Koms van die motman. Chris Karsten

Koms van die motman - Chris Karsten


Скачать книгу
weet van jou beserings.”

      “Nie van alles nie.”

      “Ék wil weet, Arthur. Jy’s my broer, jy’s veronderstel om my te vertrou, nie dinge vir my weg te steek nie.”

      “Dis verby, Haman. Dis vir my pynlik om sulke goed te herleef.”

      “Jy sal beter voel, opkrop is nie goed nie. Dis mos wat jy altyd vir my gesê het, onthou jy … ná jy my uit die spruit gekry het? Ten minste kan ek nou jóú pyn help dra.”

      Arthur sluk die laaste van sy tee. “Ja, ek dink ek sal ’n Peniocereus greggii vir haar gee.” Hy hou sy leë koppie en piering vir Haman. “En later vanmiddag wil ek graag bietjie gaan rondry, sommer die strate in. Sal jy my vat? Net om te sien hoe die wêreld dit reggekry het om vir tien jaar sonder my klaar te kom.”

      “Jy kan nog grappies maak.”

      “Hoe anders, ek’s nie Job nie.” Dalk is Haman reg, dalk moet hy dit uitpraat buitentoe, nie net aan sy plante en motte nie. En wie se oor is geduldiger as dié van ’n broer? Met die rondryery kan hulle by ’n plek stop waar hy ’n kaartjie kan koop. Mens gee nie ’n blom sonder ’n kaartjie nie. “Sal jy die greggii môre vir haar vat? Gee jy om?”

      “Ek sal, maar waarheen?”

      “Die polisiekantoor daar in Brixton.” Dis waar haar pa ook gewerk het. Hy het op die internet oor haar gaan nalees, sy was dikwels in die nuus.

      “Vergeet van haar, Arthur. Hoekom bly jy jouself so straf?”

      Dis daai oë, hoe kan hy hulle vergeet? Hulle kom besoek hom snags in sy nagmerries, of sy hom met haar oë probeer deurboor.

      ***

      Sondagaand help hy vir Elizabeth om al sy ou klere in bokse te pak. Hy maak sy kaste leeg, hy wil niks hou nie, dis uit ’n ander tyd.

      En Maandag – toe Haman die bokse saamvat vir die welsynwinkel in Brixton op pad om die greggii en kaartjie te gaan aflewer – ry hy en Elizabeth Hyde Park toe vir nuwe klere. Hemde van sy, broeke so lig dat hy dit skaars voel, mokassins glo gemaak van die pensvel van Marokkaanse boklammers en sag soos ’n sug aan sy mishandelde voete. Hulle koop ook slaapklere en ’n japon en pantoffels en sokkies en onderbroeke, en by The Bed Shop koop hulle donsige handdoeke en sylakens vir sy bed, en by Mad Hatters ’n panamahoed, room met ’n vlootblou band om die kroon, glo in die Ecuadoriaanse dorp Montecristi met die hand in herringbone geweef van superfyn toquilla-palmstrooi. Incredible Connection is die laaste stop.

      “Hoe slaap jy, Arthur?” vra sy op pad terug Rivonia toe, die bak en agtersitplek vol inkopiesakke.

      “Die pille help.” Hy bevoel die hoed op sy kop, ook lig soos ’n veer, en trek die rand laer af oor een wenkbrou. So ja.

      “Kry jy nog nagmerries?”

      “Nie meer so dikwels nie.” Die nagmerries het hom bloots gery, élke nag. Maar nou help die slaappille, dit slaan hom uit.

      “Tweeuur is dit tandarts toe en halfvier is jou afspraak by die oogarts.”

      “Jy’t dit ingeryg.”

      “Jou gesondheid het ’n diep knou weg, ons moet jou regkry.”

      “Wat van die kwekery?”

      “Ek het ’n goeie bestuurder, en op Haman kan jy staatmaak, jy weet mos. Al is hy so bedrywig met die rondryery om by alles uit te kom.”

      By al hulle besighede. Hy is trots op sy stil broer; bot vir dié wat hom nie ken nie, asof hy stadig dink. Maar Haman het in sy afwesigheid in ’n goeie sakeman ontpop. Of dalk het hy vroeër net nooit raakgesien hoe ’n goeie sin vir sake Haman regtig het nie. “Daar’s nie probleme nie?”

      “Nee, Arthur, jy vra dit elke keer, elke besoektyd wou jy weet. Maar alles gaan goed met ál ons besighede. Daai ding met Top Notch … dit was ’n uitsondering. ’n Blaps. Nee wag, jammer om dit wéér te sê, Arthur, maar Muzi Manzini se aanstelling as bestuurder van Top Notch was ’n kolossale en noodlottige mistasting. Ons ander bestuurders is bo verdenking, dit weet jy tog. En Haman hou hulle fyn dop.”

