Sophia se beskermengel. Malene Breytenbach
Sophia se beskermengel
Malene Breytenbach
Melodie
1
Sophia Joubert maak die karige besittinkies bymekaar wat in die konsentrasiekamptent is. Haar twee rokke en onderklere, alles vertoiing, haar paar stukkies eetgerei, haar verslete dassievelkaros, hier en daar goed soos haar kam en borsel en die leë huisapoteek. Al “huisraad” wat sy gehad het, was twee bokse en een stoeltjie.
Sy is gestroop van alles wat vir haar kosbaar was. Haar man het vroeg in die oorlog gesneuwel. Wat het sy van hom as eggenoot gehad? Bitter min. Hy het haar nie eens ’n kind gegee nie. Haar liefde en verlange het soos water in droë sand weggeloop.
Sy het haar tent gedeel met haar skoonmoeder, Esther Joubert, en haar skoonsussie, Maria, wat pas sestien geword het. Jakkie, haar swaertjie wat dertien jaar oud was toe die Kakies hulle kom haal het, is nou veertien en word een van die dae vyftien. Hy moes by vier ander seuns in ’n tentjie bly en daar was gedurig struwelinge. Dankie, Here, hulle het almal oorleef.
Die ander mense het al hulle min goedjies uitgedra, net sy kyk nog na die klein ruimte waarin sy so lank moes oorleef – in wind en weer, in hitte en koue, reën en siekte. Smagtend na beter dae. Vir oulaas ril sy vir die droewe omgewing wat deur baie mense vertrap en verduur is. Hulle is hierheen gebring op oop waens en kon min besittings met hulle saambring. Nou neem die mense alles wat hulle besit weer huis toe. Die hekke is oop en die Kakiewagte staan gelate en toekyk hoe die gevangenes vertrek.
Hulle is weer vry om terug te keer na verwoeste plase – sonder vee, sonder kos. Geheel en al verarm. Maar onder die grote uitspansel met geen hekke, drade en heinings wat hulle inperk nie en geen wagte wat hulle bewaak nie.
Daar loop haar skoonmoeder weer met die kosbare Bybel in haar arms. Net soos toe sy haar verwoeste huis verlaat het. Ag, hoe erbarmlik lyk sy nie nou nie. As die gesin van kommandant Lodewyk Joubert was hulle vooraanstaande mense – goed geklee, skoon. Hulle het baie vee, blink perde, goeie rytuie gehad en in ’n groot sandsteenhuis gewoon, waarvan nou net die fondamente en hier en daar ’n muur oor sal wees.
Opgelaai soos mudsakke op ’n oop ossewa het hulle hierheen gekom, met die Kakies wat langs hulle ry of loop en hulle wreed of met minagting behandel. Sy moes deurloop onder vrypostige aanmerkings en een keer selfs ’n gefluit. Selfs die wrede Engelse het oë vir ’n mooi Boerenooi gehad. Sy het hulle minagtend probeer ignoreer. Die offisier wou haar glad op sy perd laai. Sy het hom woedend afgejak. “Ek loop liewer my voete stukkend as om aan jou te raak,” het sy hom toegesnou.
Sy wou nie na die Kakies kyk nie. Sy wou nie spot, wellus, hoon, triomf of selfs bejammering in hulle oë sien nie. Haar trots is in die grond in vertrap.
Sy is so honger en het baie gewig verloor. Hulle was hééltyd honger, of siek. Miskien sal hulle, wanneer hulle weer op Blinkpan aankom, in die veld ’n haas kan vang en weer vleis eet. Die rantsoene het nie veel vleis bevat nie. Vir boeremense wat van vleis gelewe het, was dit ’n vreeslike ontbering. Maar dis oor hulle mans nog geveg het dat hulle dit ontneem is. Die hensoppers en joiners het meer vleis as hulle gekry.
“Kom jy, Sophia?” roep Maria.
Sy is natuurlik haastig om weg te kom, maar haar vader is nog nie terug van die krygsgevangenekamp ver oor die see nie. Nou kom die boer van die buurplaas, veldkornet Josias Brits, Lodewyk Joubert se familie haal en hulle kan saamgaan met die Britse se wa. Die veldkornet is nie gevange geneem nie. Sy wonder hoe hy dit reggekry het.
“Waar het oom Josias die wa gekry?” vra sy.
“Ons het alles by die Repatriasieraad gekry,” vertel hy haar.
Sy kyk bejammerend na die twee muile. Hulle lyk of hulle nooit tot by die plaas gaan kom nie. Hulle moet te swaar trek. Sy sal langs die wa stap. Die ouer vroue kan ry. Die tengerige Maria sal ook moet ry. Sy sal nooit al die pad kan stap nie.
Oral loop vrouens uit die kamp. Sommige word gehaal deur hulle mans. Daar is waens, maar die meeste mense loop. Hulle hou mekaar se hande vas. Kyk hoe bly is hulle om mekaar weer te sien en vry te wees. Die jare lange oorlog is uiteindelik verby. Op baie gesigte sien sy ’n wonderlike ding: hoop. Dankie tog dat die mens altyd kan hoop.
