Ena Murray Keur 17. Ena Murray
dit vanuit ’n ekonomiese oogpunt ’n moeilike tyd is waarin ons leef. Ek is nog nie op pad na bankrotskap nie, maar ek glo aan …”
“Wanneer het u die transaksie beklink?”
“Vandag. Vanoggend, om die waarheid te sê.”
“Aan wie het u dit verkoop?”
“Aan die man by wie ek dit ’n jaar gelede gekoop het.” Hy verskaf die besonderhede, terwyl hy by homself dink: Genugtig! Dis om enige mens tot raserny te dryf! Wat soek die man nou juis?
Eindelik staan die speurder op. “Dankie, meneer Pohl. Jammer dat ek so baie van u tyd in beslag geneem het. Goeiedag.”
Daniël sit lank en staar na die deur wat agter die speurder toegegaan het. Dan sit hy meteens regop, sy gesig ’n oomblik vol verdwasing. Iets het hom soos ’n weerligstraal getref. Gisteraand … by die Malans. Dit was net voordat hy en Rina huis toe is dat hierdie misdaad onder bespreking was. Die vroue het daarvan gepraat en die gasvrou het opgemerk die polisie soek na ’n silwergrys Mercedes-Benz wat in die voorval betrokke was. Iemand het nog grappenderwys gevra: “Een soos Daniël s’n?”
Dan blaas hy sy asem stadig uit en sit weer terug. Verdomp! Hy weet mos dis nie hy wat by die saak betrokke is nie, al het hy met ’n motor gery wat dieselfde kleur en fabrikaat het as dié een waarna gesoek word. Hulle kan in elk geval maar sy motor gaan ondersoek. Hulle sal niks kry wat daarop dui dat hy in ’n botsing betrokke was nie. Hy glimlag grimmig. Hy kan sweer daardie speurdertjie is nou op pad na die motorhawe om sy ou motor van hoek tot kant te deursoek. Wel, laat hom maar soek. Hy sal niks kry nie.
Teen sluitingstyd stap die speurder weer Daniël Pohl Beperk binne. Die personeel is pas weg en Daniël maak ook gereed om huis toe te gaan. Hoe gouer hy en Rina hul gesprek agter die rug kry, hoe beter.
Hy frons openlik toe sersant Lukas in sy kantoordeur verskyn.
“Ek is jammer om weer te pla, meneer Pohl …”
“Ek is op pad uit, sersant. Ek verseker jou ek kan jou geen verdere inligting gee nie. Ek het jou alles vertel wat ek weet. Ek gaan nou huis toe.”
“Net een vragie, meneer. Waar en teen wat het jy die linkermodderskerm van die Mercedes gestamp? Waar kom daardie duik vandaan?”
“Die wát? Daar is geen duik …”
“Daar is, meneer Pohl. Nie groot nie, maar dis beslis daar en ’n redelike vars duik. Die eienaar van die motorhawe het dit aan my uitgewys.”
“Maar dis tog onmoontlik …”
“Daar is onteenseglik ’n duik, meneer Pohl. Waar het jy die Mercedes gestamp? Op Houtbrug?”
“Jy … Is jy mal, man? Genugtig, beskuldig jy my daarvan dat ék daardie kind doodgery het? Jy moet van jou sinne beroof wees!”
“Nee, meneer. Ek vra net dat u môreoggend nege-uur by die polisiekantoor aanmeld, asseblief.”
“Om wat te maak?”
“Om aan ’n uitkenningsparade deel te neem.”
“Waarom? Waarvoor moet ek …?”
“Die kind se ma het die man gesien, meneer Pohl. Hy het met haar gepraat. Sy sal hom kan uitken.”
“En ék moet ook in die ry wees?”
“Asseblief, ja.”
“Jy kan in jou …”
“Dit sal sake baie vergemaklik as u liewer u vrywillige samewerking gee, meneer Pohl. U maak dit vir uself ook makliker.”
“Luister, ou maat, daar is geen sake wat vir my makliker gemaak hoef te word nie. Ek het op die aarde net mooi niks met hierdie gemors uit te waai nie. Ek weet nie van ’n vrou en ’n kind …”
“In daardie geval het u mos niks te vrees nie, meneer Pohl.” Die twee mans se oë bots ’n oomblik. Dan draai die sersant om. “Tot môreoggend nege-uur, meneer Pohl. Goeiedag.”
