Hoë hakke met hoogwater. Jacolet van den Berg
in die pad kan indraai. Een keer se gat. Watse verskil maak dit in elk geval? Een keer of honderd keer. Verneuk is verneuk en die miserabele gevoel van teleurstelling bly dieselfde.
Gelukkig is daar ’n ligpuntjie, sy en Zane is nie getroud nie. Maar dis nou te min om haar beter te laat voel. O hemel, sy slaan met haar hand oor haar mond. Wat as dit nie die eerste keer is nie? Haar mediese agtergrond laat rooi ligte in haar kop flikker. Sy wil nie ’n statistiek met ’n seksueel oordraagbare siekte word omdat sy haar kêrel vertrou het nie.
Die kombi dreun lui in Beach Road af. Waarheen gaan sy? Nie na haar woonstel byna loopafstand van hier af nie. Zane sal haar kom soek en sy sal dinge sê wat kon gebly het. Sy voel lus om hom te lyf te gaan en dis nie iets wat sy op haar lys herinneringe wil hê nie. Om nou aan die laaste bietjie waardigheid wat sy oorhet vas te klou is noodsaaklik om kop te hou. Haar ouerhuis is ook die laaste plek waar sy nou haar sorge kan gaan uitsnik. Vir haar pa se “ek het jou mos gesê” sien sy nie kans nie. Wat sy nou wil doen, is verdwyn en by vriende gaan sy dit nie regkry nie. Zane sal weet waar om haar te kry, dis nou as dit in sy broek sit om te probeer verduidelik en die waarheid te praat.
Sy trap die versneller. Dit maak nie saak waarheen sy gaan nie, solank dit ver van hier af is.
Die pad vervaag voor haar en sy byt op haar tande om die trane te keer, maar sy hou haar voet op die versneller. Fokus net op die pad voor haar.
Sy haal diep asem, maar dit kom met rukke en stote verby haar borskas sodat dit haar eerder seermaak as kalmeer. Toe kan sy nie meer die trane keer nie. Sy gee haar oor aan die verdriet wat al sedert sy by haar ouerhuis weg is onder die oppervlak lê. Alles is net te veel. Die trane bring verligting in haar stram keelspiere en sy haal met minder moeite asem.
Toe sy haar weer kom kry, is sy op die Klapmuts-pad verby Stellenbosch.
Waarheen nou? Haar pa sit en wag dat dinge verkeerd gaan sodat hy haar in die rigting kan dwing waarop hy besluit het en die sogenaamde liefde in haar lewe het seker nou nog nie sy broek behoorlik aan nie.
Sy begin opnuut huil. Nie ’n waardige gesnuif nie, sommer snot en trane. Twee weke gelede was alles nog soos sy beplan het. Dinge was goed by die winkel en Zane was daar wanneer sy ’n oor en ’n lyf nodig gehad het. Hulle het nou wel nie die toekoms verder as môre bespreek nie, net elke dag gevat en geniet soos dit was.
Wanneer het hy van plan verander? Van wanneer af is sy nie meer genoeg nie? Dalk wou hy hê sy moes hom betrap. Hy het tog geweet sy sou weer by die winkel aangaan vanmiddag. Was dit regtig net die eerste keer of was daar ander? Na dese is sy nie meer so seker die gesteelde winkelgeld gaan vir die armes en broodnodige opvoeding nie. Wat as dit vir sex shops en dwelms gaan? Maar dit kan sy nie van Zane glo nie. Haar mensekennis het haar darem seker nie twee jaar lank in die steek gelaat nie. Zane het ’n sagte kant. Dis wat haar na hom toe aangetrek het. ’n Soft spot vir mense. Hy sien so mooi na sy ma om en is altyd bereid om ’n vriend in nood te help. Toe sy hom meer as twee jaar gelede deur ’n universiteitsvriend ontmoet het, was sy dadelik verlief. Self het hy nooit studeer nie, maar dit het haar nie gepla nie. Die branders was nog altyd sy droom. En ’n raakpunt tussen hulle.
Toe sy regs op die N1 draai, weet sy waarheen sy op pad is. Die een plek waar sy nog altyd, te alle tye gekoester gevoel het. Ouma Bets. Nou het sy haar ouma se soet tee en volkoringbeskuit nodig. Ouma Bets sal niks vra nie. Net die bed met die hol matras in haar blommetjiespaarkamer aanbied. Want ouma Bets ken haar. Sy sal nie eens haar ouers bel nie. Maar sy was so lanklaas by haar ouma se huis, sy sal dadelik onraad vermoed wanneer sy vanaand sommerso sonder ’n oornagtas daar opdaag.
Sy draai in ’n waas by die Paarl se hoofstraat in terwyl sy die trane op haar gesig met haar hand afvee. Sy moet beheer kry voor sy by haar ouma aankom. Maar sy vee en vee sonder veel sukses. Genadiglik het die trane ophou stroom. Toe sy in die truspieëltjie kyk, skrik sy. Só kan haar ouma haar beslis nie sien nie. Sy lyk soos ’n spook met ’n vinger in ’n plug. Sy sal eers êrens moet stop sodat sy kan bedaar en die opgehewenheid om haar oë kan sak. Netnou gee sy ouma Bets ’n hartaanval, want met so ’n gesig gaan sy dink iemand is dood. En hospitaalsake sal nou die kersie op die koek wees.
