Ena Murray Keur 15. Ena Murray
nog ’n maand oorsee te hou. Hy erken ruiterlik aan homself dat hy bly sal wees as Rhona nog ’n ruk in die buiteland bly.
Hy het geen illusies oor wat sy dogter se houding sal wees as sy moet hoor dat hy van plan is om met De Waal se tant Miemie in die huwelik te tree nie. Sy het die Oosthuizens nog altyd as ver benede haar stand beskou. Maar vir een keer in haar lewe sal Rhona haar teen haar pa vasloop, dis seker. Nie eens sy eie dogter gaan hom van Miemie Oosthuizen laat afsien nie.
Daar kom ’n gevoel van hartseer in hom op wat sy vreugde in ’n mate verdryf. Hy beny Miemie haar dogter, al is sy verlam en blind. Sy weet dit nie, besef dit nie, maar sy het geen rede tot werklike kommer oor haar kind nie, want Karina is kerngesond. Dis hý, met die dogter wat kan loop en sien, wat snags wakker lê en rede tot ernstige kommer het. Karina se lamheid en blindheid is uiterlik, sy dogter se gebreke innerlik, en daar kan geen dokter se operasiemes bykom nie. As daar nie ’n wonderwerk van Bo gebeur nie, sal sý dogter nooit van haar blindheid en verlamming genees word nie. Een ding het Isak de Villiers ook die afgelope tyd geleer: Daar loop meer tragedies in die wêreld rond as wat jy met die blote oog kan sien. Dikwels gee jy jou bejammering waar dit nie werklik nodig is nie. Alte dikwels beny en bewonder jy diegene wat jy juis moet bejammer. Tussen hierdie twee meisies, weet oom Isak met pyn in die hart, is die een wat bejammer moet word juis die een wat benydenswaardig is. Die grootste tragedie is dat Rhona dit nie self besef nie.
Die laaste week voordat Karina Kaapstad toe moet vertrek, vlieg te vinnig vir almal verby. Dis byna asof almal in hierdie dae die tyd wil vashou. Hulle het gewoond geword aan die lewe soos dit is. Daar was kalmte en rus, aanvaarding en berusting. Daar is aangepas.
Dat nog ’n fase van haar lewe aan die einde van hierdie week afgesluit word, besef Karina maar alte goed. Al kom sy ook dadelik terug as hulle bevind daar is niks aan haar toestand te doen nie, sal dit anders wees. Dan sal die nuwe fase betree word: een sonder hoop. Dan sal sy ’n nog dieper berusting, ’n nog meer gelate aanvaarding moet probeer vind. Nog ’n keer sal ’n finale aanpassing gedoen moet word, een wat tot aan die einde van haar lewe sal strek.
Maar haar glimlag is moedig toe sy oom Isak met ’n soen groet toe hulle gereed is om te vertrek.
“Ek sal solank alles hier in orde hou, my kind. Jy moet jou kant daar in die stad bring.”
“Ek sal, oom. En dankie. Baie dankie vir alles.”
Hy soen tant Miemie ook innig, druk haar hande pynlik vas.
“Sterk wees, Miemie. Ek kom stad toe sodra ek van jou hoor.”
Dan is hulle weg en hy sien hoe die motor om die voet van die heuwel verdwyn. Sy hand soek na iets, kry Rex se een oor beet. Maar hy voel nog alleen, so baie alleen noudat net hy agtergebly het.
Karina ondervind ’n paniekerige gevoel toe sy twee dae later by die hoek van die hospitaalgang van haar ma en De Waal afskeid neem. Hulle mag nie verder saamgaan nie. Daar is paadjies in elke mens se lewe wat jy alleen moet stap. Nie eens hulle wat die naaste aan jou is, mag dan saamstap nie.
Van die hoek van die gang af moet sy alleen verder …
Haar ma se tere kus brand op haar lippe en dan is De Waal se lippe sag op hare. Dit is nie ’n oomblik vir valse terughoudendheid nie. Daarvoor lê die werklikheid van die lewe te naak voor hulle oopgevlek. Haar hand sirkel om sy agterkop en druk sy gesig nog stywer teen hare vas.
“De Waal … Liewe De Waal …”
En dan is hy ook weg, en dis net sy … en swart blindheid om haar … en die trollie wat haar al verder van hulle af wegneem …
De Waal hou tant Miemie teen hom vas, besef nie dat hy op sy beurt teen haar steun nie. So staan hulle daar by die hoek van die gang met stom gebede in hul harte. Oor ’n uur of drie, vier – hoe lank? – sal hulle weet. Professor Keuler het hulle nie in die duister gelaat nie. Hulle sal moet opereer om te kyk wat gedoen kan word. Hulle sal eers ná die operasie weet wat die prognose is en dan volg die lang wagtyd totdat die verbande afgehaal word en hulle werklik sal weet …
Dit voel soos ’n ewigheid voordat die man in die wit jas voor hulle tot stilstand kom. Hy sien die afmatting en spanning op hul gesigte, en kom opnuut diep onder die indruk van sy menslike beperkinge. Vandag het hy weer besef dat ’n chirurg benewens vaardighede ook geloof moet hê.
