak word.
Dis Poens wat vurig protesteer. “Maar jy kan g’n daardie afskuwelike goed dra nie!”
“Jou opinie is nie gevra nie,” word hy bitsig toegevoeg. “Wat weet jy van damesklere af?”
“Ek weet meer as jy!” tree hy driftig tot die stryd toe. “Ek kan ten minste sien wanneer ’n ding donners lelik is, en jy nie!”
“Sal jy stilbly? Jy het nie ’n greintjie maniere nie! En jou taal! Jy sal dadelik op die trein gesit word terug huis toe, jou onbeskofte klein misbaksel.”
Poens kyk haar uit die hoogte aan. “Ek bly nie by jou nie. Ek bly by oom Festus.”
Dit lyk of die beroemde dame iets gaan oorkom, en Katryn gee Poens se skouer ’n drukkie en sê binnensmonds: “Sy sal my dit nie maak aantrek nie, Poens. En ons gaan haar terugkry daarvoor – gaan ons nie?”
Hy kyk na haar op, sy gesiggie rooi van ontstokenheid. Katryn knipoog en hy glimlag, knipoog terug. Dan gryp hy die pak gehate rokke, gooi die sak soos ’n bondel wasgoed oor sy skouer en begin aanstap terwyl hy hardop sê: “Nou is ek moeg vir klere. Kom ons gaan huis toe . . .”
By die huis word hulle weer uit die hoogte beveel: “Julle sorg dat julle uit die pad bly vanaand. Meneer Dumas gee ’n groot onthaal vir sy sakevriende en julle gaan na jul kamers en bly daar!”
In haar kamer bondel Katryn die klere net so in die sak onder in haar hangkas. Juffrou Duval sal lank wag om haar in hierdie klere te sien!
Sy en Poens bespied die wêreld ’n ruk later. Bes is in die kombuis doenig om alles gereed te kry en die aktrise het ook, nadat sy met ’n arendsoog na die gedekte tafel gekyk het, na haar woonstel vertrek om gereed te gaan maak.
Met groot oë loop Poens en Katryn al om die tafel. So iets het hulle nog nie tevore gesien nie. Dis silwerkandelare met kerse, die fynste glasies op die langste steeltjies, plat rangskikkings en silwermessegoed wat jou oë wil verblind. Dis Poens wat opgewonde opmerk: “A, hier staan haar naam.”
Katryn kom nader. By elke sitplek is ’n naam geplaas sodat elke gas presies kan weet waar hy moet plaasneem. Sy kyk na die kaartjie, onsekerheid op haar gesig. Sy was so woedend vandag in die winkel dat sy tot enigiets in staat was. Maar nou het sy tyd gehad om oor die saak te dink en sy besef dat haar plan baie kinderagtig is. ’n Grootmens gedra hom nie so nie.
Maar dan verskyn die pragtige, koue gesig van die aktrise weer voor haar geestesoog, en sy voel hoe sy opnuut ineenkrimp voor die ouer vrou se meerderwaardigheid. Sy neem Poens se hand. “Kom ons loop. Ons weet nou waar sy gaan sit. Niemand moet ons hier sien nie, dan sal hulle dadelik weet. Kom gou, voor Bes ons hier gewaar.”
“Bes sal dit geniet. Sý sal ons nooit verraai nie,” laat Poens selfversekerd hoor.
“Nietemin – ons wil haar nie hierby insleep nie.”
Deur ’n kamervenster op die boonste verdieping bekyk hulle die gaste wat een na die ander begin aankom. Met onrustige oë sien Katryn hoe Zelda Duval die rol van gasvrou speel met ’n gemak en besitlikheid asof sy werklik reeds mevrou Festus Dumas is. Die blonde vrou het vanaand ’n nousluitende rooi aandrok aan en lyk van kop tot tone net wat sy is: ’n baie suksesvolle aktrise.
Haar oë rus ook op Festus Dumas wat so aantreklik in sy aandpak lyk. Teen haar sin moet sy erken dat die blonde vrou en die donker man die ideale paartjie uitmaak. Haar ooglede val en sy draai weg van die venster af. Weer eens kom sy tot die gevolgtrekking dat dit ’n fout was om hierheen te kom.
“Poens, ons los dit maar. Nee, ons los dit,” sê sy streng toe dit lyk of hy wil protesteer. “Ek gaan slaap.”
Poens kyk haar agterna en frons kwaai. Katryn is ’n wonderlike maat, maar sy bly ’n vroumens. Nes dit by die doen kom, trek hulle altyd kleinkoppie. Wel, hý gaan nie daardie aaklige vroumens ongestraf laat wegkom nie.
