Elsa Winckler Eerste Keur. Elsa Winckler

Elsa Winckler Eerste Keur - Elsa Winckler


Скачать книгу
jy nou meer?” fluister Koen. Reynecke staan verstom. So iets het hy nog nooit gesien nie.

      Cilla lei die perd uit die ring en verdwyn met hom in die stalle. Oomblikke later kom sy glimlaggend daar uit.

      Reynecke druk sy hande vervaard in sy broeksakke. Die effense glimlag versag haar gesig. Haar oë blink nog helderder as netnou. Sy is eenvoudig beeldskoon. Én sexy. Ongelooflik sexy.

      Hy besef hy moet iets sê, maar hy sukkel om enige logiese sin aanmekaar te sit.

      “En toe,” vra Koen haar, “wat sê hy vir jou?”

      Reynecke pluk sy hande uit die sakke en vou sy arms voor hom. Hy is soos ’n tienerseun wat die eerste keer ’n regtig mooi meisie sien. Hy beter homself vinnig regruk. Hy het genoeg moeilikheid; hy het nie nog ’n vreemde vroumens ook in sy lewe nodig nie.

      Cilla maak haar mond oop, maar bedink haar betyds, sê dan: “Hoe lank het julle al perde hier?”

      “Seker nou so twee jaar. Hoekom?” vra Koen.

      “O, nee, die stalle lyk of dit al lankal hier is, ek het gewonder …”

      “Daar was lank nie perde op die plaas nie. Ek het twee jaar gelede die stalle opgeknap en weer begin perde aankoop. Kla Bravo dan oor die geriewe?” vra Reynecke sarkasties.

      Cilla kyk koel na hom, haar glimlag nou weg. Sy voel in twee geskeur. Sy weet die perd het haar nodig, maar sy kan nie haar werk doen as die eienaar hierdie houding het nie. En dan is hy boonop ongeskik ook.

      “Ek kan help, maar jy vertrou my nie. Jou aggressie help nie jou menseverhoudinge nie, en beslis ook nie jou verhouding met Bravo nie. Wanneer jy bereid is om ander moontlikhede te ondersoek en besef dat wat ek doen die natuurlikste, mees instinktiewe ding op aarde is, kan jy my laat weet.” Sy draai na Koen en trek haar skouers op. “Ek kan nie só werk nie. Ek hoop julle kom reg. Totsiens.”

      Cilla ignoreer Reynecke en stap vinnig na haar motor toe. Toe sy om die hoek van die skuur verdwyn, hoor sy hoe die twee mans verder argumenteer. As die man haar net ’n kans wil gee … Sy skud haar kop treurig. Nee wat. Dié een is nie net skepties oor haar vermoë om met diere te kommunikeer nie, hy’s nog onbeskof ook, en ’n chauvinis.

      Sy het haar motor voor die groot plaashuis met die breë stoep parkeer. ’n Werker is doenig in die voortuin. Dit lyk asof hy bolle plant. Cilla sou nie gedink het die stroewe man wat sy pas ontmoet het, sal iets onnodigs wil plant nie, iets wat ekstra moeite sal verg.

      Sy klim in haar motor en kyk nog een keer stalle se kant toe. Tog vreemd dat die vent vir haar so vreeslik bekend lyk, want sy is taamlik seker hul paaie het nog nooit gekruis nie. Sy sou definitief ’n man met sulke breë skouers en daai hare onthou het.

      Tog jammer dat hy nie ’n klein kopskuif kan maak en ten minste probeer om ander moontlikhede te ondersoek wat hom kan help met sy perd nie. Dis sy verlies, maar dis die perd vir wie sy jammer voel. Sy weet sy kan Bravo help, maar sy het lankal geleer dat die probleem selde by die perd lê. Dié eienaar is natuurlik vol draadwerk en vooroordele, en dis duidelik dat sý opinie al een is wat tel.

      Sy het gelukkig lankal besef dat sy nie mense kan oortuig om te glo in wat sy doen nie. En sy hoef dit ook nie meer te doen nie.

      Die wonderlikste tyd in haar lewe was die kort rukkie wat sy naweke op ’n perdeplaas in Amerika gewerk het. Sy het vir ’n jaar daar gaan skoolhou en het die geleentheid aangegryp om naweke haar passie vir diere, en veral perde, uit te leef. Niemand daar het dit vreemd gevind dat sy weet wat diere dink nie. Almal kon op die een of ander manier met die perde kommunikeer. Die beginsel waarop die afrigting daar berus het, is respek en liefde vir die perd. Dit was vir haar heeltemal logies; haar pa pas nog al die jare dieselfde idees toe met die perde in sy stoetery.

      Vandat sy onthou, kan sy met diere kommunikeer. Sy het gedink almal doen dit. Haar ouers het haar nooit laat verstaan dat wat sy doen, vreemd is nie. Eers toe sy skool toe gaan, het sy agtergekom die ander kinders kyk haar vreemd aan as sy praat oor wat sy van diere weet. Sy het vinnig geleer om haar gedagtes vir haarself te hou.