Blindelings draai sy sommer by die volgende straat af en stop. Hier is ’n bottel water in die kombi waarmee sy haar gesig kan afspoel. Haar keel is ook droog.
Sy maak die deur oop en gooi van die water in haar hande. Sy doen nie moeite om uit te klim nie, hang sommerso na buite terwyl sy die water oor haar gesig skiet. Die koeligheid bring bietjie verligting, maar sy sal nog ’n rukkie moet sit as sy die trane vir ouma Bets wil wegsteek.
Die water lawe haar effens en sy kyk om haar. Sy het die kombi by die ingang van ’n stuk grond geparkeer en daar is ’n sirkus aan die gang. McLeod’s Unbelievable Circus, lees sy op een van die karavane. Oorkant die pad staan ’n klomp betogers met hulle plakkate omhoog. Dis nie ’n rumoerige spul nie, hulle protesteer in stilte. Die stop animal cruelty-plakkate moet die praatwerk doen. Sy kyk eerder anderpad, na die rumoerigheid by die tente. Dit raak warm in die kombi. Dalk moet sy maar weer ry.
Toe sy die sleutel wil draai, sien sy die rooikopvrou aangestap kom. Iets aan die vrou laat haar ’n tweede keer kyk. Dis nie die boobs en boude nie. Dalk eerder hóé sy stap. Daar is moedeloosheid in haar tred.
Andrea
Hoofstuk 2
Sy forseer haar bene in die noupassende pype van die jeans in. Trane van woede en skrik sit vlak, maar sy sal haar nie oorgee daaraan nie. Henko flippen Vermaak kan sy sterre dank sy is nog hier en dat sy nie haar goed sommer nou vat en loop nie. Die jeans se knoop sukkel, dis ’n bietjie styf om haar middel. Sy hop, hou asem op en trek haar maag in. Haar middel was nog altyd haar beste bate, maar die broek is meer as knap, want sy weier om ’n ses-en-dertig te koop. Dit is haar wulpse boude en borste wat kleiner nommers te styf laat sit. Ongelukkig of gelukkig het sy ’n Jennifer Lopez-tipe agterstewe. Eenkeer het sy amper vir Henko ’n oorveeg gegee toe hy iets in dié lyn gesê het. Blykbaar ’n grappie tussen die pelle langs die gholfbaan gewees. Bid jou aan! Sy het hom mooi laat verstaan dis die laaste keer dat haar gat vir vermaak sorg tussen sy pelle. Al dink hy dis sexy en wou hy op een of ander hoogs verwronge manier spog met haar, is dit nie aanvaarbaar nie.
Die knoop is eindelik vas en sy asem uit. Draai voor die spieël en knik vir haar spieëlbeeld. Gewoonlik sal Henko se mond nou water, maar ná vanoggend se fiasko is hierdie lyf off-limits vir hom.
Dis warm en sy wonder of sy nie ten minste haar hare moet vasmaak nie. Haar lang rooierige krulle lyk goed, maar dis ook dik en Februariemaand in die Paarl kan so ’n dik bos nogal warm in mens se nek wees. Veral in ’n beknopte ruimte met baie asems. Tog, die ongemak is altyd die moeite werd. Stywe broek is gelyk aan stywe rondings. Solank iets net nie skeur nie, sal sy dit oorleef. En sy was net laas week by die haarsalon. Haar hare is blink en gesond en verdien om los te hang.
Sy buk en haal ’n paar stiletto’s uit die kas wat die gemiddelde vrou na asem sal laat snak. Dis turkoois, die punte smal en die hakke hemels. Sy word ’n kop langer met dié skoene, kyk Henko in die oë. Hy hou daarvan as sy dit aanhet. Sy weet, want sy kan sien hoe hy dan vir haar kyk. Maar vandag kan hy vergeet dat sy hom in die oë kyk. Hy het haar seergemaak en hy sal betaal daarvoor. Sy het genoeg van sy stront opgevreet.
’n Oomblik huiwer sy nog voor die spieël. Die spierwit top span oor haar bates, maar dis hoe sy dit wil hê. Haar borsmaat is immers ’n … bate. Sonder chirurgie, bygesê. Geen silikoon in haar bra nie, al dink party so. Somtyds is iemand voor op die wa genoeg om te vra, maar dan lag sy dit net af.
Sy gooi haar sak oor haar skouer en loop gangaf. Dalk moet sy dit oorweeg om te dieet. Of ten minste te detoks. Wat is die nuwe in-ding nou weer? ’n Paar van haar vriendinne is skoon laf met die gier … o ja, banting. ’n Kilo of twee kan seker wondere verrig. Maar sy sien nie kans vir dié malligheid nie en vir wie sal sy haarself nou so laat ly? Vetstukke laat haar gril en sy haat botter. Beslis sal sy nie vir Henko ly nie. Die bitter smaak in haar mond laat haar op haar tande kners. Haar moermeter is verby sy limiet. Sy het genoeg gehad, sy is op die punt om te snap en sy het al haar selfbeheersing nodig om die pawpaw terug te hou, want dis ’n haarbreedte van die fan af.