Hartklop Omnibus 3. Malene Breytenbach
dankie.”
“Hoe gaan dit met mevrou Huber?”
Hy frons. “Sy het gaan rus. Die hele besigheid put haar uit. Sy het nie baie uithouvermoë nie.”
Lucinda buk oor Erik, wat vas slaap. Sy vee die hare uit sy gesig en dink dat hy na sy pa lyk. Toe sy opkyk, staar Werner Huber stip na haar.
“Jy is goed met kinders.”
“Ja, ek is lief vir kinders en hulle voel dit aan. Ek het juis ’n pediater geword omdat ek vir hulle deernis het, al is hulle hoe stout.”
Hy vou sy arms voor sy bors, maar sy blik wyk nie. “Oor jy as kind swaargekry het, probeer jy nou hulle pyn verlig?”
Verbaas kyk sy na hom. Hy klink so simpatiek en sy donker oë is nie meer krities nie, maar warm.
“Ja, dis oor ek swaargekry het.”
“Het hulle julle in die weeshuis mishandel?”
Sy kyk half verskrik na hom, maar sy stemtoon is so deernisvol dat sy reageer: “Nee, hulle was goed vir ons, sover hulle kon wees. Hulle was mos nie ouers nie. Nee, dis voordat ek weeshuis toe gegaan het dat …”
Wat is sy besig om te doen? Hy is ’n vreemdeling en amper vertel sy hom haar hartsgeheime. Hy lok dit uit.
Sy arms gaan los en hy tree nader. “Wat het toe gebeur?”
“Ag, ons het swaargekry, maar ek praat nie graag daaroor nie.” Sy weet sy klink afwysend, maar daar is goed waaroor sy net nie kan praat nie.
Saaklik en professioneel kyk sy na Erik se kaart en bespreek dan sy toestand met sy pa.
Toe maak sy dat sy wegkom, voordat sy weer iets laat uitglip teenoor hierdie man wat niks met haar persoonlike lewe te doene het nie, maar dit nogtans regkry om haar weerloos en oop te maak. Sy weet nie hoe hy dit regkry nie.
Lucinda word met ’n kreet wakker en besef sy sit regop. Toe sy besef waar sy is, sak sy terug teen haar kussing, maar sy kom agter dat sy natgesweet is en dat sy bewe. Haar wange is ook nat van trane.
Sy het ná ’n lang tyd weer die droom gekry wat haar so in haar kinderjare geteister het. Sy word weer bedreig, geslaan en rondgeruk en sy het nie ’n stem om mee te protesteer nie. En dis seer, dié hale en houe wat op haar reën.
Meteens is daar ’n klop aan haar kamerdeur en sy kyk verskrik op.
“Wie is daar?” roep sy.
“Werner Huber. Ek het jou hoor gil. Is jy oukei?” Hy het natuurlik huis toe gekom, want hy hoef nie meer deurnag te waak nie, dink sy vervaard.
Sy staan op en gaan maak die deur op ’n skrefie oop. Hy staan groot en fors daar, in ’n T-hemp en kortbroek, sy hande op sy heupe.
“Ekskuus, ek dink ek het ’n nagmerrie gehad. Ek moes baie hard gegil het …”
“Dat die dak lig, en ek is ’n ligte slaper.” Hy klink besorg.
“Ag, dis niks, gaan slaap maar weer.”
“Nee, dokter, dis nie niks nie. Dis iets wat in jou onderbewussyn spook. Iets wat uitgehaal moet word. Ek gaan vir ons tee maak sodat jy kan herstel, en dan kan jy weer gaan slaap.”
Sy wil nog protesteer, maar hy verdwyn en sy sien ligte aangaan soos hy na die kombuis loop. Met ’n sug trek sy haar japon aan. Sy gaan nou in nagklere en met los hare voor hom verskyn, maar sy kan tog nie in die middel van die nag aantrek nie.
Hy werskaf met die ketel en teepot toe sy daar aankom, en hy kom vir haar baie groot en byna intimiderend manlik voor.
“Ek is gewoond aan goed vir myself doen, want ek is ’n enkeling,” grap hy.
Hierdie ander gedaante van Werner Huber, die man met deernis en humor, is die keersy van die verbete, gespanne pa van ’n ernstig siek pasiënt, dink sy en haal melk, suiker en koppies uit. Sy merk op dat hy onderlangs na haar loer en besef sy lyk seker deurmekaar.
