Onverwags myne. Susan Pienaar
met ’n handdoek van haar voete af.
Amanda kom orent. “Ek moet by my plekkie uitkom. Ek het wasgoed om te was.”
Tessa kreun. “Al weer op ’n Sondagaand? Hoekom kry jy nie maar vir jou ’n tuimeldroër nie?”
“Nee wat, tuimeldroërs trek te veel krag. Ek was en spoel my klere, dan laat lê ek dit in die wasmasjien in koue water tot Maandagoggend toe. Dan spindroog ek sekere goed en hang hulle op. My bloese en toppies word nat opgehang. Dit kreukel nie in koue water nie.”
Tessa kyk op. “Wat doen jy nou met jou onderklere? Ek bedoel, dis mos nou ’n man wat daai draad saam met jou gebruik.”
“Ek hang my onderklere nog altyd op die toegeboude agterstoepie op. Dis heerlik warm daar.” Sy glimlag. “As ek Maandagoggende nie halfdag gewerk het nie, weet ek nie wat ek sou gedoen het nie. Ek haat dit dat my beddegoed en handdoeke heeldag in die son hang en stof opgaar.” Sy haal haar motorsleutel uit haar handsak en stap deur toe.
“Sien jou môreoggend,” groet hulle oor en weer voor Amanda in haar motor klim en wegry.
Amanda staan hande in haar sye en kyk in ongeloof na die wasgoed wat sy vroeg vanoggend netjies op die twee gespande drade opgehang het. Sy kan voel hoe haar bloeddruk styg.
Haar lakens en handdoeke en jeans en bloese is eenkant toe gestoot, met pennetjies en al! En die duvet wat sy oor twee drade gehang het sodat dit goed droog kan word, hang nou opgeskuif op een draad en raak aan die sement. Geblomde hemde hang aan hul krae vasgepen; saam met gekleurde kortbroeke en onderbroeke hang sy wasgoed twee drade vol. Die drade is oud en slap sodat die hemde amper aan die sementblad raak.
Sy gooi die twee lakens en kussingslope oor ’n skouer en haal ’n nuwe bloes van veerligte materiaal van die draad af en bekyk dit. Nee, sy moenie nou in trane uitbars nie … Sy doen verdomp al die moeite om haar bloese liggies met die hand te was en nat op te hang, nou is dit gekreukel. Ag nee! Hier hang ’n los draadjie by ’n skeurtjie voor op die bloes waar dit aan die draad gehaak het.
Wie dink die vent is hy om haar klere en linne op te skuif asof dit vuilgoed is? Kyk net watter soort klere dra die man! Sal hy ooit weet hoe sy gewik en geweeg het voordat sy dié bloes aangeskaf het? Hoe sy steeds sente omdraai om smaakvolle klere vir haar en haar suster te kry? Dis ’n pragtige bloes van goeie gehalte, al was dit op uitverkoping.
Sy gaan die vent die waarheid vertel. Gou gooi sy die lakens en kussingslope terug oor die draad, vat net die bloes saam en stap na sy kothuis toe.
Sy klop aan die deur, wag tot die deur oop is en hy voor haar staan. “Meneer, daar is een ding wat jy mooi moet verstaan, en dis nie onderhandelbaar nie,” val sy weg toe hy woordeloos na haar kyk. “Ek werk net één dag in die week nie, en dis Sondae. Maandae werk ek halfdag. Ek sit of werk nie by die huis soos jy nie. Ek was my wasgoed op ’n Sondagaand en hang dit vroeg Maandagoggend voor werk op die draad. Kies enige ander dag om jou wasgoed te was en op te hang. Jy ráák nie weer aan my klere nie.”
Hy druk sy bril hoër op. “Hoekom is jy so kwaad daaroor? Ek het ure gewag sodat jou wasgoed kon droog word voor ek my klere opgehang het.”
Amanda is stomgeslaan. Genade, maar die man het ’n mooi stem. Hy praat mooi Afrikaans sonder aksent en bly boonop kalm terwyl sy duidelik van woede wil uitbrand en op die aanval is, maar hy moet weet waar hy met haar staan, dis nou maar klaar.
Amanda hou haar bloes in die lug. “Dié bloes is nuut en het nou ’n haakplek, en die meeste van my klere is gekreukel; dís hoekom ek ontsteld is. My klere is nie goedkoop nie. Ek hang dit nat en netjies op sodat ek dit nie hoef te stryk nie.”
Hy druk die bril weer op sy neus vas. “Ek is werklik vreeslik jammer. Ek sal betaal vir die skade wat jy gely het.”
Sprakeloos kyk sy hom aan. Sy het nie verwag hy gaan om verskoning vra en boonop aanbied om vir die bloes te betaal nie. Nou laat hy haar onredelik en sleg voel omdat sy sonder om te groet tot die aanval oorgegaan het.