      Haar selfoon lui. Sy glimlag toe sy sien dis Imke. Dié witkop dogtertjie het haar van die eerste skooldag af onder haar vlerk geneem en niemand het dit ooit gewaag om Cilla te terg as Imke in die rondte was nie. Hulle is saam universiteit toe en was al twee vir ’n jaar oorsee, Cilla in Amerika en Imke in die Ooste, voordat hulle poste aanvaar het by hul ou hoërskool op Caledon. Imke gee wiskunde en Cilla Afrikaans.

      “En toe? Wat sê die perd?” terg Imke goedig.

      “Die perd is alleen, hy is verveeld, maar sy baas is …”

      “Oulik? Aantreklik? Sexy?”

      Cilla lag. “Ja, al drie, maar hy’t oogklappe aan. Hy dink ek toor die diere. Hy moet dan maar ’n ander plan maak.”

      “Wel, dis sy verlies. Is jy op pad plaas toe?”

      “Ja, kan jy vanmiddag help?”

      “Natuurlik. Ek het al vroeg vanoggend met jou ma gepraat, ek gaan sommer oorslaap. Kry jou daar. Ek gaan reguit stalle toe.”

      Cilla draai links op die N2, Caledon toe. Gelukkig het sy nie vanoggend nodig gehad om te ver te ry nie – Reynecke se plaas is net ’n entjie duskant Villiersdorp en dié tyd van die dag is die pad taamlik stil. Sy sal betyds wees vir die kinders vanmiddag.

      Sy ry deur die stoppel-koringlande. Dis die einde van Maart en een van die dae, voor die eerste winterreën, sal die boere saai. Sy ry oor ’n bult en kan vir ’n oomblik ver kyk oor die rûens van die Overberg. Sy kyk oor haar skouer na waar Babylonstoring, ’n bekende bergspits, hoog bo die landerye uittroon. Ai, dit bly vir haar die mooiste stukkie aarde op die planeet. Sy trap die petrolpedaal dieper in; sy wil by die huis kom.

      Haar hart word ligter terwyl sy dink aan wat sy, haar pa en haar ma die afgelope ses maande reggekry het. Hulle het daarin geslaag om ses perde uit haglike omstandighede te red. Baie tyd en geld later kan ’n mens amper nie glo die blinklyf, spelerige diere is dieselfde verwese perde wat by hulle aangekom het nie.

      En toe kon sy haar droom bewaarheid. In samewerking met maatskaplike werkers van die stad en advertensies vir borge op ’n sosiale netwerk kon hulle met ’n program begin waar hulle getraumatiseerde kinders en die perde bymekaarbring. Die laaste paar weke het hulle ook met ’n outistiese seuntjie begin werk. Die feit dat Cilla se ma ’n praktiserende sielkundige is, het die hele proses baie makliker gemaak.

      Die heling wat Cilla oor die afgelope paar weke kon aanskou, bring elke keer ’n knop in haar keel wanneer sy daaraan dink. Elke huiwerige glimlag op ’n weerlose kindergesiggie laat haar opnuut besef dat al die geld en tyd oor en oor die moeite werd was.

      Dan skuif diep blou oë skielik voor haar in. Hét sy die man al iewers gesien? Sy moet tog haar ma vra. Dalk het hulle twee mekaar as kinders geken. Dis net so asof sy … Sy skud haar kop en kry lag vir haarself. Nee, sy’t nog nooit haar hande deur daardie krulle gesteek nie, dit sou sy darem onthou het. Of hoe?

      “Salig,” sug Cilla en lê behaaglik agteroor terwyl sy nog ’n slukkie wyn vat. Dis skemer en hulle is almal buite. Sy en Imke was heelmiddag besig met die kinders en die perde, en hulle kon self ook gaan perdry. Cilla se kop voel weer skoon ná die week en haar frustrerende oggend. Haar pa is doenig by die braaiplek en sy en haar ma en Imke sit ’n entjie verder weg in diep gemakstoele.

      “Nou toe, vertel nou eers vir ons van die oulike, aantreklike, sexy man wat jy vanoggend ontmoet het,” sê Imke.

      Cilla lag terwyl haar ma liggies verstik in haar slukkie wyn.

      “Watter man?” vra haar ma blitsig, en haar pa kom nader, braaivleisvurk half dreigend in die hand. “Watter man?” vra hy ook.

      Cilla kyk kamma kwaai na Imke. “Sien jy nou wat het jy gedoen? Ek sal nooit die einde hiervan hoor nie.”

      “Watter man?” vra haar pa weer en swaai die vurk in die lug rond.

      Cilla sug. “Daar was ’n wilde rondloperhond by die skool die anderdag …”


Скачать книгу