Legkaart van die liefde. Renda de Waal
sy hoe sensueel dié nuutgevonde mag wat haar vroulike aantreklikheid haar gee, haar maak. Dit is daar in elke beweging van haar lyf, elke flikkering van haar ooglede. Terwyl hulle wag vir hulle koffie, speel hy met haar vingers, hou hy met brandende oë dop hoe sy aanraking haar affekteer.
Sy trek haar rug met moeite orent sodat haar lyftaal haar nie geheel en al verraai nie.
In die teater neem hy haar hand in syne. Hoewel die komedie regtig skreeusnaaks is, kom hulle agter dat hulle inderdaad ook dieselfde sin vir humor deel: Sekere humoristiese insidente laat hulle net glimlag, terwyl ander hulle lam van die lag laat.
Later by haar woonstel wil Deon nie inkom nie. Hy neem haar in sy arms: “Ek wil vir jou nagsê, maar na wat gisteraand tussen ons gebeur het, wil ek dit hier by ’n oop deur doen, en moet jy my help om die deur agter my nie toe te maak nie. Tensy jy gereed is om die finale stap te neem en my die nag te laat bly?”
Haar hande lê teen sy bors. Sy voel die dringende klop van sy hart, ’n eggo van haar eie. Haar mond is kurkdroog. Is sy gereed? Haar liggaam wil so graag bevestigend antwoord, maar haar diepgewortelde opvoeding maan haar om te besin.
Sy antwoord: “Ek wil nie halsoorkop ’n besluit neem nie. Ek het meer tyd nodig, Deon. Dis maar vier weke of so vandat ons mekaar ontmoet het.”
“Vir my voel dit nie asof ek jou nog net vier weke ken nie. Daar was van die begin af ’n baie sterk aantrekkingskrag tussen ons – jy weet dit, nè?”
Haar oë vlieg na syne. Peil hy haar so maklik? Daardie lig brand weer in sy oë.
Sy laat haar blik sak, knik haar kop in erkenning. Sy kan haar nie voorstel dat daar ’n vrou is wat nié sterk tot hom aangetrokke sal voel nie. Vroue hou hom dop, oral waar hulle gaan.
“Willa,” en sy stem word ernstig, “dit word al hoe moeiliker om by jou deur vir jou nag te sê. En as ons gaan aanhou om sulke speletjies met mekaar te speel soos wat ons vanaand in die restaurant gedoen het, gaan dit onmoontlik word om die spel nié enduit te speel nie.”
“Ek besef dit ook,” erken sy hees. Willa maak haar oë ’n oomblik toe, onwillig dat hy die twyfel én hunkering daarin sien. “Maar ek moet rasioneel wees. Ek wil nie halsoorkop ’n besluit neem nie.”
“Ek aanvaar dit so.” Sy oë word sag. “En ek weet dit is waarskynlik te gou vir jou om so ’n besluit te neem. Ek sal geduldig wees as jy langer tyd nodig het. Maar dink daaroor terwyl ek weg is: of jy gereed is om jou in ’n ernstiger verhouding te begeef?”
Terwyl hy weg is? Haar oë soek syne.
“Daar het ongelukkig en onverwags dringende sake by ons Amerikaanse kantoor opgeduik. Ons het die laaste paar jaar heelwat beleggings in die Noordelike Halfrond gemaak, veral in die VSA, en dit het noodsaaklik geword om ’n kantoor daar oop te maak.
“’n Vriend van my het ook ’n aandeel daarin en beman die kantoor. Ek vlieg môreoggend New York toe om hom te help om ’n paar probleme uit te stryk, maar ek is volgende Saterdagoggend weer terug in die land. Hou volgende Saterdagaand vir my oop, hoor?”
Hy trek haar teen hom vas en soen haar.
En wetend dat hy ’n week lank nie op dieselfde tyd dieselfde sonstrale en lug met haar gaan deel nie, plaas Willa haar hele hart in haar respons.
Deon druk haar so styf teen hom vas dat haar voete van die vloer af lig. Ooglopend onwillig laat hy haar gaan. “Lekker slaap,” sê hy skor. “Kyk mooi na jouself terwyl ek weg is.”
5
Die week sonder Deon gaan langsaam verby, ondanks ’n baie besige tyd by haar werk. Sy mis hom, mis ook die opwinding van uitsien na ’n aand saam met hom. En deurentyd is die wete daar dat sy ’n besluit moet neem.