Onbewus daarvan dat hulle van die trapleuning af dopgehou word, geniet die gaste die aand terdeë. Poens vergeet amper waarvoor hy hier op wag sit soos hy die klomp daar onder beskou. Sedert hy hier in die stad aangekom het, het sy oë dinge gesien wat hy nie geweet het moontlik is nie. Soos daardie vrou se rok – dié ene wat Beauty omgehardloop het. Hoe op aarde bly dit bo? ’n Paar keer al het Poens sy asem opgehou, wagtende op die ergste, maar wonder bo wonder het dit bly sit. Dan is daar ’n ander tannie van wie hy, hier van bo af, amper die hakskene kan sien, so laag is haar rok agter oop. Poens skud sy kop. Al wat hy kan dink, is dat hul materiaal opgeraak het voor die rokke klaar was.
Hy hoor oom Festus aankondig dat die laaste drankie voor ete bedien sal word en weet dat die tyd vir weerwraak aangebreek het. Hy sluip soos ’n skaduwee met die trap af en beweeg hande-viervoet agter die stoele deur na die eetkamer, pyl reg op ’n sekere stoel af. Hy het net genoeg tyd om te doen wat hy gekom het om te doen, toe die eerste gaste al geselsend binnekom en hy duik onder die lang, gedekte tafel in. Gelukkig hang die tafeldoek tot byna op die grond en sal hy nie gesien word nie. Een vir een skuif die gaste op hul plekke in en Poens sit in ’n klein bondeltjie opgekrimp terwyl hy versigtig die klomp se voete hier digby hom dophou. Hy bekyk hulle met aandag. Die een paar voete se toonnaels is bloedrooi geverf. ’n Ander been verraai ’n lang leer in die sykous toe die rok effens opgetrek word. En hier digby hom sien hy ’n groot aartappel vir hom loer uit ’n oom se sokkie. En sommer hier onder sy neus skop ’n dame haar skoene uit. Hy begin die speletjie geniet. Dit gaan ’n lang ete wees, na die klomp messe en vurke te oordeel, en hy kan dit maar geniet.
’n Hele paar gaste is later oortuig daarvan dat Festus Dumas se huis die een of ander besmetting het. Dit kriewel al tussen hulle tone. Natuurlik laat hulle niks blyk nie, maar op ’n eienaardige, onverstaanbare wyse het die gesellige atmosfeer wat in die sitkamer geheers het, verdwyn.
Festus kan nie begryp wat aan die gang is nie. Daar is ’n hele paar van sy gaste wat duidelik ongemaklik lyk. Sy blik gaan oor die tafel. Daar is niks met die ete verkeerd nie. Bes het, soos altyd, ’n puik ete voorgesit.
Die speletjie verveel Poens en hy soek iets anders om te doen. Sy oë skitter. Die dame met die knellende skoene gaan ’n skok kry wanneer sy hulle weer, net voordat sy moet opstaan, onder die bedekking van die tafel moet aansukkel. Baie versigtig plaas hy die paar skoene buite haar bereik.
Poens kyk om hom rond. Hy wens hulle wil nou ’n slag ophou met eet. Hy begin ook nou van voor af honger raak. Hy wonder . . . As hy versigtig sy hand bo-oor die tafel se rand steek . . .
Waar Katryn aan die bopunt van die trap tot stilstand kom, het sy ’n uitsig op ’n gedeelte van die eetkamertafel en party van die gaste. Sy skrik haar byna oor ’n mik toe sy ’n klein handjie van onder die tafel sien verskyn. Sy sak met lam knieë op die trap neer.
Sy het netnou gaan kyk of Poens al slaap en sy kamer leeg aangetref. Sy het sommer dadelik hond se gedagte gekry. Poens is nie iemand wat maklik kopgee nie. Met haar hart in haar keel het sy na die trap gesluip en nou dreig dit om by haar keel uit te spring. Gespanne volg haar blik die tastende handjie . . .
Gelukkig is die gaste so aan die gesels dat niemand anders dit sien nie. Haar blik gaan beangs met die ry gesigte af. As iemand tog net nie nou afkyk nie. Dan sien sy Festus se blik verstrak.
Katryn kyk vinnig terug na die handjie wat nou iets beetgekry het, en geruisloos glip ’n bakkie met nagereg onder die tafel in. Katryn byt op haar onderlip: Festus gaan hom vermóór!
Dan sluk sy. Die vrou voor wie die nagereg gestaan het, is klaar met wat sy wou sê en steek met haar lepel. Haar verslaentheid is iets om te aanskou toe sy afkyk en dan verbysterd om haar rondkyk. Weer kyk sy na die leë bordjie waarop die nageregbakkie gestaan het. Katryn kyk weer bekommerd na die onderpunt van die tafel. Festus Dumas het sy hand oor sy oë gesit en sy kop laat sak en Katryn kan sweer sy sien sy skouers skud!
Dan tref die komiese sy haar ook en sy moet byna haar hele vuis in haar mond steek. Daardie vrou