Schalkie van Wyk Keur 15. Schalkie van Wyk
Kayla, ek het my plig gedoen en jou gewaarsku teen Briand Olivier. Ek hoop dat jy uit respek vir my jou vriendskap met die man ’n vinnige dood sal laat sterf. Of dalk moet ek vir jou ’n vliegkaartjie koop.” Die opregte kommer in Annelize se oë laat haar poging om te glimlag misluk. “Wil jy nie graag Kersfees saam met jou ouers in Brasilië deurbring nie, kindjie?”
“Ek voel soos ’n donkie wat met ’n geelwortel verlei word,” antwoord Kayla verontwaardig. “Ek sal by Briand hoor of hy van plan is om Kersfees in São Paulo deur te bring, en daarna sal ek besluit of ek tannie se aanbod wil aanvaar.”
“Jy het daarna gesoek, professortjie,” verlekker Trynie haar. “Kayla is lankal te oud om omgekoop te word. En as jy jou geleerde verstand net ’n klein bietjie kan gebruik: dink jy nie Elda het haar skandelik gedra toe sy ’n jong seun verlei het nie? Hoe kan jy met so ’n sedelose vrou vriende wees, my stomme mens?”
“Elda se bekentenis het my so ontstel dat ek daardie dag my kuiertjie by haar kortgeknip het. Sy het nooit weer na haar verhouding met Briand verwys nie en mettertyd het ek … e … begin wonder hoe waar haar storie was,” erken Annelize halfhartig.
“Hoe kan tannie goedsmoeds stories oor Briand versprei as tannie self wonder of tannie Elda gejok het?” vra Kayla onthuts.
“Ek moes jou waarsku, Kayla, want as daar enige waarheid in Elda se storie steek … Doen wat jy wil, kind, maar moenie by my kom simpatie soek as die man jou seermaak nie,” antwoord Annelize traag, meer besorg as kwaad. Sy wend haar tot Trynie en gaan saaklik voort: “Ek het vir my ’n naweektas kom pak, ek gaan ’n paar dae saam met die Kirstens op hulle wildplaas deurbring. Ek sal Sondagaand weer terug wees.”
“Mag Sunette die naweek hier kuier, tannie Annelize?” versoek Kayla toe Annelize haar op die wang soen.
Annelize frons, lê haar hand op Kayla se skouer en sê met ’n moedelose suggie: “Ek is jammer ek moes jou teen jou nuwe vriend waarsku, kindjie, maar ek gee werklik om vir jou. As jy soos Sunette was, sou ek my nie so dikwels oor jou bekommer het nie, want Sunette sal weet hoe om ’n beginsellose man soos Briand Olivier te hanteer. Ja, nooi haar. Sy sal jou beskerm,” antwoord sy toegeeflik, druk ’n soen op Trynie se voorkop en stap die eetkamer uit.
“Ek sien kans vir tien Briands, maar nie vir een Sunette nie,” mor Trynie. “Verbeel jou: Sunette sal jou beskerm. Sussie, wie gaan die arme Briand beskerm as daardie sedelose skepseltjie haar flikkers vir hom gooi?”
“Tannie sal,” antwoord Kayla kamma lighartig, innerlik nog ontsteld oor Annelize se storie. Sy is dankbaar dat selfs Annelize die waarheid van Elda se storie bevraagteken, maar ’n flentertjie twyfel bly knaag in haar binneste. Nie dat dit haar werklik raak nie, redeneer sy met haarself. Briand is soos iemand wat sy op ’n lughawe ontmoet het: vandag ken sy hom, maar môre is hy moontlik net ’n aangename herinnering.
Ben en Sheilah Stassen dwaal verruk deur Huis Kanferfoelie, luister na Kayla se beskrywing van elke antikwiteit en keer beïndruk terug na die westelike sitkamer om nog ’n koppie tee saam met Trynie en Sebastiaan te geniet.
“Waar is Briand, ta Trynie?” vra Kayla.
“Hy sal nou weer terug wees, sussietjie,” antwoord Trynie gerusstellend. “Ek wonder of hy ’n bouer is, want hy verkyk hom so aan die dik mure, die ou plafonne en die marmerkaggels van dié ou huis.”
“Hoekom? Julle huis het tog dieselfde dik mure en hoë plafonne, Sheilah,” sê Kayla aan die bejaarde vrou wat ter ere van hulle besoek Indiaanse skoene dra, maar niks anders aan haar hippiedrag verander het nie.
“Dis nie reg nie, Sebastiaan,” merk Trynie gedemp teenoor hom op. “Ons kinders leer om ‘oom’ en ‘tannie’ te sê sodra hulle hul verstand kry. Kayla kan jou suster as ‘mevrou Stassen’ aanspreek as dit nie anders kan nie.”
