Debora gaan huis toe. Helene de Kock
on>
DEBORA
GAAN HUIS TOE
Helene de Kock
Human & Rousseau
Vir my man, Jos
“The past is a foreign country:
they do things differently there.”
LP Hartley in The Go-Between
HOOFSTUK 1
Desember 1966
DOKTER DEBORA SCHLAGERFELDT staan met die pasgebore baba in haar hande. Ervaar soos altyd die opwelling van blydskap by die wonderwerk van lewe. ’n Lyfie wat uit die baarmoeder beur. En dan op ’n Godgegewe oomblik suurstof intrek en begin skree. Sy doen ’n vinnige ondersoek. Alles lyk wel. Die lamplig blink op die kindjie se gladde, ronde wange en bolyf toe dokter Tristan Murray die kind by haar aanvat. Hy lê die huilende baba met ’n teer gebaar op die uitgeputte ma se bors. Praat sag met haar.
Debora staar vasgevang na die toneel. As sy vanmiddag, toe sy nog op die langpad huis toe was, kon weet dat sy vannag saam met haar pa en hierdie man in ’n werkershut ’n baba sou vang, sou sy dit beswaarlik kon glo. Alhoewel, noudat sy na haar pa se verligte gesig kyk, is dit seker nie vreemd nie. Al het sy dogter net ’n klompie ure gelede permanent huis toe gekom, is dokter Marnitz Schlagerfeldt soos altyd op sy pos.
Die oomblik stol terwyl sy in die lamplig na Tristan Murray se hande kyk. En sy weet dat dié man wat vandag haar lewe binnegekom het, haar laat soek na ’n antwoord sonder dat sy voorheen geweet het dat daar ’n vraag is. Soos in ’n rolprent speel die afgelope dag en nag deur haar kop. Sy herleef binne sekondes die afgelope ure.
Om tot ’n slotsom te probeer kom. As daar een is.
Huis. Debora glimlag verlig toe sy onder die eik voor die kalkwit dubbelverdieping van haar ouers stilhou. Aan die oorkant is die Victoriaanse huis met die groen spitsdak. Nou oom Erik en Aunt Elizabeth se huis. ’n Baken op hierdie Oos-Vrystaatse dorp waar mens van hier af die mistige toppe van die Maluti’s kan sien. Maar steeds is die huis aan almal beter bekend as ouma Debora Schlagerfeldt s’n. Daar waar dit behaaglik na vars brood en soetkoekies ruik.
Verligting golf deur haar. ’n Verlange wat eindelik geblus word. Nêrens op aarde voel sy so geheel en al haarself nie. Hierdie twee huise is haar tuiste. En hierdie keer is dit finaal. Sy is klaar met klaarmaak-vir-huis-toe-kom. Nooit weer hoef sy uit te werk hoeveel jaar nog voordat sy haarself ’n dokter kan noem en kan terugkom na haar grootwordplek nie. Laas jaar was haar hospitaaljaar in die groot Boksburg-Benoni Hospitaal. En vooraf die jare se geswoeg op Tukkies. Nou is sy amper sewe en twintig en gereed vir als. So voel dit.
Sy het aspris nie laat weet wanneer sy kom nie. Want sy wou self in haar Volkswagen-kewer hierheen ry. Alleen die lekkerkry beleef om aan die einde van die pylreguit pad die Maluti’s se pers spitse teen die kobaltblou van die lug te sien.
Die laatmiddag se koel oostewind het stewig opgesteek. Dit lig haar lang, digte hare uit haar nek toe sy uitklim. ’n Olyfgroen stasiewa staan op die sypaadjie. Kuiermense, of iemand wat haar pa buite spreekure kom sien.
Sy bly staan, het ’n oomblik nodig. Haar kop vol gedagtes wat ongeorden soos ’n trop skape oral heen mik. Sy moet hulle in die kraal kry voordat sy instap. Anders sien haar ma en haar pa dinge raak wat is en ook wat nié is nie. Twee arende wat hul kleintjie met ’n oerdrif bewaak. As sy hulle daaroor kapittel, trek hulle net skouers op en sê dis omdat sy destyds toe die bomme geval het, gebore is. Want hulle is strenger met haar boet en sus wat sewe en agt jaar jonger as sy is, maar nie so oorbeskermend nie. Sy wonder wat hulle gaan kwytraak as sy aankondig dat sy mettertyd vir haar ander blyplek naby die dorpshospitaal gaan soek. Hulle sal eers geskok wees en dan martelaar speel. Haar mond pluk geamuseerd. Lief het sy hulle. So innig dat sy hulle hul eienaardighede glimlaggend vergewe. Maar die een of ander tyd sal hulle moet leer dat stil dokter Debora haar eie kop volg.
