Pad na Geluk. Moryn Hanzen
“Dít,” begin Ian en sy loer met een oog om te sien hoe hy die stukkie lap aandagtig bekyk terwyl hy dit soos ’n vlaggie aan sy wysvinger heen en weer swaai, “behoort beslis nie aan mý nie.” ’n Kuiltjie verskyn en verdwyn herhaaldelik langs sy een mondhoek toe hy dit uiteindelik na haar toe uithou.
Ten spyte van haar groot verleentheid, dwaal Nina se blik vir oulaas sommer vanself na sy sonbruin bors voordat sy haar kantbroekie met ’n gedempte dankie van sy vinger af pluk en haar na haar slaapkamerdeur haas.
Skoon oorweldig deur skaamte, trek en rem sy tevergeefs aan die toe deur.
“Anderkant toe. Die deur maak binnetoe oop, Nina,” hoor sy Ian se geamuseerde stem agter haar. Hy lag saggies terwyl hy die badkamerdeur agter hom toestoot.
Sy hoef nie eens in die spieël teen die muur te kyk om te sien dat haar gesig tamatierooi van die verleentheid is nie.
“Nina? Nina-kindjie?”
Nina hoor hoe haar ouma na haar roep, maar lê doodstil met toe oë op die groot bed. Sy sien eenvoudig nie kans om op te staan en almal ’n goeie nagrus te gaan toewens nie. Veral nie as Ian ook teenwoordig is nie.
Sy luister skuldig hoe haar ouma saggies omdraai en in die gang af stap om vir Ian en oom Chris te gaan nag en dankie sê vir hulle kamers wat so heerlik koel en gerieflik is. Sy sal later vergoed vir die voorgee dat sy reeds slaap.
Haar gedagtes dwaal terug na alles wat gebeur het sedert hulle voordag uit Pretoria vertrek het. Hoe dankbaar is sy nie dat haar oupa vir Gogga gekoop en help regmaak het nie. Sy was nog in haar matriekjaar toe hulle twee saam die verbleikte geel Kewer in die motorhuis afgeskuur en van voor af gespuitverf het. Haar oupa het selfs laggend meegedoen toe die gier haar beetpak om groot swart kolle oral op die tamatierooi bakwerk te verf.
Gogga, het oupa Dawie die Kewer net daar gedoop, terwyl Nina besig was om wimpers en wenkbroue met die oorblywende swart verf bokant die hoofligte te verf.
Ai, die leemte wat haar oupa se heengaan in haar en haar ouma se lewens gelaat het, is onmeetlik groot.
Dan herleef sy weer haar eerste indrukke van die Noord-Kaap. Sy volg die hobbelrige grondpad tot duskant Geluk en eindelik, voor haar, Ian se gestalte op die rug van Bles, sy híngs.
Ergerlik draai sy op haar ander sy. Wat moet die man na die badkamerepisode van haar dink? Sy verwyt haarself omdat sy die deur met soveel geweld oopgepluk het dat daar van haar, wel, allerpersoonlikste kledingstukke in die proses op die vloer voor Ian se kaal voete te lande gekom het.
Ag, wat maak dit tog saak wat hy dink?
Was dit ’n hoender wat gekraai het, of het sy net gedroom? Wag, daar is dit weer! Dit is beslis een. ’n Hoenderháán, Nina. Onthou, die henne kekkel en lê eiers, en die hane kraai.
Sy beter haar stadmaniertjies afskud die rukkie wat hulle hier gaan wees en twee keer dink voordat sy weer een of ander onsinnigheid voor Ian of oom Chris kwytraak. Dit was wel besonders om Ian so uit volle bors te sien lag, maar volgende keer sal sy verkies om haar aan hom te verwonder wanneer hy oor iets anders as haar onkundige uitlatings lag.
Ja! Daar is dit weer en dit is beslis ’n hoenderhaan.
Nina staan op en loer deur ’n skrefie in die gordyn. Dit is nog nie eens lig nie en die haan is al wakker. Dan hoor sy ’n lang uitgerekte moe-geluid. Dit moet ’n bees wees. Maak alle beeste dieselfde geluid? Of is dit net koeie wat so moe? Hoe hard sy ook al in haar geheue probeer delf, sy kan eenvoudig nie dink aan ’n geluid wat ’n bul van ’n koei onderskei soos hoenders nie. Die woord “loei” skiet haar gedagtes binne. Of is dit nou “bulk”? Sy kan om die dood nie onthou wat dié moe-geluid nou weer genoem word nie.
