'n Gelukkige kind. Dr. Pieter van Jaarsveld
kon toewens, wat sou jy graag wou hê?
Jy noem dalk dinge soos gesondheid, goeie verhoudings, beroepsukses, vrede, en so meer. As jy dieper hieroor nadink, beteken dit nie eintlik maar dat jy gelukkig wil wees nie? Geluk beteken al hierdie dinge en nog soveel meer. Geluk is ook iets wat die Hemelvader ons toewens (Joh 10:10). Mense wêreldwyd hunker na geluk.
As jy boonop ’n gelukkige kind kan grootmaak, gee jy aan hom een van die grootste geskenke moontlik. Dit is egter baie belangrik dat jy self gelukkig moet wees, anders sal jy hierdie geskenk nie aan jou kind kan gee nie.
Waarom die vreeslike ophef oor geluk?
Dit is nie God se wil dat ons gelukkig sal wees nie,
maar dat ons onsself gelukkig sal maak.
Immanuel Kant
Jy het nou reeds gehoor jy self moet gelukkig wees as jy ’n gelukkige kind wil grootmaak. Die vraag is natuurlik nou: Wat hou geluk vir julle albei in?
Navorsing het bewys dat gelukkige mense verreweg onder meer gesonder is, minder hartsiektes opdoen, langer leef, beter verhoudings het, meer suksesvol is, minder geneig is tot depressie, suksesvoller is op skool en ’n positiewe invloed op ander mense uitoefen.2
Wanneer jy na hierdie lysie kyk, wens jy nie al hierdie dinge vir jou en jou kind toe nie? As jy ’n gelukkige en positiewe kind grootmaak, is dit presies wat jy aan hom as ’n lewensgeskenk gee.
Vier belangrike chemiese stowwe (hormone) wat geluk meebring
Wanneer kinders jonk is, bedraad hulle hulle brein baie makliker as volwassenes. Om die waarheid te sê, kinders vestig reeds in hulle eerste sewe jaar kern neurale netwerke in hulle brein wat hulle lewe lank daar sal bly. Ouers moet baie bewus wees hiervan.3
Jy as ouer kan hierdie neurale netwerke in jou kind se eerste sewe jaar help vestig met die hulp van vier chemiese stowwe (hormone) wat jou kind afskei, naamlik dopamien, oksitosien, serotonien en endorfien.
Ek beskryf hierna hoe hierdie hormone gestimuleer word. As jy as ouer dit op ’n gefokusde manier in jou kind se lewe doen, word neurale netwerke of “paaie” gevestig en vorm dit later “hoofweë” wat jou kind se lewe lank daar sal wees.
•Dopamien: Wanneer ’n kind voel hy het goed presteer, word hierdie hormoon afgeskei. Ouers moet daarom ’n gevoel van prestasie in ’n kind se lewe inbou. Dopamien word ook afgeskei wanneer ’n kind voel hy is suksesvol in sy sosiale lewe, wanneer hy beskrywende lof ontvang en selfverwesenliking ervaar. (Dit is interessant dat rekenaarspeletjies ook kan help met die afskeiding van dopamien.)
•Oksitosien: Vertroue, kameraadskap, aanraking, drukkies en goeie dade stimuleer die afskeiding van oksitosien.
•Serotonien: Respek, empatie, ’n gevoel van belangrikheid, ’n glimlag, selfrespek, trots en selfvertroue laat ’n kind serotonien afskei.
•Endorfien: Oefeninge of aktiwiteite waartydens ’n kind homself effens onder druk plaas en wat stimulerend is, baie lag en strekoefeninge stimuleer ook die afskeiding van endorfien.
Wat bepaal jou geluk?
As jy ’n gelukkige kind wil grootmaak, is die vraag natuurlik: Waar kom jóú geluk vandaan?
Van die heel beste navorsing oor die genetiese impak op geluk is deur David Lykken, Auke Tellegen en hulle kollegas aan die Universiteit van Minnesota in die VSA gedoen.4 Hulle het bevind dat 50% van ’n mens se geluk wel deur jou gene bepaal word. Die sonnige persoonlikheid aan jou ma se kant en/of die meer depressiewe neigings aan jou pa se kant, of albei, het ’n invloed op die genetiese samestelling van jou geluk. Jy kan jou man of vrou kies, maar ongelukkig nie die gene van hulle familie nie. Jou kind se geluk word daarom grotendeels deur sy ouers en grootouers se gene bepaal.
Navorsing wys dat ons ’n genetiese vastepunt (set point) vir geluk het wat die vlak van ons geluk aandui. Dit beteken as jy ’n nuwe motor koop, as jou kind graad kry of as jy in ’n ernstige ongeluk is, sal jou vlak van geluk ’n tyd lank styg of daal. Ná ’n tydperk sal dit egter weer na jou genetiese vastepunt terugkeer.5
Die feit dat daar so ’n vastepunt bestaan, beteken egter nie jou vlak van geluk kan nie verander nie. Het jy hierdie goeie nuus gehoor en verstaan jy dit? Jy kan bo jou genetiese vastepunt uitstyg!
Die figuur hieronder wys vir jou dat 50% van jou geluk deur jou gene bepaal word en 10% deur omstandighede soos die dood van ’n geliefde, jou man wat sy werk verloor, ’n kind se mislukte huwelik, ’n traumatiese ervaring of ’n finansiële krisis. Die goeie nuus is dat 40% van jou geluk binne jou beheer is.
Jy kan daarom ook jou kind help om hierdie 40% van geluk te ontwikkel. En dit is presies waaroor hierdie boek gaan. Ons gaan gesels oor wat jy as ouer kan doen om jou kind se brein se bedrading deur tegnieke en vaardighede te verander en só sy vlak van geluk te laat styg.
Figuur 1: Faktore wat geluk bepaal
Ek hou van Ricardo se definisie van geluk: “By happiness I mean a deep sense of flourishing that arises from an exceptionally healthy mind. This is not a mere pleasurable feeling, a fleeting emotion, or a mood, but an optimal state of being.” 6 Geluk is baie meer as net ’n gemoedstoestand. Dit is ’n lewe van geluk wat ware lewensvreugde bring en jou in staat stel om selfs die moeilike dae te oorleef.
Dit laat my aan die bekende storie van die wolwe dink. ’n Ou man het met sy kleinseun gesit en gesels en toe vir hom dié storie vertel: “Binne-in ’n mens is daar ’n geveg tussen twee wolwe aan die gang. Die een se naam is Ongeluk en hy word verteenwoordig deur vrees, kommer, woede, jaloesie, selfbejammering en ’n minderwaardigheidsgevoel. Die ander een se naam is Geluk en hy word verteenwoordig deur vreugde, liefde, hoop, tevredenheid, goedhartigheid, empatie, eerlikheid en mededeelsaamheid.” Die seuntjie het ’n rukkie hieroor gedink en toe gevra: “Watter wolf wen die geveg?” Die ou man het geantwoord: “Die een wat jy kos gee.”
Dit is so waar. Ons het die vermoë om positief te wees, en wanneer ons positief is, sal ons die geluk smaak waarna ons so smag. Dit is hierdie voorreg wat jy ook vir jou kind kan gee.
Die gelukkige kind: Stap die pad met emosionele intelligensie en positiewe sielkunde
Emosionele intelligensie (EI) en positiewe sielkunde kan jou op ’n wonderlike manier help om ’n gelukkige kind groot te maak. Kom ons kyk kortliks na hierdie twee konsepte:
Emosionele intelligensie
EI is in 1990 deur Peter Salovey en Jack Mayer gedefinieer, al het Thorndike reeds in die 1920’s ’n soortgelyke konsep begin gebruik. In Daniel Goleman se boek Emotional intelligence: Why it can matter more than IQ, wat in 1995 verskyn het, gebruik hy die frase “die nuwe maatstaf vir sukses”. Dit het ’n ongelooflike hoeveelheid belangstelling gewek in die rol wat EI in ons daaglikse lewe kan speel. Daar word nou wêreldwyd aanvaar dat EI vir ons as mense op alle vlakke van die lewe noodsaaklik is.
Goleman definieer emosionele intelligensie as “the capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships”.7 Ek verkies egter Reuven Bar-On se definisie: “EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.”8
Kyk ’n mens na hierdie definisies, sal jy sien dat EI eintlik baie van die elemente insluit wat die Bybel “die vrug van die Gees” noem (Gal 5:22-23).
’n Kind met goeie EI-eienskappe in sy lewe:
•het die vermoë om die pa en ma se emosies te verstaan.
•is nuuskierig en wil nuwe dinge leer.
•hanteer verandering goed sonder om ’n kabaal op te skop.
•het ’n goeie selfbeeld en baie selfvertroue.
•beperk tantrums tot ’n minimum.
•aanvaar