Vreedsame revolusie. Niël Barnard

Vreedsame revolusie - Niël Barnard


Скачать книгу
1991 het die tyd aangebreek dat die Suid-­Afrikaanse vredesproses spoedeisend na die politieke en konstitu­sionele terrein beweeg. Verder dat die proses in die openbaar – en dus deursigtig – en ’n veelpartyproses moes wees.

      Aan Regeringskant was die laaste dae voor die eerste sitting van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika – wat bekend geword het as Kodesa 1 – ’n miernes van bedrywighede.

      Die Beleidsgroep vir Hervorming (BGH) het ure lange diskoerse by die Uniegebou in Pretoria gevoer. Een van die brandende kwes­sies was dat die ANC in gebreke gebly het om die demobilisering van MK, beheer oor wapenopslagplekke en hul verdere plegtige ondernemings ingevolge die DF Malan Akkoord oor gewapende geweld na te kom. Dit was vertragingstaktiek met die oog op voordele by die onderhandelingstafel op sy beste.

      Oor die verdere besinning en besluite van die aand het die BGH, myself inkluis, minder insig en wysheid aan die dag gelê. Die president is warm gepraat oor die geweldskwessie en daar is be­sluit dat hy die ANC die volgende dag by Kodesa in die openbaar daaroor sal takel en dat Mandela hoflikheidshalwe vooraf daaroor ingelig sal word. De Klerk besluit om dié boodskap nie self oor te dra nie, maar Kobie Coetsee as sy boodskapper te gebruik.

      Coetsee het later aan ons gerapporteer dat hy Mandela nie kon opspoor nie, maar dat hy die boodskap aan Thabo Mbeki oorgedra het. Dié sou op sy beurt Mandela ingelig het. Volgens Coetsee het Mbeki begrip vir die Regering se besware oor geweld getoon en ook vir die feit dat De Klerk daaroor ’n ferm standpunt by Kodesa sou inneem.

      Die oggend van 20 Desember was die atmosfeer by die World Trade Centre in Kempton Park byna elektries gelaai in afwagting op die loodsing van die Suid-Afrikaanse model van ’n openbare grondwetlike skikkingsproses. Die Regering en 19 partye, bykans 300 afgevaardigdes, het voor die oë van hul ondersteuners en die wêreld byeengekom om formeel, ordelik en gestruktureerd dié proses van stapel te stuur. Die Staatkundige Ontwikkelingsdiens het die konferensie saam met ander rolspelers tot in die fynste besonderhede beplan.

      Nadat hoofregter Corbett die konvensie geopen het, het die leiers van al die politieke partye en die Regering hul openingstoesprake gelewer. Die bykans 300 afgevaardigdes het aandagtig na die sprekers geluister.

      Soos ooreengekom, het De Klerk as staatspresident laaste aan die woord gekom. Hy het geesdriftig weggespring en aangekondig dat die Regering bereid is om ’n kompromie te oorweeg tussen die ANC se eis dat die nuwe Grondwet deur ’n verkose grond­wetgewende vergadering opgestel moet word en die Regering se standpunt dat dit deur ’n konstitusionele veelpartykonvensie opgestel moet word. Hy het ’n tweefaseproses voorgestel en verduidelik wat dit sou behels.

      Soos by die BGH ooreengekom, het De Klerk hierna die ANC oor hul nienakoming van die Malan-akkoord geroskam. Hy kritiseer die ANC dat hulle as organisasie met ’n private leër aan Kodesa deelneem en sluit af met die standpunt dat die ANC nie vertrou kan word nie terwyl hulle aan die een kant steeds ’n voor­stander van gewapende stryd bly en aan die ander kant aan die vredesonderhandelinge wil deelneem. Hy eis dat die ANC ’n keuse tussen vrede deur onderhandeling of ’n magstryd deur geweld moet doen. In sy eie woorde bepleit hy ’n wen-wen-situasie.

      Volgens koerantberigte én De Klerk is sy toespraak met luide applous begroet. Die belangrikste afgevaardigde by die konvensie het dit egter nie met waardering begroet nie. Inteendeel.

      Mandela se reaksie het die vergadering soos ’n kartets getref. Hy was woedend en het byna sy bewonderenswaardige self­­be­heer­­sing verloor. In die een vernederende opmerking ná die ander het die opgekropte woede van eeue – in sy geval van 27 jaar in die tronk – in staccato-uitbarstings na vore gekom.

      Mandela was briesend, maar nes in sy toespraak uit die beskul­digdebank tydens die Rivonia-verhoor in 1964 praat hy met groot oortuiging en tree op soos die volgende president van die land wat hom deur niemand sal laat rondstoot nie.

      In sy antwoord het hy daarop gewys dat hy Mandela nooit persoonlik aangeval het nie en dat hy steeds meen dat geweld in die pad van die Kodesa-ideale staan. Hy het ook die afgevaardigdes meegedeel dat hy die ANC gewaarsku het dat hy die saak sou opper.

      Ondanks De Klerk se protestasies het die pendulum van mag in die onderhandelinge dié dag onherroeplik geswaai. Mandela en sy span het spoedig die primus interpares van die onderhande­linge geword. Die morele gesagsposisie het na die ANC verskuif op grond van die implikasie: “Julle [die Regering] is nie te vertrou nie. Julle is nie waardige onderhandelingsvennote nie. Julle onder­han­del vir vrede, maar agteraf maak julle nog oorlog teen ons mense.”

      Vroeër was dit die Regering vs. terroriste. Van 20 Desember 1991 af nie meer nie.

      Met agternawysheid is dit duidelik dat dit uiters dom van ons almal aan Regeringskant was om ’n sensitiewe kwessie wat ons nie privaat met die ANC kon beredder nie, met ’n openbare dreigement te probeer oplos – boonop deur ’n wêreldikoon soos Mandela tot verantwoording te probeer roep.

      ’n Mens vat nie die wêreld se witbroodjies in die openbaar aan oor sake wat nie privaat uitgepraat kon word nie. Dit getuig waar­skynlik van magsbabbelas, van mense wat te lank sonder effektiewe opposisie regeer het. Nugter weet waarom De Klerk nie geadviseer is om die telefoon op te tel en Mandela oor sy ontevredenheid in te lig nie.

      Dit kon die hele debakel voorkom het. Dit was ’n dwaasheid waarvoor ons ’n hoë prys betaal het.

      Toe die gemoedere teen die volgende oggend gekalmeer het, soek Mandela witbroodjie deur in die vergadering oordrewe vrien­delik en versoenend te probeer wees. In dié opsig was hy tipies politikus wat dit maar nie oor sy hart kon kry om ’n openbare verskoning aan te bied nie en onbeholpe salf probeer aansmeer het om te wys hy is jammer sonder om dit te sê.

      Kodesa 1, wat veronderstel was om ’n viering en demonstrasie te wees van alle partye se bereidheid om vreedsame oplossings te soek, het dus rampspoedig begin. Nogtans het die proses nie ont­spoor nie, hoewel die gebeure ook wys dat onderlinge vertroue op leiersvlak en veral tussen die prinsipale nog skromelik ontbreek het. Die proses van onderhandeling was egter reeds sterker as sy twee deurslaggewende leiersfigure.

      Op dié manier het die onverkwiklike voorval ’n ander vreugde­volle feit tuisgebring: Geen individu kon meer die vredesproses eensydig kelder nie. Die vaargleuf van Suid-Afrikaners se soeke na vrede het te sterk geword.