Hart se tweede kans. Ilze Beukes
vir enigiets wat tannie nodig het. Moenie huiwer om te vra nie.”
“Dit is wonderlik dat Eugene jou in die hande kon kry, ek voel so verlig. Ek het gedink ek sal in ’n aftreeoord moet gaan aansterk, maar Eugene wou niks daarvan hoor nie. Die hele petalje kos hom seker ’n aardige bedraggie!”
“Ek is seker hy doen dit met die grootste liefde. Kan ek sien waar die gips aan is?”
“Natuurlik.”
Wida trek die gordyne rondom die bed eers toe en lig die beddegoed dan versigtig op. “Sjoe, van die bobeen af tot by die tone! Dit lyk baie swaar vir tannie se klein postuurtjie. Dit is seker bietjie ongemaklik?”
Tannie Olga sug. “Ja, baie ongemaklik en swaar. Ek het twee dae na die ongeluk net eers gips aan die onderkant van my been gehad, want die swelling was te veel om die gips ten volle aan te sit. ’n Jong doktertjie het die plate laat neem en dit solank aangesit. Die ongeluk het op ’n Vrydagaand gebeur en die ortopeed kon eers die Maandag na my kom kyk, want hy was die naweek af. Toe kry ek die volle gips.
“Maar ek het vir die nuwe dokter hier by die rehabilitasiehospitaal genoem dat die ding so swaar is. Ek kry dit in die nag skaars geroer. Ek moet die been met al twee my hande vat om dit te verskuif. Hy het belowe dat hulle die gips aanstons met een van veselglas sal vervang.”
“Ek is bly hulle gaan uiteindelik vir tannie ligter gips aansit, dit sal beweging beslis bietjie makliker maak. Hoe voel die pyn?”
“Dit is draaglik met die medikasie. Ek slaap net sleg.”
“Vra dan vir dokter ’n ligte slaappilletjie vir ’n paar dae. Ek sal môre weer kom inloer en dan gesels ons verder. Tannie se seun is haastig. Is daar iets wat tannie nodig het? Klere, eetgoed?”
“Ek het nog oorgenoeg van alles hier. Die dierbare Sarah sorg dat my klere skoon is. Ek dink ek sal môre op jou knoppie druk wanneer jy weer kom inloer. Tot dan het ek alles wat ek nodig het, baie dankie.”
“Sien dan môre. Dan bespreek ons alles rustig.”
Sy ry agter Eugene aan in die besige verkeer. ’n Paar blokke van die hospitaal af draai hy links in ’n dwarsstraat op. Die huis lê seker teen daardie hoogte. Die pad maak ’n draai, en hy beduie dat sy regs moet indraai by ’n veiligheidshek wat voor haar oopskuif. Daar is ’n interkomstelsel langs die ingang van die hek aangebring.
Sy ry oor die geplaveide pad na die huis. Weerskante van die paadjie is groen struike wat in verskillende vorms gesnoei is. Die grasperke is grasgroen. Die pad maak ’n sirkel om ’n fontein. Die water wat so spuit, is ’n pragtige fokuspunt voor die spierwit dubbelverdiepinghuis met die groot houtvensterrame. Die vensters blink in die sonlig.
Sy parkeer en klim uit. Hy parkeer agter haar motor en kom haastig aangestap. Sy gesig is strak en ernstig. Lag die man dan nooit nie? Vaderland, maar hy is teruggetrokke.
“Welkom.”
“Dankie. Jy het ’n pragtige huis.”
Daar is struike in keramiekpotte aan weerskante van die groot voordeur met houtsneewerk. Sy merk op dat die ingang gelukkig rolstoelvriendelik is. Hy sluit die voordeur oop en staan terug sodat sy kan verby stap.
Die mansgeur van sy sagte naskeermiddel verras haar. Iets aan die streng, ernstige man trek ’n mens aan.
Terwyl hy die deur agter hulle sluit, kyk sy in die ingangsportaal rond. ’n Entjie van haar af is ’n stel trappe wat opgaan na ’n volgende verdieping. Regs is ’n woonarea met groot roomkleurige banke en bypassende stoele. Strooikussings in skakerings van seegroen is oral op die banke gerangskik. Op die houtvloer is ’n Persiese mat. ’n Ingeboude kaggel laat die plek huislik lyk en sal die vertrek seker in die winter heerlik warm maak.
Buite iewers blaf ’n hond opgewonde.
Hy maak keel skoon. “Ons kan eers hier links in die gang af gaan na waar die slaapkamers is, dan wys ek vir jou wat alles gedoen moet word. Daar is drie vertrekke hier onder in die gang vir julle gebruik.”
