Krismis van Map Jacobs. Adam Small
(bars uit): Hulle … gat, Maudie! Hulle … hulle gat, sê ek!
MAUD: Maar ek het gesê: don’t swear!
CAVERNELIS: Die vuilgoed! (Lyk hulpeloos. Wil huil.)
MAUD (vee oor haar oë): Éét, Cavernelis-darling, the curry is nice, ’is ’n special massala wat ek by Baroedien-hulle gekry het, missies Baroedien sê sy use dit in haar eie curry, en ek weet mos peas-curry is jou favourite kos …
CAVERNELIS: Ek is jammer, Maudie …
MAUD: Not to worry, Cavernelis-darling … Cheer up! Cheer up!!
CAVERNELIS: Dis goed so, Maudie …
Hy kom orent. Dan, skielik, huil sy.
CAVERNELIS (rêrig ontstel): Maar ek sê mos dis goed so … (Hy staan ’n ruk lank hulpeloos rond.) Ek gaan dan maar weer, Maudie …
MAUD: Jy gaan dan maar weer …
CAVERNELIS: Ja, Maudie …
MAUD (hulpeloos): Jy … gaan dan maar weer …
Dan is Cavernelis op die klein platform bo, waar hy die “suitcase” met die “soft goods” agter op die fiets vasmaak. Hy maak die fiets van die tralies af los, en stoot dit half, dra dit half met die trap af na onder, waar hy dit bestyg en in die straat op wegry. Maud het hom bo “weggesien” en kyk hom agterna.
Twee
Lig vóór en op die trap van die woonstelblok waar die Cavernelisse woon. Dis ’n Sondag, nog taamlik lank voor Kerstyd, maar die Kersorkes van die buurt is alreeds aan’t oefen met die oog op “die end van die jaar”. Daar is Danny Delcarme, Boytjie Louw, Oompie Paulsen, Kaffi’tjie Arries, Freddy la Vita en Bêrend Oliphant.
Die straat is vol mense, onder andere Cyril en Richie wat, met die bord oor ’n groot konka opgestel, kerrim speel; en Tommy Sobotker, die “man moet die trinkets” – Tommy smous jare al met klein goetertjies (ringetjies en “bangles” en wat dies meer), en doen veral goeie sake met die kinders van die buurt. Sy ware karwei hy meestal in ’n vlak handkarretjie, netjies met vakkies toegerus.
Die musiek van die orkes klink op. Nuuskieriges verskyn van oral af. Die saxofoon klim bo die ander instrumente uit. Die straat bly besig.
Dan het die orkes sy eerste lied klaar, en stem vir die volgende.
Stemme uit die skare word gehoor.
EEN: Hê, watte’ band is dit dié?
TWEE (wil antwoord, maar weet ook nie en vra eers ’n ander): Hoe call hulle nou weer vir hulle?
DRIE (wat weet): ’Is die Star of the Redemption, man!
TWEE: O! (Dan aan EEN.) ’Is die Star of the Redemption!
Hulle practise al vir Krismis! Dan loep hulle mos!
EEN: Star of the wát?!
DRIE: Redemption, man!
’N ANDER: Star of the Redemption …
EEN: O! Maar hulle practise darem vroeg al vi’jaar!
DRIE: Well, Oompie Paulsen wil hê al die koppe moet hulle kant toe kom vi’jaar …
STEM: Seker so …
Die orkes speel. Die mense praat.
Die lig verander. Blanchie verskyn, mooi aangetrek, op pad uit.Ons sien vir Maud by ’n venster bo, van waar sy na onder loer.
TOMMY: Hello, Blanchie.
BLANCHIE (traag om hom te groet): O, hello, Tommy …
TOMMY: Ek sê, Blanchie, jy moet maar yt-watch, jong.
Sy antwoord hom nie, stap verby.
Die orkes stem instrumente op die agtergrond. Die kerrim-spelers giggel en raak moveerderig met Blanchie wat straataf beweeg.