      Die aand oor ete vra Arthur: “Het jy haar gesien?”

      Haman bly eet, kop onderstebo. “Ja, jy’t mos gesê ek moet sorg dat sy die plant persoonlik kry.”

      “Het sy iets gesê?”

      “Sy’t net daarvoor geteken, seker gedink ek’s maar net nog een van al die ander afleweraars.”

      “Ander?”

      “Wat blomme gebring het – haar hele kantoorhok staan vol blomme, tot op die vloer. Miskien verjaar sy of iets.”

      “Nee, sy verjaar in November.”

      Hy merk hoe Elizabeth na hom opkyk. “Jy ken haar verjaardag?”

      Hy sê vir Haman: “Elizabeth het vir my ’n selfoon gekoop. En ’n iPad. Ná ete, sal jy my kom leer hoe die goed werk? Of is jy op pad uit?”

      “Nee, ek is maar hier.”

      Waar anders? Hy en Haman is vrygeselle. Nie een van hulle is juis geseën met groot sjarme of ’n warm aard wat vroue aantrek nie. Maar dit pla hom nie, hy hou van homself en verkies om nie sy kosbare persoonlike ruimte te deel nie. Elizabeth is vyf jaar ouer as Haman, en sy was anders. Sy was mooi … wel, sy’s steeds aantreklik, maar toe sy jonk was het sy die manne laat swymel. In haar twintigs getroud en geskei, ditto in haar dertigs. Gelukkig geen spruite uit enige van daai vurige amourettes nie, ook lankal nie meer katoolse minnaars wat die reuk van haar feromone op die wind besnuif en kom agtervolg nie.

      “Luister, Haman, ek het nog ’n paar aflewerinkies vir jou. Maar dis nie te dringend nie. Daar in die tronk het ek twee ouens bietjie probeer help met hulle … uh, finansiële sake. ’n Bewaarder en ’n prisonier. Ek het George Pagel gevra om vir elkeen ’n beleggingsrekening by Fiduciary Trust and Wealth te open.”

      “Daar by Du Plessis in Sandton?” sê Elizabeth. “Hemeltjie, Arthur, mense smyt jou in die tronk en jou hart word sag.”

      Nee, dis nie wat gebeur het nie, hy’t nie vir Bok Benadé en Solomon Ruiters uit die goedheid van ’n sagte hart gehelp nie. “Ek het gesê as ek uit is, sal ek die rekenings laat sluit en die opbrengs in kontant vir hulle gee.”

      “Kontant? Du Plessis kan dit mos sommer elektronies na hulle gewone bankrekenings oorbetaal. Jy weet wat sê jou paroolvoorwaardes oor ’n gemengery met ander …”

      Tronkvoëls? Is dit wat sy daar op haar tong se punt los? “Hulle het nie gewone bankrekenings nie. Die prisonier is ’n dwelmsmokkelaar en ou tronkvoël, en die bewaarder se rekening is gevries nadat hy geskei en bankrot verklaar is. Ten minste, dis wat hy sê. Die punt is, hulle soek hulle geld in kontant. Maar dis vir later. Wat ek nóú mis, is konserte, Elizabeth, wanneer kan ons weer begin gaan?”

      “Ek het gewonder of jy al reg voel vir so iets, daar’s juis een in die Linder. Dilectus Meus, ’n uitvoering van vroeë Italiaanse sonates en motette.”

      “Sal jy bespreek?”

      Ná ete wys Haman hom eers die werking van die iPhone en toe die iPad en vra terloops: “Die bewaarder, is dit daai Bok Benadé, die een vir wie ek die kiste Klipdrift moes aanry tronk toe?”

      “Ja, Boss Bok, dis hy.”

      “En die dwelmsmous?”

      “Solomon Ruiters. Van hom sal ek jou later vertel. Wanneer ek reg is. Ek sal jou oor hulle albei vertel.” Maar nie nou al nie, dis nog te rou. “Wanneer jy sý geld gaan aflewer, moet jy baie versigtig wees, Haman. Hy’s ’n vuilgoed.”

      “Hoekom hou ons dit nie net terug nie?”

      “Nee! Hy weet van Elizabeth, hy weet sy’t my in die tronk kom besoek, hy sal haar adres hê … ons adres. Dis oor háár dat ek bekommerd is.”

      “Ek sal


Скачать книгу