“Jou ma kom nog sterk voor, maar ek dink die dogter van Sarah gaan ’n groot hulp wees. Ek sal graag ’n belangstelling vir verpleging by haar wil kweek.”
“Sarah sal baie bly wees. Sodra ons hier klaar is, gaan ek julle aan mekaar voorstel. Sy bestuur my huishouding al jare lank.”
Eugene steek sy hand uit na die deurknop van die eerste vertrek regs uit die gang. Vir ’n oomblik lyk dit of hy vries. Voor haar oë vloei die bloed uit sy gesig en word dit koud en wit soos marmer. ’n Spiertjie spring teen sy kakebeen.
Wat gaan nou aan?
Toe hy die knop draai en die deur oopstoot, stap Wida die kamer binne en kyk verwonderd na die wit bababed, kassie en wiegstoel wat alles op ’n hoop gestoot is. Pienk gordyne lê opgevou binne-in die bababed. Teen die muur staan ’n paar bokse op mekaar.
Wida kyk vinnig na hom, maar sy gesigsuitdrukking verhoed haar om enigiets te sê.
Deur ’n glasskuifdeur aan die oorkant van die vertrek sien sy ’n binnetuin met ’n houtbank onder ’n koelteboom waar ’n kinderswaai hang. Dit lyk gesellig en rustig.
“Hierdie meubels sal later vandag opgelaai word. Dit is jou kamer. Afgesien van die deur waarby ons ingekom het, is hier ’n deur wat dit verbind met die hoofslaapkamer waar my ma gaan slaap. Dit behoort haar verpleging makliker te maak. Elke kamer het sy eie badkamer. Dit is die twee vertrekke wat nuwe meubels moet kry. Verkieslik ’n dubbelbed vir jou kamer om by die grootte van die vertrek te pas. Jy kan enigiets kies, ek gee nie om hoe dit lyk nie.”
Hy beweeg tot by die deur waarna hy vroeër verwys het en kyk na haar. “Loop voor.”
Die hoofslaapkamer is ruim en aan die regterkant is ’n skuifdeur wat uitgaan op dieselfde tuin-area. ’n Groot, antieke dubbelbed en bypassende spieëltafel is ook eenkant teen die muur geskuif. Ook dié vertrek se gordyne lê opgevou op die meubels. Hier is geen bokse nie. Die vertrek vertoon kaal. Daar is geen persoonlike items wat ’n aanduiding gee van wie hier gebly het nie.
Onuitgesproke vrae borrel in haar op. Was hy getroud? Is hy nou geskei? Waar is die baba?
Haar werkgewer se strak gesig is egter so ondeurdringbaar soos ’n muur. Sy kan sy emosies nie peil nie. Die atmosfeer is so gelaai dat die spanningsdrade tril.
Wida voel ’n rilling teen haar ruggraat afgly.
Selfs sy stem klink hard en hol in die leë vertrek. “Doen soos jy goeddink. Ek het geen voorkeur wat die tipe meubels betref nie. Koop waar dit vir jou gerieflik is. Ek sal vir jou een van my bankkaarte gee en reëlings met die bank tref dat jy tekenregte kry.”
Wida wys na die antieke meubels. “Kan hierdie meubels nie net oorskuif na my kamer nie? Dit lyk dan nog so mooi?”
Hy skud sy kop beslis. “Nee, hulle is reeds verkoop. Ek verkies dat jy ’n nuwe dubbelbedstel vir jou kamer gaan koop. Dalk liewer iets meer modern, net nie donker hout nie, dit is die enigste voorwaarde.”
“Ek maak so.”
Skielik spring ’n ligbruin gedierte teen die glas van die skuifdeur op.
Wida skrik so groot dat sy Eugene se boarm met albei hande vasgryp.
“Lady, nee,” roep Eugene kwaai.
Toe eers sien Wida dat dit ’n labrador is.
“’Skuus, sy soek aandag wanneer ek by die huis kom. Is jy bang vir honde?”
Wida skud haar kop verleë. “Nee, glad nie. Ek is eintlik lief vir diere. Dit was net onverwags.” Sy voel hoe Eugene se spiere onder haar hande beweeg en laat hom vinnig los. Haar bene voel sowaar lammerig. Seker van die skok.
Sy kyk op na hom en sien dat hy ontsteld frons. Is dit net oor sy geskrik het? Of dink hy dis onvanpas dat sy sy arm gegryp het. Dit was net ’n refleks; sy het niks daarmee bedoel nie.
“Jammer dat sy jou laat skrik het,” sê Eugene en sy