'n Liedjie vir Anine. Elsa Winckler
Lizet het haar asem skerp ingetrek. “Wat? Wow, dis katterig. Ek ken jou nie so nie.”
Anine gooi haar hare oor haar skouer. As sy eerlik moet wees, voel sy ook ellendig oor die hele ding. “Ek … weet. Ek moes dit nie gesê het nie, maar hy’t begin. As hy my nie gesoen het nie, sou ek …”
“Waaat?” gil Liset. “Ek het gewéét daar is iets tussen julle twee aan die gang. ’n Mens kan die sparks behoorlik sien wanneer julle in dieselfde vertrek is. Ek en Anya sit lankal en wag dat iets moet …”
“Is jy nou heeltemal laf? Ek het die storie in Die Ster gelees. En hy is net verontwaardig omdat ek nie ook in sy arms spring soos al die ander poppies nie. Dis die enigste rede vir die soen, glo my. Daar is nie enige spark, of wat ook al, tussen ons nie. Niks op die aarde nie. En ek het hom nié teruggesoen nie. Al dink hy so.”
Lizet giggel. “ The lady doth protest too much, methinks. Maar op ’n ernstiger noot. Jy weet darem seker die jongste storie is pure bog?”
“Hoe weet jy dis bog?”
“Anine!” Lizet pluk aan haar arm. “Dis my man se broer van wie ons praat. Jy ken sy ouers. Hy is eenvoudig nie die tipe nie.”
“Hoekom sê hy dan nie so nie?”
Lizet gooi haar hand in die lug. “Ek en Stephen dink ook hy moet homself probeer verdedig, maar hy weier om verder met joernaliste te praat.”
“Weet jy wat regtig gebeur het?” vra Anine.
“Ja, ek en Stephen moes dit uit hom wurg. Die vroumens wat die storie versprei, het hy verlede naweek sonder ’n draad klere in sy hotelkamer gekry. Sy was by die show wat hy die aand gehou het en het aangevoer hy het van die verhoog af met haar geflirt.”
“Wel, het hy?”
“Jy was al by ’n konsert van hom, hy …”
“Ek was nog net by een en dis ook net omdat Evan ons saamgesleep het. Popsangers is net eenvoudig nie my scene nie.”
“As jy onthou, sing hy meestal met sy oë toe en wanneer hy kyk, sien hy die gehoor en nie individue raak nie.”
Anine snork. “Sê hy.”
“Sê ek. Anders as jy, woon ek sy konserte soms by.”
“Wat maak hy toe met die kaal vroumens in sy kamer?”
“Hy het sekuriteit gaan roep om haar te verwyder. Sy het hom gedreig, en die storie is haar wraak. Ek kry my skoonouers net so jammer. Hulle weet natuurlik wat werklik gebeur het, maar die meeste mense glo elke woord wat hulle in ’n koerant lees. Jy ook, klink dit vir my.”
“Wel, daar is stories oor hom. Was daar nie ook iemand wat gesweer het sy verwag sy baba nie.”
Lizet snork onvroulik. “Nog ’n storie. En jy glo alles?” roep sy beskuldigend uit.
“Wat het daarvan geword? Ek het nie weer iets daaroor gelees nie.”
“Zander het aangebied om ’n vaderskaptoets te laat doen. Toe het sy gou haar deuntjie verander.”
“Daarvan het ek nêrens gelees nie.”
“Jy sal ook nie. Zander gaan nie stories aandra nie en die vroumens bly natuurlik nou tjoepstil.”
“Ek …” Anine klim in haar motor en haal haar selfoon uit. “Sal jy asseblief Zander se telefoonnommer vir my insit? Ek … ek sal om verskoning vra.”
Lizet tik vinnig ’n nommer in en gee haar foon terug. “Ek sal bly wees. Hy wys dit nie, maar al die stories raak hom. Hy weet sy familie lees hulle ook. Stephen is bekommerd oor hom. Die songs vir sy nuwe album moes al klaar gewees het, maar Stephen sê hy dink nie Zander het al iets geskryf nie.”
“Ek gaan ry. Sien jou môre.”
“Ja, ek hoop ons kry dan ’n tydjie om te gesels, vanaand was so deurmekaar. Hoe gaan dit met jou roman? Jy het lanklaas daaroor gepraat. Is jy amper klaar?”
