Hartklop Omnibus 4. Malene Breytenbach
Ek hou nie van so baie aandag nie.”
“Ek ook nie. Mense kan baie opdringerig wees. Maria beweer sy haat dit om so oorval te word, maar eintlik geniet sy dit om beroemd te wees. Sy het arm grootgeword en nou maak sy sulke goeie geld dat sy koninklik lewe.”
Hulle is nog heerlik aan die kuier toe Giulio se selfoon lui. Hy antwoord fronsend.
“Ons eet hier by ’n klein trattoria. Nee, ek het nog nie vir Rafaella die helfte gewys van wat sy moet sien nie. Julle moes liewer nie gekom het nie. Ja, ek kan haar weer anderdag bring, maar julle bederf nou ons dag. Wel, julle sal eers moet wag totdat ons hier klaar is.”
Hy lyk vies toe hy aflui. “Nes ek voorspel het. Die twee operasterre wil huis toe gaan. Nou moet ons ook gaan, maar ek belowe jou ek bring jou weer. As dit net ons twee is, sal dit veel makliker gaan. Ek het nog nie eens vir jou die Etruskiese goed gewys nie.”
Teleurstelling spoel deur Rafaella, maar sy steek dit weg. Die twee bedorwe, veeleisende sterre knip regtig nou een van die beste dae van haar lewe kort.
“Toemaar, moenie sleg voel nie,” sê sy. “Ons moet hulle maar huis toe neem. Hulle dag is ook bederf.”
Giulio sit sy hand oor hare. “Jy is onselfsugtig. Die teenoorgestelde van iemand soos Maria.”
En Violetta? wonder sy. Hoe sou sy werklik wees? Geduldig? Veeleisend? Selfsugtig? Of inskiklik? In al hul gesprekke het Giulio nog nie weer na die contessa óf Violetta verwys nie.
Rafaella drink die laaste van die wyn wat Giulio vir haar geskink het en vee haar hande vir oulaas met die servet af. Hy drink rustig klaar en betaal die groot vrou, vat Rafaella se hand en loop met haar uit.
“Ons hoef ons nie te haas nie. Hulle kan nog ’n rukkie wag. Ek loop ook nie die kortste roete na hulle toe nie.”
Sonder om veel te praat loop hulle in ’n kokon van intimiteit. Rafaella verlustig haar in elke oomblik, want binnekort is die samesyn verby. Sy wil dit uitrek. Hy is besig om dit uit te rek! Is hy net so spyt soos sy dat dit besig is om ten einde te loop?
Môre is nog ’n dag. Anderdag neem hy haar weer uit, troos sy haarself. Dit gaan net so lekker wees soos dit tot dusver vandag was.
Teen die tyd dat hulle by die restaurant kom, maal daar fotograwe en mense buite rond. Binne sit Luigi en Maria omring deur bewonderaars. Maria gedra haar soos ’n ware diva – die middelpunt van die aandag. Luigi lyk egter ongeduldig.
“Julle het lekker jul tyd gevat, nè?” merk hy suur op en kyk pertinent na hul ineengestrengelde hande.
Giulio trek sy mondhoeke af. “Julle wou mos saamkom. Nou bederf julle Rafaella se dag.”
“Nee, dis niks,” protesteer sy, net om ordentlik te wees.
“Ek sal opmaak daarvoor,” sê Giulio. “Toe kom, dat ons teruggaan huis toe.”
Maria volg laaste, want ’n middeljarige man in ’n blink pak, met ’n boepmaag en goue juwele, skynbaar die eienaar van die restaurant, wil vir oulaas nog haar hand soen. Hy is skoon kruiperig, vergesel haar tot by die motor en maak gedienstig vir haar die deur oop. Sy klim soos ’n vorstin in en sug liggies, asof sy te kenne wil gee dat sy dié bewondering slegs verduur.
Op pad uit die dorp, by die heuwel af, vertel Maria en Luigi met groot drama en handgebare hoe hulle lastig geval is. Giulio sê niks, konsentreer net op die pad. Rafaella kyk terug na die hoë mure van die heuweldorp en onderdruk ’n sug oor sy dit so gou moes verlaat. Was dit nie vir Luigi-hulle nie, sou hulle nog ure daar kon deurgebring het.
“Ons word agtervolg,” sê Giulio meteens, en begin baie vinniger ry.
Die ander kyk om. Daar is ’n motorfiets met twee mans en die passasier het ’n kamera in sy hande.
“Moenie dat hulle ons inhaal nie, asseblief,” smeek Maria, en klou aan Luigi se arm asof gevaar dreig.