“Gaan sit jy,” beveel hy en beduie na ’n stoel by die kombuistafel. “Ek sal jou bedien. Ek is in elk geval in die skuld by jou, want ek woon sommer hier in en kry vyfster-behandeling.”
Gedwee gaan sit sy en kyk hoe hy die ketel laat kook en die water in die teepot giet.
Toe hy naderkom om te skink, verstyf sy. Hy is so oorweldigend. Sy kan net na sy mooi groot hande kyk waarvan die naels kort geknip en netjies is. Hy kom so skoon voor en alles aan hom is netjies, eweredig en goed gevorm. Hy sal waarskynlik vir die meeste mense mooi wees. Nie filmstermooi nie, maar manlik en aantreklik.
Hy gaan sit oorkant haar en wag dat sy melk en suiker kry. Hy hou haar dop en sy probeer om nie lomp te wees nie, maar sy is baie selfbewus.
“Vertel my van die droom wat jy altyd kry.”
Sy skrik toe hy dit sê. “Hoe weet jy ek kry altyd die droom?”
“My liewe dokter, ek weet genoeg van sielkunde af, en my mensekennis is goed genoeg om te weet dat die soort droom wat jou in die nag laat gil, iets is wat diep in die psige vreeslik pla. Ons het almal ons traumas; sommige mense s’n is net erger as ander mense s’n. Maar as jy voel jy wil dit nie vir ’n blote vreemdeling vertel nie, sal ek jou nie probeer dwing nie.”
Die simpatieke oë wat oor die rand van sy koppie na haar kyk, neem hare gevange. Meteens het sy regtig die begeerte om haar hart te lug.
“Ek weet waarvandaan dit kom, maar nie hoe om dit te keer nie. Dit kom uit my vroegste kleintyd. My ouers, wat uit Ierland na Suid-Afrika gekom het, is dood toe ek drie jaar oud was. Ek het ’n jaar lank by pleegouers gewoon, en hulle het my blykbaar só mishandel dat ’n maatskaplike werker my na die Mara Bosman-weeshuis in Bellville geneem het.”
“Dis die mishandeling en die verwerping wat nog al die jare by jou spook.”
Sy stem is so teer en sy gesig so deernisvol dat haar oë onwillekeurig vol trane skiet. Vinnig probeer sy dit wegknipper, maar ’n traan ontsnap en loop teen haar wang af.
Sy wip soos sy skrik toe sy voel hoe Werner se vinger dit afvee. Hy het sowaar sy hand uitgesteek en aan haar geraak. Iets het met haar hele wese gebeur, haar lyf en gees. Dit voel asof hy met haar toor.
Sy snuif en gryp gou ’n papierservet om haar neus af te vee.
“Ek het nog nooit hieroor gepraat nie,” erken sy skor. “Nou vertel ek dit vir jou.”
“Miskien omdat jy weet ek gaan ook deur ’n moeilike tyd. Ek dink jy het iets ervaar wat die seer weer teruggebring het – ek hoop dis nie my seun se siekte nie.”
Deur nat wimpers kyk sy na hom. “Nee, ek glo nie dis net Erik se siekte nie. Dis ’n dogtertjie wat MIV-positief is wat iets diep in my geroer het. Ek het haar pa as kind geken.”
Hy steek weer sy hand uit en vou dit warm om haar hand wat die servet opfrommel, maar hy los dit byna onmiddellik weer.
“Drink eers jou tee voor dit koud word, dan vertel jy my van haar.”
Lucinda teug aan die tee en voel sommer beter. “Haar naam is Nanette van Reenen en haar pa is ’n bekende renjaer.”
“Edwin van Reenen?”
“Ja. Hy was saam met my in die weeshuis. Maar net ná skool is hy weg en toe ek weer van hom hoor, jaag hy in ’n Grand Prix in Frankryk. Dit was altyd sy droom. Hy het met ’n Franse vrou getrou en sy het vigs opgedoen en blykbaar is hulle kind daarmee gebore. Die vrou is al dood.”
Hy maak ’n geskokte geluid. “Liewe hemel! Het hý dit nie ook nie?”
“Ek vermoed so. Hy kan van die beste anti-retrovirale terapie vir sy kind bekostig, en seker vir homself ook.”
“Ja, hy moes al goed geld gemaak het. Ek weet hy het ’n slag in Duitsland die Grand Prix gewen, en hy jaag vir Ferrari.”
Lucinda drink haar tee klaar en ril liggies.
“Kry