Sy kyk oor die straat na die Victoriaanse huis. Sy sien uit om haar ouma en ook oom Erik en Aunt Elizabeth en hul dogter Catherine, wat op die dorp skoolhou, weer te sien. Tyd te hê vir hulle. Natuurlik vir haar neef Dieter ook. Hy is die afgestudeerde kroonprins wat die Schlagerfeldts se plaaslike winkelryk eendag moet oorneem. So spot hy van jongs af wrang met homself.
Ouma Debora woon in die gastevleuel aan die agterkant. Sy en tant Rebekka, wyle oom Heinrich se vrou. Haar Joodse tant Rebekka werk bedags op die dorp by prokureurs en Ouma is meesal saam met haar Engelse skoondogter bedrywig in die kombuis. So het Debora immers haar ouma Debora en Aunt Elizabeth leer ken. Twee vroue wat al geselsend sy aan sy kan werk sonder om stry te kry. Aunt Elizabeth het as skoondogter tog wel haar stempel afgedruk. Die huis, volgens Debora se ma, Margot, ruik baie meer na suiker en kaneel as voor die oorlog. Vir haar ouers is alles steeds in twee kategorieë ingedeel: vóór die oorlog en ná die oorlog.
Debora glimlag toe sy na die beleë ou plek staar. Dis ’n huis vol generasies. Sy wonder hoe gaan dit met die hardkoppige Dieter en sy ewe rebelse pa so saam in een huis. Hy is al van die begin van die jaar af hier om in die winkel, bekend as Debora en Seuns, te help. Met sy MCom-graad en al. Driftige Dieter met sy koperkuif en felblou oë wat net so ’n talent vir kosmaak soos sy ouma het. ’n Lekker neef om te hê. Hy en Jakob, oom Heinrich se seun, is haar beste vriende. Hulle wat haar selfs beter begryp as haar ouers. So vermoed sy. En nou gaan Jakob trou en wie weet of hulle hom nog so gereeld gaan sien. Sy ken skaars die Kaapse meisie wat hy tydens sy studiejare op Stellenbosch ontmoet het. Suzaan de Wet, ’n vooraanstaande wynboer se dogter wat musiek gestudeer en op die donkerkop-Jakob verlief geraak het. Debora het haar nog nooit gesien nie, bloot omdat sy nog nooit op Bethlehem kom kuier het nie. Volgens tant Rebekka por Suzaan hom aan om hom as prokureur by ’n firma in die Kaap aan te sluit. Dis of iets in Debora se keel wil vassteek. Sy was sekerlik naïef om te droom dat sy en Dieter en Jakob hier, op die dorp waar hulle saam grootgeword en skoolgegaan het, weer saam sal leef en werk. Hierdie twee manne, albei ’n klompie maande ouer as sy, was immers nog altyd haar steunpilaar.
Sy draai om om na haar ouerhuis te stap want sy sal eers later daar oorkant gaan groet. Stellig saam met haar pa en ma en die kleintjies, soos wat sy aan haar sibbe dink.
Haar ouers se huis is mettertyd oorgebou. Ma Margot en wyle ouma Susan Scott het vroeër, toe die huis klein en ontoereikend was, hier gewoon. Maar toe haar pa Marnitz en ma Margot ná die oorlog uit Engeland terugkom, het hulle stelselmatig die huis reggemaak en aangelas totdat die plek nou selfs vir die Victoriaanse kasarm hier oorkant kompetisie kan wees. Dit het dan tot ’n balkon voor die hoofslaapkamer. Haar pa sê dis sodat hy en haar ma kan sterre tel as hulle wil, en dan soen hy haar ma. Sy het nog nie mense teëgekom wat so baie soen nie.
Sy staan nog en mymer toe die glasvoordeur oopswaai en haar broer en suster in die tuinpaadjie op haar afgestorm kom.
Wena, amper so lank soos sy, val haar eerste om die hals, trane in haar oë. Die morning glory-oë van wyle oupa Dieter wat die Schlagerfeldt-kleinkinders op ’n streep gemeen het.
“Debora! Kon jy mens nie laat weet het nie!” snak haar sus dramaties en soen haar.
“Jy klink soos Mamma,” laat Debora gelate hoor. Maak haar ander arm oop vir Ewert wat haar met die kamma ongeërgdheid van sy negentien jaar hande in die sakke staan en beskou. Hy kom nader en gee haar ’n stywe druk.
“Bly jy’s hier,” sê hy net. Hy glimlag toe sy hom soen.
“Wel, jy’s net betyds,” gaan Wena aan. “Alles wat belangrik is, gebeur mos hierdie maand.”
“Wat’s nóg nuus?” spot Debora droog.
Haar suster neem haar dadelik ernstig op. “Wel, Jakob is al oorkant by Ouma-hulle. Dis nou vir ’n laaste kuier by die huis voor sy troue. Natuurlik Dieter en sy nuwe meisie ook. Hulle almal kuier hier tot ná Nuwejaar. Maar dis nog niks. Tristan