Hy lyk geïrriteerd. “Peste! Mens kom mos nie van die paparazzi weg nie.”
Giulio ry so vinnig dat Rafaella aan die sitplek vashou, al wil sy nie wys hoe senuagtig sy voel nie. Hulle ry ver en vinnig, maar die paparazzi bly op hul hakke. Dit is ’n groot verligting om uiteindelik by die hekke van La Renza te kom. Giulio maak dit met afstandbeheer oop en jaag deur. Die hekke sluit agter die motor en los die twee mans op die motorfiets buite.
“Nou gaan hulle ons heeltyd op ’n afstand met ’n langlenskamera bespied,” kla Luigi.
Giulio skud sy kop. “Nee wat, ek twyfel of hulle oornag hier buite sal kamp op ’n koue herfsaand.”
“Hulle moet maar kamp as hulle wil kamp,” sê Maria smalend. “Ek het vrede met hulle solank hulle nie te naby aan my kom nie.”
12
Die Sondag is veronderstel om ’n luilekker dag te wees. Almal slaap laat. Rafaella en haar ouers gaan eet saam ontbyt, maar die ander mense is nog nie daar nie. Sy stap na die nuwe gebou om die tyd om te kry. Daar is nie bouers op die rusdag nie en sy gaan binne.
Iemand kom by ’n binnedeur uit en sy skrik. Dit is Giulio. Haar hart gaan wild aan die bons.
“Hallo, wat doen jy hier?” vra hy glimlaggend.
“Ag, ek verwyl die tyd. Kom kyk hoe ver die mense gevorder het sedert ek laas hier kom kyk het.”
“Kom kyk na die nuwe suites, ek hou hulle nou gesluit. Alles is uiteindelik daar klaar. Die mense werk nog net aan die kombuis en die binnenshuise swembad.”
Sy volg hom en hy wys haar die een weelderige kamer met en suite-badkamer ná die ander. Sy vermoed verblyf hier gaan allesbehalwe ’n appel en ’n ei kos.
“Wat dink jy daarvan?” vra hy.
“Baie mooi en uiters gerieflik. Gaste sal alte heerlik hier bly.” Haar stem kom heserig uit, want hy staan so naby aan haar dat dit voel asof haar vel elektries reageer.
Hy gaan staan direk voor haar. Sy kyk op in sy oë, haar hele lyf gespanne, wagtend.
Sy een hand vou warm om haar wang. Sy gesig kom nader. Haar mond gaan onwillekeurig effens oop. “Ek is so bly jy het hierheen gekom, dat jy dit ook kon sien. Gister was so lekker saam met jou. Ek het lanklaas ’n uitstappie met iemand so geniet. Jy is in alle opsigte …”
Die skril gefluit van sy selfoon laat haar wip van die skrik en hy trek terug, sug en haal sy selfoon uit sy sak. Die toweroomblik is gebreek, dink sy spytig. Hy wou iets oor haar sê. Wat was dit?
“Ja, Violetta? Jy bel vroeg op ’n Sondag. Hoe gaan dit daar?” Sy stem is lig, tergend.
Rafaella draai weg, wil nie hê hy moet sien sy sterf van nuuskierigheid om te hoor wat Violetta vir hom sê nie.
“Ek is besig om die nuwe gebou te bekyk … ek en Rafaella.”
Rafaella hoor die opgewonde gepiep van die vrouestem, maar kan nie uitmaak wat sy sê nie. Sy beweeg verder weg en wag, probeer onbetrokke lyk.
“Liewe hemel, Violetta, sy is ons gas en ’n dokter. Waarom moet ek nie vir haar wys wat ons hier beoog nie? Kalmeer asseblief.” Sy stem word streng. “Ek laat nie vir my voorskryf nie. Jy gedra jou soos ’n jaloerse bakvissie.”
Weer hoor Rafaella die gepiep van die stem. Hy is darem baie streng met Violetta, hoe lekker kry sy nou!
“Moet om vadersnaam nie huil nie! Dis onnodig … jy kan enige tyd weer kom kuier … ciao, Violetta.”
Rafaella is verleë, ongemaklik. “Is iets verkeerd?”
Giulio sit sy selfoon terug in sy sak en sug. “Iets is seker verkeerd as Violetta so jaloers is as ek jou rondwys, dat sy begin grens. Sy wil my met trane manipuleer, maar sy gaan dit nie regkry nie. Vanessa het ook so probeer maak, tot haar skade.”
“Jy is hardvogtig. Hulle is … was … tog lief vir jou.”
Sy staan met