Apocrypha. M. M. WALTERS
hy die verbode vrug sou eet.
APOCRYPHA IX
Zij dan gingen en kwamen ten huize van eenen vrouw,
eene hoer, wier naam was Rachab, en zij sliepen
daar. – Jozua 2:1.
Menere ek is beïndruk deur jul krag.
Jul god met sy ringbesnede kop
is voorwaar die magtigste in die land.
Die vlugtelingvroue van Sihon en Og
het grootoog kom vertel
hoe hulle een vir een geseën
en daarna vrygelaat is,
maar self gesoebat het om nog
verder saam te trek deur die rivier.
Nooit het die rooi lint langs my muur
sulke gode na my huis gestuur!
En om te dink:
Julle is maar die bodes wat kom loer
terwyl die ander engele onrustig
in hul slaapplek maal en roer!
Klim nou af – aan die ander kant,
die Jerigoane haat besoekers by hul vroue –
en gaan vertel dat daar geen hindernis
teen die aanslag van jul god bestand is.
Ek sal swyg, want verneem my susters
van die groter vreugde wat jul saai,
sal die linte met jul tweede koms
rooi teen elke huismuur waai!
APOCRYPHA X
En David gedroeg zich voorzigtelik op al zijne
wegen; en de Heere was met hem. – 1 Samuel 18:14.
Die begin was nederig: wyn en brood
en ’n geitebok uit Bethlehem.
Snarespel passifiseer,
laat kantel die oliehoring
op ’n owerste oor tienduisend:
Kyk, ek dra geen skild of pantser –
slim – die klip en slinger
draai ver en veilig om die vinger
en jy het maar ’n beenmes vir die voorhuid nodig.
Dan die triomfantlike terugtog met die kop
van Goliath – tamboeryne, siters, fluite:
pryse van die priesterspel: (Wie is jy
wat die ewige god uitdaag?)
Baniere op die stadsplein, hoesanna,
hoesanna tot binne in die sinagoge –
altyd eers die sinagoge – en daarna:
koningsdogters is sappige maagde.
Jy het ook vroeg geleer dis lekker
om die hand eerste in die vleispot in te steek.
APOCRYPHA XI
Toen het volk zag, dat Mozes vertoog van den
berg af te komen, zoo verzamelde zich het volk
tot Aäron en zij zeiden tot hem: Sta op, maak
ons goden, die voor ons gaan. – Exodus 32:1.
Die mensdom moet aan sy gode glo –
sy wêreld kantel sonder
die slinkse stoutes onder
en die magtiges dreigend bo.
Daar is die onverplantbare ou eike
wat net een heilige plantasie ken,
en dié wat styf gebos moet staan
om die buiging van die wind te wen.
Ook dié wat slap is soos popliere
se lopers moet ondergronds bly klou –
kinders wat soek langs geil riviere
wil soms terugkeer, vol berou.
Ja, die volk moet aan sy gode glo,
die swartes onder,
die blinkes glansend bo,
want selfs vir hulle wat van beter weet,
is die lewe daarsonder eensaam:
die mens is bang hy word vergeet.
APOCRYPHA XII
En de Heere God maakte voor Adam en zijne vrouw
rokken van vellen en toog ze hun aan. – Genesis 3:21.
Toe Eva haar tussen die vyebome aantrek
in modes deur die hemelse Hartnell –
die sagte dassiebroekie
en die stoute bra van springbokvel,
die handgelooide miniromp wat wip
en ’n tweede sondeval voorspel –
toe sis die slange.
O jou soete meisiekind uit die paradys!
Vermakerig het sy haar lae hals en bene
aan die engele voor die poort gewys!
APOCRYPHA XIII
Toen zeide Mozes tot den Heere: Och Heere! ik ben geen man wel
ter tale . . . – Exodus 4:10.
Ek moet eers deur die vuurring van my vrees,
op hoë drade, sonder oë, man van wonders wees;
runnik op die maat, om en om op agterpote draai,
gehoorsaam luister as die voorslag oor my swaai;
die bal vang met my neus en met sagte seedierpote
oor klippers trap en spring op slag van loskruitskote;
grinnik met ’n borrelneus en narreklere aan,
bespotlik, maar onversteurd agter die masker staan.
Want ek moet laat sterre skyn in dowwe oë,
vir één nag illuminasie wees, die vaal en moeë
mensdom weer laat droom en lag en leer vergeet –
die armes wat niks van my hartseerwêreld weet.
Dan in die nanag, afgetakel, kaal en leeg,
moet die karavaan weer onverbonde voortbeweeg.
APOCRYPHA XIV
En de Heere zeide tot Jakob: Keer weder tot het land
uwer vaderen. – Genesis 31:3.
Vir Albertus Melvill
Langs Toorberg groei die wildeals
oor Wilken se murasie, en fonteine
onder kranse syfer diep uit die verlede
verby kaal stamme – die herfs se wit refreine.
Die jaar kruip aan en alles is so oud