Ys. Rudie van Rensburg
haar. Sy oë is rooi en die pofferigheid van sy gesig is vanaand meer opvallend onder die skerp daklig. ’n Netwerk aartjies loop kruis en dwars oor sy wange.
“Ek wil meer geld hê. Dis ’n bleddie joke wat jy elke maand vir my inbetaal!”
Sy moes dit geweet het.
“Ons het mos al hieroor gepraat,” sê sy sussend. “Ek dra die verantwoordelikheid om die huis en die twee karre af te betaal, die krag en water en kruideniersware … en om jou ’n toelae te gee. Ek kan nie meer …”
“Bullshit, Shaheena!” Hy druk met sy handpalms op die tafelblad en leun vorentoe. “Jy kry nou ’n moerse groot salary. Ek het jou pay slip in die study gesien.”
“Ek moet geld wegsit vir onvoorsiene gebeure ook.”
“Onvoorsiene fokken gebeure!” Hy spring op. “Moenie kak in my kop probeer praat nie! Ek’s nie een van jou onderdane by die werk nie. Vandat jy daai job gekry het, verbeel jy jou hopeloos te veel.”
“Daai job hou ons aan die lewe.”
“Gmf, jy’s fokol meer as ’n kwotaspeler. Jy sou nie daai job gekry het as jy ’n wit vel gehad het nie. Hulle gaan binnekort agterkom jy’s nie so bright as wat hulle scheme nie. En dan?”
Sy neerhalende verwysing na haar bekwaamheid laat haar kop verloor. Sy verhef haar stem. “Fok jou, Elton! Jou vel is ook bruin, dan kan jy mos maklik ook weer ’n goeie job kry. Eerder as om my hardverdiende geld weg te dobbel en uit te suip!”
Hy skop sy stoel onderstebo, draai na die skottelgoedkas en pluk die boonste laai oop. Sy kneukels span wit om die kombuismes; die lang lem blink in die lig. Hy tik-tik met die mespunt op die tafelblad.
Haar hart klop in haar keel. “Wat nou, Elton? Gaan jy my doodmaak? Waar gaan jy dán geld kry?”
Hy slinger die mes teen die yskas vas. Dit val kletterend op die teëlvloer. Sy regterhand bal in ’n vuis. Dan storm hy vorentoe.
Die hou tref haar teen die wangbeen. Die geweld daarvan laat die stoel omkantel en sy slaan op haar sy op die vloer neer. Sy probeer hard om nie emosie te wys nie, maar iets in haar knak. Haar rou snikke weerklink deur die vertrek.
Ná ’n rukkie buk hy oor haar en begin haar losmaak.
“Sorry, sorry, Shaheena,” prewel hy, sy drankasem warm in haar gesig. “Ek’t nie bedoel om jou só hard te slaan nie.”
* * *
Willie loop heen en weer in sy hotelkamer in die Kaapse middestad. Pootuit van die reis van amper twintig uur is hy gisteraand reguit bed toe, maar vanoggend het hy darem al vordering gemaak. Hy weet nou waar die man vir die omgewingskonferensie sal tuisgaan en dat hy oor nege dae inboek.
Nie die bleddie wêreld se tyd nie, dink Willie.
Hy trek die gordyne oop en staar na die bedrywighede onder in die straat. Groentemarkplein het nie veel verander van toe hy nog in die stad gebly het nie. Dalk nou net meer Afrikastalletjies as twaalf jaar gelede. Dis maskers, beelde, veelkleurige kunswerke en krale oral waar jy kyk.
Dit voel soos ’n leeftyd gelede dat hy as kolonel Willie Nel van die destydse Skerpioene die Kaap sy huis genoem het. Hy glimlag wrang. Die nuwe Suid-Afrika het sy loopbaan laat ontspoor, en hom indirek as gevolg daarvan weer hier kom uitspoeg. Dié keer vir ’n operasie aan die verkeerde kant van die gereg.
Hy wonder dikwels hoe sy lewe sou verloop het as hy en Viking nie destyds gekrap het waar hulle nie moes nie. Toe was dit maar net te maklik om ontslae te raak van ’n wit offisier wat in ’n interne verhoor skuldig bevind is op aanklag dat hy alle amptelike prosedures gruwelik verontagsaam het. Daar was groot druk op die Skerpioene om die kleursamestelling van hul topstruktuur verteenwoordigend te maak van die land se bevolking, en Willie se “misstap” was ’n welkome bonus vir hul herstruktureringsplanne.