Sy loop na die wa en laai haar paar goedjies op.
“Lodewyk moes ons nou kom haal het,” sê haar skoonmoeder. “Wanneer kom ons mans tog terug?”
“Die kommandant sal reeds op pad wees,” probeer veldkornet Brits troos. “Een van die dae is hy en ons Benjamin weer hier.”
“Ek hoop so, Josias.”
Ja, haar skoonvader kom terug, dink Sophia, maar sy oudste seun is dood. Die man wat haar moes liefhê en versorg. Die Britse se oudste seun, Benjamin, Lood se vriend, is ook deur die Kakies na die krygsgevangenekamp gestuur. Daar wag nie ’n vrou vir hom nie, want hy het nie soos Lood voor die oorlog getrou nie.
Sophia slaan haar arms om haar maer lyf. Sy kan haar ribbes voel. Eendag sal sy nie meer honger ly nie. Eendag sal sy weer skoon wees en heel klere dra. Ja, sal sy dalk weer liefhê. Of ’n kindjie in haar arms hou. Kyk vorentoe, Sophia. Jy is nog jonk en nou is jy weer vry.
“Kom, ons gaan huis toe,” sê sy hard, en glimlag braaf vir Maria, wat agter op die wa sit met haar maer beentjies wat afhang, stukkende skoene aan haar eens netjiese voete. Die kind was mooi, en kyk hoe pateties lyk sy nou. Sy is nou op daardie oorgang tussen kind en vrou, maar sy is so maer, sy lyk nog pure kind.
Sophia sug. Toe Lood haar van Pretoria af gebring het, het mense háár “mooi Sophia” genoem. Hulle het die kombinasie van haar blonde vag hare en blou oë blykbaar uitsonderlik gevind. Sy wou nie ydel wees nie, maar was tog altyd gevlei. Maar kyk hoe lyk sy nóú. Haar eertydse sogenaamde skoonheid het getaan. Sal sy ooit weer ’n man kry? Sal iemand haar ooit weer in sy arms vashou, liefkoos en sê dat sy die wonderlikste meisie in die wêreld is?
“Ek het darem ’n bietjie meel, sout en suiker ook by die Repatriasieraad gekry,” vertel Josias Brits. “Ons kan dit deel. Verder sal ons maar moet kyk wat ons kan jag.”
“Daar sal seker net akkedisse en goggas wees,” grap Sophia, maar haar stem knak. “Ek is so honger, ek sal selfs ’n akkedis kan eet.”
Jakkie kom loop langs haar. “Ek sal vir ons kos sorg, Sophia. Ek belowe. Al moet ek Laeveld toe loop. Vader het sy jaggeweer begrawe. Ek sal dit uitgrawe en gaan wild soek. Ek is nou ál man in die huis en ek moet sorg.”
Sy haak by hom in. “Ons vroumense maak staat op jou, boetie Jakkie.”
Dit is ver plaas toe en hulle moet oorstaan langs die pad. Die oorwerkte muile moet rus. Brandhout vir vuurmaak is daar nie, maar hulle kry tog bossies om te brand en van die kos gaar te maak. Almal kry maar min en is nog doodhonger nadat hulle geëet het. Hulle slaap op en onder die wa en bibber van die nagkoue.
Eendag slaap ek weer op ’n bulsak, vertel Sophia haarself. Onder warm komberse en in mooi beddegoed. Met beloftes aan haarself maak sy die ellende draagliker.
Die landskap is kaal, verwoes, gebrand. Tog kom hier en daar groen grassies uit. Hulle sien net ’n woesteny. Die een of twee huise wat hulle van die pad af kan gewaar, is murasies, bouvalle.
“Ons sal ons huise weer van voor af oorbou,” probeer Josias Brits moedig klink. “Maar dit lyk my ons werkers is meesal weg. Nou ja, vir my en Benjamin se hande het niks nog ooit verkeerd gestaan nie. Sodra hy terug is, sal ons ons huis se mure en dakke met moddersooie en gras moet herstel. Dit sal nie maklik wees om weer te gaan klip kap vir mure as ons nie gereedskap het nie. Ons kan nie oop en bloot lewe nie. Hier word dit in die nagte te koud.”
“Ons sou gate in die grond moes grou, oom Josias,” spot Jakkie. “En soos die erdvarke lewe.”
Sophia dink aan haar man wat sy byna twee jaar laas gesien het. Eentyd was hy aantreklike Lood Joubert met sagte bruin oë, maar tydens die oorlog het hy gelooi en seningrig geraak, sy oë hard en kwaai. Hy moes mense doodskiet en toe is hy self doodgeskiet. Dank Vader sy hoef haar nie vir hom te skaam nie. Hy het sy lewe vir sy land gegee.