Wegloopwinter. Rona Rupert

Wegloopwinter - Rona Rupert


Скачать книгу
Jenny, of Carlos of eers Alexander nie.

      En sy voet wil nie ophou pyn nie.

      Daarby het die honger hom met die klink van die koppie op die skinkbord bespring.

      Ek sou my reënjas kon opeet, dink hy, en dit sal nie genoeg wees nie.

      6

      Aan die vierde vinger van die hand waarmee sersant Kroukamp die telefoon vashou, dra hy ’n trouring.

      Het hy kinders? wonder Manuel.

      Die hand sit die telefoon terug op die mik net toe die jong konstabel terugkom met die tweede skoon koppie. En toe hy weer uit is by die deur, trek sersant Kroukamp ’n laai van die lessenaar oop, en haal daar ’n pakkie toebroodjies uit. Toe hy die waspapier oopslaan, kan Manuel die tamatie en die kaas op die brood ruik.

      Hy kyk hoe die sersant twee koppies tee inskink, met melk.

      “Suiker?” vra hy.

      “Asseblief.”

      “’n Toebroodjie.”

      Hy hou die brood vir Manuel.

      Hy vra nie, hoor Manuel, hy sê.

      Vir ’n paar salige oomblikke gee hy hom oor aan die kos wat hy kou. Hy laat nie eers toe dat die pyn in sy voet dit bederf nie. Maar konstabel Kellerman kry dit reg om die hele mondvol na seep te laat smaak toe hy klop, en binnekom, en Manuel meteens weer van die ander twee onthou.

      Waarom het hulle hóm beskuldig? wonder hy vir die hoeveelste keer. En hy dink daaraan: twee teen een, watter kans het hy?

      “Vertel maar vir ons wat jy weet,” sê sersant Kroukamp.

      Manuel krimp homself klein in voorbereiding op wat kom.

      Die Stem resiteer:

      “Die naam van die tuinier is Williams, hy is vir twee weke met vakansie. Die eienaar van die huis, meneer Ospovat, het ’n herdershond wat by die hondehokke in Constantia bly totdat Williams terugkom. Hy en sy vrou is vir ’n maand oorsee met vakansie. Hulle het ’n week gelede vertrek.”

      “Dankie, konstabel Kellerman,” sê sersant Kroukamp.

      “Daar is nog iets,” sê die Stem.

      Sersant Kroukamp sluk ’n groot sluk tee en toebroodjie af, en sê toe: “Ek luister.”

      “Ek het by die laaste vyf name op die kollektelys navraag gedoen. By elkeen was daar net twee seuns. Volgens hulle beskrywing was dit die ander twee.”

      “Hoe het hulle dan van my geweet?” vra Manuel, uit sy beurt uit.

      Konstabel Kellerman lyk asof hy wil antwoord. Maar hy bedink hom, en hy kyk met afwagting na sersant Kroukamp, sodat Manuel hom voorberei op nog ’n SILENCE!

      Hy sien die teleurstelling op die konstabel se gesig toe sersant Kroukamp sy sakdoek uit sy sak haal, sy mond daarmee afvee, en sê:

      “Dankie, konstabel Kellerman, gaan eet jy nou ook iets, voordat ons met die ander twee begin gesels.”

      Hy wag totdat hulle alleen is, en toe antwoord hy:

      “Hulle het net vóór jy daar aangekom het, by Bollihope-singel 6 probeer kollekteer, Manuel. Daarom het hulle geweet, toe hulle jou daar sien ingaan het, dat daar niemand tuis was nie. Hulle moes hulle storie vinnig uitgedink het toe hulle ons gewaar het, en hulle het dit knap gedoen. Hulle het ons baie oortuigend beduie waar jy was, en gesê dat jy hulle leier was, en hulle het amper weggekom daarmee. As daar net een van ons was, in plaas van twee, dan hét hulle dalk – letterlik.”