2
Anders as wat hy beplan het, ry Daniël nie direk huis toe nadat die speurder vertrek het nie. Hy weet net hy kan nie nou huis toe gaan terwyl hy klaar ontsteld is nie. Sy enigste hoop op ’n versoening met sy vrou lê daarin dat hy kalm moet wees, ten volle in beheer van homself. Daarop kan hy nie nou aanspraak maak nie. Hy voel opnuut hoe die bloed na sy brein styg terwyl hy dink aan die kruisverhoor, soos hy dit sien, wat hy moes deurmaak. Sulke verregaande vermetelheid! Hy het hom bloedig vererg.
Maar daar is ook iets anders wat hom pla; iets wat hy kwalik wil erken: ’n ongemak, ’n gevoel van benoudheid wat natuurlik belaglik is. Soos die speurder so koel uitgewys het … hy het niks te vrees nie. Om aan ’n uitkenningsparade deel te neem is weliswaar nie iets om na uit te sien nie. En vir hom, ’n man van sy agtergrond en status, kan dit net vernederend wees. Maar liewer dít as om weer onder so ’n vernederende kruisvuur deur te loop. Rina mag natuurlik niks van vanmiddag weet nie. Nie dat hy vir een oomblik kan dink dat sy vrou – ten spyte van die feit dat hul verhouding deesdae veel te wense oorlaat – sal glo dat hy aan so iets aandadig kan wees nie. Maar ’n vrou bly ’n vrou, en as jy ’n man wil slaan, kry jy maklik ’n stok.
’n Rukkie later bevind Daniël hom in ’n plek waar hy baie selde kom … ’n dameskroeg. Maar hy voel hy het versterking nodig. Alles kom vandag net ’n bietjie te skielik op hom af. Die moeilike finansiële tyd waarin ’n man moet kophou, verkoopsyfers wat ontstellend daal, ’n seun wat met die verkeerde meisie sleep, ’n vrou wat so opgaan in haar vervelige rykmanslewe dat sy vergeet van haar man se behoeftes … en nou nog vandag se dinge. Hy bestel ’n dop. Maak dit ’n dubbele …
Dis ’n hele ruk ná ses dat hy die nuwe motortjie voor die Pohl-woning tot stilstand bring. Hy voel nog nie gereed vir ’n geredekawel met sy vrou nie, maar hy kan nie juis veel langer wegbly nie. Die paar dubbeles het juis hul werk begin doen en hy het reeds op pad huis toe planne probeer beraam om die dreigende konfrontasie met sy vrou minstens vir vanaand af te weer. Hy is nie in ’n bui vir moeilikheid nie, veral nie vir ’n bakleiery nie. Hy wil net in vrede gelaat word.
Dis allesbehalwe vrede waarteen hy hom vasloop toe hy by die voordeur instap.
“Liewe land, Daniël, waar bly jy so laat? Die Le Rouxs en Gerbers is netnou hier!” Sy beskou hom fronsend toe hy haar net staan en aankyk. “Jy weet tog hulle kom vanaand hier eet!”
“Ek het heeltemal vergeet daarvan en ek is ook nie lus vir hul geselskap nie. Bel hulle en sê hulle moenie meer kom nie.”
“Jy is verspot! Ek kan nie! Is jy nou gek! Die mense is seker al amper op pad hierheen! En my tafel is gedek en my kos is klaar!” Sy kyk hom met vernoude oë aan. “Daniël! Ek begin nou moeg raak vir hierdie kinderagtige houdinkie van jou die afgelope tyd. Jy …”
“Jy is vir veel meer as net my houdinkies moeg, my vrou.”
Sy pers haar lippe opmekaar. Dit was vir haar ook ’n moeilike dag en haar humeur is nie van die beste nie. Maar sy kry dit reg om haar selfbeheersing te behou en net ysig te sê: “Ons laat dit daar. Nog iets waarvan jy moet kennis neem voordat die mense kom – jou seun.”
Hy sug moeg, vee oor sy oë en stap na die drankkabinet. Hy het beslis nog ’n dop nodig. “Wat van Johan?”
“Jou seun is vanaand by die Stockenströms se voordeur weggejaag. Het jy ’n verklaring daarvoor?”
Hy skink sy drankie klaar, draai dan na haar terug. “Ja. Die geagte advokaat moes vanmiddag my prokureur se waarskuwingsbrief in sy posbus gekry het.”
“Daniël! Ek het jou gesê …”
“Ek bestuur Daniël Pohl Beperk, Rina, nie jy nie.”
“Maar Johan … Weet jy hoe voel daardie kind?”
“Hy sal duisend keer slegter voel as hy eendag met juffrou Stockenström getroud is en hy kry sulke briewe in sý posbus.”