Sheilah, haar oë dieselfde diepblou as dié van Sebastiaan, lag geamuseerd. “Ek is sonder ’n titel gebore, Trynie, en ek sal sonder een doodgaan. Laat my en Kayla met rus,” antwoord sy en vertel aan Kayla: “Ons huis het nie so ’n pragtige houttrap met die besonderse houtsneewerk nie, ook nie marmerkaggels en skoorsteenmantels of sulke pragtige versierde plafonne nie. Ek en Ben sou nooit die buurhuis kon bekostig het as dit so ruim en deftig soos Huis Kanferfoelie was nie.”
Sebastiaan kyk haar skerp aan, kug ’n paar maal agter sy hand en vra: “Wanneer het die huisagent sy storie verander, Sheilah? Het hy nie uitdruklik gesê ons kan ses maande in die huis woon voordat ons finaal besluit om die plek te koop nie? Jy en Ben het my ook nie geraadpleeg nie. Het julle die nodige finansies om so ’n duur huis te kan koop?”
Ben se lag klink soos die runnik van ’n perd. “Ons sal ons finansies in die privaatheid van ons eie huis bespreek, Sebastiaan, my ou swaer. Trynie, ek eet selde of nooit soetigheid, maar ek kan nie ’n tuisgebakte melktert weerstaan nie. Mag ek maar myself help?”
Kayla sien Briand in die deur van die sitkamer staan, sy oë effens geskreef terwyl hy beurtelings na Sebastiaan, Sheilah en Ben kyk. Sy wens sy kan Annelize se storie uit haar bewussyn vee, want kyk sy na hom, wonder sy opnuut oor hoe waar Elda Pelser se aantyging is. Sy oë vind hare en hy glimlag vlugtig voordat hy terugdraai na Ben.
“Dan het julle die koopkontrak klaar onderteken, Ben?” vra hy en neem op die rusbank langs Kayla plaas.
Ben verstik aan ’n mond vol melktert en word oorval deur ’n hoesbui wat selfs nie deur Trynie se toepassing van die Heimlich-maneuver tot bedaring gebring kan word nie.
“Vars lug!” sê Sheilah met onverwagte haas en kry Ben aan die arm beet. “Ons is jammer ons moet ons kuiertjie kortknip, Trynie, maar net vars lug en die rustigheid van die natuur sal my Ben se gehoes laat bedaar. Sit, sit, Sebastiaan. Jy ook, Trynie. Ek weet hoe om Ben te help. Ons sal sommer oor die lere klim om so spoedig moontlik by die huis te kom. Baie dankie vir al julle gasvryheid en al die lekker eetgoed. Ons sal weer kom kuier, Trynie. Tot siens, almal.”
Kayla groet en kyk verwonderd na Briand, wat met sy lippe saamgestreep fronsend kyk hoe Sheilah en Ben die vertrek verlaat.
“Ag, dis nou ’n ongelukkigheid,” sê Trynie spytig. “Ek wou nog vir Sheilah ’n ekstra melktert gegee het, aangesien Ben dit so opsigtelik geniet het. As jy nie omgee nie, sal ek die melktert saam met jou stuur, Sebastiaan.”
“Ja … ja, dankie, Trynie,” sê Sebastiaan, maar klink meer bekommerd as dankbaar. “Sheilah se storie het my heeltemal onkant betrap, Trynie. Moontlik het ek die huisagent se woorde verkeerd vertolk, maar ek was seker dat …” Hy swyg en vervolg met ’n verskonende glimlaggie: “Vergewe my, Trynie. Ek vergeet ek is ’n kuiergas en bespreek my kwellinge oor Ben en Sheilah met jou en die jong mense.”
“Ons is bure, Sebastiaan, en ek deel graag jou kommer – dis nou te sê as dit nie te persoonlik is nie,” antwoord Trynie.
Sebastiaan huiwer enkele oomblikke en knik dan. “Ja, wel, dit sal seker nie kwaad doen as ek julle vertel dat Ben en Sheilah nooit ’n yslike huis in ’n spogwoonbuurt van Johannesburg sal kan bekostig nie. Hulle het al die jare in hotelle of by my gewoon. Ek het nou onlangs my huis hier in die stad verkoop en vir my ’n plekkie langs die Ooskus aangeskaf, met die bedoeling om daar af te tree. Maar ek het die stadslewe gemis, en toe Sheilah my nooi om saam met hulle in die groot huis te kom woon … Dis seker net ’n misverstand, want ek was onder die indruk hulle huur die plek en dat hulle loseerders hulle help om die huur te betaal,” vertel Sebastiaan en tik-tik gespanne met sy geboë wysvinger op sy bolip.
“Dis presies wat ek gehoor het, oom Sebastiaan,” beaam Briand fronsend.
“Asof dit nou belangrik is!” kom dit sorgeloos van Trynie. “Wie weet, dalk was die liewe Sheilah so oorweldig deur al die weelde van Huis Kanferfoelie dat sy besluit het om te sê sy en Ben is ook huiseienaars. Gun haar die ou leuentjie as dit haar gelukkig maak.”
Sebastiaan betrag Trynie met ’n dankbare glimlaggie. “Jy het ’n mooi hart, Trynie, want jy vergewe so maklik ’n menslike swakheid. Sien, Sheilah was maar altyd so: probeer om andere te beïndruk met al die beroemde