TOMMY: Sorry, Blanchie, ek’t dit nie so ge-bedoel nie, man …
CYRIL: Stýle, nè, sy’t darem stýle, sê’k nie!
RICHIE: Lekke’!
Blanchie verdwyn.
CYRIL: Have a nice time! …
Hulle speel.
CYRIL: Seker weer op pad wêk toe! …
Speel.
CYRIL: Wêk toe! Sê’k nie! Lonely hearts! Massage parlour!
Fancy names!
RICHIE: Okay, man …
TOMMY: Hoe mien julle?
CYRIL: Jy wiet mos, man, hoe act jy so of jy ignorant is?
TOMMY: Nei, hoe mien jy?
CYRIL: Okay, hoe kom jy dan nou so vir haar op? Hê?
Stilte.
CYRIL: Omdat Map Jacobs nou ytkom en ammal moet nou beginne cover-up!?
TOMMY: Moet nou nie mean wies nie, man … ’is nie onse biesagheit nie …
CYRIL: Aag, Tommy, jou ou skinnerbek! Come off it, man! (Lag.) ’Is like nie jou biesagheit nie, imagine!
RICHIE: Maar daai’s nou nie nodig nie, man … Los ’it af …
CYRIL: What for?
TOMMY: Los ’it af, ja … Ek sê weer, ’is nie ons biesagheit …
CYRIL: Aag, ou Tommy, man, moenie vi’ my daai kom sell van dis nie jou biesagheit nie … Shit, man, daai ou dêrre van Blanchie, ou blêrie haitie-taitie vrek van ’n Cavernelis, hy úse vir haar, man … hy use sy eie vlees en bloed so, man, hy’s ’n … Ek het niks tien Blanchie selwers nie …
RICHIE: Ôrait, ôrait …
CYRIL: Nou wat is jy nou so touchy?!
TOMMY: Okay, cool ’it …
CYRIL (aan Tommy): Wat dink jy gaat Map kom doen as hy yt is, en hy vinne yt, van Blanchie ek mien, en hoe ou Cavernelis vir haar use, hê? Wat gaat hy doen? God, ek wil nie hierso wies nie, sê’k vir jou!
RICHIE: Ja, ek wiet, hy’t ’n oeg op haar gehad, voorlat hy in is, die vark! … Shit, ’t was darem ’n lelike ding daai …
TOMMY: ’Is sewe jaar al t’rug, man, ’is history, so wat práát ons nou daarvan?
RICHIE: ’Cause, ou Tommy, jy like bra ons moet praat daarvan! In fact, jy like dit erg, ôldou dis like nie jou biesagheit nie!
TOMMY: En sê vir my, wat as Map Jacobs ’n changed man is?
RICHIE: ’n Changed man? Map Jacobs, ’n changed man? (Hy lag.) Ek sê vi’ jou, hy maak vi’ julle ammal vrek, van vóór af!
TOMMY: Remember, ek is darem vrinne moet hulle, ek mien moet Map se ma-hulle … So ek sal darem wiét … Ja, so wat as hy ’n changed man is?
CYRIL: Al wat ek sê is, ek wil nie bý wies as hy weer hierso is nie, en hy vinne at last yt van Blanchie nie … Nie dáái bastard nie!
Laaste akkoorde van die orkes.
TOMMY: Maar wie sê vir julle al die stories is wáár? Wie sê vir julle ’is wáár? Sewe jare is verby, man!
CYRIL (spot): Ja? “Lonely hearts”, “Lonely hearts”!
TOMMY: Man, laat staan tog nou vir Blanchie …
RICHIE (aan Cyril): Jy siet, ’is nie sy biesagheit nie!
CYRIL: Ooo, hy’s oek die soort wat al die biesagheite like wat like never sy biesagheit is nie! (Lag.) Ou Tommy, ek het nie gewiet jy’t oek ’n crush nie … Got, julle’t ammal ’n crush! Ek niem julle nie kwalik nie, maar Map Jacobs gaat julle dônner, ek sê vi’ julle!
RICHIE: