Christine le Roux Keur 4. Christine le Roux
“Onsin,” lag Yvonne en Olivia moet gedwee help dra.
Maar waar haar verdraagsaamheid regtig getoets word, is toe Yvonne ’n boetiek ontdek met baie mooi ontspanningsklere. Sy pas aan en dwing Olivia om ook aan te pas.
“Dis baie mooi,” stem Olivia saam. “Maar dis nie ek nie, regtig.” Sy kyk na ’n pryskaartjie en word bleek. “Dis alles hopeloos te duur.”
Yvonne gee op, koop vir haar ’n klomp goed en kom triomfantelik by die koffieplek aan waar hulle vir Nicolas moet ontmoet. Sy deel presente uit asof sy Kersvader is en straal oor die kinders se blydskap.
Nicolas hou alles woordeloos dop en sê niks nie, behalwe om haar te bedank vir haar vrygewigheid.
“Maar dink jy ek kon iets met Olivia doen?” lag Yvonne vir hom. “Sy pas die mooiste goed aan, maar koop sy? Aikôna. Dis dan kastig te duur, sy het dan kwansuis nie geld nie.”
Nicolas kyk skerp na Olivia, maar sy hou haar besig met die kinders se speelgoed en keer dat hulle melkskommels nie omgestamp word nie. En sy is hoofsaaklik baie bly toe hulle terugry en sy by die huis kan kom. Sy pak die kruideniersware uit en is bly die kinders wil nie weer see toe gaan nie. ’n Wind het opgesteek en sy kan sien dis nou onplesierig buite.
Sy skrik toe Nicolas in die deur verskyn en met gevoude arms teen die kosyn leun.
“Het jy regtig nie geld om mooi goed te koop nie?” vra hy.
Sy kyk vinnig op en weer weg. Haar optimisme het effens verminder, sy voel vreemd moeg en tam. “Ek wou niks gekoop het nie.”
“Maar jy het normaalweg genoeg geld?” dring hy aan. “Betaal ek jou nie genoeg nie?”
“Natuurlik betaal jy my genoeg,” sê sy stram. “Maar dit is Desember, onthou. Daar is Kerspresente en …”
Hy haal sy beurs uit sy sak en kom nader. “Ek weet dit,” sê hy en haal ’n klomp note uit. “Ek moes daaraan gedink het. “Jy is so uitsonderlik …”
“Uitsonderlik wat?” vra sy vinnig.
“So ’n uitsonderlike goeie oppasser vir die kinders dat jy ’n bonus verdien. Hier,” sê hy en hou die note uit na haar toe. “Ek wil hê jy moet vir jou iets moois koop.”
Sy kyk na hom met onstuimige oë. “Sit die geld weg. Ek het genoeg, dankie. Nie almal kan …” Sy bly ontsteld stil.
“Nie almal kan wát nie?” vra hy sag.
“Kan alles koop nie,” sê sy en klap die kassie toe. “Verskoon my, as die badkamer nou vry is, sal ek graag my hare wil was. Of is Yvonne weer daar besig?“
“Olivia,” sê hy en hou sy hand uit na haar toe. “Ek weet … dit was nie my idee dat sy …”
“Ekskuus,” sê sy beleef en skuur verby hom. “Is dit reg as ons vanaand sommer sop eet?”
“Natuurlik,” sê hy meganies, sit die geld terug in sy beurs en druk dit in sy sak.
Sy staan onder die stort en huil, besluit sy is kinderagtig en kom later kalm te voorskyn, haar donker hare soos ’n sygordyn oor haar skouers. Nicolas en Yvonne sit op die stoep met glase wyn en nooi haar om by hulle te kom sit, maar sy verskoon haarself en kry aandete gereed. Die kinders se opgewondenheid met hulle presente het nog nie afgeneem nie, maar het ook nie bereik wat Yvonne in gedagte gehad het nie. Hulle het vriendelik genoeg dankie gesê en haar selfs gesoen, maar hulle bly nietemin ver weg van haar.
“Livja,” sê Nicky vir haar toe sy hulle later in die bed sit. “Saam met Livja swem.”
Sy soen hom en staan opsy sodat Nicolas vir hulle kan nagsê. Toe hulle saam uitstap, kyk hy haar indringend aan.
“Wil jy nie ’n ent gaan stap nie?” vra hy.
“Dis baie stormagtig.”
“Dis net die wind,” sê hy.
“Wat van Yvonne?”
“Sy sê sy wil vroeg gaan slaap.”
Sy haal haar skouers op, kry die dik kakiebaadjie wat sy saamgebring het vir sulke dae en stap saam met hom by die stoeptrap af. Die wind is snerpend koud en sy slaan die kappie op. Dit dien ’n dubbele doel: haar ore en kop bly warm, maar dit beperk ook haar visie, sy kan Nicolas nie sien nie.
“Dit werk nie,” merk hy op toe hulle langs die see stap. “Ons en Yvonne.”
“Nee,” stem sy saam. “Wil jy hê ek moet vroeër plaas toe gaan? My pa sal net te bly wees.”
“Nee! Dis nie wat ek sê nie. Ek wil hê jy moet begryp ek het haar nie genooi nie, sy het self besluit om te kom.”
“Haai, Nicolas,” sê sy en hou haar stem lig. “Jou privaat lewe het regtig niks met my te doen nie. Jy kan nooi wie jy wil.”
“Maar ek het haar nie genooi nie!”
Sy haal haar skouers op. “Ek het te … lief geword vir die kinders. Ek dink dis ’n seker teken dat ek nie ’n professionele oppasser is nie. Ek moes ’n sekere afstand behou het juis omdat …” Sy bly moedeloos staan.
Hy gaan staan. “Juis omdat wat?”
Sy moet ook bly staan en omdat die wind so geweldig waai, moet sy haar gesig na hom toe draai. “Omdat dit ’n tydelike reëling is. Ek het van die begin af gesê dit is sleg vir die kinders, die gedurige omwenteling. Dis die enigste rede waarom ek …” Sy druk haar hande in haar sakke en kyk uit oor die donker see.
“Ja?” moedig hy aan. “Sê vir my.”
“Waarom ek nog hier is.” Haar stem word sterker. “Daardie middag toe jy en … toe jy en jou vriend gaan tennis speel het, het Yvonne teruggekom om met my te praat.” Sy kyk vinnig op na hom toe, maar kan nie sy gesig duidelik sien nie. “Soos jy seker afgelei het uit die gesprek wat jy vanmiddag so lekker afgeluister het.”
“Wat het sy vir jou gesê?” vra hy kwaad.
“Niks belangriks nie. Sy het dit net duidelik gemaak wat wie se gebied is.”
“Wat bedoel jy daarmee?”
“Grootmense speel grootmensspeletjies,” sê sy kripties. “Ons kinders moet ons daaruit hou.”
“Wat is dit veronderstel om te beteken?”
Sy gooi haar kop terug sodat haar kappie afval en die wind haar hare wild oor haar gesig ruk. “O, ek is seker sy gaan dit nog vir jou vertel. Jy sien, ek is nog ’n maagd. Sy vind dit absoluut heerlik. Lagwekkend. Dit was vir haar so snaaks dat sy nie kon ophou lag nie. Ek het nog altyd gedink dis verdomp prysenswaardig in hierdie gevaarlike tye waarin ons leef, maar dit het haar saak versterk. Soos sy gesê het: grootmense het ander drange wat uitgeleef moet word en ons kinders moenie inmeng nie.”
“Olivia,” sê hy gesmoord. “Wat …?” Hy steek sy hande uit om haar skouers vas te vat, maar sy staan vinnig weg.
“Ek wou loop,” sê sy ferm, al voel sy hoe haar oë swem in ongevraagde trane. “Maar ek het besef dit sal verskriklik wees vir die kinders. Ek wil hê jy moet dit weet. Ek is aangestel as hulle oppasser en ek sal bly tot iemand beters op die toneel verskyn. Ek sal hulle nie los om deur jou –”
“Olivia!” val hy haar in die rede, sy stem rou. “Luister na my! Ek het haar nie –”
Sy begin wegdraai. “Ek kán hulle nie los nie!” val sy hom ru in die rede. “Jou minnares sal hulle verdrink!” Toe draai sy om en begin terughardloop in die rigting van die huis.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком,