Die ou vrou en die priester en ander verhale. Cecile Cilliers
susters noem haar Wiesie.
Hét haar altyd Wiesie genoem. Hulle het twee dae tevore aangekom, die twee tantes, gekom vir die begrafnis, het hulle gesê. En besig met ’n taak vir haar gunstelingdosent, het Elfrieda tant Mariet se stem duidelik in die gang gehoor: Ek weet nou nie, Tilly. My tuin is besonder mooi vanjaar, en ek het die wit viooltjies al die pad van Wakkerstroom af gebring. In klam watte, weet jy. Maar as Wiesie nou nie gou sterf nie, sal die ou blommetjies verwelk wees voor die begrafnis.
Elfrieda voel ’n onbekende woede in haar opstuif. Dis mý ma, dink sy, met ’n besitlikheid wat sy nie herken nie, mý ma wat dood is. Haar mooi ma met die mooi bene en die baie gawes. Louisa kon goed kook en mooi sing, sy kon klavier speel en naaldwerk doen. En sy kon ander se vreemde aksente met gemak namaak. In ’n ander tyd sou sy moontlik aktrise kon gewees het, maar die oudste dogter van die dorpspredikant kon onmoontlik toegelaat word om die verhoog te betree.
Haar ma het haar ouers se benepenheid geërf, dink Elfrieda, alle empatie ineens weg. En haar frustrasies op mý uitgehaal. Niks, niks wat Elfriedá ooit gedoen het, was goed genoeg nie: haar witsous was klonterig, sy kon g’n blom in ’n pot laat regop staan nie, haar stem was te dun om selfs in die koor te kan sing, en ná ’n jaar het juffrou Jordaan gesê as sy nie wil oefen nie, moet sy liewer die musieklesse los, sy mors net haar ouers se geld.
Haar ma was ontevrede. Jou neus is gedurig in ’n boek, Elfriedá, en jy is altyd aan die skryf in daardie aantekeningboek van jou. En kyk hoe lyk jy. Jy kan gerus meer op jou voorkoms let…
Voorkoms is onbelangrik, dink Elfrieda. Om te kan skryf, dis al wat tel. En skryf, dit kán sy. Sy’s intens bewus van die gawe, en sy koester dit.
Vir die matriek-rekordeksamen drie jaar gelede was die opstelonderwerp “Ek kyk terug”, en Elfrieda het Jesus van die kruis af laat terugkyk: die verlore skrynwerkersambag, die geur van houtkrulle onder die skaaf; die kameraadskap van die dissipels, en sy liefde vir Johannes; die verheerliking op die berg. En die verskriklike vrees in Getsemane. Sy het die opstel afgesluit met die ontstemmende laaste kreet: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Meneer Basson, die Afrikaansonderwyser, het haar ’n ronde nul gegee en by die hoof gaan kla. Maar meneer Van Aswegen het die opstel deurgelees en die punt verander na 18 uit 20. En Elfrieda vertel dat sy ’n buitengewone gawe ontvang het wat sy nie mag verwaarloos nie. Sy’s met die opstel, die veranderde punt en ’n blye verwagting huis toe, maar haar ma se stem was snydend: As meneer Van Aswegen gedink het dis so goed, hoekom het hy jou nie 20 uit 20 gegee nie? En toe sy die deur van haar kamer toeklap en huilend op haar bed gaan lê, het haar pa kom troos: Elfie, Elfie, diamante sny mekaar tot beter en blinker fasette. Dit lê in hulle aard…
Die eerste tekens van haar ma se siekte was lank reeds daar, dink sy nou. Sy het gesien haar ma word gouer moeg as gewoonlik, lê graag later in die oggend, laat meer en meer aan Elfriedá oor, maar sy het dit gelate aanvaar, totdat haar pa haar een aand onder trane vertel het dat Louisa kanker het, en dat sy onmoontlik kan herstel. Haar klonterige witsous ten spyt, het Elfrieda stelselmatig die huishouding oorgeneem, en toe haar ma eers hospitaal toe is, het sy, tussen alles deur, elke agtermiddag as daar nie klas was nie by haar ma se bed deurgebring.
Eers die bus van die huis of van die universiteit af stad toe, en daarvandaan die bus hospitaal toe. Om daar klein geselsies te maak oor haar studies en die tuin en hoe sy regkom met alles. Maar sy het merendeels gelees of geskryf, en haar ma het merendeels geslaap. Teen die kussing was die gesig smal, die neus skerp afgeteken, en onder die komberse, weet Elfrieda, lê die mooi bene soos besemstokke met vel daaroor getrek.
Een agtermiddag het die saalsuster haar uit die kamer beveel, en die groen gordyne om die bed toegetrek. Sy het buite in die gang gaan staan, haar voorkop teen die koel glas van die venster, en toegelaat dat haar oë oorloop: van intense mededoë, en van vermoeidheid.
