Pienk is nie vir sissies nie. Christien Neser
mompel sy en probeer met haar hand na die kant van haar kloppende oor beduie.
Evan praat op sy selfoon. Met Helma?
Godfrey vee haar gesig steeds met Evan se nat hemp af. “Eina, magtag! Jou linkeroor is ’n gemors. En jou oog is klaar toegeswel. Jy’t ’n wêreldklas-shiner, meisiekind.”
Hy probeer lag, maar daar’s ’n snaakse trilling in sy stem. Godfrey’s ’n swak akteur!
Nicci wil liewer nie dink hoe sy nou moet lyk nie. En hier sit Godfrey met ’n vuil, natgeswete, bebloede wrak in sy skoot.
Evan buk, neem ’n foto.
Nicci probeer aan ’n kwinkslag dink om die situasie te red. Iets soos: “My Hunger games look.” Maar haar tong klou aan haar verhemelte.
“Evan.” Godfrey se stem. “Ek druk daai foon in jou dinges op as jy nog één foto neem.”
Nicci wens sy kan glimlag, want sy sou graag wou sien hoe Godfrey die daad by die woord voeg. Sy lê doodstil. Sy wonder of sy nie dalk breinskade het nie. Elke fietsryer se nagmerrie.
Sy roer haar voete. Dankie tog, ek is nie verlam nie. Maar my kop? Sy het al ouens gesien wat hulle bewusteloos geval het, helmet en al. Jy hoef nie ’n oop wond te hê om jou brein te beskadig nie.
Die brein is delikaat, preek Dok Daan altyd vir hulle. ’n Sagte massa senuweeweefsel wat net deur twee vliese en ’n dun lagie vloeistof binne-in die skedel beskerm word. ’n Harde stamp kan daardie fyn netwerk soos ’n bak jellie deurmekaar skud.
“Daarsy. Jy’s weer skoon. Ek bel nou jou pa. Sit net doodstil.” Godfrey trek haar teen hom aan. Sy sit tussen sy bene, plat in die paadjie.
Met sy een hand haal hy sy foon uit. “Ben moet seker bel, maar sy kop vat nie. En Evan facebook.”
Arme Ben. Hy babbel; dreig om die diewe op te … Onwillekeurig glimlag Nicci. As Ben sy dreigemente kon uitvoer, sou die twee diewe beslis sonder sekere sensitiewe liggaamsdele moes oud word.
Godfrey se foon lui en lui.
“Ja? Watsit, Godfrey?” Haar pa klink uitasem.
“Ons het ’n probleem. Ben wil met oom praat.” Hy druk die foon in Ben se hand.
“Julle moet kom!” Ben se stem slaan deur. “Nicci is aangeval. Haar fiets is weg! Sê vir Dok Daan hy moet bleddie gou kom.”
Nicci skreef haar oë pynlik oop.
Godfrey vat die foon uit Ben se bewende hand: “Nicolene is stabiel, oom Nic. Maar sy’t sleg seergekry. Ons is aan die agterkant van Heartbreak Hill, amper by die pad. Kom so gou julle kan, maar bly net bymekaar. Die ouens kan nog hier iewers wees. Twee van hulle. Ons bly by haar.”
Nicci ontspan.
Haar pa is op pad. Sy dryf weg: ’n bootjie op ’n vinnig vloeiende rivier. Vér …
Godfrey se stem. Hy praat met die niewies. Wat ’n gemors en dít op hulle eerste klubrit. Sizwe en …? Wie nou weer? Die twee sal seker nooit weer saam met hulle wil ry nie.
Godfrey fluister saggies hier bo haar: “Netnou was jy ’n bokkie, wild en vry. Nou het jy in ’n strik vasgery …” Sy stem breek.
Ou Godfrey, die ewige digter, mevrou Beneke se oogappel. Só soetsappig.
“Jy’s sterk, Nix. Byt net vas.” Ben se stem, nou kalmer.
“Look here!” Een van die nuwes praat. Sizwe? “A brick. With silver paint on. And blood.”
Nicci forseer haar ooglede oop: Sizwe hou ’n halwe baksteen vas. Die verf van haar helmet blink dof onder die helder spatsels bloed. Die klip waarmee Blou Helmet haar geslaan het, wil sy sê, maar haar tong bly droog aan haar verhemelte klou.
“Was this your camera?” vra nog ’n stem. Seker die ander ene. Hy hou ’n hand vol van die BikePro se stukke onder haar neus.
“Yes, uhm, Enoch,” glip die naam skielik tussen haar droë lippe uit.
“You remembered my name,” sê Enoch asof hy ’n prys gewen het. “Your brain is okay! It’s good luck, then.”
“But bad luck that you were alone in front.” Sizwe skud sy kop.
“Bad luck,” prewel sy. “You can’t train luck,” onthou sy die simpel frase in haar fietsbybel. Geluk beteken om nie op die verkeerde tyd op die verkeerde plek te wees nie.
Skielik spuit die trane.
En dit word tien keer erger toe Sizwe se smal hand haar op die bobeen tik en hy mompel: “You can cry. It’s okay, girl!”
Girl. Ek hou van girl. Hoekom het die diewe gedink ek’s ’n seun?
Toe haar pa soos ’n gewonde buffel langs haar neerstort en almal om haar begin wegstoot, snik sy steeds onbeheersd.
Dis nie oor haar seer kop nie. Dis oor haar seer hart. Sy’s ’n meisie, deksels!
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.