Die Poort 4: Krygers. Nelia Engelbrecht
Nomsa, doen dit net!”
Sy tree agteruit toe Rottweiler Leonardo sy moer strip. Maybe moet ek iets probeer voor hy haar slagaar uitruk. Ek vat haar aan die skouers. “Nomsa, sien jy dit nie? Dis jou destiny!”
Nomsa sluk. “My destiny?”
“Ja, die oomblik het aangebreek om jou personal life purpose te vervul,” sê ek dramaties. Ook maar goed ek weet al wat Nomsa trigger.
Sy frons. “I don’t know. Maybe.” Toe knik sy. “Oukei dan.”
Ek vat haar arm en loop saam met haar na waar Tara beduie het sy moet grawe.
“It’s terrible … awful. Just too damn awful,” kerm sy terwyl sy met haar hande ’n sloot in die modderige grond begin grawe.
“Hier …” Leonardo trek sy T-hemp oor sy kop. “Gooi die modder hierop.”
Spiere beweeg onder sy sonbruin vel en ek ruik karamel en klapperolie en voel hoe sy vel sysag onder my vingerpunte …
Nee! Snap out of it!
Ek hou sommer op dink toe Kwaai Kali in my kop praat. Sy’s reg. Die bitter reuk van modder verdryf alle geure van karamel en klapper toe Nomsa die eerste vrag modder voor Tara se voete uitgooi.
“Werk dit?” vra Tara vir Leonardo.
“Ek weet nie. Ek dink …” ’n Vreeslike gerammel en gedruis sluk die res van sy woorde in.
“What’s happening?” vra Tara beangs.
“Vat hande!” skree Leonardo. “Ons moet Reis!”
Ek volg hom toe hy supervinnig nader aan Tara en Nomsa beweeg. Ek het skaars Nomsa se hand vasgegryp, toe tref dit ons. ’n Hengse wal verstikkende modder en sand.
4
Die modder en nat sand is oral. In my mond, my neus, my oë, my ore. Nomsa se hand in myne word die enigste anker in die bruin massa om my. Asem. Kry nie asem …
Skielik ontplof wit lig om my en die bruin wêreld spat uitmekaar. ’n Repie suurstof skuur verby die sand in my lugpyp. Ek hoes en slymerige sand stroom by my mond en neus uit. Ek gaan naar word. My lyf trek saam en ’n boog modder spuit by my mond uit toe ek opgooi.
Nomsa. Ek hou nie meer haar hand vas nie. Waar is sy? Sandkorrels krap my oë terwyl ek om my kyk. Ons is in die Portaal en Nomsa is skuins voor my op haar knieë. Sy maak snaakse geluide. Soos iemand wat verstik.
Tussen die trane wat uit my brandende oë stroom, sien ek iemand oor haar buk. Leonardo. Tara staan langs hom.
“Kali, jy moet haar Heel, sy kry nie asem nie!” roep Leonardo.
Ek gaan nader en sit my hande op Nomsa se skouers. Koue rillings gly deur my lyf tot in my vingerpunte en word yssplinters wat soos onsigbare naalde deur Nomsa se vel steek.
Sy trek die eerste suurstof diep in en begin toe kerm. “Oee-ee, I’m going to die! Verstik, versmoor … a-a-agh … it’s awful!”
Die mis om ons begin uitrafel. ’n Brug verskyn. Dis die een wat die suidelike deel van die eiland met die noordelike deel verbind, met die ingang na die Raadsaal in een van die brug se pilare versteek.
Ek swaai om toe ek ’n geklap langs my hoor. “Nomsa, wat maak jy?”
“Ek slaan die goggas dood voor hulle eiers in my vel kan lê.” Sy hou op en kyk na my, haar oë groot. “Oe-ee, sê nou hulle het al klaar deur my sweetgate geklim?” Haar stem word al hoe hoër. “Bloody hell, they have microscopic fangs and …”
“Nomsa.” Tara het reg voor haar gaan staan. “Calm down and look at me.”
