Gister is verby. Juanita Aggenbach
Om op die mespunt van feite en empatie vlugvoetig te bly, om die pasiënt se vryvloeiende angs te anker in ’n oseaan van wanhoop.
Want al waarmee chemo nou kan help, is om die gewas te beheer, om die lewe bes moontlik te help verleng. Want van hier af is genesing hoogs onwaarskynlik.
En tannie Van Rensburg is nie meer vandag se kind nie.
Wat sou haar naam wees? Sy kyk op die lêer.
Leopolda. Foei tog.
Skuins gedraai in haar stoel buk sy af en haal die A-Z-naamlys uit haar onderste laai. Sy twyfel of sy dié naam daar gaan kry.
Daar is dit tog: Leopoldine. Afgelei van die Germaanse naam Leudi (mense) en balda (dapper). Beteken dapper mens.
Dit verbaas Althea nie.
Sy onthou van die pasiënt wat gekla het oor diarree ná haar eerste chemo . . . Zelda du Toit. Blaai na Z in die naamlys. Baklei in die donker. Dis net so gepas, besluit sy en bêre die boekie op sy plek.
Toe sy haar rekenaar se inboks oopmaak, is daar drie-en-twintig nuwe e-posse. Die een van People Living with Cancer trek eerste haar aandag. Hulle vra of sy die gasspreker by hulle kwartaalvergadering sal wees. Sy kyk in haar dagboek en tik: Die tyd en datum sal my pas. Ek kom graag. Vriendelike groete, dr. Althea Laubscher.
Volgende.
’n Mediese fonds laat weet hulle sal betaal vir die chemo van mej. S. van Wyk. Soos dit hoort, die inhalige klomp. Sy bevestig ontvangs. Sy het nie verniet daardie lang vorm ingevul en ’n aanbeveling geskryf nie.
Volgende.
Beste dokter Laubscher, skryf asseblief ’n brief wat ek vir die verkeersdepartement kan stuur op u briefhoof. Ek het gister op pad chemo toe ’n spoedkaartjie gekry en ek wil vir die verkeersdepartement ’n bewys gee dat ek moes jaag anders was ek laat vir chemo. Vriendelike groete, Alma Steyn.
Nou het sy alles gehoor. Sy tik, druk en teken die brief. Sy sal dit vir ontvangs gee om te skandeer en te e-pos wanneer sy huis toe gaan.
Die volgende e-pos is van Liam se rehabilitasiekliniek. Ons nooi u hartlik uit na ’n gesinsondersteuningsessie . . .
Teleurgesteld sien sy dis die aand van haar weeklikse Stellenbosch-vergadering.
Dankie, maar ons kan dit ongelukkig nie bywoon nie. Laat weet asseblief wanneer die volgende geleentheid is. Vriendelike groete, dr. Althea Laubscher.
Volgende.
E-pos van dokter Van Zyl se praktyk. Potensiële nuwe verwysing: Nadine Duvenhage. Sal binnekort in verbinding tree.
Dis waarskynlik kodetaal vir Cliff van Zyl wat eers die mastektomie agter die rug wil kry voor hy die arme vrou verwys.
Dankie vir die verwysing, hou sy haar nederig. Ek wag om van jou te hoor.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.