“Ek sal nie nou op besonderhede ingaan nie. U is moeg. Ek ook. Ons kan later die detail bespreek, maar ek wil net sê dat ons wel iets probeer doen het. Ons het net aan die oë gewerk. Ons sal later, wanneer sy eers heeltemal van hierdie operasie herstel het, aandag aan haar rug gee.”
Tant Miemie se oë pen syne vas. “Dink u …?”
“Ek weet nie, mevrou. Ons het ons bes gedoen. Ons sal nou maar moet wag tot die dag dat die verbande afkom.”
Soos drie maande gelede, reël De Waal dat tant Miemie losies en vervoer het. Dan moet hy terug en tant Miemie bly agter langs Karina se hospitaalbed.
Die lang wag het weer aangebreek.
Karina is aanvanklik baie teleurgesteld toe sy hoor dat daar net aan haar oë gewerk is. Maar nadat professor Keuler verduidelik het dat dit twee uiteenlopende en delikate operasies is, besef sy die wysheid daarvan en berus haar by die besluit.
Sy is moedig maar stil. Die eerste naweek ná haar operasie breek aan en oom Isak sowel as De Waal kom kuier. Oom Isak verseker haar dat Rex goed versorg is en dat hy haar baie mis. De Waal vertel dat Rex een van haar skoene in die hande gekry het, en niks en niemand kry dit van hom af weg nie. O, sy verlang na haar hond!
Dis tant Miemie wat betigtigend sê: “Waar eet jy, De Waal? Jy het maer geword.”
“By my, maar ek moet sê, hy is ’n baie ekonomiese gas. Hy eet omtrent drie ryskorrels per dag,” antwoord oom Isak.
De Waal kyk oom Isak ontevrede aan, maar hy weet dat hy gewig verloor het. Maar wie kan eet as die spanning binne-in jou jou wil opvreet?
“Tant Miemie lyk ook nie van die beste nie,” laat hy nou hoor. “Voel tante gesond?”
“O ja. Nee, ek makeer niks nie. Kyk jy liewer na jouself,” laat tant Miemie vinnig hoor. “Ek wil julle nie aanjaag nie, maar dit is al laat en julle moet nog terug huis toe.”
“Ja, ons sal moet ry.”
De Waal groet en gee dan taktvol pad, want tant Miemie en oom Isak se dinge is lank nie meer vir hom ’n geheim nie.
Oom Isak se stem is bekommerd toe hy van tant Miemie afskeid neem. “De Waal is reg, jy lyk bleek. Jy moet mooi na jouself kyk, Miemie. Ek wens ek kon hier by jou bly.”
“Nee, Isak. De Waal is te alleen. Kyk hoe lyk hy al. Jy moet mooi na hom kyk, hoor? Hy trek hom dié ding te kwaai aan. Ek makeer niks nie.”
Sy weet sy praat nie die waarheid nie, maar sy weet ook dat sy hulle nie durf vertel hoe moeg sy voel nie. Dis asof die spanning besig is om haar onder te kry. Maar ter wille van haar dogter en ook Isak en De Waal moet sy sterk wees en daarteen stry. Hulle het haar nou nodig.
Nog twee weke gaan verby en dan breek die derde week aan waarin die verbande van Karina se oë afgehaal sal word. Tant Miemie voel hoe die spanning met elke verbygaande dag nader aan breekpunt beweeg. Ag, al kan sy dan net haar sig terugkry, bid die moederhart onophoudelik.
Dis De Waal wat die telefoon beantwoord terwyl hy besig is om ’n tas te pak. Hy en oom Isak is van plan om oor ’n uur Kaap toe te vertrek, want môreoggend kom Karina se verbande af en dan moet hulle daar wees.
Hy stap na die telefoon en voel meteens die diepe onrus in hom toe hulle hom vra om aan te hou vir Kaapstad.
Hy verwag om tant Miemie se stem aan die ander kant te hoor, maar dis ’n vreemde stem wat in sy oor praat … Toe hy die telefoon neersit, is dit asof hy in ’n dwaal verkeer.
Hy weet nie hoe hy by oom Isak gekom het nie. Toe hy maar sien, is hy daar, staan hy voor die ouer man: stom verslae.
Oom Isak merk dadelik onraad. “Jy is vroeg, maar ek is klaar. Ons