“… ek gaan bilharzia kry. Die parasietwurms gaan …”
“Ag, freakit tog, Nomsa!” Leonardo beweeg so vinnig dat ek net-net kan sien hoe hy haar oor sy skouer gooi, tot by die kanaal hardloop en in die water spring.
Die oomblik toe hulle weer bo die water verskyn, gee Nomsa hom ’n vet klap teen die kop.
“Ouch!”
“Lyk ek vir jou soos ’n bloody sak mielies wat jy oor jou skouer kan gooi?”
Leonardo kyk verwytend na haar. “Flippit, is dit nou hoe jy dankie sê nadat ek jou biljoene mikroskopiese goggas versuip het?”
Nomsa maak haar mond oop en dan weer toe. Die volgende oomblik sak sy onder die water weg, most probably om seker te maak die goggas verdrink behoorlik.
“I think we should join them,” sê Tara.
Eers toe ons al vier so min of meer sonder sand en modder op die kant van die kanaal sit, sê Leonardo dit wat ons almal dink.
“Shit. Lyk my ons plan het toe nie so lekker gewerk nie. My oupa gaan uitfreak as sy hotel onder die seesand en modder begrawe is.”
Tara staan op. “We can’t postpone it any longer. Ons moet gaan kyk of die hotel nog staan.”
“Terug na daai gogga-infested modder?” Nomsa vou haar arms voor haar en skud haar kop. “No bloody ways!”
“Wag julle hier,” sê Leonardo terwyl hy regop kom. “Dis my probleem. Ek sal gaan kyk en my oupa face as dit moet.”
“Nee,” sê ek, druk my nat hare agter my ore in en staan ook op. “Ons is saam in die gemors. Ons moet dit saam gaan uitsort.”
Uitsort. Régtig? Jis, Dapper Kali laat dit so maklik klink.
“It’s getting dark,” sê Tara terwyl sy na Nomsa kyk. “Jy kan nie alleen hier bly nie.”
“Not to worry,” sê Leonardo. “Die spoke van Poveglia sal haar geselskap hou.”
Duisende mense wat in die Middeleeue aan builepes dood is, se lyke is hier op die eiland in putte gegooi. En later was daar boonop ’n inrigting vir sielsiekes op die eiland.
“H’m,” praat Leonardo verder, “hulle sê veral daai mal dude wat uit die kloktoring gespring het, dwaal snags hier by die brug rond.”
Nomsa kyk vinnig oor haar skouer. “Maybe moet ek saamgaan. Dit is mos after all een vir almal en almal vir een – daai Musketier-ding, julle weet?”
Leonardo glimlag skeef en hou sy hand uit na haar. “Jip, nes jy daar sê, Porthos.”
“Porthos? Hoekom kan ek nie Aramis wees nie? Hy’s baie sexier,” sê sy en vat sy hand. “En by the way, jou GPS beter reg werk, want as ons weer in daai modder beland, vergewe ek jou nooit nie, hoor jy?”
Gelukkig, toe die Portaal se mis begin verdwyn, is daar nie ’n teken van modder agter die hotel nie.
“So far, so good,” sê Leonardo, terwyl ons om die hotel tot aan die voorkant loop.
Daar steek ons almal vas. Die stuk grond waarop ons geoefen het, is weg. Die kaai waar die bote voor die hotel vasgemeer het, ook. Die nice tuin ook.
Maybe moet ek dit so stel: Leonardo se oupa het nou sy eie private beach reg voor die hoteldeur. Net jammer dis bietjie modderig.
5
My kop jeuk. Mens sal nie sê ek het my hare gisteraand omtrent vyf keer gewas om die laaste modder uit te kry nie.
Ons is vanoggend net ná ontbyt Raadsaal toe georder waar ons vir die uitvoerende komitee van die Internasionale Raad van Bewakers oor gister se “ongelukkige voorvalle” – soos hulle dit noem – moes please explain.
Ek krap my agterkop en skuif op die wit stoel rond. Jis, hoe lank moet ons nog wag? Hulle sit al amper ’n uur daar voor op die verhoog en praat.
“I want to go home,” fluister Nomsa met ’n klein stemmetjie langs my.
Ek kyk na haar. ’n Traan het onder haar wit masker