Apocrypha. M. M. WALTERS
ection>
M.M. WALTERS
APOCRYPHA
Tafelberg
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Apocrypha mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Uitgewersnota
NB-Uitgewers se digitaliseringsprojek het die maatskappy voor verskeie geleenthede en uitdagings te staan gebring. Die vryer toegang wat so ’n projek meebring, beteken dat literêre tekste uit verskeie eras nou vir enige leser met internet-toegang, binne en buite biblioteke en oor landsgrense heen, maklik beskikbaar raak. Dit is ’n geleentheid wat waarskynlik vele uitkomste sal hê – sommige voorspelbaar, ander nie. Dit is egter ook ’n uitdaging, aangesien daar redelik verwag kan word dat die biblioteekleser, of die leser wat moeite doen om ’n bepaalde ouer teks in die hande te kry, ’n leser is wat historiese konteks en die veranderende norme van sosiopolitiese aanvaarbaarheid begryp.
Hierdie kwessie is al in ander kontekste aangepak, met wisselende sukses. ’n Bekende voorbeeld is die bowdlerisation van Mark Twain se Huckleberry Finn, wat handel oor die slawegeskiedenis in Amerika. In ’n land soos Suid-Afrika is dit veral belangrik om by die lees van ouer tekste die nodige begrip vir konteks te hê. Die betekenisse van woorde – en veral hul konnotasies – verander met tyd. Perspektiewe wat in vroeër eras aanvaarbaar of selfs progressief was, is dalk nou rassisties, diskriminerend, of neerbuigend. Sommige tekste kan dus maklik vanuit ’n hedendaagse perspektief onregverdig kritiek ontvang. Die leser moet natuurlik ook kennis neem dat die norme waarvolgens hy tans oordeel, binne ’n aantal dekades ook sal verander.
Die beginsel wat gevolg is in hierdie projek, is een van deursigtigheid en eerlikheid. Daar is dus geen poging aangewend om “sensitiewe woorde” te vervang of verouderde perspektiewe aan te pas nie. Buiten tipografiese korreksies en hier en daar modernisering van spelling (alhoewel ook dit meestal vermy word), is hierdie tekste digitaal gepubliseer soos hulle oorspronklik in boekvorm verskyn het. Dikwels is ook afwykende skryfwyses onveranderd gelaat – of dit drukfoute of aanvaarde vorme was, is moeilik te bepaal, en ter wille van die navorser word die oorspronklike vorm dan behou, tensy dit leesbaarheid beïnvloed.
Hierdie besluit is bewustelik geneem om getrou te bly aan die geskiedenis, en om standpunt in te neem teen die vervalsing daarvan. Die uitgangspunt is dat ’n etiese benadering vereis dat daar met nugter oë gekyk word na die maniere waarop denkwyses in die literatuur neerslag gevind het. Pogings om dit agteraf anders in te kleur, doen onreg aan die ernstige leser se behoefte om daaruit te leer, en begaan ’n dubbele sonde as dit die teks én die eietydse leser neerbuigend wil behandel. Elke leser sal sy eie oordeel bring. Die wonder van die digitale era is hoe maklik dit vir elke ander leser is om dieselfde te doen.
APOCRYPHA I
Maar de overpriesters en de ouderlingen hebben de
scharen aangeraden. – Mattheüs 27:20.
Christus, dis maar altyd jy, altyd jy,
destyds net soos nou –
elke dag word jy opnuut gekruisig.
Wat baat die redekawel dan
as die lot tog reeds beslis is?
Jy sal nie meer aan die swetende gesigte dink,
die géselhou word niks
wanneer jy jou vriende soek,
maar in die môre net die haan hoor koggelkraai.
Die lang bruin kruis
sal jy alleen onder die genadelose mense dra,
want vir wie sal ons in hierdie wêreld
verlossing van die opdrag vra?
Die krimphou in die sy,
die spuug –
die hart moet eers breek
voordat die bloed lafenis is.
Maar die koning moet gekruisig word
en daar is geen Elias meer wat red,
ook god is dood.
Jy moet maar met die diewe praat,
want die kruisdood is so eensaam,
en as die son ondergaan,
hang jy alleen in die wind.
O seun! O heilige seun,
wat het hulle jou nie aangedoen nie!
En pous Paulus sit uitgetof
in sy kerklike skarlaken.
APOCRYPHA II
In die dagen waren er reuzen op de aarde . . .
En de Heere zag, dat de boosheid des menschen
menigvuldig was op de aarde, en al het gedichtsel der
gedachten zijns harten te alle dage alleenlijk boos
was. – Genesis 6:4-5.
Die wêreld word weer water, want
die boosheid van die seuns van God
vloei soos ’n swelgvloed oor die land.
Die reuse wat die veer hanteer,
skryf anders as die klip dikteer,
hul ontbloot die dogters van die mens,
beweeg stormend voort oor elke grens,
en alles wat onbetwis en heilig was,
word ondersoekend met die woord betas.
Die vroetelende vark word nou saamgehok
met die Arabier en skugter waterbok,
in die nat en vuil bepiste strooi
word die fyn en kleinood afgegooi,
en die olifant wat agterdogtig snuif,
vertrap die bebroeide eiers van die duif.
Maar as die strafreën eers verby is,
waar gaan Noag ’n voël weer vind
wat kan vlieg en daarby rein is?
APOCRYPHA III
Ik ben de Heere uw God, Die u uit Egypteland, uit het
diensthuis, uitgeleid heb. – Exodus 20:2.
Die ligte liggaam wat ontwaak,
die sprinkaanbeen wat boud word,
borsies wat begin ontkiem soos saad
en groei totdat die bewing die verbeelding raak.
Die bruingebrande vel en soepel ledemate –
bakvis wat skugter agter skuilings roer
en peusel aan die aas en speels ontglip
en weer lokkend agter goue vinne loer
Die vrou wat op die drumpel staan en wag –
okselknop wat oopgaan, geur en sag
bloei en blosend vrug word,
en uitgeswel en ryp, betas en dan gepluk word.
Nee, Here, ek is nog in die slawehuis,
niemand het my nog hieruit gelei nie!
APOCRYPHA IV
Gij