Sy kan nie dink dat sy ooit weer so oor ’n man sal voel nie; waarom dan nie aanbeweeg na ’n fisieke verhouding nie? Omtrent al haar vriendinne was al in ernstige verhoudings betrokke, selfs Lientjie. Arme Lientjie, watter spit het sy nie afgebyt nie!
Instinktief besef sy dat as ’n intieme verhouding met Deon tot ’n einde moet kom, dit haar dalk onherstelbaar kan kwes. Maar om nou vir hom te sê: Nee, ek sien nie kans vir ’n intieme verhouding nie, ek is bang vir seerkry, is ’n lafhartige uitweg. Sy kan vra vir meer tyd, maar wat gaan verander?
Gereserveerd soos sy is, het sy emosioneel nog altyd te versigtig geleef, te bang om seer te kry. Is dit nie nou die tyd om die lewe by die horings te pak nie?
Om alles daaruit te put wat sy kan. Voluit te leef.
Ondanks die kort tydjie wat sy hom ken, vertrou sy Deon op ’n vreemde manier. Hy het integriteit. Sy is nie die eerste vrou in sy lewe nie, hy is ’n man met ondervinding, maar sy voel aan dat hy haar respekteer en van haar as mens hou. En tot dusver was hy geduldig met haar en gun hy haar dit om self die besluit te neem. Dit gee uiteindelik die deurslag, laat haar tot ’n besluit kom: Terwyl die verhouding hou, sal sy veilig in sy hande wees. En as dit moet eindig, het sy ten minste bietjie lewensondervinding bygekry.
Sy sal alles in haar vermoë doen om hom só gelukkig te maak, sy lewe tot so ’n mate te vul dat hulle verhouding in ’n permanente een sal verander.
Deon bel haar Donderdagoggend net voor ses: “Dis amper twaalfuur hier, en ek is doodmoeg, ek gaan nou slaap. Maar sover beplan ek steeds om Saterdagoggend terug in Suid-Afrika te wees.” In ’n sagter stem vra hy: “Is jy nog in die bed?”
“My wekker het nou net afgegaan, ek moet binnekort opstaan. En ek is bly jy hou by jou skedule.”
“Beteken dit jy mis my ’n bietjie?”
“Ja, natuurlik. Ek moes self kosmaak dié week, want niemand wou vir my etes koop nie.”
“Vir daardie antwoord moet ek ’n straf uitdink. Soos byvoorbeeld dat jy die res van volgende week vir my moet kook. Maar dit sal alles afhang van …”
“Waarvan?”
“Van jou antwoord.”
“My antwoord?”
“Ek het jou gevra om oor iets te dink terwyl ek weg is. Het jy?”
Willa se hart klop vinnig, maar skielik is alle oorblywende twyfel weg. “Ek het,” sê sy heserig, “maar ek sal jou my antwoord gee wanneer jy terug is.”
Stilte.
“Ook maar goed so.” ’n Laggie. “Want wat jy ook al besluit het, sou ’n slapelose nag gewaarborg het.”
“Nou toe,” terg Willa waaghalsig, “kry nou al die slaap in wat jy kan, terwyl jy nog kan. Ek moet ook opstaan, anders is ek laat.”
“Terwyl ek nog kán? Wat beplan jy vir my, juffrou le Roux?
“Jy sal sien, meneer Joubert, jy sal sien.”
“Ek dink jy is skaamteloos. Lekker dag vir jou, my liefling,” groet hy.
My liefling … Die liefkosing bly by haar, kleur die dag wat nou eindeloos voel.
Omstreeks elfuur lui Willa se telefoon. ’n Onbekende nommer.
“Willa?” vra ’n manstem toe sy antwoord. Daar is iets bekends aan die stem, maar sy kan dit nie plaas nie. Wat sy wel weet, is dat daar ’n onaangename gevoel by haar opkom.
“Ja?”
“Ralph Pienaar. Ek bel om jou te nooi om vanaand saam met my te gaan eet. Daar is iets wat ek met jou moet bespreek.”
Wragtig, Ralph Pienaar! Die rede vir die onaangenaamheid.
“Ek kan nie dink aan enigiets wat jy met my kan bespreek nie,” sê sy koud.
“Die tienduisend rand.”
“Dan moet jy dit mos liewers met Lientjie bespreek. Nie dat ek dink sy het enige begeerte om selfs dít met jou te bespreek nie.”
“Jy weet goed sy antwoord nie ’n telefoon