’n Jong dokter het verbygekom en haar trane gesien: Is dit jou mammie wat siek is? het hy gevra. Elfrieda het woordeloos geknik. Toemaar, sê hy, toemaar, ons sal haar weer gesond maak.
Elfrieda was self verbaas oor hoe bars haar stem was: Nee, julle sal nie. Sy het kanker, en julle kan daar niks aan doen nie!
Terug by haar ma se bed haal sy haar sakboekie uit, en skryf die klein episode in detail neer, ’n drama in die kleine: haar onverwagte trane, haar kwaai respons, die dokter se skrik en verleentheid. En staan verbaas oor haar afsydigheid.
Elfrieda – verbeel sy haar, of is die vokale minder gebiedend – Elfrieda, skryf jy nog steeds? Haar ma se blou oë is leeg, en melkerig-grys. En ná ’n klein stilte: Dis goed so, kind…
Sy het sonder antwoord die boekie weggebêre en stom haar ma se hand vasgehou.
En nou is alles verby en die susters het gekom om haar ma se goed deur te gaan en weg te maak “om Kobus se onthalwe”. Terwyl haar pa, nikssiende en niksseggende, verdwyn in ’n grys wolk van verdriet. Elfrieda sien haar ma nog in die grys crêperok met die drapeersel op die heup, die grys suèdehofskoene met die verleidelike peep toes. En om haar skouers, die jakkalsbont. Op die laaste oomblik keer haar ma die botteltjie Mitsouko van Guerlain om, trek die glasprop uit en druk dit teen haar polse, in die waai van haar arms, haar eie, persoonlike geur. Signature perfume, het Elfrieda eenmaal in ’n Vogue gelees, en die frase bly haar by. Signature perfume.
Asof jou naam, jou persoonlikheid, in jou geur omskryf word.
Haar tantes het ook mooi voete en bene, dink Elfrieda, en hulle sal die klere en die suèdeskoene, o, die suèdeskoene, waarskynlik met swier dra. Met swier, miskien, maar sonder haar ma se elegansie, want dié besit hulle nie.
Maar met hoeveel elegansie haar ma ook al die jakkalsbont om haar skouers gedra het, het Elfrieda nooit vatplek aan die ding kon kry nie. Sy het gegril vir die silwergrys pels, die blinkswart kraaloë en die lang, benerige snoet wat kon oop- en toemaak om die fyn hekelwerk waarmee die stert aan die lyf geheg was stewig vas te klamp. Sodat die fox fur netjies op sy plek om die skouers kon bly.
Daar styg skielik ’n soort paniek in haar borskas op. Die tantes gaan alles wegdra, om sélf te dra – die mosterd linnepakkie met die parmantige hoed, die bruin georgette, op die skuinste gesny, en die lang, blombont tea gown wat haar ma soms smiddae aangetrek het om haar pa te verras – hulle gaan alles wegdra. En wat van die matched luggage waarvoor haar ma so lief was? Die tasse van nagemaakte slangvel met die satynvoering. Hulle gaan dit ook seker saamneem, om die buit in te pak. En die hoededoos…
Onder in die hoededoos, weet Elfrieda, netjies opgekrul, lê die fox fur.
Die huis is stil. Die begrafnisgangers met hulle baie woorde en drukkies en soene is lankal by die deur uit, die skottelgoed is gewas, die stoele weer reggestoot. Die tantes het vir alles gesorg, want “die arme Kobus is stukkend en Elfriedatjie maar bra onhandig”. En tot tant Mariet se vreugde het die wit viooltjies gehou. Nou slaap die susters die slaap van die regverdiges, en vir haar pa het die dokter ’n slaappil voorgeskryf.
Elfrieda staan op, gaan soetjies na haar ouers se kamer toe, luister vir ’n oomblik na haar pa se diep asemhaling, die effense snorkie, maak die kasdeur oop. Heel bo is die hoededoos. Sy haal dit af, knip dit oop, haal eers die hoede en dan die fox fur uit, sit die hoede terug en sit die doos terug in die kas. Maak die deur toe.
Pels in die hand gaan sy terug kamer toe en voel hoe haar keel dik word van die trane, haar skouers ruk. Uit die fox fur, onmiskenbaar, die geur van Mitsouko.
Die trourok
Die predikant se vrou sit plat op die grond, die krat langs haar feitlik klaar uitgepak, die inhoud in hopies gesorteer. Dis die gewone onbruikbare gemors, dink sy mismoedig, beteuel dan onmiddellik haar ongeduld, en stuur ’n skietgebedjie van verskoning na bo. Dis nie mooi om ondankbaar te wees nie. Maar sy kla terselfdertyd by die Here omdat die werk wat haar man (en sy, ja, sy ook) hier op die sendingstasie doen, so gering geag word. En dit deur dieselfde mense wat juis veronderstel is om hulle van onderhoud te voorsien om die Here se werk hier te doen.
Selma is ’n predikant se vrou, was ’n predikant se dogter, is grootgemaak in die tradisies van die geloof. Daarom hou sy haar stiltetye wanneer