      Die brood wat sekondes gelede so lekker gesmaak het, wurg Manuel nou, en hy moet ’n paar keer sluk om sy keel skoon te kry sodat hy kan praat.

      “Glo Sersant my nou?” vra hy toe.

      Meteens hang sy lewe vir hom aan die antwoord wat dié stil man hom moet gee, aan wat hý van Manuel Fernandez dink.

      Dit klink vir hom asof die verkeer opgehou raas het, asof die mure en die almanak en die telefoon en die twee leë gebruikte koppies ook luister.

      Wat gee jy om? praat hy homself aan, hy is tog net soos al die ander. Hy kan die stemme by die skool die woord nog hoor fluister: CLOWN! FAT CLOWN!

      Maar hy maak op homself geen indruk nie.

      Asseblief, sê ja, herhaal hy oor en oor en oor in sy gedagtes.

      Maar Ja is ewe skielik ’n skaars woord.

      “Laat ek dit só stel,” antwoord sersant Kroukamp, “jy kan sê ek aanvaar die feite wat jy my gegee het, en die redes daarvoor. Maar dit maak nog geen verskil daaraan dat jy jou aan twee afsonderlike oortredings skuldig gemaak het nie: jy het, nommer een, gedros van die skool, en, nommer twee, jy was sonder verlof op ander mense se eiendom. Om die minste te sê. Stem jy saam?”

      Manuel knik. Hy vertrou sy eie stem nie.

      “Maar ek sal jou tegemoetkom,” sê sersant Kroukamp, “ek sal ’n ooreenkoms met jou aangaan, buite die gereg en sonder om iemand anders daarby te betrek. As dit uitwerk, kan ons wat vandag gebeur het tussen ons hou.”

      “Bedoel Sersant my ma sal nie daarvan weet nie?”

      “Nie sy, en ook nie die skool nie; dit hang van jou af.”

      Carlos ook nie, Carlos ook nie, kan Manuel nie ophou dink nie, en hy voel met sy naels die riffels in die hout van die stoel se leunings om homself te verseker dat dit wáár is.

      Toe sê hy, sag en half wanhopig:

      “Ek sal probeer.”

      Want hy onthou sy eie onvermoë om beloftes na te kom.

      Die sersant glimlag vir hom met sy oë.

      “Jy weet nog nie wat jy moet doen nie.”

      Iewers in Manuel gaan daar ’n venster oop. Hy voel asof die son, wat nie daar is nie, deur sy stukkende plastiekreënjas warmte in hom inskyn, asof hy weg was iewers heen en weer teruggekom het.

      “Ek sal probeer,” sê hy weer.

      Sersant Kroukamp haal sy bril van sy neus af, en vee die lense met sy sakdoek af.

      Sonder die bril lyk hy anders.

      Hy praat terwyl hy die lense poets:

      “Die ooreenkoms is dit: dat jy van môre af, wat Woensdag is, nie weer nie – maar nie eers één keer nie – sonder verlof wegbly van die skool af nie. Reg?”

      “Ja, Sersant.” Manuel sluk.

      “En dit is nie al nie. Elke Vrydagmiddag moet jy van die skool af eers hierheen kom, en aan my kom verslag doen van alles wat in die week met jou gebeur het. In ruil daarvoor bly ek oor vandag doodstil.”

      Ek gaan hom weer sien! dink Manuel.

      En hy staan op, asof sy naam uitgelees is vir ’n prystoekenning.

      Maar hy het vergeet van sy linkervoet, en die pyn wat in sy been opskiet toe hy daarop trap, speel ’n harde lang trompetnoot reg in sy ore.

      Manuel snak na sy asem.

      “Dokter toe,” sê sersant Kroukamp, “ons moes al gegaan het, ek is jammer.”

      Конец ознакомительного фрагмента.

      Текст предоставлен ООО «ЛитРес».

      Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.

      Безопасно оплатить книгу можно банковской


Скачать книгу