“Dis oukei, dis net … ek werk in dié klere en in my beroep moet ek altyd goed versorg lyk.” Wat kan sy nou meer sê terwyl die man vir haar staan en kyk? “Laat ek jou ’n tip gee. Hang jou hemde onder by die some op, nié aan die krae nie. Ek hoop jy het iemand om jou gekreukelde hemde vir jou te stryk.” Sy draai om en stap terug wasgoeddraad toe.
Leonardo skud sy kop en sug verlig. Bleddie hel, hy het net betyds onthou om sy bril en keps op te sit. Die girl het sy versnipperde hare nou wel daardie eerste dag gesien, maar nogtans steek die pet die ergste darem weg en laat dit hom beter voel.
Die meisie het in sy oë gekyk en hom nie herken nie.
Gelukkig dat hy onthou het om sy skouers te laat sak en krom te staan.
Die girl is beautiful, veral toe haar wange pienk geraak het van ergerlikheid. Sy het die mooiste blou oë wat hy in sy lewe gesien het. Nie ’n uitgewaste blou nie … donkerblou … amper persblou, met lang, digte swart wimpers. En haar fyn roomkleurige vel het nie ’n merkie of vlekkie op nie.
Hy gaan sit voor sy rekenaar, maar staar onsiende na die skerm. Dit was ’n helse vervelige en moeilike oggend. In sy hele lewe het hy nog nooit sy eie wasgoed gewas nie. Eers het hy die hemde met sy hande probeer was, maar die krae wou nie skoon kom nie, toe gooi hy al sy klere in die seepwater in die bad en laat dit week. Later klim hy toe in die bad en trap dit kaalvoet, en laat dit weer week. En so het hy aangekarring tot dit skoon en uitgespoel was. Om te dink hy het nogal gesorg dat hy tien hemde, tien broeke en tien onderbroeke het, en nou het hy nie ’n enkele skoon hemp of onderbroek om môre aan te trek nie.
Die tydrowende gedoente om sy klere gewas te kry het hom aan die dink gesit. Hoe hy dit as vanselfsprekend aanvaar het dat sy klere altyd silwerskoon en gestryk en netjies in sy inloopkas hang, en sy onderklerelaaie netjies en volgens kleurkode gerangskik is. Dat hy sy werkers vir die gerief betaal, is nie hier ter sake nie.
Hy sal vir hom ’n wasmasjien moet aanskaf. En ’n werker kry. Hy gaan verdomp nie weer so met wasgoed sukkel nie.
Hy druk ’n hand in sy versnipperde hare, maar trek dit gou met ’n swetswoord uit. Hy het waaragtig nie daaraan gedink dat die girl se wasgoed skade gaan kry toe hy dit opsy geskuif het nie. Idioot wat hy is! Hoe de hel kon hy so ’n onnosele ding aangevang het? Teen daardie tyd was hy natuurlik so geïrriteerd dat hy uit sy vel wou klim, maar nogtans!
Sy het hom soos ’n buffel laat voel. Met reg ook.
Dit laat hom nou ook met ’n probleem. Hoe gaan hy haar vir die bloes vergoed? Hy skat sy dra ’n nommer twee-en-dertig … Maar waar kry hy daai spesifieke bloes? Dalk moet hy ’n bietjie window shopping gaan doen en kyk wat in vroue se winkels te koop aangebied word. Maar nee, iemand kan hom herken as hy rondslenter. Dalk sal ’n geskenkkaartjie by ’n boutique die ding doen. Maar hoeveel betaal mens vir so ’n bloes?
Hy het nog nooit vir enige meisie klere gekoop nie. Sy persoonlike assistent bestel gewoonlik die parfuum of blomme wanneer hy ’n geskenk vir ’n meisie of sy ma wil gee. Dalk moet hy liewer vir Ryan bel en verduidelik wat gebeur het, en hom dan vra wat hom te doen staan.
Hy kry sy foon, bel Ryan en verduidelik wat hy beplan.
“Nee, magtig, Leonardo, jy gaan jou cover blow. Jy is ’n arm nerd, my ou. Tree op binne die karakter wat ek vir jou geskep het,” stoom Ryan voort. “Jy ry ’n ou kar, jy trek cheap aan, jy kan nie by ’n blessitse boutique vir ’n girl ’n gift card van eenduisend vyfhonderd rand gaan koop nie. Dit gaan hel-uit suspisieus lyk, en die vrou laat wonder of jy ’n bank beroof het!”
Moet Ryan nou verdomp nog staan en invryf hoe sleg hy lyk? “Nou by watter klerewinkel moet ek ’n geskenkkaartjie gaan kry? En hoeveel dink jy betaal mens vir so ’n bloes … uhm, hoeveel moet ek spandeer?”
“Niks meer as vierhonderd rand nie, my ou. Soek ’n Jet of Pep Stores of … uhm, ’n Donna Claire-winkel, so iets. Gaan druk die kaartjie vanaand onder haar deur in. En bly om vadersnaam weg van daai girl af. Sy kan vir jou moeilikheid maak, jou dalk herken as sy jou te veel van naby sien.”
Ergernis