Anine skakel haar motor aan. “Ek wil liewer glad nie daaroor praat nie. Anya en Evan was nog nie eens getroud toe ek daarmee begin het nie – en intussen is jy ook getroud. En ja, oukei, die nuwe pos in die Kaap beteken ek kom later hier by die huis, maar dit behoort nie ’n verskoning te wees nie. Dis nie asof ek vreeslike sosiale naweke het nie. Ek het tyd om te skryf. Dis net … ek sukkel.”
“Ek weet nou nie watse soort roman jy skryf nie, maar miskien het jy na vanaand ’n bietjie inspirasie,” lag Lizet.
“Wat bedoel jy?”
“Ek bedoel noudat jy gesoen is, het jy dalk net weer iets om oor te skryf.”
Anine klik haar tong. “Wat vanaand gebeur het, het my net geïrriteer. Dit bied beslis geen inspirasie vir my boek nie. Ek is mos met ’n ernstige roman besig, een wat diep vrae vra, nie ’n liefdesverhaal nie. Aardetjie tog!”
“Wel, miskien moet jy ’n slag uitgaan. Ons is almal so trots op die toekenning wat jy gekry het vir jou storie oor die moord deur die supermarkbaas. As dit nie vir jou bloedhondneus was nie, het die man nog op vrye voete rondgeloop. Maar sussa, ’n mens kan maar af en toe ook iets anders doen as net werk. Sê vir ’n verandering ja wanneer iemand jou wil uitneem. Wanneer laas was jy op ’n date?”
Anine hap in die lug. “Ek date.”
“Wanneer laas?” hou Lizet aan.
“Ek kan nie nou onthou nie, maar …”
Lizet dop haar hande om. “I rest my case. As ’n mens nie eens jou laaste date onthou nie, is dit hoog tyd. Belowe my jy sal ja sê vir die volgende man wat jou uitvra?”
Vies sit Anine haar motor in rat. “Ek het geen begeerte om te date nie. Mans is onvoorspelbaar.”
Lizet kyk haar stil aan. “Jy weet, noudat ek daaroor dink, jy het lanklaas ’n man in jou lewe gehad. Hoekom?”
Anine trek die truspieël reg en loer terselfdertyd of sy iets agter haar gewaar. Die straat is nog steeds stil. “Ek is net versigtiger as wat ek voorheen was. Daar is nie baie van jou Stephen se soort in die wêreld nie.
Lizet trek haar asem skerp in. “Wil jy vir my sê dis oor wat met Marina gebeur het? Ai, Anine, jy kan nie …”
“Hoe weet ’n mens jy kies die regte man? Is daar ’n manier om seker te maak hy is nie miskien ’n psigopaat nie?”
“Jy luister hier.” Lizet druk haar hand teen haar hart. “En jy luister wat die Here vir jou sê. Dan kan jy nie ’n fout maak nie. En jy kan tog nie dink omdat Marina die verkeerde keuse gemaak het, moet jy die res van jou lewe alleen wees nie. Jy was die een wat vir my gepreek het hoe om my eie lewe te leef, my eie drome na te jaag en kyk wat doen jy?”
“Ek hét my eie lewe en ek doen wat ek graag wil doen. Ek is net te besig, ek het nie nog tyd om ’n man ook te pamperlang nie.”
Lizet lag. “As jy die regte een kry, pamperlang hy jou. En praat met die Here oor jou storie. Dalk moet jy iets heeltemal anders skryf.”
Anine skud net haar kop en met ’n wuif van haar hand ry sy weg. Sy is baie lief vir haar mense, maar net soms wens sy sy is stokalleen op ’n eiland.
Sy ry met haar een oog op die truspieëltjie en slaak ’n sug van verligting toe die hekke van die woonstelblok waar sy bly, agter haar toegaan.
Agter haar ry ’n wit Mercedes verby.
Toe sy by haar woonstel instap, lui haar foon. Sy kyk af. Haar ma. Arrgh, kreun sy, en sny die oproep amper af. Lizet het hulle ma natuurlik dadelik gebel toe sy van haar af wegry.
“Naand, Ma. Hoekom slaap jy nie?” Sy sluit die deur agter haar.
“Hallo, my kind. Ek wil net seker maak jy onthou om die slaai môre te bring?” Haar ma klink ewe onskuldig.
“Ja, Ma. Soos ek reeds vroeër vandag