Hy het Viking destyds beskerm en aangevoer dat hy bloot opdragte uitgevoer het en nie aanspreeklik was nie. Dit was nie nodig dat albei van hulle onder die valbyl beland nie, het Willie geredeneer. Viking was hom ewig dankbaar vir dié daad van lojaliteit, maar sy loopbaan is in elk geval twee jaar later kortgeknip toe die Skerpioene deur die Valke vervang is. Viking is gedwing om ’n pakket te vat – op agt-en-dertig ’n doodsvonnis vir die arbeidsvooruitsigte van ’n wit man.
Hy het sy pakketgeld in ’n hoekkafeetjie in Parow belê, maar dit het kennelik misluk. ’n Maand gelede het Willie ’n e-pos van hom gekry met die nuus dat hy sy sukkelende onderneming teen ’n helse verlies verkoop het. Hy wou weet of Willie nie vir hom ’n job in Amerika het nie.
Viking het egter nie die regte profiel vir een van sy bystandspanne nie. Willie kies sy manne met die hand uit om onder die radarskerm van die gereg hul wandade te pleeg – vaal, weerlose Amerikaners wat afgepers en gemanipuleer kan word. Danksy MacArthur en van sy ander kollegas in Washington word hulle mildelik vergoed vir die spesiale opdragte wat hulle via Willie ontvang. Gewoonlik moet hy die regte mense werf om skandes uit te snuffel van MacArthur en sy meelopers se politieke teenstanders. Dis maar eers in die laaste drie jaar dat moord ook op die agenda gekom het. Dit het nuwe uitdagings gestel, en Willie moes begin soek na gewetenlose misdadigers wat teen ’n stewige fooi iemand anders se lewe sal neem.
Viking pas nie in een van die twee groepe nie, en nie omdat hy sou terugdeins vir enige taak nie. Trouens, destyds by die Skerpioene was Viking meestal ’n ongeleide missiel. Willie het sy hande vol gehad om te keer dat hy nie voor die voet martel en doodmaak nie.
Maar Viking se sterk persoonlikheid pas nie by die korps swakkelinge wat soos aasvoëls op die volgende aalmoes wag nie. En anders as hulle wou hy Viking nie blootstel aan die risiko van terminasie in die geval van ’n misstap nie. MacArthur glo nie daaraan om spore agter te laat nie.
Nou het Willie geen keuse nie – hy sal Viking móét betrek. Dis al siel in Suid-Afrika wat hy kan vertrou.
Die geluid van ’n boodskap wat deurkom op sy skootrekenaar lei sy gedagtes af. Hy stap haastig na die sitkamer en kyk op die skerm. MacArthur het die geld vir die job inbetaal. Dis baie in Suid-Afrikaanse terme, maar kleingeld vir ’n dollar-multimiljoenêr.
Willie raap die selfoon op wat hy gister op die lughawe gekoop het en bel Viking se nommer. Terwyl die foon lui, bestudeer hy homself in die groot muurspieël. Sy gesig is ingesonke, die donker kringe onder sy oë staan uit teen sy bleek vel. Sy nek lyk soos ’n ou man s’n, gekreukel en vol rimpels.
Dís die prys wat hy betaal vir al sy slapelose nagte en gewroeg oor moorde op onskuldige mense, dink hy wrang. Mense wie se enigste oortreding was dat hulle ’n ligte struikelblok op MacArthur se pad na politieke sukses was.
3
Van: Jack MacArthur
Aan: Dick Woods
Soos ek vlugtig in die teekamer genoem het: Daar heers ’n nuwe geo-politieke Koue Oorlog aan die Noordpool – een wat die VSA verloor. ’n Kommandant van die kuswag het onlangs aan my gesê ons is nie eens in dieselfde liga as Rusland nie. Die enigste manier om in alle dele van die Arktiese sirkel op die oppervlak van die see te beweeg, is met ysbrekers, onder meer om navorsing na behore te doen en ons vloot- en kommersiële skepe toegang tot die gebied te gee. Die VSA het net twee ysbrekers, want ons het nie ’n begroting wat toegewys is vir daardie doel nie (neem ook in ag dat dit jare duur om ’n ysbreker te bou). Rusland, daarenteen, het 27 ysbrekers! En China, wat nie eens ’n Arktiese nasie is nie, het twee. ’n Ja-stem vir die wysigings aan die energiewet sal beteken ons kan ’n afsonderlike ysbreker-begroting kry, wat hierdie agterstand sal laat krimp.
* * *
Kaptein Kassie Kasselman tuur by sy kantoorvenster uit oor Buitenkantstraat in die Kaapse middestad. Die grou lug en sagte winterreën lig nie sy gemoedstemming nie. Hy is gefrustreerd. Twee maande hier sonder dat hy ’n enkele saak hanteer het!
Snags lê hy wakker oor sy besluit om by die SAPD aan te bly. Ses maande gelede, toe hy sy bedanking by die Nuweland-polisiestasie ingedien het, was hy doodseker hy’s klaar met die Diens.