Koffie sal darem nou vorentoe smaak. Sy swaai haar bene van die bed af. Sal sy gou aantrek? Nee wat, die bed lyk darem baie aanloklik; dalk wil sy netnou daarna terugkeer. Gou gooi sy die rooi kamerjas liggies oor haar seer skouers en bind dit sommer in die loop vas. Ongemaklik wikkel sy haar skouers ’n paar keer. Selfs die sagte beddegoed het haar gekarnuffel.
Gelukkig is die gang nog donker. Nêrens brand ’n enkele lig nie. Op die punte van haar tone sluip Nina in die gang af. Die geelhoutplankvloer kraak net elke nou en dan saggies onder haar gewig. Sy onthou die pad na die kombuis besonder goed omdat sy en ouma Anita die skottelgoed na ete daarheen gedra het.
Sy voel-voel al teen die muur langs op soek na die ligskakelaar en slaan ’n hand oor haar mond om ’n gil te onderdruk toe haar vingers skielik aan iets harigs raak. Dan vat sy uiteindelik die ligskakelaar raak en skakel die lig aan. Langs die skakelaar hang ’n hele paar bosse sleutels waarvan die een aan ’n sleutelhouer van ’n stukkie gebreide vel is.
Gelukkig staan die kitskoffie en suiker in glasbottels op ’n rak teen die muur en hoef sy net na ’n beker en ’n teelepel te soek. Sy gooi ’n klein hoeveelheid water in die ketel sodat dit vinnig kan kook. In ’n beker waarop daar iets oor die Springbokke geskryf staan, gooi sy ’n lepel koffiepoeier en twee lepels suiker.
Die gordel van die satynkamerjas gly los terwyl sy die kookwater oor die koffiepoeier gooi. Huiwerig draai sy na die yskas, maak die deur oop en buk om na melk te soek.
“Kry ek ook koffie?”
Nina skiet so vinnig orent dat sy amper agteroor val. Haar rug druk teen ’n mansmens se breë bors.
Ian!
Dit is hy wat reg agter haar kom staan het en die versoek in haar nek gefluister het.
Hy leun vorentoe, styf teen haar rug om kamtig in die yskas te loer. “Aha, ek sien hier is ontbytspek ook! Hoe lyk dit, Nina? Kan stadsmeisies lekker kos maak?”
Dit voel of sy soos ’n ysblokkie in kokend warm woestynsand kan wegsmelt en sommer net heeltemal verdamp. Hoe is dit moontlik dat sy hom nie hoor aankom het nie?
Sy laat sak haar oë na die vloer. Jip, meneer is weer kaalvoet. Haar polsslag versnel: Sy hoop van harte hy het dié slag klere aan.
Wel, sy kan ook nie die hele oggend voorgee dat sy op soek is na iets in die yskas nie. Nou het sy geen ander keuse as om stadig, met al die waardigheid wat sy kan bymekaarskraap, om te draai en hom in die oë te kyk nie. En dít terwyl die voorval gisteraand voor die badkamerdeur en sy donker kyke aan tafel nog helder in haar geheue is.
Ian se bruin oë sak onmiddellik laer af en dit lyk sowaar asof die kleur ’n paar tinte verdiep toe dit op die dun materiaal van haar kort nagrokkie te lande kom.
Verdekselse glibberige gordel! Sy sal nie verbaas wees as hy oor genoeg selfvertroue beskik om te dink sy probeer hom doelbewus uitlok nie.
Wel, sy sal vir hom wys, sy is nié die tipiese desperate-stadsmeisie-soek-’n-boer-soort nie. Inteendeel. Roekeloos gooi sy haar kop agteroor sodat haar hare oor haar skouers terugval en haar sonvernielde rooi vel onder die veterbandjies ontbloot word.
Ian sluk.
Toe sluk hy nog ’n keer voordat sy oë uiteindelik weer tydsaam lig sodat hy elke millimeter van haar kan indrink. Sy oë smeul sonder skroom toe hy ’n stringetjie van haar hare tussen sy vingers beetkry.
Liggies speel hy daarmee. “Nina …” fluister hy hees sodat sy soet asem oor haar warm gesig streel.
Daar is verwarring in sy oë.
“Ja, Ian?” Hoewel onseker van haar eie stem, wil sy meteens weet wat die man regtig op hierdie oomblik dink terwyl hy só na haar kyk.
“Hoekom …?” Nina sien dat hy eensklaps sukkel om die regte woorde te vind.
Sy verbreek oogkontak met moeite en laat haar kop sak, die elektrisiteit tussen hulle onmiskenbaar teenwoordig.
Saggies lig Ian haar kop.
Haar lippe gaan in afwagting spontaan oop. Haar gevoelens wil en kan sy nie meer ontleed nie, want waar sy vingers haar ken en nek aanraak, voel dit of haar vel tintel.
Sy maak haar oë toe.
Sê nou net oom Chris